Persverklaring: Kwena Music gee met vennoot- en borgskap groot hupstoot aan Crescendo se gesogte mentorskapprogram

  • 0

Die gewilde ATKV-Crescendo-mentorskapprogram, wat weer in 2026 aangebied word, het ’n groot hupstoot gekry met ’n borgskap van die M&M-musiekakademie, ’n houermaatskappy van Kwena Music. Hierdie borgskap, wat oor twee jaar strek, sluit nie net finansiële ondersteuning in nie – gevestigde en bekroonde mentors uit die bedryf word ook beskikbaar gestel om opkomende kunstenaars tydens die program onder hul vlerk te neem en vir die musiekbedryf gereed te kry. Deur die jaar sal dié musiekakademie ook saam met Crescendo-mentorskapwerkswinkels, -kunstenaarsvertonings en samewerkende projekte ondersteun wat aan deelnemers praktiese ervaring en blootstelling aan die bedryf bied.

Met net minder as twee maande oor word aspirantliedjieskrywers nou aangemoedig om hul oorspronklike liedjies in te skryf vir oorweging vir deelname aan die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram 2026. Inskrywings sluit 31 Desember 2025, en die program vind Maart/April 2026 in die Paarl plaas. Tien voornemende kunstenaars gaan gekies word om saam met van Suid-Afrika se top musikante en mentors te werk. Onderwerpe sluit in: Die kuns van liriek- en liedjieskryf; Hoe om radiovriendelike musiek te skep; Sosiale mediabemarking en handelsmerkbou; Volhoubare loopbaanontwikkeling in musiek. Meer gratis liedjieskryfwerkswinkels regoor die land aangebied word om voornemende deelnemers by te staan – ’n direkte uitvloeisel van die nuwe borgskap deur M&M-Musiekakademie en Kwena Music waaroor die ATKV-Crescendo baie dankbaar is.

Volgens Eben de Jongh, hoofuitvoerende beampte van Kwena Music, is die borgskap deel van ’n groter visie om kunstenaars volhoubaar te ontwikkel. “Ons glo dat musiek vir almal is. Ons wil die mure tussen kunstenaar en gehoor afbreek en musiek meer toeganklik maak vir almal wat dit wil skep en deel. Daar is te veel rompslomp en buitensporige kostes wat nuwe kunstenaars terughou. Talent word nie bepaal deur hoeveel geld jy het nie, en ons missie is om te verseker dat geen kunstenaar wat hul sout werd is deur ’n tekort aan fondse teruggehou word nie,” sê De Jongh.

Morné van Staden, projekorganiseerder van ATKV-Crescendo, sê dat die vennootskap beteken dat Crescendo meer mentorwerkswinkels in meer areas kan aanbied om meer mense te bereik en vaardighede te ontwikkel. “Daardeur kan ons ’n daadwerklike verskil maak in mense se lewens. Met hierdie vennootskap versterk ATKV-Crescendo en M&M-musiekakademie hul gedeelde doel – om Suid-Afrikaanse kunstenaars te bemagtig, nuwe stemme te laat hoor, en ’n volhoubare musiektoekoms vir almal wat in die krag van musiek glo, te bou.”

Dis nou jou tyd om jou stem met jou liedjie te laat hoor

Sanger en televisieaanbieder, Brandon October, gaan tydens die 2026-mentorskapsprogram ‘n mentor wees. Nie net was hy die naaswenner in die eerste Suid-Afrikaanse Idols-kompetisie nie, maar ook ’n beoordelaar op die realiteitstelevisiereeks. October sê: “Jy kry soms net een kans. As jy by die huis sit en dink jy is nie goed genoeg nie, gaan jy nie goed genoeg wees nie. Kom uit jou kamer uit, uit jou kar of stort, of waar ook al jy sing. Jy weet nooit of daai spesifieke tyd die regte tyd vir jou is nie. As jy ’n liedjie het, ’n song het of woorde het, skryf in. Wie weet – dis dalk jou tyd.”

Vir Jacques de Villiers van Joshua na die Reën “gee Crescendo gee nie net vlerke aan kunstenaars se drome nie, maar is ook die vlerke van ondersteuning waarmee kunstenaars leer om te vlieg. As jy iemand is wat self musiek skryf en jy wil die plek in jou hart vind waar jy iets kan skryf wat gehoor word, is Crescendo die kanaal vir jou.”

Lyntjie Jaars, die bekkige radio- en televisie-aanbieder, wat haarself as ‘n “Crescendo groupie” sê: “Crescendo se slagspreuk is ‘waar legendes gebore word’. Jy kan nie jou talent in jou laaikas wegsteek nie. Hierdie mense vat jou droom en hulle ontgin dit. As jy dalk gedink het dat jou woorde iets beteken, sê ek vir jou: ‘Miskien is verby. Jóú tyd is nou.’”

Voormalige finalis en mentor Whaden Johannes herinner aan Crescendo se blywende waarde: “Glo in jouself en maak jouself oop vir die mentors, want hulle gaan jou laat groei.

Radiopromotor Gershwin Koen sê die mentorskapprogram is veel meer as net opleiding: “Die talent wat uit hierdie mentorskapprogram gekom het, het die ATKV genoop om ATKV-Crescendo-produksies te begin, wat nuwe produksies op die planke bring en finaliste help om hulle liedjies, albums en musiekvideo’s vry te stel.”

ATKV-Crescendo se produksies en deelnemers se musiek is beskikbaar op Apple Music, YouTube Music, Spotify, Amazon Music en Deezer, wat nuwe stemme en oorspronklike musiek ’n tuiste gee.

Gratis werkswinkels in november
  • Mosselbaai op 15 November by The Townhouse, Marketstraat 3, Mosselbaai om 09:00 (registrasie begin reeds 08:30). Aangebied deur Petronel Baard, Whaden Johannes en Hakkiesdraad Hartman.
  • Fisantekraal op 22 November by The Father’s Heart, Milkwoodstraat, Greenville, Fisantekraal om 09:00 (registrasie begin reeds 08:30). Aangebied deur Jitsvinger, Deon Meiring van Glaskas en Olga Leonard. Besoek www.crescendo.co.za om vir dié gratis werkswinkel te bespreek.
  • Kleinmond op 29 November by Kleinmond-jeugsaal, Hoek van Nemesia- en Proteastraat, Kleinmond om 09:00 (registrasie begin reeds 08:30). Aangebied deur onder andere Frazer Barry.

Besoek www.crescendo.co.za om vir dié gratis werkswinkel te bespreek.

Kunstenaars hoef nie ’n werkswinkel by te woon om in te skryf nie. Deur www.crescendo.org.za te besoek, kan liedjies ook digitaal ingeskryf word.

Vat ’n kans en skryf in! Dit is tyd dat jy jóú liedjie in die taal van jóú hart deel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top