![]() Foto: Izak de Vries
|
Sêgoed van Abraham H de Vries: “Omdat ek in stories dink, soek iets in my steeds na samehang.” (Beeld, 17 Julie 2004) “Ek kom uit ’n storiewêreld uit. Ons het ons nooit ooit oor fiksie en niefiksie bekommer nie. Of ’n ding gebeur het en of dit nie gebeur het nie, is tog ondergeskik aan die manier waarop ’n man ’n ding kwyt raak. Die verskil tussen waarheid en leuen, tussen werklikheid en verdigsel is – wat stories betref – nie ter sake nie.” Met ontvangs van die RAU-prys in 2004: “Skrywers oor sestig moenie literêre pryse aanvaar nie. Jy weet nooit of dit gehalte is wat bekroon word of uithouvermoë nie.” (Rapport, 24 Oktober 2004) “Hoekom skryf ’n mens stories? Omdat daar iets, ’n gegewe, is wat jy vir jouself moet ontdek. ’n Storie is nes ’n droom: dit wil vir jou iets vertel. En terwyl jy skryf, is dit wat ’n mens probeer ontdek. Woord wek woord, betekenis wek betekenis.” (Beeld, 16 Augustus 2003) “Politiek is origens maar ’n taamlik armoedige affêre.” (Beeld, 2 Augustus 2000) “Op hierdie droë aarde is ons mekaar se geborgenheid. Of hel.” (Die Burger, 24 Desember 1998) “’n Mens moet nie bang wees om te ‘oorwinter’ nie, al is die winter in jouself. ’n Skrywer is die sterkste dier in die hele menseryk.” (Gesprekke met skrywers 3) By die ontvangs van die RAU-prys in 2004: “Omdat ek my eie limiete en die grensloosheid van die kortverhaal ken, het ek nog nooit vir enige prys geskryf nie.” (Die Burger, 1 November 2004) “Dit is juis my plesier met die skrywery: om nie-weet te verander in weet, of minstens vermoed.” (Gesprekke met skrywers 3) “Die kortheid van ’n kortverhaal beteken nie ’n inhoudelike ruimtebeperking nie. Kortverhale is kort omdat kortverhaalskrywers op ’n spesifieke manier na ’n storie kyk. Die ‘ruimte van ’n volledige lewe’ (Lucebert) en al die wyses van verdigting van die poësie is tot die kortverhaal se beskikking.” (Rapport, 2 Februarie 2007) In 2007 aan Rachelle Greeff: “Die Afrikaanse letterkunde is die lewenskragtigste affêre wat ek ken. Daar verskyn soveel boeke, soveel goeies, ek raak net hier en daar grond.” (Rapport, 2 Februarie 2007) “Die sekerste manier om jou skeef te val, is om na jou spore te loop en kyk. Ek skryf nog, ek loop nog. Ek trap hopelik nog spore.” (Rapport, 2 Februarie 2007) “Die kortverhaal is een van dié genres wat die vinnigste ontwikkel, dis die enigste verhalende genre wat die uitdaging van televisie aanvaar.” (LitNet, 2 Februarie 2005; in gesprek met Marius Crous) “Aantekeningboekies kan ’n mens nie bykom as jy bestuur nie. Ek het ’n sakformaat-opnamemasjientjie. As werk moet klaar kom, is die plaas die beste skryfplek. As ek iets hersien, opstel of saamstel, is die stad ideaal. Plaas en stad het gelukkig albei die ‘stemme’ wat vir vertel so belangrik is. Nee, ek is nie gek nie, vir vertel is verskillende stemme, vertelstemme, nodig. Anders bly vertel ek in net my eie stem. Vir stories werk dit nie.” (Rapport, 2 Februarie 2007) Oor sy werk as student by Die Huisgenoot: “Die genade van toenterjare was: ek kon nêrens, agter niks, polities verdrukkend of diskriminerend, wegkruip vir sleg skryf nie; ek moes leer en elke stukkie kritiek was hulp.” (Beeld, 27 November 2000) “Valsigheid is daar oral, maar nét valsigheid is daar nêrens nie.” (Volksblad, 10 Maart 2000) “Dis ’n stokou sêding in ons kontrei: as jy dan moet lieg, lieg dan darem so dat ’n mens jou kan glo.” (Die Burger, 18 November 2000) “’n Skrywer mag nooit sy lesers verveel nie. Jy kan allerhande bobbejaanspeletjies uithaal terwyl jy skryf, maar op die ou end moet jy ’n storie hê om te vertel. As ek ’n storie, enige storie, skryf, is daar ’n begin en ’n slot. En in daardie opsig is daar geen verskil tussen tydskrifverhale en literêre kortverhale nie. Uiteindelik het jy net die verantwoordelikheid om jou storie so goed moontlik te vertel.” (Die Burger, 21 Augustus 2003) In 2015 oor hoekom so min kortverhale verskyn: “Kortverhale is nie net ’n manier van vertel nie, kortverhale is ’n karaktertrek, nie almal het dit nie. Kortverhale is moeiliker om te skryf as romans. Nee, nie sê ék nie, sê skrywers wat kennis het van albei, Alberto Moravia ook as ek goed onthou. Maar dié stand van sake is nie beperk tot Afrikaans nie. Oral, in alle tale waarvan ek weet, verkoop kortverhale minder as romans. Daar is uitsonderings, maar hulle is min. Maar dis waarskynlik hoekom dit lyk of uitgewers romans verkies bo kortverhale en die vraag: ‘Wanneer kry ons u roman?’ so bekend is. Hoekom romans beter verkoop – al is dit so vreemd juis in die haastige eeu van ons? My raaiskoot: Romans kweek lesers, kortverhale kweek liefhebbers. Maar hoewel romans beter verkoop, bly uitgewers ook nie sit met goeie kortverhale nie. Vra maar vir Dana Snyman.” (Die Burger, 30 Januarie 2015) “Een ding moet jy nooit vergeet nie: Die hele idee van die onskúldige, plattelandse, dóódgewone, gelówige mense … dit is ’n vólsláe vals beeld van die mense op die platteland. Daar’s niks wat in die stad gebeur wat nie op die platteland gebeur nie.” (Die Burger, 3 Februarie 2017) “Engels is nie net ’n taal nie, Engels is ’n woord vir magsverbruik. Jy kán nie ’n klein taal stel teenoor ’n wêreldtaal nie. As jy op ’n eiland aan die kus van Denemarke ’n universiteit stig met Deens en Duits as die twee tale, dan gaan daardie universiteit binne drie jaar Duits wees.” (Die Burger, 3 Februarie 2017) Waarom skryf hy hoofsaaklik kortverhale? “Ek het dit lankal vermoed en ek is nou baie seker daarvan. Dit het níks, absoluut níks met enigiets anders as geaardheid te doen nie. Kortverhale is ’n geaardheid. Die ’n manier van die wêreld bekyk. Ek kan my nie voorstel om my lewe te red dat ek ’n boek skryf met 600 bladsye nie. Dis geáárdheid, jy moet by ’n punt uitkom; jy moet iets kan sê wat die moeite werd is.” (Die Burger, 3 Februarie 2017) Tydens die Woordfees van 2017 het Christine Barkhuizen le Roux onder meer met Braam gesels oor waarom mense dink dat die kortverhaal as iets minders as die roman gesien kan word: “’n Kortverhaal skep liefhebbers. ’n Roman skep lesers. En dié twee is nie dieselfde nie. Ek dink in ’n sekere mate moet jy ’n liefhebber wees … en jy moet ’n liefhebber wees van strukture en woorde. Trouens, dis jare al dat die Amerikaners beweer dat die kortverhaal nader aan die gedig beweeg.” (Volksblad, 14 Maart 2017) “Die kortverhaal werk in ’n groot mate met suggestie en die vermoë om goed saam te voeg wat normaalweg totaal en al nie saamgaan nie.” (Volksblad, 14 Maart 2017) Aan sy seun Willem: “Hoe om stories te vertel; die waarde van stilbly; ietsie aanlas; die belang van ’n slot; hoe om met opset nie alles te vertel nie – die hele vertelspel het ek ook in die winkel (Oupa se winkel op Winkelplaas) geleer en dis later versterk deur mense soos Izak de Wet, Stanley de Wit, Paai, die mense wie se name ek gebruik in my stories oor ek juis hulle manier van vertel nie wou laat verlore gaan nie. Daar was en is meesters in die Klein Karoo by wie ek nie kan kers vashou nie.” (LitNet) Dink hy na oor vertelstrategie, wil Wium van Zyl weet: “Ek dink nie in terme van strategieë nie. Die ‘strategies geslaagde iets’ ontstáán in die gebruik van taal op so ’n manier dat dit in storie na storie al hoe beter pas. Die Kersverhale slaag miskien omdat ’n wonder van eeue gelede in ’n gewone Karoodorp of op ’n plaaslike treintjie afspeel.” (Voertaal, 19 Mei 2021) Met die ontvangs van die eredoktorsgraad wat in 2021 deur die UP aan hom toegeken is: “Die skryf en vertel van kortverhale is nie ’n talent nie. Ek kan my nie asemhaal daarsonder voorstel nie.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024) |
Gebore en getoë
Abraham Hermanus (Braam) de Vries is op 9 Februarie 1937 in die distrik Ladismith in die Klein Karoo gebore. Sy ma is met sy geboorte oorlede en sy pa is later getroud met Hester, ’n jonger suster van sy ma. Hester is op 2 Mei 1990 op 90-jarige ouderdom oorlede. Braam het ’n suster, ook Hester. Albei Hesters was bederwers van geaardheid. Braam se vrou, Hannie, vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 3 Februarie 2017) dat die hele gemeenskap hom bederf het: “Want almal was … haai siestog die arme kind.”
Braam word groot op sy pa se plaas Winkelplaas in die distrik Ladismith. Sy pa was die laaste winkelier op Winkelplaas. Braam begin sy skoolloopbaan aan die Laerskool Buffelsdrift net oorkant die Dwarsrivier. Sy onderwyseres op die plaasskool was Milly, soos almal, ook die skoolkinders, haar genoem het. Braam sê hy het “in ’n huis met boeke en koerante en tydskrifte grootgeword. Dit was voor televisie. Stories was die manier waarop mense met mekaar gesels het.”
Hy matrikuleer in 1956 aan die Hoërskool Ladismith. Mnr IS Terblanche was die onderwyser wat op hoërskool die grootste invloed op Braam gehad het. “Bert die jagter” is sy eerste storie wat gepubliseer is. Dit verskyn in 1953, toe hy 16 was, in Die Huisgenoot. “Spioene” was sy eerste kortverhaal wat vir publikasie aanvaar is, maar dit het na “Bert die jagter” verskyn. Braam vertel: “Geen mens voel ooit weer so oor enige skryfwerk as met die publikasie van jou eerste verhaal nie. Ek het gevoel ek het vir iets vergoed, maar ek het nie geweet vir wat nie.”
Oor die ontstaan van “Spioene” vertel Braam aan Murray la Vita (Die Burger, 3 Februarie 2017): “Jy konfronteer iets deur daaroor te skryf. Maar as jy dit bewustelik doen, dan gaat dit in sy glorie in. Ek weet wel presies waar ek ‘Spioene’ gekry het en hoekom ek gedink het: “Blikskottel, hiér sit ’n storie! Vertel hierdie storie!’
“Pa en ’n oom het gesit en gesels, en Pa het vertel van dié spioene in die Boereoorlog wat sý pa-hulle van vertel het. Nou dit is onmiddellik … dis die kinders wat vir die eerste keer skrik voordat die spioen doodgeskiet is. Ek onthou dit nóú nog, dan sê die een seuntjie vir die ander een: ‘Môre speel ons weer kleilat.’ Met ander woorde, hulle wil nie nou verder met dié ding te doen hê nie.”
