Die bestes word vereer by 54ste Fleur du Cap-toekennings

  • 0

Die Kaap van Storms het Sondagaand sy naam gestand gedoen, maar wind en weer kon nie daarin slaag om die gees te demp by die 54ste Fleur du Cap-teatertoekennings nie. Die Kunstekaap het gebruis met opwinding, en gaste, opgetof in glansryke uitrustings, het hul beste voetjie voor gesit.

Met "vintage" as vanjaar se tema is teaterlui in styl vereer vir hul uitnemende bydrae tot die uitvoerende kunste. Wenners word gekies uit produksies wat by professionele teaters in en om Kaapstad aangebied word, en altesaam 87 verskillende produksies van 2018 was in aanmerking vir die toekennings.

Fahiem Stellenboom, Sylvaine Strike en Derek Lubner

Teaterproduksies soos Endgame, Swerfgoed en Kudu het die aand koning gekraai en elk drie toekennings in gepalm. Die musiekspel Matilda spog ook met drie toekennings.

Anna-Mart van der Merwe

Endgame is as die beste produksie van 2018 bekroon en het ook die pryse vir beste akteur in ’n teaterproduksie (Andrew Buckland) en beste regisseur (Sylvaine Strike) verower. Swerfgoed spog met die pryse vir beste aktrise in ’n teaterproduksie (Anna-Mart van der Merwe), beste ondersteunende akteur in ’n teaterproduksie (Richard September) en beste ondersteunende aktrise in ’n teaterproduksie (Nicole Holm). Die nuweling Lwanda Sindaphi het onder luide applous die toekennings vir beste nuwe teks en beste nuwe regisseur vir sy toneelstuk Kudu ontvang. Die geselskap van Kudu het ook die toekenning vir beste ensemble ontvang.

Lwanda Sindaphi

Die geselskap van Kudu

Die musiekspel Matilda ontvang die pryse vir beste akteur in ’n musiekblyspel (Ryan de Villiers), beste ondersteunende aktrise in ’n musiekblyspel (Bethany Dickson) en beste stelontwerp (Rob Howell).

Saul Radomsky

Spesiale toekennings, soos die toekenning vir lewenslange bydrae, is aan die stelontwerper Saul Radomsky toegeken, en die toekenning vir vernuwing in teater is aan die Theatre Arts Admin Collective toegeken. Dié spesiale toekennings is oorhandig deur die legendariese sanger, dramaturg en regisseur David Kramer en die dramaturg en regisseur Amy Jephta.

Die gehoor is getrakteer op optredes deur die jazzmusikant Nomfundo Xaluva, Afrika-perkussiemusikant Dizu Plaatjies, Sibonele Dance Group, die Township Opera Company, die Universiteit Stellenbosch Jazz Band en die Zip Zap Circus. Die optredes het plaasgevind onder die bekwame begeleiding van die Portugees-gebore musikant José Dias en was voorwaar ’n hoogtepunt.

Township Opera Company

Africa Melane, geselsradio-omroeper, was die gasheer vir die aand, en verskeie voormalige Fleur du Cap-pryswenners het ’n geleentheid gekry om die toekennings aan vanjaar se wenners te oorhandig. 

Die beoordelaarspaneel vir 2018 het bestaan uit die voorsitter, Melanie Burke, Afrika Melane, Beverley Brommert, Eugene Yiga, Lwando Scott, Marina Griebenow, Maurice Carpede, Peggy Mongoato, Tracey Saunders en Wayne Muller.

Sibonele Dance Group

’n Gimnas van die Zip Zap Circus

Die volledige lys wenners is as volg:

Toekenning vir belowendste student
Nancy Sekhokoane (AFDA)

Beste teaterproduksie vir kinders en jongmense
Vlooi en die Musiekfabriek / Kipper and the Music Factory (Marinda Engelbrecht en Margit Meyer-Rödenbeck)

Beste nuwe Suid-Afrikaanse teks
Kudu deur Lwanda Sindaphi

Beste nuwe regisseur
Lwanda Sindaphi

Beste optrede in 'n revue, kabaret of eenpersoonvertoning
Rehane Abrahams in Womb of fire in verskillende rolle

Beste ondersteunende akteur in 'n musiekblyspel
Msizi Njapha in Tsotsi the Musical as Boston

Beste ondersteunende aktrise in 'n musiekblyspel
Bethany Dickson in Matilda the Musical as Miss Honey

Beste ensemble
Die geselskap van Kudu

Beste akteur in 'n musiekblyspel
Ryan de Villiers in Matilda the Musical as Miss Trunchbull

Beste aktrise in 'n musiekblyspel
Carmen Pretorius in The Sound of Music as Maria Rainer

Beste beligting
Gareth Hewitt Williams vir The Curious Incident of the Dog in the Night-time

Beste stelontwerp
Rob Howell vir Matilda the Musical

Beste marionet-ontwerp
Janni Younge vir die baba in Tsotsi the Musical

Beste kostuumontwerp
Andrea van der Kuil en Sue Steele vir Curse of the starving class

Beste klankontwerp, oorspronklike komposisie of klankbaan
Lukhanyiso Skosana vir Womb of fire vir oorspronklike musiekuitvoering

Beste manlike optrede in 'n opera
Bongani Kubheka in Don Pasquale as Don Pasquale

Beste vroulike optrede in 'n opera
Janelle Visagie in La Voix Humaine as Elle

Beste ondersteunende akteur in 'n teaterproduksie
Richard September in Swerfgoed in verskillende rolle

Beste ondersteunende aktrise in 'n teaterproduksie
Nicole Holm in Swerfgoed as Aegistha

Beste aktrise in 'n teaterproduksie
Anna-Mart van der Merwe in Swerfgoed as Esta

Beste akteur in 'n teaterproduksie
Andrew Buckland in Endgame as Hamm

Beste regisseur
Sylvaine Strike vir Endgame

Beste produksie
Endgame

  • Foto's: verskaf

Lees ook

Director Sylvaine Strike on the success of Endgame at the Fleur du Cap Awards

Endgame at the Baxter: theatre review

Nuwe teaterstem bring toekomsdrama, Kudu, na die Baxter

Aardklop 2018: Swerfgoed, onbesonge kultusteater

Matilda The Musical: Almal moet toegelaat word om hul stories te vertel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top