Afrikaans: die taal van Afrika en die Afrikaner as ’n "African" – erkenning vanuit ’n onverwagse oord

  • 1

Foto van Danie van Wyk: verskaf; grafika van Afrika en bewoording: Canva

Telkens as daar na die Afrikaner as ’n “African” en na Afrikaans as ’n Afrika-taal verwys word, ontlok dit oneindig baie reaksies. In sekere kringe word dit aanvaar, maar in ander ontken. Selfs in Afrikanergeledere word nog verwys na Afrikaners as ’n eksklusiewe groep met ’n toegewydheid tot hul taal en tradisies. Die Afrikaner word nie erken as ’n groep eie aan Afrika nie, maar slegs deur hulself as ’n groep wat hul Suid-Afrikaansheid erken en probeer uitleef.

Die Afrikaner word nie gereken as ’n African nie, maar word as oorblyfsel van die koloniale era gesien en behandel. Joseph B Diescho, ’n bekende Namibiese professor,  skrywer en kommentator, het egter nuwe lig op hierdie menings en aannames gewerp. Hy het tydens ’n openbare lesing met die titel “The ghosts of settler colonialism upon us” by die Universiteit van Mpumalanga as geleentheidspreker nuwe lig op hierdie onderwerp gewerp wat groot byval op sosiale media gevind het en vele kere gedeel is.

[Die opmerkings oor Afrikaans word ongeveer hier by 56:28 in die toespraak aangehoor. - LitNet-redaksie]

Hy het ’n groot pluimpie vir Afrikaners in sy toespraak gehad, en selfs in Afrikaans na Afrikaners verwys as “’n saakmakende groepie” en erken dat Afrikaners Africans is en hier hoort. Hulle is deel van ons en kan nie ontken word nie – iets wat nooit voorheen deur sprekers van African oorsprong genoem en erken is nie.

......
Hy het ’n groot pluimpie vir Afrikaners in sy toespraak gehad, en selfs in Afrikaans na Afrikaners verwys as “’n saakmakende groepie” en erken dat Afrikaners Africans is en hier hoort. Hulle is deel van ons en kan nie ontken word nie – iets wat nooit voorheen deur sprekers van African oorsprong genoem en erken is nie.
.........

Afrikaners word voortdurend uitgekryt as rassiste wat nie die verlies van hul politieke mag kon verreken nie. Hy sê dat Afrika sonder die bydrae van Suid-Afrika nie sal ontwikkel nie en verwys spesifiek na die renaissance wat almal op die vasteland wil sien dat dit moet plaasvind. Dit sal nie kan geskied sonder die bydrae van Suid-Afrika nie, en dit is ’n feit wat nie geïgnoreer kan word nie. Suid-Afrika móét saak maak, want dit is deel van Afrika.

Hy het veral klem gelê op die erkenning van Afrikaans en die Afrikaner se bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrika en die stand van Afrikaans as ’n ontwikkelde akademiese taal. Hy noem dat Afrikaans die jongste taal in die wêreld is wat op akademiese gebied met ander wêreldtale kan meeding. Die taal beskik oor die woordeskat, taalkonstruksie, grammatika, wetenskapsterme en die aërodinamika om sy plek langs ander ontwikkelde tale in te neem. As ’n Namibiër wat ’n verbintenis tot Afrikaans het, ontken hy dit nie, want hy ken die geskiedenis van die taal. Suidwes-Afrika/Namibië is op ’n stadium informeel beskou as ’n vyfde provinsie van die Republiek van Suid-Afrika en die sterk inslag van Afrikaans kan tot vandag nog in daardie land gesien en ervaar word.

Ook is Afrikaans die enigste taal op die vasteland van Afrika is wat die naam Afrika in sy naam dra. Die oomblik as jy noem dat jy Afrikaans praat, weet mense onmiddellik dat jy van Afrika is. Dit verleen nog meer legitimiteit aan die taal se status binne Afrika en maak die taal sonder enige moontlikheid van ontkenning deel van die 2 000 ander tale op die kontinent. Die verskil is egter dat ander Afrika-tale nie tot die status van ’n volledige erkende akademiese taal ontwikkel het nie.