Verdere studie en werk
Braam gaan in 1957 na die Universiteit Stellenbosch en behaal daar sy BA-graad, en in 1959 sy BA Honneurs. Hy vertrek na Nederland vir verdere studie en in 1962 behaal hy sy Kandidaats en DLitt et Phil met Afrikaanse letterkunde en taalkunde, perswetenskap en Nederlandse taalkunde aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam. Vanaf 1962 tot 1963 doen hy navorsing onder W Hellinga.
In 1986 ontvang Braam sy DLitt van die Universiteit Stellenbosch met sy tesis “Tendense in die Afrikaanse kortverhaal sedert 1867-1984” onder die promotorskap van Merwe Scholtz.
Terwyl Braam student aan die Universiteit Stellenbosch was, debuteer hy in 1956 met Hoog teen die heuningkrans, en reeds met hierdie eerste bundel word sy talent as kortverhaalskrywer raakgesien en erken deurdat dit in 1962 met die Reina Prinsen Geerligsprijs voor Zuid-Afrika bekroon is.
Net soos Hoog teen die heuningkrans word Braam se volgende bundel, Verlore erwe (1957), ook by Culemborg Uitgewers gepubliseer. In Spitsberaad skryf Rob Antonissen: “Hierdie twee vroeë bundels is nie destyds te herken as werk van iemand uit die jonger generasie wat in Afrikaans ’n nuwe tipe verhalende prosa sou skep nie. Die verhale was nie alleen plattelands van tema nie, maar hoofsaaklik ook realisties in gees en sfeer: voortsetting, en dikwels heel fynsinnige voortsetting, van ’n regionalistiese tradisie. Onopdringerig, en op heel natuurlike wyse in die gebeure en in die ervaring van doodeenvoudige mense vermeng, was daar egter tog reeds, byna in verhaal na verhaal, iets besonders aanwesig; die besef van iets onvatbaar geheimsinnigs aan die gang onder die gang van die alledaagse lewe en in die omgang met die alledaagse dinge, iets wat te midde van al die lewensgedoentes te make moet hê met die dood; en waarop die mens, wanneer dit skielik voelbaar word, reageer met ’n redelose angs, benoude verwondering, rou verdriet, ontsetting.”
Vetkers en neonlig word in 1960 (na Proegoed in 1959), met herdrukke in 1962 en 1966, uitgegee. Antonissen skryf in Spitsberaad: “In Vetkers en neonlig is dit merkwaardigerwyse juis die twee stadsverhale wat konvensionele realisme voortsit. Die mooi humorverhaal 'Sy laaste weddenskap', met net ’n ligte vleugie fantasma, teken die plattelander op sy oudag in die stad; en 'Afrika-toonbank' onthou ek veral om die kundige versmelting van psigologie en verrassingsverhaal. Die plattelandsverhale daarenteë, het, op een na, feitlik alle 'gemoedelikheid' laat vaar en al hoe meer met ’n demonies-gelaaide geheimsinnigheid deurdrenk geraak: wat des te opmerkliker word indien mens ouer en nuwe verhale wat verwante stofgegewens verwerk, met mekaar vergelyk. Daar is ’n bestendige voortgang na ’n makabere fantastiek, wat ’n hoogtepunt bereik in die verhaal 'Die gusooi', ’n fyn-gestruktureerde verhaal van ’n oorspronklike driehoekspatroon waarin juis die beskaafde vrou as afgrondelike mens verskyn en die gruwel bedryf.”
Aanvanklik was WEG Louw (Die Burger, 24 Februarie 1961) se reaksie op Vetkers en neonlig ’n poging om ’n “skoolmeesteragtige stukkie oor taalgebruik te skryf, maar ek het volgehou en was later heeltemal verras deur die boekie. Van die agt verhale is daar net enkeles wat bestendiging in dié vorm verdien en dit is 'Skoenemaker', 'Diepe water', 'Die gusooi' en 'Sy laaste weddenskap', en miskien nog 'Afrika-toonbank'.
“'Die gusooi', sy dit met ’n enigsins growwe, boerse toespeling op die kinderloosheid van dié ongelukkige vrou, het indruk gemaak. Die wrede slot van die verhaal was vir my ’n vonds. Ook die oupa in 'Sy laaste weddenskap' is ’n interessante figuur: iemand wat as rustende boer op ’n nuwe wyse aansluiting by die stand en die dinge van die stad kry. In hierdie verhaaltjie skyn die vetkers byna met die lig van ’n neonbuis.
“In die eerste verhaal in Vetkers en neonlig was daar egter talle voorbeelde van onpresiese taalgebruik en De Vries kan, as hy net versigtig wil wees, dinge sê. Maar sonder daardie versigtigheid, wat woord vir woord afweeg, wat hom van elke nuanse van betekenis rekenskap gee, gaan hy êrens bly vassteek.”
Vliegoog verskyn in 1965 en JME meen in Dagbreek (31 Oktober 1965) dat De Vries met hierdie bundel afgewyk het van die voorspelbaarheid van sy vroeëre bundels. Hy het ook tot ’n veelsydige skrywer uitgedraai “wat die moed het om telkens van nuuts af te begin, nuwe wêrelde te verken en met nuwe vorme te eksperimenteer. En dit laat ’n mens uitsien na volgende werke van De Vries.”
Vir Antonissen (Spitsberaad) was Vliegoog Braam se beste werk tot op daardie stadium. Hy het die bundel as “baie goed” beskryf.
Na sy terugkeer uit Nederland is Braam tot 1965 joernalis by Die Vaderland as dagbladresensent en kunsredakteur. Vanaf 1965 tot 1967 is hy vir verdere studie na Amsterdam en onderneem ook reise na Griekeland en Israel vir reisboeke oor hierdie lande: Die rustelose sjalom, Joernaal uit ’n gragtehuis, Afspraak met eergister.
