
Boekomslag: Die man van elders deur Helene de Kock (Human & Rousseau, 2025)
- Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Titel: Die man van elders
Skrywer: Helene de Kock
Uitgewer: Human & Rousseau (Oktober 2025)
ISBN: 9780798185103
Epub ISBN: 9780798185110
Lees jy liefdesverhale? Ek het graag, toe ek baie jonk was, met ’n honger en hunkerende hart. Een boek wat ek nooit vergeet het nie, was I know my love deur Catherine Gaskin. Daardie vrou kon ’n romanse opklits, hoor. Sy het op 15 haar eerste boek geskryf, waarna sy vir ’n tikmasjien gevra en die skool verlaat het. Sy het nooit teruggekyk nie.
Ter plaatse is een van ons mees gevierde liefdesverhaalskrywers Helene de Kock. Doktor De Kock. As my inligting nie verouderd is nie, het sy al digby die 40 boeke gepubliseer. Omdat ek nou alles lees wat op my lessenaar beland, het ek haar jongste, Die man van elders, gelees. Op die voorblad is ’n dodelik aantreklike, broeiende man voor ’n skilderdoek, kwas in die hand en blik in die verte. Daar is ook ’n plaaspad in die Oos-Vrystaat, met die hek uitnodigend oopgegooi, met plate kosmos en heuwels wat plooi.

Die man van elders deur Helene de Kock (Human & Rousseau, 2025)
Dit begin op ’n skip waarop passasiers vir die plesier tussen Griekse eilande en oraloor die wêreld vaar. Ek was eenmaal op so ’n skip en die passasiers se idee van plesier was nie myne nie, maar ek onthou die eindelose blou, die rustelose deinings en skuim teen die boeg, die wind en die verskuiwende horison. Jean Botha, ’n Suid-Afrikaner, is ingenieur en gasheer op die luukse skip. Hy is, soos die voorblad verklap, donker en ontstellend aantreklik. Maar hy is ’n alleenloper. Hy koester ’n broeiende skuldgevoel: Hy het as skoolkind dwelms verkoop en was vir jare in die tronk. Hierdie leser brand om uit te vind hoe so ’n beginselvaste man by misdaad betrokke kon raak, maar nou ja, hy was ’n kind en boonop het hy in die gevangenis die Here gevind en sy weë verander.
Jean koester ook ’n diepe hartseer: Hy het sy babadogtertjie (met wie haar ma niks te doen wou hê nie) vir sy suster gegee om aan te neem en groot te maak. Sy suster is mooi soos hy en woon op ’n wynplaas. Sy is eweneens koersvas, gelowig en verfynd. Die leser leer dat hulle pa ook in die tronk was. Hoe op aarde het hulle so goed uitgedraai, wonder jy. Maar ander se boeke is duister en elke huis het sy kruis.
Jean van elders is ewig ’n buitestander en randfiguur met sy hart vol smart en berou. Hy hunker na tuishoort en aanvaarding. Hy verlang huis toe. Terug in Suid-Afrika gaan kuier hy vir sy dogtertjie by sy suster en swaer, wat ook twee van hulle eie dogtertjies het. Hy word met warmte terug verwelkom in die familieboesem – sy ma is ook daar. Alles is lig, goedheid en soetheid. In kontras met die res van die roman, wat vinnig donker word, hoor.
........
Van hier af raak hierdie liefdesverhaal redelik troebel en verander in ’n huishoudelike noir, een van my gunstelinggenres.
........
Hy ontmoet sy suster se vriendin, Renette, wat van die Oos-Vrystaat kom, maar op Stellenbosch skoolhou. Die ontmoeting gooi hulle albei heeltemal van balans. Daar woed vanuit die staanspoor ’n kragtige aantrekking, fisiek sowel as emosioneel. Daar is net een probleem: Renette is verloof en op pad Vrystaat toe om te gaan trou met die mees hubare vrygesel in die omgewing: die welgestelde, trotse Martin Hoogendyk. Nou ervaar sy vertwyfeling, maar gaan voort met die huwelik, want haar woord is haar eer.
