
Foto van Cornelia Casaleggio: verskaf
Cornelia Casaleggio praat met Naomi Meyer oor Cornelia se vioolspel in die Wynlande Filharmoniese Orkes – en oor die orkes se groei en ontwikkeling gedurende die afgelope paar jaar.
Cornelia, jy is ’n violis in die Wynlande Filharmoniese Orkes. Dis nie jou daaglikse inkomste en beroep om viool te speel nie. Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond?
Ek het viool gespeel op skool, maar met nagraadse studies verander mens se belangstellings. Ek het gasvryheidsbestuur geswot in Bloemfontein en daarna my BSc-graad in dieetkunde verwerf by die Universiteit Stellenbosch. Tans doen ek die bemarking van die orkes.
Jou storie is uniek, maar dis ook die storie van die meeste van die orkeslede van hierdie orkes. Die meeste orkeslede beskik oor jarelange musiekopleiding (baie van die orkeslede het van kinderdae af saam orkes gespeel by Bloemfontein se Musicon of by die Hugo Lambrechts-musieksentrum, of het saamgesing in die Stellenbosch Universiteitskoor), maar beoefen ’n ander beroep as om musiek te maak. Hoe het dit dan gekom dat die orkes op die been gebring is, met orkeslede wat meestal nie musiekberoepe beoefen of nie almal uitvoerende kunstenaars is nie? Hoe lank bestaan die orkes al?
’n Mede-orkeslid, Izelle Theunissen, wat tjello speel, het hierdie behoefte geïdentifiseer – vir opgeleide musikante wat nie musiek hulle loopbaan gemaak het nie. Sy het besef dat daar ’n behoefte aan ’n permanente orkes is vir hierdie lede. Nie net ’n orkes wat ’n paar keer saam oefen en dan ’n konsert aanbied nie, maar eerder ’n orkes wat kan groei oor die jare – ’n volwaardige filharmoniese orkes wat ’n moeilike repertoire speel en ook iets vir die gemeenskap rondom hulle kan beteken.
’n Orkes is daar om musiek te maak en saam die genot van die musiek te ervaar. ’n Orkes is ook daar om vir ’n gehoor te kan speel. Vertel asseblief van ’n paar van die geleenthede waar julle onlangs opgetree het.
Die orkes het oor die laaste paar jaar so gegroei dat ons uitgenooi word na verskeie geleenthede, asook ons eie konserte wat ons hou.
Hierdie jaar was ons deel van ’n internasionale Hollywood-fliek – waaroor ons nog nie mag uitpraat nie. Ons was ook die gasorkes by Maynardville se Sunday in the Park with Sondheim, waar ons saam met groot name soos Jonathan Roxmouth opgetree het. Verder is ons genooi om die galakonsert van Stanford in Bloom Festival te doen. Ons het ook opgetree by die Stellenbosch Toyota Woordfees (ons derde jaar in ’n ry) en spog ook met ons eie konserte wat ons in die Endler gehou het.

Foto van die Wynlande Filharmoniese Orkes in Stellenbosch se Endlersaal: verskaf
’n Filharmoniese orkes in Suid-Afrika, ’n orkes wat klassieke musiek maak. Dis ’n voorreg, in alle opsigte – en dis ook gekompliseerd. Hoe koester die orkes plaaslike musiek? Word daar aandag gegee aan komposisies deur musikante op eie bodem, sodat daar ’n beloning is vir skeppende kuns (nuwe musiek, deur ’n mens gekomponeer – nie deur kunsmatige intelligensie nie, byvoorbeeld) en daar ook ’n dryfveer is om weer nuwe musiek te komponeer wat verdere geleenthede bied? Vertel asseblief ook van vorige konserte waar Suid-Afrikaanse komponiste se musiek gespeel/uitgevoer is.
Ons orkes streef daarna om plaaslike komponiste ’n geleentheid te gee om musiek vir die orkes te komponeer.
........
Ons orkes streef daarna om plaaslike komponiste ’n geleentheid te gee om musiek vir die orkes te komponeer.
........
Hierdie jaar spog ons ook met ’n splinternuwe vioolconcerto deur Kristi Boonzaaier – wat geskryf is vir die orkes en die solis Eriel Huang. Ons gebruik ook plaaslike komponiste om verwerkings te doen wat ons dan opvoer saam met musiekgroepe van die gemeenskap. Dit is ’n area waar die orkes nog redelik moet groei en ons is nog in die babastadium daarvan, maar opgewonde oor wat daar in Suid-Afrika aan die gebeur is.