Hierdie mening van Diescho het ook ’n nuwe gesprek ontketen wat die soeklig weer op die posisie van Afrikaners binne Suid-Afrika en binne Afrika geplaas het. Afrikaners sien hulself as ’n minderheidsgroep binne ’n groter Suid-Afrikaanse samelewing. Hul definisie van wie of wat ’n Afrikaner is, is eng en uitsluitend. Dit is egter interessant om te sien dat daar drie bruin huisgesinne was wat ook deur die Trump-administrasie as deel van die verdrukte minderheid aanvaar is. Hulle het in hul aansoeke na hulself verwys as Afrikaners en is as sulks so aanvaar. Binne die Suid-Afrikaanse konteks sou dit egter nie kon geskied het nie. Hulle sou as bruin gesien wees en nie deel van die Afrikaners nie, al deel hulle dieselfde name, vanne, kultuur en godsdiens.

Diescho se sienswyse werp nuwe lig op die verwarring wat ontstaan as daar na “Afrikaners” verwys word. Hy sê dat daar sonder twyfel gesê kan word dat Afrikaners, en hul bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrika in die verlede, steeds ’n rol te speel het in die toekoms van die land.

Die groot Suid-Afrikaanse tragedie is dat Afrikaans nie as ’n inheemse taal erken word nie. Afrikaans word gekortwiek om sy plek langs ander Afrikatale in te neem. Dit alles is ’n somtotaal van die ideologiese benadering tot die onderwyssisteem. Daarvolgens is Engels die taal van onderwys en die staatsdiens in die algemeen en is ’n groot bydraende faktor tot die swak prestasies in die onderwys.

Diescho maak geen geheim daarvan dat Afrika se ontwikkeling geleë is in die ontwikkeling van sy tale nie. Daar is geen plaasvervanger vir moedertaalonderrig nie en die belang daarvan moet beklemtoon word.

Diescho rig ’n boodskap tot Suid-Afrikaners in die algemeen en Afrikaners in besonder om beheer en eienaarskap van Afrikaans te neem en dit te koester.

........
Diescho rig ’n boodskap tot Suid-Afrikaners in die algemeen en Afrikaners in besonder om beheer en eienaarskap van Afrikaans te neem en dit te koester.
..........

Alle Suid-Afrikaners, en in die besonders alle Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, moet van hierdie sentiment van Diescho kennis neem. Ons is nie alleen in hierdie wêreld nie en moet daarop aandring dat ons menings, belange en taalgeskiedenis voorop geplaas word. Slegs as ’n taaleenheid wat alle Afrikaanssprekers oor die spektrum insluit, sal ons sukses behaal. Die regering sal moet kennis neem van ons en ons kan in die proses gebruik maak van persone met invloed soos Diescho en ander meningsvormers op die Afrika-kontinent om die saak van Afrikaans te versterk.

Ons doen nie genoeg om die saak van Afrikaans te bevorder nie. Daar sal groter en beter kommunikasie ontwikkel moet word onder mede-Afrikaanssprekers. Ons sal kreatiewe gesprekke deel moet maak van effektiewe kommunikasie onderling om die vaardigheid van nuanse akkuraat oor te dra en te interpreteer. Afrikaans kan nie in afsondering funksioneer en floreer nie. Die taal moet gedepolitiseer word en dit is ’n gegewe wat spoedig aanvaar sal moet word. Afrikaans is ’n Afrikataal en ons sal moet uitreik na ander Afrikalande, veral in Suider-Afrika, om ons posisie te verduidelik en te vestig. Ons toekoms lê nie in Europa nie, maar in Afrika.

Dit was die kern van Joseph Diescho se lesing. Afrikaans is ’n deel van Afrika en het hier ontstaan en is hier geanker. Groter duidelikheid hoef nie verskaf te word nie.