Intussen vra ’n vriend van sy suster Jean om sy plaas in die Oos-Vrystaat te gaan bestuur. Toevallig, soos dit maar gaan in hierdie ou lewe, is dit langsaan die plaas waar die pasgetroude Hoogendyks woon. Van hier af raak hierdie liefdesverhaal redelik troebel en verander in ’n huishoudelike noir, een van my gunstelinggenres. Want Martin Hoogendyk is nie wat hy voorgegee het om te wees nie. Nadat hy haar ge-love bomb en oorval het met bosse rooi rose en gladde sjarme, wys hy as heer des huises sy ware kleure: ’n nare narsis wat absolute gehoorsaamheid eis. En haar spoedig begin aanrand, want Renette is nie op haar mond geval nie, glo nie in diplomasie nie en volg haar eie kop.
Op die buurplaas is Jean magteloos, want net ’n vrou kan haarself uit ’n katastrofale huwelik red en almal weet dit gebeur nie oornag nie, selfs al is sy so trots soos Renette. ’n Baie interessante karakter is Ou Paul wat saam met Jean in die tronk was. Hy het iemand doodgeslaan wat besig was om ’n kind te molesteer. Hy is asosiaal, boesem respek in en is ’n man uit een stuk. Hy is die een wat Jean na die Here gelei het. Hy kom woon ook op die plaas, in ’n hol grot.
......
Iets wat my geval van liefdesverhale, besluit ek, is die goeilikheid. Is dit ’n woord, die juiste woord?
......
Helene het ’n gawe vir stelinkleding, vir milieus skep. Die Oos-Vrystaat kry lewe in al sy kleur en tekstuur, met populiere soos goue kerse. Daar is amper ondraaglike spanning. Iets wat my geval van liefdesverhale, besluit ek, is die goeilikheid. Is dit ’n woord, die juiste woord? Daar is ’n gapende vallei tussen lig en donker en die goeie mense is van goedheid aanmekaargesit, selfs al het hulle in hul prille jeug growwe flaters begaan. Verlossing is moontlik en die leser glo dat die goeie gaan seëvier. Ons het dit nodig in hierdie dae, en om daaraan herinner te word hoe broos en wonderbaarlik die liefde is.
Dis ’n tema van die boek: die onbaatsugtigheid van liefde wat nie sy eie belange soek nie, maar begaan is oor die ander. Soos Yeats geskryf het: “A pity beyond all telling is hid in the heart of love.” Renette se pa, ’n predikant, preek uit Korinthiërs 13 oor die liefde wat nie jaloers of opgeblase is nie. De Kock verwys na kerkvader Augustinus se uitspraak: “Ek het jou lief, ek wil hê jy moet wéés.” Ek wil hê jy moet gelukkig wees.
Gaan Jean daarin slaag om aan die konsep van “elders” ’n warmer, meer huislike definisie te gee? Verdien hy ook uiteindelik geluk? Lees dit gerus; dis ’n liefdesverhaal met dimensie, goed nagevors en met volronde karakters. Boonop is dit uiters relevant en aktueel in November met sy 16 dae van aktivisme teen geslagsgebaseerde geweld.
- Nota: Die man van elders is die derde roman in ’n drieluik. As jy soos ek, met hierdie een begin het, lees Drome het ook asem en Diana se dag om my vrae oor Jean en sy suster se verlede te beantwoord.
Lees ook:
Boekevat met Deborah: Die moord op Liezel de Jager deur Anena Burger en Undone deur Michelle Roniak
Boekevat met Deborah: The interpreters, saamgestel deur Sean Christie en Hedley Twidle
Boekevat met Deborah: Die dood van Rachel April en Die boekengel
Boekevat met Deborah: The Nicotine Gospel deur Sven Axelrad en Canary deur Onke Mazibuko

