
Ferdus en Rethamari le Roux
- Alle foto’s is deur Rethamari le Roux verskaf.
Rethamari le Roux is ’n onderwyser op Groote Eylandt in Australië. Sy is in Suid-Afrika gebore en het hier skoolgegaan en studeer. Die afgelope tyd gee sy skool in Australië en praat met Naomi Meyer oor skoolgee in ’n ander land, en oor alles wat anders en eenders is.
Rethamari, jy is ’n Afrikaanssprekende onderwyser. Waar het jy studeer, waarom het jy onderwys studeer en vir kinders van watter ouderdomsgroep sou jy graag wou skoolgee – toe jy studeer het?
Ek het studeer by Bloemfontein Onderwys Kollege (1994–1997). Onderwys is in my bloed met ’n lang familielyn van onderwysers. Ek het ’n passie om te sien hoe kinders leer en ontwikkel. Ek het gespesialiseer in grondslagfase, so ouderdom vyf- tot agtjariges. Ek geniet om vir hierdie ouderdomsgroep skool te hou, omdat hulle nog ’n natuurlike nuuskierigheid het vir leer en soos sponse is en alles inneem.
........
Ek het gespesialiseer in grondslagfase, so ouderdom vyf- tot agtjariges. Ek geniet om vir hierdie ouderdomsgroep skool te hou, omdat hulle nog ’n natuurlike nuuskierigheid het vir leer en soos sponse is en alles inneem.
........
Ek het ook nog altyd ’n groot liefde vir drama, kuns en musiek gehad, so ek kan dit inkorporeer in my skoolhou en pret hê terwyl ons leer.
Vir watter ouderdomme kinders of vir watter grade en vir watter vakke het jy al onderrig? Waar het jy al skoolgegee? Vertel my asseblief hoe jy die situasie as onderwyser in Suid-Afrika ondervind het.
Ek het na my studies vir drie jaar in Londen, Engeland skoolgegee. Dit was vir my baie interessant om die Britse kurrikulum te leer en hulle benadering tot onderwys. Ek het dit baie geniet om terselfdertyd baie te toer en die wêreld te sien. Ek het vir seker ’n breër visie van die wêreld gekry en my ondervinding in Engeland het baie deure vir my in Suid-Afrika oopgemaak. Na my terugkoms in Suid-Afrika het ek Pretoria toe verhuis, waar ek vir twee jaar by Anton Van Wouw Laerskool Engels as tweedetaal aangebied het vir graad 4-leerders. Dit is werklik een van Suid-Afrika se topskole met ’n ryk geskiedenis en dit was vir my ’n voorreg om daar skool te gee.
Ek het my man, Ferdus, in Pretoria ontmoet. Hy is ’n chemiese en metallurgiese ingenieur en werk in die mynwese. Hy het bewerk in Meyerton en na ons troue het ek verhuis na Vereeniging waar ek by Suikerbos Laerskool vir twee jaar skoolgegee het. Ek het tale en kuns en kultuur vir graad 4-leerders aangebied. Na die geboorte van ons eersteling het ek ’n tuisblymamma geraak. Ons het in 2005 met twee baie jong seuntjies (Johann, 14 maande en Marius, 5 weke) Sjanghai, China toe verhuis vir Ferdus se werk. Terwyl ons daar gebly het, het ek met my eie besigheid begin. Ek het pêreljuweliersware Suid-Afrika en Australië toe uitgevoer. Ek het die besigheid vanaf 2006 gehad en dit baie geniet om so saam met ma-wees ook besigheidsvrou te wees. Ons het na twee jaar in China vir ’n paar maande in Singapoer gebly en toe weer gevestig in Meyerton. Ek het steeds die besigheid gehad en ’n paar keer weer Sjanghai toe gegaan vir aankope. Verder het ek dit baie geniet om huisvrou en mamma te wees.
In 2013 het ons Alberton toe verhuis, waar ons gebly het tot ons geïmmigreer het Australië toe einde 2018. Ek het gedurende hierdie tyd afloswerk gedoen by ’n paar skole en steeds my pêrelbesigheid gehad.