Braam het ook ’n aantal boeke onder die skuilnaam Thys van der Vyver die lig laat sien. In Gesprekke met skrywers 3 (1973) het Chris Barnard hierdie verhale as “sommer net lekker stories vir tydskriflesers” beskryf en wou by Braam weet of ’n skrywer iets kan leer deur die ander soort dissipline wat “entertainments” van ’n skrywer vra. Braam se reaksie was dat Thys van der Vyver as ’n speletjie begin het en altyd een was. “Hy leer my ’n goeie verhaal vertel – vir wanneer ek dit nodig het – en ek leer hom skryf. Hy raak by die dag vaardiger. Ons kan natuurlik iets leer by ‘entertainments’, ja. Jy weet dit net so goed soos ek: niks wat ’n mens doen of meemaak, is sommer-maar nie. ‘Entertainments’ skryf is vingeroefeninge, maar ook meer as dit: dis ’n speletjie met sy eie bekoring. Ons het hoeka so min lekker stórieboeke in Afrikaans. Goed geskryf, vlot, sonder ’n spul diepsinnighede.”
Van 1967 tot 1968 is Braam tydelik lektor in taalkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth, daarna tydelik lektor in die letterkunde aan Rhodes-universiteit, en vanaf 1969 tot 1970 lektor aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg. In 1970 word hy aangestel as senior lektor aan die Universiteit van Natal in Durban, met sy hoofleeropdrag om hom toe te lê op die drama as genre en die Afrikaanse en Nederlandse drama in die besonder. In 1984 word hy aangestel as hoof van die Departement Tale en Kommunikasie aan Technikon Skiereiland in Kaapstad, ’n pos wat hy tot 1997 beklee. In 1985 stig hy die Afdeling vir Joernalistiek, wat in 1991 tot ’n volwaardige departement ontwikkel. Vanaf 1997 gee hy deeltyds lesings aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy is ’n buitengewone hoogleraar aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Verder hou hy hom voltyds besig met sy skryfwerk.
Braam is getroud met Hannie Pienaar, wat vroeër ’n radio-omroeper was en ook ’n tannie van Siembamba, ’n radio-kinderprogram. Braam de Vries se oudste twee kinders, Andries en Anneke, is uit sy eerste huwelik met Ria van der Merwe gebore. Willem is gebore uit Braam en Hannie se huwelik. Die gesin het in Kaapstad gewoon. Hannie is as vrou Braam se rolmodel en een wat uittroon bo ander vroue: “Ek het haar immers lankal gekies. My ander keuses is die skrywers Nadine Gordimer en Elsa Joubert en die politikus Helen Suzman. Ek kies hulle vir die gehalte van hul werk” (Beeld, 22 Mei 1992).
Volmoed se gasie, ’n bloemlesing uit vroeëre werke, is in 1972 gepubliseer. Oor die rede vir die bloemlesing het Braam vir Chris Barnard (Gesprekke met skrywers, 3) vertel: “’n Baie goeie (rede), ja. Die wolf voor die deur. Buitendien het ek darem gedink: al die gepraat oor die ouer soort verhale, goed en wel, maar ek het ’n paar geskryf waarvoor ek nie skaam is nie. Ek gaan hulle weer ’n nuwe jas aantrek en op straat uitstuur.”
Oor die titel Volmoed se gasie het Braam aan Chris Barnard gesê: “‘Volmoed’ is die naam van my geboortehuis. Ek het die ou plasie teruggekoop, sommer om daar te gaan sit en skryf, sommer om daar te loop leef tydens die vakansies. En oor ek die plek liefhet. Dis my baarmoeder: ek kom elke keer daar weg met ’n bietjie nuwe moed, met ’n paar nuwe streke. ‘Gasie’ beteken betaling. Of die boek letterlik Volmoed se gasie sal wees, dit weet ek nie. Maar ek het die ou wêreld van my daar ’n boek geskuld – die voor-keur was die beste wat ek kon gee. Ek is ’n soort boer – met woorde. ’n Mens is baie verskuldig aan die aarde.”
Dorp in die Klein Karoo (1966) (Volksblad, 25 Mei 1969) en Briekwa (1973) (Volksblad, 10 April 1974), ook bekroon met die Perskorprys, is twee bundels sketse oor De Vries se grootwordkontrei, Ladismith en omstreke, en die mense daar. En albei bevat sketse wat jou “op ’n fyn manier aanraak” en wat ’n plesier is om te lees, aldus Anna van Zyl.
In 1975 verskyn Bliksoldate bloei nie. Vir PD van der Walt (Transvaler, 31 Januarie 1976) is die beste stukke in die bundel die eerste vyf, wat meer tradisionele kortverhale as kontreikuns is. Van der Walt beskou “Een vlees” as die heel aangrypendste en artistiek die mees bevredigende een in die bundel – indien nie een van die bestes in Afrikaans nie. “Kenmerkend van De Vries se vertellings en kortverhale is ’n bedrieglike terloopsheid en geleidelik indirekte informasie wat deur ’n onthullende slot ’n verrassende geladenheid kry. Só word Abraham de Vries se stories peilings na en openbaringe van die mens se bestaansgeheimenis en sy lyding en worsteling, hoe hy kan verwond raak en bloei, want die mens is geen bliksoldaat nie. Bliksoldate bloei nie is in sy geheel van ongelyke gehalte, maar De Vries bly ’n verteller by uitnemendheid, en die lees van die stukke ’n kostelike leeservaring.”
In Februarie 1975 is Braam gasdosent aan die Germanistiek-Instituut van die Ryksuniversiteit in Oslo, Noorweë, waar hy ’n lesingreeks oor die Afrikaanse letterkunde lewer. Hy lewer ook ’n lesing voor PEN Club International terwyl hy saam met die Turkse skrywer Yasar Kemal in Oslo is. Hy was ook ’n aktiewe lid van die Afrikaanse Skrywersgilde en dien twee termyne as voorsitter daarvan. Later is hy ook voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.
