
Maryna Besseling, skakel- en mediabeampte van SAOU (Suid-Afrikaanse Onderwysersunie), beantwoord Naomi Meyer se vrae oor die pasafgelope matriekeksamen.
Nog ’n matriekeksamen is verby en die lang wagperiode is aan die gang totdat die uitslae kom. Wat is julle huidige gedagtes, in die algemeen, oor vanjaar se pasafgelope eksamen?
Die klas van 2025 is ’n baie belangrike groep en ons sien met afwagting uit na hulle uitslae. Hulle is gebore in die jaar waarin die Apple iPhone die mark getref het en het dus met ’n ander benadering in terme van kompetisie in die tegnologiemark grootgeword.
Hulle is die groep waar graad R reeds goed gevestig was in skole en kleuterskole, en hierdie kandidate het ’n goeie VKO-onderbou gehad. Dit impliseer dat hulle voorleer- en -leesvaardighede dus baie goed gevestig behoort te wees.
Hulle is negatief geraak deur Covid-19 en moes daarom harder werk om die leeragterstande van daardie periode op te vang. Hulle is grotendeels onderrig op die aangepaste Jaarlikse Onderrigplanne, wat ’n hersiening en inkrimping van die kurrikulum was.
Hulle het baie ondersteuning gehad in terme van hulpbronne en ondersteunende programme.
Ons sien met opgewondenheid uit na die prestasie van hierdie groep.
Waaraan meet mens die maatstaf van of ’n eksamen suksesvol was? Mens kan nie net sê daar was nie oënskynlik veel korrupsie nie en daarom was dit goed nie. Dis soos om te sê iemand se motor skakel aan sodat hy daarmee kan ry: Dit is iets wat mens van ’n voertuig verwag. Of hoe? Help my gerus reg as jy nie saamstem nie.
Dit is altyd ’n meervoudige analise om te verseker dat die eksamen suksesvol was:
- Was daar ’n geskikte kurrikulum waarin hierdie leerders onderrig is? Die antwoord hierop is ja. Dit is belangrik dat die kurrikulum omvattend genoeg was, omdat 25% van die graad 12-uitslae op skoolgebaseerde assessering gebaseer word. Dus dan ook geskikte onderrig en vaardigheidsontwikkeling.
- Die sistemiese gereedheid wat fokus op die beskikbaar stel van die korrekte vraestelle, die lek van vraestelle, leerders wat verbied word om aan die eksamen deel te neem, arbeidsonrus in sekere gebiede, kragonderbrekings en dan ook korrupsie. As daar sulke insidente is, plaas dit die kandidate onder meer druk en dit gooi ’n groot, donker wolk oor die stelsel en of leerders nie ’n onregmatige voordeel bo ander jaargroepe gehad het nie.
- Verspreiding van korrekte vraestelle: Dit is belangrik dat die vraestelle nie foute in het nie, dat dit ’n betroubare vertaling van vraestelle is, dat die vraestelle duidelik gedruk is, dat die nodige aanhangsels en stukke in die vraestelle ingesluit is. Dit verminder druk op leerders wat die vraestelle moet skryf. Baie leerders lei reeds aan ’n vorm van eksamenvrees en as daar dan probleme met die vraestel is, plaas dit hulle onder meer druk.
Daar hang soveel van ’n matriekeksamen af. Natuurlik moet daar ’n maatstaf wees waar kinders van die land oor dieselfde kam geskeer word en gemeet word sodat mens kan bepaal wie moet byvoorbeeld universiteitstoelating kry. Maar in ’n ongelyke land soos Suid-Afrika ... hoe is dit moontlik? Wat is die praktiese dinge wat gebeur om hierdie soort gelykheid vir die matriekuitslae te bewerkstelling?
Die een aspek wat die kwaliteit van die kwalifikasie verseker en ook verseker dat hierdie jaargroep nie bo ander groepe bevoordeel of benadeel word nie, is die prosesse wat deur Umalusi geïmplementeer word. Tydens die verskillende interaksies met Umalusi word vakke teen vorige jare se vakke gemeet, verslae van die interne moderators in terme van probleme met vraestelle word in ag geneem en bestuur.
Leerders uit landelike gebiede ontvang in hulle graad 12-jaar ekstensiewe addisionele ondersteuning, wat naweekklasse, vakansieskool en vorige vraestelle insluit.
Tans is die kurrikulum baie stabiel en daar is baie ondersteuningsmateriaal, maar ook vorige vraestelle wat leerders voorberei.