’n Kookaburra
Jy en jou man het Australië toe getrek en julle en jul seuns woon al jare lank daar. Vertel my asseblief van jou werk daar – voordat julle ondertussen na die eiland getrek het waaroor ek jou gaan uitvra. Hoe het jy die opset in die skole ondervind, en hoe vergelykbaar was dit met wat jy in Suid-Afrikaanse skole beleef het? Of in ander lande, as jy al daar skoolgegee het?
Ons het einde 2018 Perth, Australië toe geïmmigreer met Ferdus se werk. Ons was ’n paar gesinne van sy maatskappy wat saam geïmmigreer het, so ons het lekker vriende gemaak met mekaar. My suster en haar gesin het ook in dieselfde tyd geïmmigreer, so ons proses was nie so alleen nie en verseker makliker omdat ons die emosies met soveel ander kon deel, alhoewel ek weet immigrasie is baie persoonlik vir elke persoon wat daardeur gaan. Ons seuns was albei in die hoërskool en alhoewel hulle die avontuur baie geniet het, was die aanpassing en om vriende te maak vir hulle ook ’n groot uitdaging. Perth het egter baie eks-Suid-Afrikaanse families so hulle het saam met die Australiese vriende ook baie Afrikaanse vriende gemaak en gou aangepas.
Ons het besluit dis tyd vir my om weer voltyds terug te gaan in die onderwys en ek het na ’n paar maande begin met afloswerk en het ’n verskeidenheid van poste in Perth gehad. Dit was ’n groot aanpassing om na 15 jaar weer voltyds te werk en die Australiese kurrikulum te leer en veral my rekenaarvaardighede op te skerp. Baie dinge het verander, veral dissipline en hoe die hedendaagse kind leer. Ek moet sê, dit was vir my ’n heerlike uitdaging en ek het gou weer my “seebene” teruggekry. Dit is steeds my passie en ek geniet dit om ’n positiewe impak op kinders se lewe te maak. Skoolhou is vir my ’n roeping van God en om Sy liefde uit te leef. In Perth het ek meestal by Christen-privaatskole gewerk en kon my geloof vrylik uitleef.
Ek stuur natuurlik vandag vir jou vrae, omdat ek bewus is van die omgewing waar jy jou op die oomblik bevind. Is die eiland deur Nederlanders gekoloniseer en vandaar die naam? Wat het jy van hierdie eiland geweet voordat julle daarheen getrek het?
In Julie 2025 het ons verhuis na Groote Eylandt, waar Ferdus se maatskappy ’n myn het. Hy het dikwels tydens sy loopbaan die eiland besoek en die geleentheid om op die eiland te werk is besonders en ’n unieke ervaring. Ons het nog altyd gehou van ’n avontuur en die geleentheid was baie goed en het op die perfekte tyd ons kant toe gekom met die seuns wat op universiteit is. Ek was gelukkig om werk te kry by Angurugu Skool in Angurugu.
Groote Eylandt is in 1644 deur Abel Tasman “ontdek”, vanwaar die naam kom. Die eiland is nie gekoloniseer deur Nederland nie. Die eiland behoort aan die Anindilyakwa Land Council en is Aboriginale land. Daar is drie dorpe op die eiland: Alyangula, wat die myndorp is waar ons woon, Angurugu en Umbakumba, wat Anindiliyakwa-dorpe is. Die inheemse mense hou daarvan om volgens hulle kultuur en nabyheid aan die land en die grond te lewe. Oral in Australië bly hulle in groepe (clans) en praat hulle eie taal. Daar is sowat 150 verskillende Aboriginale tale en groepe. Oorspronklik was daar meer as 250 unieke tale.

Kan jy my asseblief vertel hoe jy altyd oor skool en opvoeding gedink het – en wat jy nou daar beleef? Is skool ’n plek waar mens net leer om somme te maak, of goeie punte te kry en akademiese kwalifikasies kan bekom? Wat beteken skoolgaan op Groote Eylandt, vir die kinders in jou klas?