Braam neem ook aktief deel aan skrywers se stryd teen literêre onbegrip ten opsigte van sensuur en publikasiebeheer, veral in die sewentiger- en tagtigerjare.
In 2000 lewer hy die openingslesing by die Universiteit van Leipzig se Europese Werksessie oor Afrikaans, “Afrikaans Extra Muros”.
In 1967 verower Braam die Eugène Marais-prys vir al sy prosawerke tot op daardie stadium en in 1974 word Briekwa met die Perskorprys bekroon.
In 1987 word Braam se kortverhaal “Die bruid” in Antenne en De Kat se kortverhaalwedstryd met die Saambouprys bekroon. Dit word in sy baie bekende bundel Nag van die clown (1989) opgeneem.
Gunther Pakendorf begin sy resensie (Die Burger, 11 Januarie 1990) van Die nag van die clown so: “Sedert die dae van die Romantiek aan die einde van die 18de eeu blyk dit een van die eienskappe van veral nie-sosiaal-gerigte kuns te wees om die kuns self as onderwerp te kies, om ’n portret van die kunstenaar in sy ateljee te gee, ’n verhaal oor die skryf van ’n verhaal, ’n gedig in gesprek met homself te skryf. Dis soos die bakpoeierblikkie met die bakpoeierblikkie daarop wat self weer dieselfde prentjie bevat (totdat die laaste een net nog ’n kolletjie is (...)
“Deesdae word hierdie rigting, veral in die verhalende prosa, ook tot die post-modernisme gereken: die saamflans van heterogene en reeds bestaande elemente tot ’n nuwe geheel, die gebruik van letterlike aanhalings of die bruikleen van motiewe of karakters uit ander werke. Dit is ’n soort toegepaste vorm van Roland Barthes se stelling dat daar net één boek is, wat maar gedurig herskryf word. So word die literatuur self een van die belangrikste bronne en verwysingsvelde van die literatuur. By hierdie tendens sluit ’n groot aantal van Abraham de Vries se kortverhale aan – sonder dat hy noodwendig as ’n post-modernis beskou moet word – en dit is ook die belangrikste fokus in sy jongste bundel verhale. (...)
“De Vries is onteenseglik een van die meesters van die kortverhaal in Afrikaans en met hierdie tekste lewer hy weer eens bewys van sy vermoë om die verwikkeldheid van ’n gebeurde deur fyn nuansering van verhaal en karakter en deur ’n subtiele manipulasie van die verteller-perspektief weer te gee. En hierdie soort verhaal het fyn en versigtige lees nodig, want nie een van dié stukke is sommer maar net ’n storie nie. Die trant word dikwels onderbreek, daar is aanhalings uit, of toespelings op ’n reeks ander tekste, daar is skertsende kommentaar of ironiese distansiëring. En daar is gedurigdeur die basiese vraag hoe ’n mens ’n storie dan vertel, waar jy begin en wat die verband is tussen werklikheid en fiksie. (...)
“De Vries het sy snaar baie fyn gespan, en dit is met verwondering dat ’n mens sien hoe hy telkens nuwe situasies en nuwe variasies vir hierdie komplekse tema vind. Die beperkte ruimte laat my nie toe om op al die stories in te gaan nie, maar spesiale melding moet gemaak word van ‘Die bruid’, ‘Towenaars’ en ‘Met dik hale’. Dit is stories wat ’n verskeidenheid temas aanspreek, wat met dieselfde nuansering en konsentrasie deurgevoer word. Terloops, dis opvallend hoe die Suid-Afrikaanse gegewe: landskap, mense, situasie op subtiele en feitlik onopmerklike wyse in dié stories ingeweef word.”
Braam se liefde vir Afrikaans kan nie in twyfel getrek word nie en hy sal ook nooit huiwer om vir Afrikaans in die bresse te tree nie. In 1994 het hy hom uitgespreek teenoor die SAUK se hantering van Afrikaans en gesê dat dit ’n taalstryd kan ontketen wat nie minder intens sal wees as die land se rasseprobleem wat toe so pas opgelos is nie. (Die Burger, 30 April 1994)
Sy waarskuwing het op dieselfde dag gekom as ’n hoofartikel van die Cape Times waarin gesê word dat die SAUK Afrikaans oor die TV afskeep. Die koerant sê voorts dat dié beleid van die SAUK ’n fout is en dat kykers dit sonder twyfel aan die korporasie sou duidelik maak dat die situasie onverwyld hersien moes word. Die gesaghebbende The Times van Londen het ook op 29 April 1994 in sy hoofartikel oor Afrikaans geskryf en gesê daar is tekens dat Afrikaans binnekort die Aspoestertjie van die SAUK kan word.
Braam het gesê die SAUK herhaal die fout van 1976. “Dié keer is dit net Engels wat in mense se kele afgedruk word. Die taalstryd wat die SAUK nou ontketen, druis regstreeks in teen die versoenende houding wat die ANC-leier, Nelson Mandela, (daar)die tyd aanneem. Daar word tog nou aan een nasie met vele tale gebou. Die SAUK se hantering van Afrikaans druis in teen bepalings van die oorgangsgrondwet en hy stel voor dat die grondwet op dié punt getoets word deur regsoptrede. Dit moet gou geskied. Hy is ook ten gunste van ’n televisie-uitsaaistasie vir Afrikaans. Luidens die Cape Times se hoofartikel is daar goeie rede om te kla dat Afrikaans nie sy regmatige aandeel kry met net agt persent van die verkiesingsuitsendings nie. Dit is verkeerd en kortsigtig om Afrikaans as ’n streektaal af te skryf, want dit het ’n betekenisvolle aanhang in baie dele van die land, aldus dié koerant.” . (Die Burger, 30 April 1994)
Sy liefde vir die Klein Karoo, en veral vir sy erfplaas in die Ladismith-distrik, spreek duidelik uit sy kortverhale. In 1997, met sy 60ste verjaardag, word die ereburgerskap van Ladismith (ook sy geboortedorp) aan hom toegeken. In ’n oorkonde wat aan Braam oorhandig is, word die raad en gemeenskap se dank en waardering aan hom betuig vir die besonderse bydrae tot die bekendstelling van “ons dorp en sy mense, wat u met groot toegewydheid dien en wat duidelik geopenbaar word in die meeste van u kreatiewe werk. U dien Ladismith op ’n betekenisvolle wyse met die skryftalent waardeur u liefde vir hierdie dorp en distrik duidelik weerspieël word. U het sodanig uitgestyg bo andere, maar u het steeds ’n gewone en nederige mens gebly. As blyk van die hoë agting wat daar in Ladismith vir u bestaan, en as opregte huldeblyk aan u, het dit ons behaag om ons dankbaarheid aan u te betoon by wyse van ’n burgerlike toekenning ingevolge ’n besluit van die stadsraad geneem op 31 Oktober 1996” (Die Burger, 26 Maart 1997). Braam was die eerste Ladismitter wat dié eer te beurt geval het.
