Universiteit of ambag vir skoolverlaters? ’n Onderhoud met Sonja Squires

  • 1

Sonja Squires, jare lank reeds betrokke by Loeriesfontein se skoolgemeenskap, praat aan die einde van nog ’n akademiese jaar met Naomi Meyer oor geleenthede vir matrikulante wat nie volgende jaar universiteit toe gaan nie – en oor die geleenthede wat daar juis vir hierdie kinders bestaan.

Sonja, dis die einde van die jaar en dis die laaste stuiptrekkings van die eksamen. Baie matrikulante werk hard, maar as die punte en die uitslae kom, het hulle nie universiteitstoelating gekry nie. Is dit die einde van die wêreld? En hoekom sê jy wat jy sê?

Dis vir seker nie die einde van die wêreld nie, maar eerder ’n opwindende kans om uit die boks te dink oor jou talente en moontlikhede daarmee. Dikwels dui ’n akademiese rapport nie die potensiaal van ’n ambag- of landboukind na regte aan nie.

.......
Suid-Afrika het ’n tekort van meer as 10 000 ambagspersone en wêreldwyd sit groot lande ook met soortgelyke tekorte – die wêreld is eintlik jou oester as jy in ’n ambag wil kwalifiseer, en boonop kan jy ’n kans kry om oorsee te reis.
........

Suid-Afrika het ’n tekort van meer as 10 000 ambagspersone en wêreldwyd sit groot lande ook met soortgelyke tekorte – die wêreld is eintlik jou oester as jy in ’n ambag wil kwalifiseer, en boonop kan jy ’n kans kry om oorsee te reis.

Vertel my van die toetse wat julle onder graad 9- tot 12-leerders gedoen het oor sensoriese en logiese integrasie. Wat behels dit?

Neuro-Link-breinratsheidmetings oor die laaste 10 jaar in dele van die Noord-Kaap, en selfs Wes-Kaap, dui op ’n beduidende aantal leerders ouderdom 14 en ouer wat intelligensievoorkeur toon vir ’n kombinasie van voorkeure wat tipies eie is aan ambagstudente.

Tot soveel as 40% van hoërskoolleerders in die distrikte waar ek en my spanne werk, het so ’n unieke tipe profiel en hulle presteer baie goed as hulle dit as studieveld aanpak na hul skoolloopbaan.

Ek wil nie vereenvoudig nie, want die brein is baie kompleks, maar tog kan ons nie anders as om te sien hoe die tendense herhaal word orals waar ons werksaam is.

’n Mens se brein het ’n natuurlike bedrading wat neig meer na ’n akademiese of ’n praktiese benadering tot leer en werk. Daar is een van drie kombinasievoorkeure by intelligensievoorkeure wat by al ons student voorkom wat ingeskryf is vir ambagte. Hulle het ’n sterk voorkeur vir kombinasie velde logies-wiskundig slim en sensories-slim, of is sensories-slim en natuur-slim, of is logies-wiskundig en natuur-slim.

.......
’n Mens se brein het ’n natuurlike bedrading wat neig meer na ’n akademiese of ’n praktiese benadering tot leer en werk. Daar is een van drie kombinasievoorkeure by intelligensievoorkeure wat by al ons student voorkom wat ingeskryf is vir ambagte. Hulle het ’n sterk voorkeur vir kombinasie velde logies-wiskundig slim en sensories-slim, of is sensories-slim en natuur-slim, of is logies-wiskundig en natuur-slim.
........

Ons vind ook dat wanneer hulle hand-oor-invoer na die brein vir prosessering ’n voorkeur van meer as 50% toon, hul ook makliker in die praktiese klas vorder waar teorie toegepas word. Al ons ingeskryfde studentjies maak tans ’n groot sukses van hul studies by landswye  vaardigheidontwikkelingsinstansies soos Africa Skills, wat 14 kampusse het, en party se hoogste skolastiese vordering was graad 8–9 weens sosio-ekonomiese hindernisse, maar ook weens gebrek aan begrip vir hul unieke leerwyse.

Ons mik juis om jongmense te help wat nie hul hoërskoolloopbane klaargemaak het nie en by graad 8 of 9 tot stilstand gekom het. Veral die Noord-Kaap het ’n geskiedenis van “drop-out”-leerders tussen graad 7 en 9 wat gevaar loop om ’n blink toekoms te verbeur. Dit gebeur maklik, omrede fondse vir studies ’n skaars bron is en aangewend word waar jongmense die verste gevorder het akademies in ons land.

Ons het egter ’n kosteverhalingsmodel ontwikkel wat ons volgende jaar (DV) wil implementeer om dit met die hulp van befondsers moontlik te maak vir ’n jongmens om ’n geakkrediteerde landboukursusreeks of ambag te voltooi terwyl hul ’n basiese toelaag ontvang.