Alhoewel ons so ver moontlik die Australiese kurrikulum vir ons leerders aanbied, is die kultuur geheel en al anders as die Westerse kultuur. Kinders is baie meer vry en deel van die natuur. Hulle kom net af en toe skool toe, so dis moeilik om te bou op wat hulle die vorige dag geleer het. Elke dag se lesse kry vorm rondom wie in my klas is en wat hulle weet, insluitend hulle verstaan van Engels. Hulle eerste taal is Anindilyakwa, so hulle leer nog om Engels te praat, aangesien hulle huistaal nie Engels is nie. Hulle kry egter baie blootstelling aan Engels met televisie, speletjies, ensovoorts. Ek het meestal helpers in my klas (mammas) wat help met vertaling en om te help met verstaan. Ek het die vyf- tot sesjariges wat net te oulik is en graag wil leer. In elke klas is roetine en ’n lekker rustige atmosfeer waar kinders veilig en gelukkig voel, baie belangrik. Fundamenteel is ons maar almal dieselfde met dieselfde basiese behoeftes. Respek vir kultuur en gedeelde belangstellings en om van mekaar te leer, vorm ’n goeie fondasie. Hulle lewensuitkyk en dit wat hulle in die lewe wil bereik, is baie anders as die meeste van die wêreld se uitkyk. Hulle wil graag bly waar hulle is in hulle clan en heg baie waarde aan familie en country. Hulle ambisies is anders en dis goed om dit te koester en lesse te gee wat hulle kultuur en geskiedenis insluit. Om te lees, skryf en wiskunde te doen bly die fokus, so baie leertyd word daaraan gewy, sowel as om te leer deur te speel. As jy egter wonder waar die kinders is as hulle nie in die klas is nie, kan jy maar net rivier toe gaan waar hulle heerlik swem en baljaar.

’n Kangaroe in Australië
Ek weet jy het al mense op die eiland leer ken, soos ’n vrou na wie jy verwys as ’n “Elder”. Wie is sy en wat het jy al by haar geleer?
Die mammas geniet dit om saam skool toe te kom en die kinders met hulle leer te ondersteun, veral met die verskil in taal. Dis lekker om met hulle te praat en meer uit te vind oor hulle kultuur en geskiedenis. Hulle vind dit baie interessant dat ek van Suid-Afrika af kom en ook ’n ander taal praat. Dit vat maar tyd om vertroue te bou en verhoudings te ontwikkel, veral omdat mense baie kom en gaan. Daar is so baie om van hulle te leer, ek is maar nog net in die beginstadium. Ek kan tog sien dat hulle meer oopmaak en geselsies aanknoop. Dis ’n gemeenskap met baie uitdagings en pyn van die verlede wat baie gebrokenheid tot gevolg het. Die Elders word baie gerespekteer en na opgekyk; hulle wysheid word gekoester. Hulle weet watter plante gebruik kan word vir medisyne en vertel die stories van voorgeslagte, Songlines. Hulle weet ook hoe om gras te weef en kleurverf uit verskillende grond te maak. Daar is ook besliste skeiding tussen vroue- en mansbesigheid. Van die maak van skulppoppe vir meisies en spiesmaak vir seuns vir jag.

Ferdus en Rethamari le Roux
Jy is wit en jy is Afrikaans en jy kom van ’n Suid-Afrika waar dinge anders gewerk het toe ons kinders was as wat dit nou is. Hoe beleef jy die land en die omgewing waar jy nou is en hoe beleef die mense jou daar? Dra jy swaar aan bagasie en vooropgestelde idees en dink jy hulle dink dit ook van jou? Maak ek dit nou onnodig moeilik met hierdie vraag?
Ek het nog nooit in Australië ervaar dat mense my anders hanteer as gevolg van waar ek vandaan kom nie. Dis egter baie belangrik dat jy deel raak van hoe dinge in Australië gedoen word. Dis ’n wonderlike ander land met ’n oop hart vir almal. Dis ’n land vol immigrante van oraloor die wêreld wat saam ’n toekoms hier vind. ’n Mens kan nie die bagasie van ’n ander land saambring nie.