Erkenning van hierdie genoemde feite sal Afrikaans ’n gebied laat betree wat voorheen nie toeganklik was nie.

Lees ook:

Internasionale moedertaaldag 2024 en die belang van moedertaalonderrig

Bestekopname na die matriekeksamen: ’n onderhoud

Wanneer ’n taalreg soos ’n spesiale vergunning lyk: die broosheid van moedertaalonderrig in Suid-Afrika

Genadendal-onderwysberaad spreek onderwyskrisis aan

  • 1

Kommentaar

  • Connie Kerkmuis

    Hierdie is 'n debat wat binne die Afrika-nasionalisme woed. Diescho se mening kan nie as 'n algemene opvatting beskryf word nie. Twee ander gewilde opinies oor Afrikaans is die volgende.

    1. Afrikaans is 'n Europese taal. Dit is basies Nederlands. Dit deel veel meer met Europa as met Afrika.

    Hierdie is die historiese uitkyk van die Afrika-nasionalisme op Afrikaans. 'n Bekende alternatiewe naam van Afrikaans vanuit Afrika is dan ook Seburu - dit is die taal van die Boere. Geen 'Afrika' in daardie benaming nie...

    2. Afrikaans is in Afrika ontwikkel deur swart Suid-Afrikaners. Dit is later deur Europeers geaproprieer, tesame met die identiteit van 'Afrikaner' wat ook deur blankes toegeien was net soos die taal self.

    Hierdie is 'n meer moderne interpretasie en dit weerspreek die uitkyk soos vervat in nommer 1. Die doel van hierdie interpretasie is om swart (of te wel bruin) sprekers van Afrikaans te probeer omarm as mede 'Africans'. Dit ten spyte van die feit dat die Suid-Afrikaanse Grondwet ruimte maak vir die onderskeid tussen 'coloureds' en 'Africans', en dit ook so toegepas word deur middel van die Wet op Gelyke indiensneming en ander raswette.

    Hierdie is gesprekke wat binne die parameters van Afrika-nasionalisme uitspeel en binne daardie raamwerk word die klein ou klompie wit Afrikaners, wat eerder as Europese setlaars in Afrika gesien word, eintlik maar net 'n politieke speelbal. Hulle is 'colonialist of a special kind', wat net een paspoort het, en is bekend as die mense wat tydens apartheid die mag gehad het.

    In Suid-Afrika is Afrikaans afgeskaf by universiteite, en met die BELA wet gaan Afrikaanse skole ook stelselmatig al meer en meer verdwyn. Elders is Afrikaans drasties ingekort, soos bv by die Openbare uitsaaier. Afrikaanse koerante en tydskrifte verdwyn, aangehelp deur die dominansie van digitale koerante, en Afrikaanse boeke word ook stadig maar seker minder.

    Klomp van die wit Afrikaners voel nie sterk oor hulle historiese identiteit nie, en 'n nuwe verskynsel het begin posvat waarvolgens van hulle ook nou begin voel hulle is 'Africans'. Dit is egter onmoontlik, want African is 'n ras en tydens apartheid het die Afrikaners gedurig borde opgerig om te onderskei tussen areas waar hulleself as 'Europeërs' welkom is en waar 'Africans' se geriewe, ingange ens. is. Die idee vat in elk nie pos buite hulle eie kring nie, en hulle word op enkele uitsonderings na, soos hier bo, steeds as Europese setlaars beskou.

    'n Deel van die setlaars omhels dan ook die konsep 'Afrikaner' voluit, maar stry weer onder mekaar oor of hulle 'Afrikaners' of 'Boere' is. Hierdie mense is geneig om die Stem te sing saam met Steve Hofmeyr, lede van Afriforum te wees, en erns te maak met Afrikaans en hulle bou hulle eie Afrikaanse instellings soos Sol-Tech, Akademia ens.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top