
Boekomslae: Mother Mary comes to me deur Arundhati Roy (Penguin, 2025) en Bonsaimeisies deur Erla Diedericks (Lapa, 2025)
- Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Ek skryf oor twee boeke, ’n boeiende Afrikaanse riller en ’n oorsese juweel.
Ek begin by die Afrikaanse een. Erla Diedericks is besig om vir haar ’n nis in ’n nismark oop te skryf – ek sien haar jongste misdaadroman is al weer op die topverkoperlys.

Bonsaimeisies deur Erla Diedericks (Lapa, 2025)
Bonsaimeisies is so gruwelik en grieselrig soos die roman van enige man plaaslik of internasionaal. Die reeksmoordenaar in hierdie boek ontvoer meisies van 18, martel hulle deur hulle byvoorbeeld op die voetsole te slaan – ’n trotse Oosterse tradisie – hulle uit te honger en te laat dehidreer. Hy gebruik ook die Japannese – gelukkig uitgestorwe – tegniek van voete breek en bind, waarna hy die voet in ’n te klein hoëhakskoen dwing en die meisie aan ’n haak vasmaak sodat sy op die stukkende voete in die knypende skoene staan, ure lank. Hy sien homself as ’n tuinier wat die natuur onderwerp aan sy wil, wat orde en eenvoud skep.
Ons heldin, die psigiater Ann Marais, vergesel van haar stiefdogter, helaas en ongelukkig 18 jaar oud, neem ’n broodnodige ruskans en wyk uit na die Wonderberge. Daar loop sy ’n ou kennis, Marnus Moster, nou ’n speurder, raak. Dis immers waar sy grootgeword het. Daar is ook ’n ander man op die toneel, ook ’n skoolkennis – Paul Roos, genoem Bosman. Mossie en Bosman. Laasgenoemde is effens bossies en heel eksentriek. Daar is elektrisiteit tussen haar en beide mans, daarom probeer die twee mans mekaar in ’n slegte lig stel. Marnus, of Mossie, vertel haar van ’n insident van onuitspreeklike wreedheid wat Bosman op die grens gepleeg het. Kan dit waar wees?
Mossie wil haar hulp inwin om die reeksmoordenaar vas te trek. Dit is immers haar spesialisgebied en sy het die oor van ’n berugte reeksmoordenaar wat agter tralies sit, Samael de Kock. Bosman lei Ann se stiefdogter, Maya, op in tegnieke om te oorleef wanneer sy ontvoer word. Ja, dis ’n kwessie van tyd.
........
Misdaad is groot in Afrikaans. Ek hoop Diedericks vind baie lesers.
........
Die roman is van meet af aan en regdeur hoogs spannend. Later verdink jy almal behalwe Ann en Maya. Daar is heelwat lokbokkems en die einde sal jy nooit sien kom nie, en daarmee het ek ’n probleem. Ek verkies die Agatha Christie-model waar die leser voel dat as sy genoegsaam aandag geskenk het, sy die boosdoener sou kon identifiseer. Ek is reeds gewoond daaraan dat ek aweregs en toondoof is en my smaak in mans verdag, maar die vryer wat met Ann se hart wegstap, sou nie my keuse wees nie.
Dit het regdeur my aandag behou en ek kon nie ophou lees nie. Misdaad is groot in Afrikaans. Ek hoop Diedericks vind baie lesers.

