Nuwe teaterstem bring toekomsdrama, Kudu, na die Baxter

  • 0

’n Toekomsdrama waarin Khoi migrante aanspraak maak op grond in die Oos-Kaap wat deur die AmaXhosa beset is, begin eersdaags by die Baxter Teater. Kudu, geskryf deur Lwanda Sindaphi, ’n bekende in plaaslike digterskringe, is een van twee dramas deur jong dramaturge waarmee die Baxter ’n nuwe inisiatief loods om kunstenaars en produksies wat pas die professionele arena betree het, in ’n professionele ruimte te ontvang. 

Kudu open op 27 Februarie in die Baxter Flipside. Die tweede stuk, 23 Years, A Month and 7 Days is geskryf deur Nwabisa Plaatjie, wat onlangs vir ’n Fleur du Cap as beste jong regisseur benoem is. Dit open op 13 Maart in dieselfde teater. Beide stukke word in samewerking met Magnet Teater, ’n bekende entiteit in die opleiding, ontwikkeling en bevordering van inheemse teater, aangebied.

’n Toneel uit Kudu, wanneer die AmaXhosa en die Khoi migrante byeenkom om na die klippe te luister

Kudu speel in 2030 in die Oos-Kaap af. Drie Khoi afstammelinge en ’n stokou koei migreer na die area waar ’n Khoi hoofman, Ndoda, jare tevore in ’n gronddispuut vermoor is. Die groep besluit om hul grond terug te eien en hul taal en kultuur in die streek te hervestig.

Kudu verbeeld die afwesigheid van wit oorheersing, waar onderdruktes mekaar konfronteer oor grond sonder om van stryk gebring te word deur koloniale invloede,” sê Sindaphi. “Dit handel oor ’n groep mense wat erken wil word in hul leeftyd en nie nádat hul reeds uitgewis is nie.”

Die onstaan van Kudu is deels gemotiveer deur Sindaphi se ontdekking dat sy stamnaam, Mgqwasgu, ’n Khoe oorsprong het. Sindaphi is ’n stigterslid van die Lingua Franca Digterskollektief wat in Delft gebaseer is, en is reeds as een van Badilisha se Top Tien digters op die kontinent beskryf. Sy drama-opleiding het by die New Africa Teaterakademie begin en is by Magnet voortgesit. In 2013 is hy as Beste Regisseur by die Baxter Zabalaza Teaterfees aangewys.

Die stuk is in samewerking met die oorspronklike rolverdeling ontwikkel en in 2016 vir die eerste keer by Magnet opgevoer. Die akteurs is Beviol Swarts, Emmanuel Ntsamba, Livie Ncanywa, Luthando Mvandaba, Lwando Magwaca, Natasha Gana, Inge Isaacs en Zizipho Ouluba. Ontwerp is deur Craig Leo en Jennie Reznek het die choreografie behartig.

Luthando Mvandaba in ’n toneel uit Kudu

Kudu open op 28 Februarie om 7.30nm, met ’n voorskouvertoning op 27 Februarie 7.30nm. Op 2, 6 en 8 Maart om 11vm word oggendvertonings met die oog op skoolgroepe aangebied. Daar is ook ’n middagvertoning op Saterdag 3 Maart.

Bespreking is aanlyn deur Webtickets.co.za of by 086 111 0005 of by geselekteerde Pick n Pay winkels. Kaartjies is R100 en R80 vir oggend- en middagvertonings. Leerders en studentekaartjies is R50. Teatergangers kan ook deur die Baxter kaartjiekantoor vir beide Kudu en 23 Years bespreek met ’n gekombineerde kaartjie van R120. Skoolgroepe kan Sharon Ward of Carmen Kearns by die Baxter skakel vir besprekings, by 021 685 7880.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top