Oor die Klein Karoo sê Braam: “Dis in die onvoltooide landskappe van die Klein Karoo, van reëndae tot helwarm Februariedae, wat ek dink: dié raaisel, dit het ek as kind al geweet” (Op LitNet aan André P Brink). Twee bundels is ook uitgegee om sy 50ste en 70ste geboortedae te herdenk, naamlik Soms op ’n reis (1987) en Elke slot ’n weerbegin – Abraham H de Vries 70 (2007).
Hy laat hom verder só oor sy geliefde landstreek uit (Beeld, 18 Desember 1998): “Ek het ’n plaas op Ladismith waarheen ek gereeld terugkeer om te kan skryf. Ek ken die reuke, tekstuur en mense van die Klein Karoo. Dis ’n plek waar ’n mens nie stres nodig het om aan die lewe te bly nie. Eenvoudig gestel: daar is in die Karoo minder dinge wat ’n mens se aandag kan aftrek. Ek skryf in een dag in die Karoo meer as wat ek in vier dae in die stad skryf. Ek meen mense het ’n hunkering om terug te keer na hul geboortegrond. Dis nie ’n tipiese Afrikaanse of Suid-Afrikaanse ding nie. In Europa is daar ’n reaksie téén globalisasie. Mense neig om terug te trek na die plek wat hulle ken. Dit is een van die redes waarom streekliteratuur wêreldwyd aan die opbloei is.”
Braam was regisseur van twee videoportrette vir televisie oor Adam Small en Hendrik Januarie. Hy was ook verantwoordelik vir die regie, teks en vervaardiging van die dokumentêre televisieprogram Afrikaans en Nederlands na apartheid (1992).
Op die wye oop Karoo verskyn in 2002 en Kirby van der Merwe (Rapport, 26 Mei 2002) word by die lees daarvan weer getref deur “die sjarme en duidelike segging van De Vries se skryfwerk. Min skrywers kan so met woord en wonder omgaan. Hy bied die verhale aan as terloopse vertellings (stoepstories, weliswaar) en ’n kleindorpse ‘geskinnery’ waarin die verteller ‘afdwaal en teenpraat’, sy stories laat ‘opdam’ en homself in die rede val. In die proses herbevestig De Vries sy insig in die mensheid. Hy is die busybody van die dorp (want is dit nie per slot van rekening wat ’n skrywer is nie?), en soos ’n ware oerverteller lê hy in die oorvertel van die doen en late van klein lewens, lewenswaarhede bloot waarin ons onsself, en ander, herken.
“De Vries se Winkelplaas is die ruimte waarna hy telkens in sy skryfwerk terugkeer en sy bemoeienis met die Klein Karoo is die doek waarop hy sy motiewe skilder: Winkelplaas se werf (waarop al die karakters een of ander tyd ’n spoor kom laat het), ’n rooi-en-wit sirkustent met sy vreemde diere en clowns, Makadas, ’n Tiger Moth, die ’37 Cheffie en spore, spore. (...)
“De Vries het egter die gawe ontvang om ’n handvol dowwe woorde in ’n stringetjie te ryg en die leser te laat met ’n gevoel van weemoed en van blydskap asof iets jou net-net ontglip het, maar jy ook die volle waarheid wéét.
“In Op die wye oop Karoo besin hy oor die aard en wese van kunstenaarskap en oor sy eie skryfambag. In ‘Omwille van Servaas’ laat hoor die verteller skalks: ‘Skilders en komponiste en pottebakkers en skrywers en sulke snare is mos nie mense wat hulle maklik laat ken nie. En wat wis ons ook nou van sulke soort mense?’
“Gewis. Maar lewer De Vries, ware storieman wat hy is, met voorbedagte rade kommentaar op die huidige kunstenaar-kansvatter-uitbuiter-debat? In die openingsverhaal sê die verteller se vriend, Izak: ‘Clowns is bokkers. Die regte clowns. Die óú clowns. Om voor gelag te word, is vir hulle ’n voorreg, maar voor jy weet, lag hulle vir jóú.’
“Die bundel laat die leser met ’n gevoel van vreugdevolle melancholie, want dit is asof De Vries dít wat verbrokkel het omdat alles verander, met woorde probeer heelmaak. Of dan probeer het om dit te doen. Of dan, ten minste, te troos: ‘Wie, o wie, dink ek later, voor ons inslaap met om ons die vriendelike geluide van die huis wat wentel in die koeler nanag in, wie het soveel deernis met die mens om ons so aan mekaar uit te lewer? (...) Ondanks, in weerwil van, nietemin.’”
