
Gillian Arendse doen sy toertjies.
- Alle foto’s is deur Marzahn Botha geneem en word met toestemming gepubliseer.
“Elke kind wil lees.”
“Want ’n kind wat lees, is ’n bevoorregte kind,” verkondig die digter, Antjie Krog, wyd en syd. Dit was die boodskap op die onlangse VVA-Leeskonferensie wat verlede Donderdag tydens die Adam Small-fees by die PC Peterson Primêr in Kylemore vir onderwysers en opvoeders van veral die voorskoolse kind aangebied is. Die leeskonferensie is ’n belangrike inisiatief wat deel vorm van die ATKV en Adam Small Fees se skoleprogram in samewerking met die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) om onderwysers te motiveer en in hulle beroep in weghollende tegnologiese vooruitgang van kunsmatige intelligensie te ondersteun.

Shireen Crotz, Dokka Swart, Gillian Arendse, Chareldine van der Merwe en Wilna van Rooyen
Die fees het ook die werke van die ontslape Adam Small, wat vanjaar 90 sou word, gevier. Dit het saamgeval met Internasionale Moedertaaldag wat vanjaar gefokus het op die bemagtiging van die jeug in uitdagende tye van tegnologie, met opvoerings en gedenklesings deur die SBA onder die vaandel van “Adam Small en die jeug”.
Dié leeskonferensie se fokus was meer op voorgraadse leerders wat jy moet toerus om te lees.
Sowat 50 onderwysers van graad R het die middag afgestaan om na vier kundige sprekers te luister wat elk tematiese praatjies gelewer het oor leesontwikkeling by voorgraadse lesers. Hulle het ook die emosionele welstand van die opvoeders, die belangrikheid van voorlees tydens swangerskap en die waarde van die onderwyser in die klaskamer bespreek.
Shireen Crotz (VVA) was die programleier. Die VVA is betrokke met lees, leesontwikkeling, leesbevordering vir grondslagfase, voorskoolfase, intersepfase en om die liefde vir lees by kinders aan te wakker. Die program is saamgestel om aan die onderwyser hulpmiddels te gee om ’n liefde vir lees en lees met begrip by leerders aan te wakker, sowel as om die onderwysers te onderskraag en motiveer om al die verskillende uitdagings in en buite die klaskamer te hanteer.

Wilna van Rooyen aan die woord
“Ons kon die opvoeders toerus met nuttige wenke wat hulle in hulle klasse kan toepas, soos hoe opvoeders na hulself kan omsien, hoekom voorlees belangrik is, die boublokke wat in plek moet wees om die kind leesgereed te kry, vroeëkinderontwikkeling en hoe om die lekker weer in klasgee te sit,” sê Chareldine van der Merwe van die ATKV: VVA en redakteur van Doendinge van Afrikaans.
Die wonder van ’n kind
Wilna van Rooyen van Pretoria, ’n spesialis in vroeëkinderontwikkeling: AON, sê lees is geweldig belangrik vir die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON). AON verskaf ook fantastiese plakkate en hulpmiddels gratis wat onderwysers kan gebruik tydens hulle aanbiedinge.
Sy beklemtoon dat lees nie eers in graad 1 begin nie, maar reeds in die voorskoolse jare deur taalblootstelling, spel en interaksie.