Mother Mary comes to me deur Arundhati Roy (Penguin, 2025)
Soos almal is ek ’n vurige aanhanger van Arundhati Roy ná The god of small things. Haar volgende roman, The ministry of utmost happiness, het ek vermoedelik op die verkeerde oomblik opgeneem en ek wil weer terugkeer daarheen.
Mother Mary comes to me met sy treffende titel is ’n soort-van-outobiografie. Roy vertel haar lewensverhaal chronologies en sonder foefies, maar haar stem is oorrompelend. ’n Mens besef by die lees hiervan hoeveel outobiografiese elemente Small things bevat. Dis egter geskryf toe haar ma nog geleef het, en daarom het sy die ma-figuur in daardie roman, Amma, versag. Haar ma was byvoorbeeld trots op die karakter en het vir almal vertel dat dit sy is. Nou is haar ma oorlede en sy kan uit die heup uit skiet.
Die Mother Mary van die titel verwys na haar ma, Mary Roy – ’n absolute natuurkrag. Sy was groter as lewensgrootte in ’n tyd en kultuur waarin vroue hulle plek moes ken. Haar humeur was legendaries, en ook haar skeermestong. Sy was ’n enkelouer wat haar twee kinders verskree, beledig, verneder en afgeskeep het. Hulle het geleer dat enigiets enige tyd kan gebeur en dat ’n mens voorbereid moet wees. En koes. Hulle was fyn ingestel op haar stemmings. Haar broer was stil en bedeesd, maar die force was van kleins af in Arundhati.
Haar ma se derde en geliefkoosde “kind” was, volgens Roy, die skool wat sy begin het. Met geen geld nie het sy ’n spogskool opgerig en generasies seuns en dogters geleer om minder patriargaal te wees, om goeie mense te wees. Sy was ’n feminis wat onder andere daarvoor verantwoordelik was dat die wet in Indië gewysig is sodat vroue ook kan erf. Sy was ’n beeldbestormer en geen uitdaging was te groot vir haar nie, maar sy het haar frustrasie en woede op haar kinders uitgehaal. Sy was gemeen en manipulerend, maar uiters sjarmant. Al wat leef en beef was bang vir haar.
.......
Ek het dit in een sitting van voor tot agter deurgelees, al 372 bladsye daarvan. Dis soos om tyd te verwyl in uitstekende, hoogstaande, briljante geselskap.
.......
Roy vertel dat haar ma se personeel en leerlinge dankbaar gelyk het oor die feit dat Mary Roy se eie kinders nie ontsien is nie, maar die swaarste gely het. Roy is uit die huis toe sy 17 was en het in Delhi argitektuur gaan studeer. Sy het probeer om tot verhaal te kom ná die oorlogsone waarin sy grootgeword het. En sy het lieflik tot verhaal gekom. Sy vertel van haar liefdes en haar demone.
Sy was vir jare vervreem van haar ma, maar het later met haar versoen geraak en was gebroke en ontredderd ná haar dood. Sy het Mary liefgehad en bewonder. Sy self was ’n vreeslose aktivis wat aan optogte deelgeneem en doodsveragtend onthullende joernalistiek gepleeg het. Sy is dikwels gedagvaar en was al in die tronk. Haar eerste boek, The god of small things, was ’n wegholtreffer wat gelyktydig in verskeie lande gepubliseer is en die tantième het bly instroom. Sy het waardevolle, opbouende en liefdadige dinge met die geld gedoen.
Ek het dit in een sitting van voor tot agter deurgelees, al 372 bladsye daarvan. Dis soos om tyd te verwyl in uitstekende, hoogstaande, briljante geselskap. Ek het eers besef hoe uitmuntend Roy se stem is toe ek daarna Carrie Fisher se memoires, The princess diarist, probeer lees. Fisher, wat vroeër vir my snaaks en onderhoudend was op ’n Dorothy Parker-Norah Ephron-manier, was opeens infantiel en bevoorreg-Amerikaans, wisecracking, vol vlak woordspelings en wollerigheid.
Roy se memoires is skitterend en vol inspirasie. Lees dit!
Lees ook:
Boekevat met Deborah: Die moord op Liezel de Jager deur Anena Burger en Undone deur Michelle Roniak
Boekevat met Deborah: The interpreters, saamgestel deur Sean Christie en Hedley Twidle
Boekevat met Deborah: Die dood van Rachel April en Die boekengel
Boekevat met Deborah: The Nicotine Gospel deur Sven Axelrad en Canary deur Onke Mazibuko


Kommentaar
NA aanleiding van die tweede resensie, deel ek graag van Eckhart Tolle se medisyne. Sjoe.
https://youtu.be/cOf4rIt5V14?si=i-ZcgRQOB93fhvYu