........
Dis ’n wonderlike ander land met ’n oop hart vir almal. Dis ’n land vol immigrante van oraloor die wêreld wat saam ’n toekoms hier vind. ’n Mens kan nie die bagasie van ’n ander land saambring nie.
........
Jy maak die besluit om lekker vars oor te begin en te waardeer dat jy kan deel in alles wat mooi is en heel is. Ons kuier lekker met Afrikaanse vriende en braai saam. Ons gesprekke draai nie om Suid-Afrika nie, maar om ons alledaagse lewe hier. Ek dink tog verskillende mense ervaar dit verskillend. Dit hang maar af van persoon tot persoon. Ek dink omdat my geloof so ’n groot rol in my lewe speel, dat ek nog altyd God se Hand in ons lewens gesien het en weet Hy het ’n plan met ons lewens en ons is Hemelse bewoners wat op aarde Sy ambassadeurs is. As ons waar ons gaan Sy lig en liefde skyn, kan ons regtig enige plek ons doel uitlewe en is ons uitkyk en fokus op Hom en nie die dinge van die wêreld nie. Ons ken ons eindbestemming.

Kom ons praat oor moedertaalonderrig in Australië. Jy weet seker dat dit in Suid-Afrika baie ingewikkeld gaan ten opsigte van tale. Die meerderheid Suid-Afrikaanse kinders gaan nie skool in hul moedertaal nie. Daar is nog baie Afrikaanse kinders wat in Afrikaans kan skoolgaan, maar dit is nie noodwendig die geval ten opsigte van ander taalgemeenskappe in die land nie. Hoe werk dit in Australië? Wat van die mense in jou klas? Watter tale praat hulle – en dink jy dit sal van waarde wees as hulle sekere konsepte in hul eie tale kan baasraak, eerder as in Engels? (Leer jy bietjie van hulle tale en leer hulle bietjie Afrikaans ook ...?)
Hulle geniet dit baie as ek in Afrikaans woorde sê en sommer bietjie Sotho en Zulu ingooi. Ons is baie ingestel op hulle taal en kultuur, maar kan nie skoolgee in hulle moedertaal nie. Met al die klein groepies (omtrent 150) met hulle eie tale, is dit nie moontlik om onderrig in elke taal te gee nie. Daar is egter spesiale programme wat fokus op die verwagting van leerders oor die hele Australië vir wie Engels ’n tweedetaal is.
........
Ons is baie ingestel op hulle taal en kultuur, maar kan nie skoolgee in hulle moedertaal nie. Met al die klein groepies (omtrent 150) met hulle eie tale, is dit nie moontlik om onderrig in elke taal te gee nie. Daar is egter spesiale programme wat fokus op die verwagting van leerders oor die hele Australië vir wie Engels ’n tweedetaal is.
.........
Met die hoeveelheid immigrante in Australië, is daar baie kinders wat hulp nodig het. Ons seuns het byvoorbeeld Engels as ’n addisionele taal geskryf in matriek. Daar is egter voorwaardes, soos dat ons minder as vyf jaar woonagtig moes wees in Australië. Om ’n burger van Australië te word moet jy egter ’n taaltoets slaag, aangesien dit die amptelike taal van die land is. Die taal is interessant genoeg nie Engels nie, maar Australian.
Daar is verseker groot genoeg groepe in Suid-Afrika dat moedertaalonderrig ’n aanbeveling sou wees. Mense in Suid-Afrika voel ook sterk oor hulle kultuur. Ek wil my egter nie te veel daaroor uitspreek nie, omdat ek gekies het om nie meer in Suid-Afrika te bly nie en is nie betrokke by aktuele dinge in Suid-Afrika nie. Mens moet ’n kopskuif maak en besluit waar jou tuiste is en vir ons is dit in Australië.