Die model word tans aan belangstellende befondsers voorgelê en die belangstelling is merkbaar weens die kosteverhalingskomponent wat nie op die student gefokus is nie. Ons is hoopvol om hiermee ’n verskil te maak anderkant ons skoleprojekte, sodat jongmense wat al hoop verloor het, ook ’n kans kry om toe te tree tot ’n blink toekoms.

Goed en wel dat almal nie noodwendig aangelê is om universiteit toe te gaan nie. Maar is daar werk en loopbane vir daardie mense in julle omgewing? Vertel asseblief van die loopbaanoggend waar die kinders en hul ouers meer kan kom uitvind.

Naomi, ons beoog ’n tweede loopbaanoggend ná vanjaar se reuse sukses waar  instansies soos die Universiteit Stellenbosch, Sol Plaatje, Akademia, Noordwes-Universiteit en Africa Skills uitgestal het. Ons het graad 12-leerders uit dorpe van ’n 250 km-radius genooi en dit beperk tot een oggend. Leerders het kans gekry om na bekwame werwingsprekers van die opleidingsinstansies te luister en het daarna pragtige stalletjies besoek vir meer inligting.

Ons beoog, DV, om vroeg volgende jaar die oggend te herhaal. Ons beoogde datum is die week van 10 Maart op Loeriesfontein, maar ons sal dit eers in Januarie kan bevestig wanneer almal terugkeer van hul feesgetyvieringe.

Dit sal wel uitbrei om graad 10- en 11-leerders in te sluit, veral omdat universiteite se keuringsvereistes dikwels al inskrywing teen graad 11 vereis. Dit skep ook al ’n jonger blootstelling aan moontlikhede vir ons leerders wat andersins nie in ’n stad sou uitkom om instansies te besoek nie.

Ons glo in die invoer-uitvoer-beginsel. Ons voer die kennis oor die diensverskaffers landswyd in deur ’n loopbaandag en dan voer ons ons studente uit na die res van die land se kampusse om die leer- en werkskultuur van daardie streke te ervaar.

Dink jy as daar kinders grootword in ’n omgewing waar min ander mense van hulle familie al blootgestel is aan geleenthede, sulke soort geleenthede iets is wat hulle sal opgewonde maak? Of dink jy as die kind iets in homself ontdek wat veroorsaak dat hy sien hoe baie hy kan bereik, dit reeds die eerste vonk kan veroorsaak? Waar begin mens op hierdie reis na selfontdekking en voorsiening maak vir jouself?

Ons kinders het ’n natuurlike belangstelling in die grootsheid van ons land se skoonheid en uniekheid. Hulle almal droom drome van groei en uitstyg. Hul wil juis hul ouers kan help om uit armoede op te staan, en weet dat die geleenthede dikwels vereis dat mens moet bereid wees om ’n skuif te maak.

Akkurate inligting oor studiegeleenthede wat bestaan, ’n meting oor watse belangstellings en bedrading binne jou is wat jou voorkeure rig, is noodsaaklik vir ’n kans op persoonlike studiekeuses wat vreugde kan bring. Geen meting kan ooit alles meet nie, maar ons wil wel ’n akkurate aanduiding van die koers hê wat ons moet inslaan met ons poging om kinderpotensiaal te ontwikkel.

Die stigma aan alles wat nie universiteitsgebore is nie, moet ons afskud. Die wêreld is veel groter as akademie.

Hoekom doen jy wat jy doen, Sonja?

.......
Ons land het ’n geskiedenis van onbenutte geleenthede vir al ons mense weens ontwrigtende sosiale omstandighede en baie ander nonsens soos korrupsie en geweld.
........

Ons land het ’n geskiedenis van onbenutte geleenthede vir al ons mense weens ontwrigtende sosiale omstandighede en baie ander nonsens soos korrupsie en geweld.

Ek moes al dikwels in die verlede ons motivering verduidelik aan mense wat moedeloos en kwaad is en amper hoop verloor. Die fondasie in Jesus Christus is egter ’n ewige een wat vastigheid en herstel insluit vir elkeen wat dit aangryp. Vir my beteken dit om te veg in geloof in God se ewige liefde gewys deur Jesus aan die kruis. Die ontwikkeling van Godgegewe potensiaal in elke kind en jongmens is vir my die manier waarop ek eer bring aan Sy handewerk binne elke mens, waar ek kan. 

Ek kan my nie blind staar teen die gebrek aan beskikbaarheid van fondse nie, want dikwels is fondse min maar die geloof baie. Ons moet bou terwyl daar nog tyd is, maar met ’n ander, nuwe fokus, met akkurate kennis uit die breinratsheidsmetings wat ons doen. Ons moet in die eerste plek nie net ons eie woning bou nie, maar ook mekaar s’n, veral waar daar kinders is wie se kastele nooit andersins gebou sal word nie. Dit is wat die Here wil hê en dit sal vir seker geseënd wees.