In 2004 is Braam se bundel Tot verhaal kom met die RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk bekroon. In sy commendatio het Willie Burger gesê: “Wat hierdie bundel van De Vries onderskei van verskeie ander werke waarin ‘heimwee na geborgenheid’ voorkom, en wat dit uiteindelik ook (...) ’n waardige pryswenner maak, is die manier waarop die heimwee nie bloot ’n melancholiese oproep van ’n vergange (gewaande) paradys word nie. Dit is veel meer as ’n versugting na die goeie ou dae toe die ontreddering nie sterk was nie, toe ek nog geborge kon voel, nog tuis kon voel in my eie omgewing.
“So ’n soort melancholie is eintlik niks anders nie as ’n poging om te ontsnap van die hede en om in ’n illusie van die verlede te probeer geborgenheid vind. In Tot verhaal kom gaan dit nie, júis nie, om ’n melancholiese verlange na die goeie ou dae nie. Tot verhaal kom is nie ’n poging om die ruïnes van toe te probeer herstel nie, maar om sin van die hede te maak, om ’n greep te kry op hoe om die toekoms in te gaan.”
In sy bedankingswoord het Braam onder andere gesê (Beeld, 27 Oktober 2004): “Die kortverhaal is nie een van die mees geliefde prosavorms by verkope, vertaling en beprysing nie. Dié plek is nog altyd gereserveer vir die roman. Dit hoef niemand te verbaas nie. Die massamedia, TV en radio, het verhale en die vertel van verhale uit die letterkunde uitgehaal en teruggebring na waar dit hoort: Shakespeare en Goethe het al saamgestem: The art itself is nature ...
“Om stories te vertel is so normaal as om asem te haal. Ek ken nie ’n skrywer behalwe Hennie Aucamp (hy’s in Isidingo, man) wat nie versot is op 7de laan nie. Dis ’n uitstekende storie, dis vrouevriendelik – die vrouens is die sterkste karakters – en dit speel af in ’n droom van ’n Suid-Afrika.
“En soos daar in die skilderkuns verskillend gereageer is op fotografie, so reageer die roman en die kortverhaal verskillend op dié normalisering van verhale. Die roman brei uit, die kortverhaal word kompakter, die roman wil die leser huisves en bekend stel aan almal en alles, die kortverhaal belig vir ’n paar oomblikke lank die heroïese en die dwase, die walglike, die wonderbaarlike, die komieklike en die kranksinnige in die mens.
“The short story, as I see it, allows for what is crazy about humanity: obstacles, inordinate heroism, immortal longings, sê Elizabeth Bowen. Romanskrywers is slim en geduldige mense, maar kortverhale doen ’n beroep op die leser se intelligensie en samewerking. Van skrywerskant het Hennie Aucamp dan ook al gesê: ‘Ek glo nie ’n skrywer wat na grootsheid streef, gaan die kortverhaal as medium kies nie. Maar iemand wat van suggestie, fantasie, poësie en vormdissipline hou, genees nooit van die kortverhaal nie.’
“’n Skrywer wat na eer en beprysing streef, sal ook nie die kortverhaal toelaat om hom/haar te kies nie. Voor ek Willie Burger (sameroeper van die RAU-pryskomitee) se telefoonoproep gekry het, het ek baie keer gesê dat ’n skrywer oor die sestig nie literêre pryse moet aanvaar nie omdat jy nooit weet of dit gehalte is wat bekroon word nie of bloot net uithouvermoë. Veral die rol van die jeug in hierdie bekroning het my oorgehaal tot ander insigte.
“Dat die toekenning in koerante aangeprys is as regstelling van ’n onreg, het my verbly maar ook regtig verbaas. Omdat ek my eie limiete en die grensloosheid van die kortverhaal ken, het ek nog nooit vir enige prys geskryf nie. Wie ’n wilde perd probeer ry, het nie altyd tyd om te sit en kyk wie van die toeskouers knik en wie frons nie. Vir diegene wat my as skrywer probeer benadeel het, ek is werklik jammer, maar ek het dit nooit agtergekom nie.
“Natuurlik is daar in my eie verhaal ook varke en luise en boewe en bliksems en magsmisbruikers. Ek kom ook mos maar hiervandaan. Ta ken mos vir ta. Maar in ’n kortverhaal is daar nie ruimte vir boewe en bliksems en almal wat ’n dergelike lewe ly sonder ’n funksie nie. In een van my verhale, ‘nag van die clown’, sê die clown geplaas in sy sirkusjargon vir die verteller: ‘Ek het gewonder, meester, ek het gewonder wie die script skryf, dat ons kan rondval met sulke perfect timing.’
“Daar is niks wat nié dié misterie vergroot nie.”
Tot verhaal kom is in 2003 deur Human & Rousseau gepubliseer. Braam het aan LitNet vertel dat hierdie verhale oor ’n tydperk van naastenby vyf jaar geskryf is. “André (P Brink) het in dié tyd drie romans geskryf, elkeen in Afrikaans én in Engels. Dis nie dat ek so stadig skryf nie, maar skryf is by my ’n proses: elkeen van die verhale is tot ses maal oorgeskryf; daaraan kan ek niks doen nie. Ek troos my aan wat David Kaplan eenmaal gesê het: Revising is what all good writers do. The purpose of a story is to rewrite it. Tolstoi het Oorlog en vrede agt maal oorgeskryf en toe selfs in die drukproewe nog verbeterings aangebring. Raymond Carver het tot veertien variasies geskryf van sy kortverhale. Hoe dit ook mag lyk, vlotheid, moeiteloosheid, ongedwongenheid kom in ’n verhaal nie vanself nie, dit kom met oorskryf. (...)