Chareldine van der Merwe aan die woord
“Lees begin voor geboorte. Fetusse hoor meer die wysie van die taal as wat jy sê. Op 38 weke kan mens duidelik voue in die brein sien. Hoe meer voue in die brein is, hoe groter is die moontlikheid vir intelligensie. Dis waarom die voorgeboortefase so belangrik is.”
Volgens Van Rooyen vorm die huisiemodel deur Melodie de Jager die basis van leer. Dit sê dat sensories-motoriese ontwikkeling die fondasie van die leerhuisie is. Wanneer kinders veilig voel, emosioneel sterk ontwikkel is (die mure van die huisie), sal hulle bereid wees om uit te reik en maatjies te maak (wat die vensters en deure van die huisie is). Daarna kan gefokus word op die dak van die huisie, wat kognitiewe leer verteenwoordig, soos lees, skryf en wiskunde.
“Die proses om taal aan te leer om gereed te wees om te leer lees en skryf duur minstens ses tot sewe jaar. Gedurende die eerste vyf tot ses jaar word die grondslag gelê vir alles wat die kind nog moet leer. Sensories-motoriese, emosionele, sosiale en kognitiewe ontwikkeling moet gevestig word. Lees, skryf en spel is nie vaardighede wat aangeleer word soos om tou te spring nie. Hierdie vaardighede kan nie ontwikkel as al die ander aspekte nie ook ontwikkel word nie. Lees is dus nie natuurlik nie; dis aangeleer,” sê Van Rooyen.

Shireen Crotz, Dokka Swart en Wilna van Rooyen
“Die kind kan leer lees deur klanklees, herhaling van bekende woorde soos hulle eie name, een woord op ’n slag, baie herhaling, illustrasies en grootgedrukte letters, die gebruik van flitskaarte, die lees van interessante boekies, die gebruik van ’n mengsel maklike materiale. As enige bladsy meer as vyf woorde bevat wat die kind nie ken nie, stoor die boek vir later.”
Wys is leer
Dokka Swart, een van die medestigters en ontwikkelaars van die Doen en Leer-projek, het Rose Botha, ’n oudonderwyseres wat hierdie program ontwikkel het, meer as 20 jaar gelede ontmoet. Dokka het ’n beweeglike praatjie gelewer om te wys hoe die ouer of opvoeder aktiewe oefening met kinders kan doen om hulle breine te ontwikkel. “Jy kan ’n paar oefeninge met kinders doen, soos oorkruisbewings, om hulle breine aktief gereed te kry voor hulle moet begin leer,” sê Swart.
“As ’n kind twee keer op sy voetjie kan spring terwyl hulle tel, is hulle reg vir skool. Hulle moet ook kan klop op hulle skouers om links na regs vas te lê. Jy moet kinders ook motiveer om hulself ’n drukkie te gee en hulself lief te hê. Kinders se tongspiertjie moet ook ontwikkel. Dis belangrik vir taal, uitspraak en aanleer van ’n taal. As jy vir kinders sê om hulle tong uit te steek en punt jou tong, dan moet hulle van links na regs kan beweeg om bewustheid van die tong te kry. Hulle sal dan sommer ook baie maklik ‘th’ kan sê. Gee aandag aan die kind se balansoefeninge; die gebruik van kort rymwoorde en lettergrepe; plofbare spelklanke, soos kat, mak, rak, vat; ontwikkel hulle luistervermoë deur herhalings.”

Chareldine van der Merwe spreek die gehoor toe.
Voorlees met begrip
Chareldine van der Merwe, van die ATKV: VVA en redakteur van Doendinge van Afrikaans, het gesels oor die belangrikheid van voorlees.
“Sowat 5 miljoen mense in Suid-Afrika is ongeletterd. Maar dit kan omgedraai word. Jy kan jou kind help om lief te wees vir lees deur tegnologie in te span, hulle na stories te laat luister, prente uit tydskrifte te gebruik, papbokse te wys, kinderstories te vertel, prentjies uit ou storieboeke te knip.
“Om ’n kind lief te maak vir lees moet ons eers verstaan hoe kinders leer en wat hul ontwikkeling beïnvloed. In vandag se tegnologiese wêreld spandeer baie kinders ure voor klein skerms. Navorsing wys dat oormatige skermtyd die brein anders laat funksioneer. Digitale speletjies stimuleer hoofsaaklik die linkerbrein, wat hand-oog-koördinasie en visuele geheue verbeter. Maar as die regterbrein nie genoeg gestimuleer word nie, kan vaardighede soos kreatiwiteit, empatie, luister en lees daaronder ly. Daarom is dit belangrik om balans te skep en doelbewus tyd vir boeke en stories te maak.
“Die liefde vir lees begin by sterk boublokke. ’n Kind moet van kleins af blootgestel word aan taal. Praat gereeld met jou kind en bou sy of haar woordeskat uit. Voor ’n kind kan lees, moet hy verstaan dat woorde betekenis dra. Help jou kind om links van regs te onderskei, want lees beweeg van links na regs. Oefen ook visuele vaardighede, soos om groot van klein te onderskei, en om te weet wat bo en onder is.