Die vistenk in die klaskamer wat deel is van klasgee.
Miskien moet jy my van ’n tipiese dag vertel. Begin sommer by ’n tipiese skooldag – as jy by jou huis is, tot jy gaan slaap die aand. Ek wil graag hoor van jou lewe daar.
Oggende begin met die skoolbussie (taxi) wat my oplaai 7:20, of as ek die bussie het, laai ek al die onderwysers op in Alyangula. Dan ry ons so 20 minute na Angurugu toe. Ons is so 8:00 by die skool. Die mammas en kinders kom skool toe vir ontbyt. Ons het so twee ander bussies wat rondry en kinders oplaai om skool toe te kom. Ons het so gemiddeld van 30 kinders altesaam wat per dag skool toe kom, alhoewel ons so 100 op ons skoollys het.
Klastyd is 8:45, dan word daar tande geborsel, neuse goed geblaas, hande gewas en gesiggies gewas. Ons het dan mattyd, waar ons lekker sing en gesels oor wat die dag gaan gebeur. Lessies volg daarop en elke nou en dan word daar eers lekker buite gespeel. 11:30 is middagete, dan rus ons bietjie en doen ons laaste les vir die dag. 13:30 is huis toe gaan tyd vir my kleintjies. Die ouer kinders bly tot 14:30.
Vrydae gaan ons na die dorpswembad vir swemlesse en ’n lekker piekniek.
Onderwysers gaan so 15:00 huis toe. Ons kry tyd deur die dag om voor te berei vir lesse en die meeste admin te doen, so ek kom gewoonlik 15:30 by die huis en dan is die res van die dag vir al die ander dinge. Ons het natuurlik nie iemand wat help met huiswerk nie, so daar is baie tyd wat ingaan in skoonmaak, klere was, stryk en al daardie lekker dinge. Ons speel ook graag muurbal, tennis, gholf en gaan swem by die lodge. Kuier met vriende is ook hoog op die lys en ja, hier is oud-Suid-Afrikaners op die eiland, so ons kan lekker in Afrikaans ook kuier. 😉

’n Bordjie wat swemmers teen krokodille in die seewater waarsku.
Is onderwys vir jou lekker? Wat is vir jou uitdagend daaromtrent? Is dit vir jou iets wat jou steeds passievol maak? Waarom ’n onderwyser wees en waarom sal jy enige Afrikaanssprekende persoon wat hier lees, kan aanraai of afraai om onderwys te studeer?
Die een ding wat lekker in Australië is met onderwys, is dat ons ’n goeie salaris verdien en daar opgekyk word na onderwysers, alhoewel daar glad nie neergekyk word op enige beroep nie.

Wat geniet jy en jou man om nog te doen?
Ons is baie avontuurlustig en het vir ons jet ski’s gekry om oor die krokodille te ry. Visvang is ’n heerlike uitstappie met van die wêreld se beste viswater. Ons hou van kuier en onthaal graag. Ons geniet die honeymoon-eilandseisoen. Ons geniet konserte en sportbyeenkomste. Daar is egter nie veel daarvan op die eiland nie. Ons gaan juis die Grand Prix in Melbourne kyk hierdie jaar en beplan ’n lekker safarivakansie in Suid-Afrika in Junie. Ons is baie lief vir snorkel, maar kan dit ongelukkig nie op die eiland doen nie, as gevolg van die krokodille. Ons was wel al ’n paar keer Great Barrier Reef toe en Cairns is ’n kort vlug van die eiland af, so ons beplan om dit gereeld te doen. Bali is ook naby en ons was al ’n paar keer daar. Ons vat die lewe soos dit kom met God as ons kompas en anker. Ons het met huiskerk by ons huis begin en hoop om te sien dat meer mense by ons gaan aansluit.
Lees ook:
’n Donker wolk en ’n nuwe skooljaar: ’n gesprek met ’n skoolhoof van Kuilsrivier
Die impak van Covid-19 op skole in Nederland: ’n onderhoud met Ina van den Boogaart