Ek hoor van sekere vraestelle wat aandag getrek het vanjaar. Wiskunde. Hoekom was daar vrae oor ’n vraestel soos Wiskunde 1? Was die vrae geregverdig? En waarom die geweldige groot klem op ’n vak soos Wiskunde? Mens kry tog werklik verskillende wyses en vakgebiede waarvolgens logika en intelligensie gemeet kan word!
Wiskunde word gesien as ’n vak wat vantevore net toeganklik tot sekere leerders was. Die Suid-Afrikaanse Onderwysstelsel meet homself aan internasionale standaarde, soos die PIRLS en TIMMS en SEAQMEC. In hierdie standaarde word ’n land gemeet aan die aantal leerders wat Wiskunde (en in ’n mindere mate Wetenskap) neem. Dit dui op ’n ontwikkelende land wat kompeterend kan wees in ’n internasionale arbeidsmark, waar vordering in terme van tegnologie kan wees. Daarom hierdie druk vir leerders wat ’n vorm van Wiskunde moet neem en toegang tot tersiêre instansies moet hê.
Wiskunde is altyd ’n moeiliker vraestel en het meer uitdagings as van die ander vakke. Hierdie vraestelle word volgens ’n taksonomie opgestel waarin daar makliker en moeiliker vrae moet wees. Hierdie vraestelle gaan deur verskillende prosesse om te verseker dat die vraagstelling korrek en billik is. Die vrae was regverdig gewees.
Jy is korrek. In ’n land soos Suid-Afrika, waar ons sangers en dansers, storievertellers, myne en plase het, is dit dalk nodig om te kyk na vakke wat:
- entrepreneurs sal ontwikkel;
- kunstenaars sal laat blom;
- aan die eise van die ekonomie kan voorsien; en
- vakke soos mariene, landbou en ander industrieë sal uitbou.
Die vraag is – voldoen die voorbereiding van werkers in hierdie land aan die eise wat die land het, of bou ons aan ’n akademiese kwalifikasie wat nie verskillende gawes van die kinders van die land in ag neem nie?
Een van die vraestelle wat in hierdie jaar ’n uitdaging was, is Rekeningkunde, omdat dit die eerste jaar is waarin die vraestel in ’n ander formaat geskryf is.
Somtyds kan ’n kind baie hard werk en die eksamen kan teen hom tel. Gestel iemand vaar nog altyd goed in ’n sekere vak, maar in die matriekeksamen slaag hy nie om ’n goeie punt te behaal nie. Wat van tweede kanse? Moet kinders in hierdie tyd bewus wees daarvan dat daar wel tweede kanse en nog geleenthede bestaan?
Dit is inderdaad so – omdat ons net een “eksterne eksamen” het, is daar die uitdaging dat ’n leerder op die dag van die eksamen siek kan voel, eksamenvrees kan ervaar, tydsdruk tydens die eksamen ervaar en in daardie vraestel nie goed vaar nie. Die leerders skryf ’n groot aantal vraestelle in die bestek van ’n maand, wat ongelooflike druk op hulle plaas. Hulle leer op moeilike tye en raak eksamenvoos (moeg en afgestomp). Dan ook natuurlik is daar vakke waar meer as een vak op dieselfde dag geskryf is. Leerders ondervind dat die twee sessies fisies uitputtend is en veroorsaak dat hulle nie so kreatief kan dink nie.
Dit is nie die einde van die wêreld as jy nie so goed gedoen het soos wat jy gedink het jy sou nie.
- Vraestelle kan hermerk word. In sommige gevalle is dit baie belangrik om seker te maak dat daar nie moontlik ’n fout in die nasienproses was nie.
- Leerders kan vir sekere vakke vir die Junie-eksamen registreer. Leerders skryf al die vraestelle in die vak oor en gewoonlik is die uitslae beter. Registrasie vir die Junie-eksamen deur die Departement van Basiese Onderwys is gratis.
- Leerders kan aansoek doen om die jaar te herhaal en dit is ’n opsie om dit deur ’n aanlyn instansie te doen – dit geld veral vir Lewensoriëntering of vakke waar die Skoolgebaseerde Assessering (SBA) vir die jaar nie voltooi is nie.
Lees ook:
Universiteit of ambag vir skoolverlaters? ’n Onderhoud met Sonja Squires
Te min geld vir onderwys: ’n onderhoud oor die regering se plig en ouers se taak