Hoe werk dit prakties: Oefen die orkes gereeld?
Ons kom bymekaar op ’n weeklikse basis, op ’n Donderdagaand. Voor konserte sal ons gewoonlik ekstra oefentyd inruim.

Foto: verskaf
Is daar ruimte vir nuwe lede wat hierdie onderhoud lees en wil oudisie doen of saam wil kom speel?
Enige iemand wat ’n graad 6-vlak of hoër behaal het in sy instrument, kan in die orkes kom speel. Daar is nie oudisies nie, maar ons verwag van mense om self te kan bepaal of hulle die mas sal opkom. Die musiek is redelik moeilik. Hulle kan die orkes direk kontak op info@wporchstra.com.
Daar is baie aspekte van die kuns wat kunstenaars beoefen, omdat hulle nie anders kan nie. Om musiek te maak is so vervullend dat mens kan dink dis genoeg. Dis ook so dat daar praktiese aspekte van orkesspeel is wat geld kos. Waar oefen die orkes? Waar kry die orkes die bladmusiek? Watter venues word gebruik om op te tree? Wat gebeur as iemand se snaar breek of instrument val of nuwe staanders benodig word, of sulke soort uitgawes? Kortom: Waar kom die geld vandaan?
........
Die kunste en besigheid is vervleg. Dit is moeilik om ’n nie-winsgewende orkes sonder donasies te bestuur.
........
Die kunste en besigheid is vervleg. Dit is moeilik om ’n nie-winsgewende orkes sonder donasies te bestuur. Ons oefen in Hoërskool Stellenbosch se skoolsaal – wat ons by hulle huur. Musiek wat nog onder kopiereg is, moet aangekoop of gehuur word. Verder is daar platforms waar musiek (waar die komponis al meer as 50 jaar oorlede is) verniet beskikbaar is.
Elke lid is verantwoordelik vir die eie instandhouding van sy instrument, wat redelik baie geld kos.
Tans het ons ’n borg wat sommige van ons uitgawes dek, maar die orkes is in ’n posisie waar ons gaan moet begin uitreik na privaatinstansies vir donasies.
Wat is die orkes se visie vir die toekoms?
Die orkes wil ’n platform bied vir lede om lewenslank te speel, so ons eerste en grootste visie is om die lewensvatbaarheid van die orkes te beskerm. Om gemeenskapsmusiekgroepe deel te maak van die musiekwêreld is vir ons baie belangrik. ’n Deel van ons groot visie is ook dan om musiekuitreike op ’n volhoubare wyse te doen.
.......
Die orkes wil ’n platform bied vir lede om lewenslank te speel, so ons eerste en grootste visie is om die lewensvatbaarheid van die orkes te beskerm. Om gemeenskapsmusiekgroepe deel te maak van die musiekwêreld is vir ons baie belangrik. ’n Deel van ons groot visie is ook dan om musiekuitreike op ’n volhoubare wyse te doen.
........
Is daar ’n konsert wat binnekort gespeel word, waarvan enige lesers nou al kan kennis neem?
Ons volgende konsert is op 21 Maart 2026 – ons beplan nog waar ons dit gaan hou. En dan op 30 Mei 2026 in die Endler waar ons Beethoven se derde simfonie gaan speel.
Waarom maak mense saam musiek in ’n orkes? Is dit moontlik om iets van die ervaring van orkesspeel onder woorde te bring?
Daar is verskeie redes waarom mense in WPO speel. Van die lede doen dit omdat hulle die liefde vir musiek met mense wil deel. Ons kan ook soort van sê dit is ’n tipe “klub” waaraan hulle behoort, soortgelyk aan ’n yacht club, maar meer toeganklik vir almal. Vir ander mense is dit die geleentheid om deel te wees van die musiekwêreld, omdat hulle op ’n baie hoë vlak hulle instrument beoefen, maar nie professioneel wil speel nie. Veral omdat ons baie groot musiekwerke doen, voel hierdie lede dan dat hulle ook op so ’n wyse kan deel wees van hulle professionele eweknieë. Vir ander verskaf dit die motivering om steeds hulle instrument te bespeel, wat hulle op geen ander plek kan doen nie.
Lees ook:
Tribuo Conference 2025: an interview with Tiisetso Mashifane wa Noni
Revisiting Orpheus McAdoo: Paula Fourie interviews David Kramer
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: In gesprek met Franco Prinsloo oor Miracle tree
Elders gesien: Clinton V du Plessis se "Gebed" deur KI gesing