Gillian Arendse
“Ontwikkel vertelvaardighede deur jou kind te vra om gebeure te beskryf en stories te vertel. Speel klankspeletjies en leer fonologiese vaardighede, soos om rymwoorde te herken. Fyn motoriese aktiwiteite, soos kraleryg en legkaarte, asook groot motoriese aktiwiteite, soos spring en klim, ondersteun konsentrasie en selfbeeld.
“Leesgereedheid verskil van kind tot kind en moet nie afgedwing word nie. Wanneer ’n kind belangstelling toon in letters en sy of haar naam, is dit ’n goeie tyd om speel-speel te begin lees. Moenie te veel verwag of jou kind met ander vergelyk nie. Met geduld, aanmoediging en ’n positiewe benadering kan jy ’n liefde vir lees kweek wat ’n leeftyd hou,” sê Van der Merwe.

Dokka Swart se aanbieding
Wees die verandering
Onderwysers het meelewend saamgeluister na die eksentrieke Gillian Arendse, eksperimentele kernfisikus en motiveerder, se motiverende gesprek, genaamd “Putting the ‘cool’ back into school!”, oftewel “Sit die kool terug in skool!”
Hy het onderwysers gemotiveer om die momentum te behou wat hulle so ywerig aan die begin van die jaar in die klaskamer het – veral in ’n veranderende wêreld waar dinge so vinnig rol.
“Ons moet dink oor wat ons doen, sodat jy nie voel soos ’n slaaf van wat jy doen nie. Ons moet dink wat ons met tegnologie gaan doen en hoe jy jou lewe daardeur gaan navigeer. Daar is ’n studie in Brittanje wat sê dat die gemiddelde kind minder tyd buite in die son deurbring as ’n gevangene in die tronk.” Dit wys jou die wêreld het verander; tegnologie, die kinders en hulle ouers is anders, so die opvoeder moet mooi dink hoe hy of sy hulle opvoedingspad anders gaan navigeer.
Volgens Arendse is dit makliker om sterk jongmense groot te maak as om gebroke grootmense te herstel. Ja, daar gaan baie uitdagings wees. “Soms is ons so besig om dinge reg te doen, dat ons vergeet om te vra doen ons die regte ding.”

Dokka Swart maak seker almal bly aan die beweeg.
“Dit gaan nie meer oor wat en hoe jy dinge doen nie, soos hoe jy kinders leer lees nie. Jy moet kan beantwoord en motiveer hoekom jy in die onderwys is en waarom jy dit doen?
“Hoekom dink jy kinders moet leer lees? As jy dit oordeelkundig geantwoord het, gaan jy uitwerk hoe om kinders te kry om te lees. Ons moet kinders kry om nuuskierig te wees; ons moet kinders kry om vir hulself te sê hulle wil lees.
“As jy weet hoekom jy iets wil doen, is daar ’n wil om dit te doen,” sê Arendse.

Die boektrommels word in ontvangs geneem.
* Op die dag is 21 boektrommels aan skole in die Stellenbosch-area uitgegee. Die skenking is moontlik gemaak deur die Het Jan Marais Nationale Fonds. Hulpmiddels is ook verskaf aan onderwysers van graad R-leerders.
Vir meer inligting kontak shireenc@atkv.org.za
Lees ook:

