Matilda The Musical: Almal moet toegelaat word om hul stories te vertel

  • 0

Foto's: Inlas deur Pat Bromilow Downing

Deur Pieter Toerien en GWB Entertainment se toedoen, kan Suid-Afrikaanse gehore Roald Dahl se Matilda The Musical by die Kunstekaap-teater geniet. Dit het voor uitverkoopte sale in Teatro at Montecasino gespeel en is nou vir ’n maand in die Moederstad.

Roald Dahl se stories is vandag nog net so tydloos en gewild sedert sy eerste kinderboek, James and the Giant Peach in 1961 gepubliseer is. Dis beskikbaar in 61 tale en daar word gereken daar is meer as 250 miljoen van sy boeke verkoop. Roald Dahl-dag word elke jaar op 13 September internasionaal gevier. Die skrywer is in 1990 oorlede.

Heelwat van sy stories is deur die jare vir verhoog, film en televisie aangepas, waarvan die eerste weergawe van Willy Wonka and the Chocolate Factory in 1971 sekerlik die bekendste is. Dan is daar ook Wes Anderson se bekroonde Fantastic Mr Fox en nou die Royal Shakespeare Company se veelbekroonde Matilda The Musical.
Dennis Kelly, wat die boek geskryf het vir die blyspel, skryf in die program dat daar twee soorte volwassenes in Matilda is: dié wat van stories hou en dié wat nie daarvan hou nie. “Ek dink nie dis ’n onakkurate prentjie van volwassenes in die algemeen nie. Om stories te weier, is om die mees menslike deel van menswees te weier. Sonder stories is ons net eetmasjiene met skoene.”

Tim Minchin wat die musiek en lirieke geskryf het, sê Roald Dahl het ’n klomp mal woorde opgemaak en dis een van die redes hoekom sy boeke so gewild is.

Matilda, die slim klein dogtertjie wat deur haar ouers afgemaak word as ’n mismaaksel omdat sy boeke verslind en magiese kragte het, se storie het vele kinkels en swaai jou hoog en laag, maar daar is ’n gelukkige einde. Die rol van Matilda word deur drie briljante Kaapse akteurtjies vertolk: Lilla Fleischmann, Kitty Harris en Morgan Santo. Met die vertoning wat ons bygewoon het, was Kitty in die rolverdeling. Behalwe dat jy daardie klein lyfie in jou handsak wil sit en huis toe neem sodat niemand haar weer kan seermaak nie, was haar vertolking meesterlik. Jy kan amper glo dat sy regtig Matilda is, want hoe sy al die woorde foutloos onthou het in ’n produksie van meer as 2 uur en 20 minute, waarin sy in bykans elke toneel voorkom, gaan my verstand te bowe.

Die ander akteur wat spesiale vermelding verdien, is Ryan de Villiers, wat die aaklige skoolhoof, Miss Trunchbull – Britste Hamergooi-kampioen van 1969 – wat potsierlik en grotesk uitgebeeld word, vertolk.
Maar dan, as jy mooi dink, besef jy sonder die spel van Bethany Dickson as Matilda se sagte, toegewyde onderwyser, Miss Honey en Stephen Jubber en Claire Taylor wat Matilda se aaklige ouers, Mr en Mrs Wormwood, speel, sou Matilda se vertoning armer gewees het.

En om nie te vergeet van die oulike bibliotekaris nie. Mrs Phelps, wat deur Nompumelelo Mayiyane vertolk word, steel ook harte met haar veelkleurige klere, hare en vermoë om heeltemal meegevoer te word met Matilda se stories.
En ook die oulike kinders in die skool ...

Wat vir my so wonderlik was, was om om my te verkyk na hoe die ouderdomme van die teatergangers verskil het. Die jongspan se oë het net soveel geblink as die ouer garde en die opwinding was amper tasbaar in die gange. Dis waarlik ’n vertoning vir almal. Dis ook een van die min kere wat ons na die pouse gaan sit en elke sitplek is weer vol. By baie ander vertonings verdwyn heelwat mense na die eerste bedryf huis toe.

Die stelontwerp, kostuums, choreografie en musiek, wat deur ’n lewendige orkes uitgevoer is, is alles van wêreldgehalte en dit maak jou trots Suid-Afrikaans dat ons plaaslike akteurs hierdie internasionale standaarde ewenaar of selfs oortref. Die program is tuis veilig gebêre in ’n spesiale laai vol herinneringe. Soos die man in die ry agter my met die tweede encore vir sy vrou gesê het: “Wat gaan ooit weer mooier as hierdie kan wees?” Sela.

Matilda The Musical

Met oa: Lilla Fleischmann, Kitty Harris en Morgan Santo (Matilda), Ryan de Villers, Bethany Dickson, Stephen Jubber, Claire Taylor, Nompumelelo Mayiyane.

Oorspronklike storie: Roald Dahl; boek vir blyspel: Dennis Kelly

Ontwikkeling en regie: Matthew Warchus

Musiek en lirieke: Tim Minchin

Kostuums en stelontwerp: Rob Howell

Klank: Simon Baker

Choreografie: Peter Darling

Kunstekaap, Kaapstad.

Regdeur die feesseisoen, tot 13 Januarie 2019.

Ouderdomsbeperking: geen onder 5’s by aandvertonings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top