Ek dink so aan ’n gediggie wat my een dogter, Deborah, geskryf het aan die einde van haar graad 12-skoolloopbaan:

Jy is nie ’n nommer nie

Jy is nie ’n nommer nie.
Nie die nommer op jou skoolrapport
of die hoeveelheid grade wat jy het nie.
Selfs nie die nommer op jou IK-verslag nie.

Nie die nommer op jou sporthemp
of op die ranglys nie.

Nie die nommer in jou bankrekening
of die hoeveelheid karre wat jy het nie.

Nie die nommer van jou klere,
die skaal
of die maatband nie.

Nie die nommer van hoeveel mense
al in jou belanggestel het nie.
Of van hoeveel verhoudings
al verkrummel het nie.

Jy is ’n mens,
’n mens met

Gedagtes
Emosies
Passies
Drome.

Die wêreld sal nooit
ooit
die wonder
van wie jy is
kan meet nie.

As instrument gebruik ons wel Neuro-Link se breingebaseerde profiele om ons toe te rus met akkurate inligting vir talentontwikkelingsprojekte in skoolgemeenskappe, en dit het met verloop van tyd uitgebrei om ook die bestuur van studieverwante geleenthede in te sluit, veral in die veld van ambagte en landbou. Om te bou sonder kennis is om te faal.

So tipies sal alle leerders wat deelneem, eers ’n persoonlike meting vir breinratsheid voltooi, en dit gee ’n goeie aanduiding van wat die individuele plan van aksie vir die “vonk” moet wees, soos jy tereg noem. Ons bepaal dan ’n gemeenskapsprofiel vir ondersteuning op grond van die data en lei dan ’n span plaaslike fasiliteerders op in die areas wat aangedui is deur kinders se bedrading. Tans is die oorgrote meerderheid se belangstelling die ontwikkeling van sport-, landbou-, musiek-, skaak-, taal- (veral lees-) en handvaardigheid.

Oefensessies word dan by die skole in die namiddae in vakansies gedoen met ouer- en voogtoestemming.  

Ons stel ook breinvoeding beskikbaar aan deelnemende leerders, naamlik Genesis Nutrition, ’n puik produk wat ontwikkel is deur ’n dieetkundige uit Engeland. Dit stel energie vry oor 4+ ure, veral wanneer leerders baie breinenergie brand gedurende skooleksamens en toetse. Dit is baie gewild by ons graad 12’s, sportleerders en Grondslagfase-leerders. Want geen mens kan helder dink en doen op ’n leë maag nie.

’n Skoolgemeenskap wat spesifieke vermelding regverdig, is die Loeriesfontein-skoolgemeenskap in die Noord-Kaap wat, sedert hulle meer as drie jaar gelede begin het met ons Rise and Excel-program, gegroei het van ’n 73%-slaagsyfer in graad 12 na ’n 100%-slaagsyfer. Hul lewer ook nou konstant sportleerders op wat provinsiale rugbyproewe speel, en die eerste Junior Springbok, Terenice Kriel, is nou gekies vir die o/18-SA-damesrugbyspan. Ons is supertrots op haar. So ’n klein gemeenskappie van net oor die 3 000 mense wat so kragtig opstaan en uitstyg, bewys almal kan dit doen. Natuurlik het ons betroubare befondsers wat dit moontlik maak, maar dit wys net wat met ingeligte, volgehoue aandag en toewyding vermag kan word.

Skenkings is welkom, kontak NeuroLink.

Lees ook:

Swak gevaar in die tweede kwartaal se skooleksamen? Hier is hulp en raad

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Daar is hoop vir die Noord-Kaap en vir die land se kinders: ’n gesprek oor hoe Loeriesfontein Hoërskool se skoolprestasies verbeter het

Loeriesfontein Hoërskool behaal ’n 100%-slaagsyfer: oud-matrikulante vertel hoe hulle dit reggekry het

Loeriesfontein hou ’n skole-expo en skep geleenthede: ’n onderhoud

  • 1

Kommentaar

  • Annette Visser

    My suster se kleinkind, Gr 11, is nog nie seker oor sy toekoms nie. Hy is sportmal, maar daar speel hy 3e span. Nie so opgewonde oor sy akademie nie, maar doen gemiddeld, in sekere vakke 80%+.
    Sy ma sê hy kan word wat hy wil, maar sy dink ingenieur is sy nis.
    Sy pa is oorlede nog voor sy geboorte en ma het 'n baie goeie werk en leef vir haar kind.
    Ek stem saam met algemene idee oor ambagsmanne, maar hy is nie so entoesiasties daaroor nie - ek vermoed omdat hy nie sy ma wil seermaak nie. Ek praat nie baie oor onderwerp nie.
    Stuur asb enige literatuur wat hom ook "die anderkant van die saak" sal laat sien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top