“Party van die stories het ontstaan en ontstaan nog uit goed wat Izak Bruwer of Stanley de Witt vertel het, vroeër my pa of een van sy vriende, uit iets wat ek in die plaaslike koerant (die Oudtshoorn Courant) gelees het of elders gehoor het – van Lydenburg tot Leipzig. Ek het nêrens verhale net opgeteken nie (nee, ook nie ou Paai s’n nie). Die plesier van vertel vir my is juis die herskepping van die vertellende stemme, watter stories ek hulle ook laat vertel. En dít is my ‘brood van vroeëre jare’, my ‘promise at dawn’, my ‘baksel in die môre’: dié stemme, die vertellers; dis mense wat in die Klein Karoo, nie net op Ladismith nie, bestáán of bestaan hét – sommige is al oorlede. Die idees, waarnemings, sinne, flardes gesprekke waaruit my verhale ontstaan, dié lê oral in boekies rond wat ek in my bosak kan dra. Maar hoe sal daar van dié veelstemmigheid iets oorbly as ek dit nie in die stories herskep nie?”
Oor die stad Dresden en die agtergrond agter die verhaal “Dagboek van ’n afloop” vertel Braam: “Wat het geword van daardie aantekeninge wat ek gemaak het toe ek in Leipzig die kongres gaan open het en ons kans gekry het om vir die eerste maal Dresden toe te gaan? Dresden, die simbool van sinlose geweld, selfs onder oorlogsomstandighede. Dresden, die stad met die twee gesigte. (Was dit Dresden wat my so morbied gestem het, of was dit die klomp Amerikaanse hotelle en plastiek en gemorskos en die Engelse se pogings tot afkopery van ‘Bomber’ Harris en sy vlieëniers se verwoesting van die stad?)
“’n Kunsstad, die pêrel van die Barok aan die Elbe, ’n stad van kunsgalerye en wêreldberoemde skilderye – dit was die gesig van die dag. Op 13 Februarie 1945, die aand, gooi 244 Lancasters 7 000 ton brandbomme af op hierdie stad. Op 14 Februarie (dit was Valentynsdag) herhaal die Amerikaners vir nog 11 minute lank die slagting: hulle bombardeer die ruïnes en die ingangsroetes waar die mense heen gevlug het uit die brandende stad. Oor Dresden het die Geallieerdes en die Nazi’s vir een waansinnige etmaal plekke omgeruil in ’n soort wedloop om die hoogtepunt van sinlose geweld. Op 16 Februarie verwys Associated Press daarna as terreurbombardemente wat daarop ingestel was om die gewone mense se moed te breek. Dit was die ander gesig van Dresden. Ek het Harry Mulisch en Kurt Vonnegut se romans oor die verwoesting van Dresden geken, maar nie Victor Klemperer se dagboek, Tot het bittere einde, nie.
“Ek het toe nog nie geweet nie … in verband met Dresden is daar ook die vreemde toevallighede: kort nadat Jurg Friedrich se Der Branden verskyn, ’n verslag van ’n historiese ondersoek na bombardemente op Duitse stede buite die oorlogsgebied, publiseer Günter Grass ook sy Im Krebsgang (Kreeftegang) oor die sink van ’n hospitaalskip net buite die hawe van Goterhaven by Danzig met 10 000 aan boord, onder wie ook terugtrekkende Duitse soldate. Stukke Duitse geskiedenis waarin Duitsers die slagoffers was, was lank gehul in swye vanweë die Duitsers se skuldgevoelens oor die Nazi-tydperk. Die laaste keer wat ek aan die verhaal gewerk het, het ek besluit om die oorspronklike vorm (die aantekeninge) te behou.
“Daardie gil is die slot. Een nag laat in Amsterdam – ons het langs ’n grag af gestap terug na ons woonplek toe – het ek dié gil gehoor wat ek met die skryf verplaas het Dresden toe. Munch se skildery van die gillende vrou was in my gedagtes en later, terwyl ek nog aan die verhaal gewerk het, die televisiebeeld van daardie rou, allesdeurdringende snikke van die Irakse seuntjie wie se arms en bene deur die Amerikaners afgeskiet is. Selfs in die hel wat die Bushe en die Blairs en die Hoesseins van hierdie wêreld skep met hulle kamma-godsdienstige gebrabbel, is daardie ‘oerkreet van alle dinge’ die heel laaste opstand téén geweld, téén ontmensliking, die heel laaste bevestiging van bestáán.
“Hoekom Dresden? Ek het dit, toe ek daarmee besig was, nie geweet nie, ek weet dit nou. ’n Moord naby ons huis in Kaapstad en die plaasmoord op Ladismith (albei het werklik ook gebeur) het my opnuut bewus gemaak van die twee gesigte van ook ons land. (Ek het dit nooit só vir myself gesit en sê soos ek dit nou hier skryf nie.) Aan die een kant is daar die ongekende vooruitgang, daar is internasionale erkenning, die gevoel van euforie wat moeilik is om te onderdruk, van bevryding, van ons het almal weer ’n toekoms. Totsiens aan die verdomde broertjies en walglike politici met hul leuens en korrupsie en pretensies en mensonterende eiegeregtigheid wat van my pa ’n ou man gemaak het voor sy tyd. Wie wil nie graag hê dit moet goed gaan nie? Dis die gesig van die dag. Maar ek het geruime tyd al (sonder dat dit my erg ontstel het) byna weggesteekte syfers in koerante begin raaklees. ’n Antwoord byvoorbeeld op ’n vraag in die parlement: daar was die afgelope tien jaar 250 000 moorde (vier maal Nuweland vol dooies). Daar was 14 000 plaasaanvalle. Daar was onmenslike wreedheid, daar was die verkragting van klein kindertjies. ’n Ou walging in blatante oneerlikheid het teruggekeer elke keer as ek ’n politikus dié geweld, dié voor die hand liggende probleme hoor invee onder die tapyte van bevryding en demokrasie. Dis die ander gesig van die land: dat dit een van die gewelddadigste lande ter wêreld is. Die gesig van die nag.”
In 2005 ontvang De Vries die Patrick Petersen Gedenktoekenning. Die toekenning word jaarliks gedoen aan ’n skrywer wat die doelstellings van die Afrikaanse Skrywersvereniging nastreef, uitleef en onderskryf. Braam was nie net baie aktief betrokke by die stigting van dié skrywersvereniging in 1996 nie, maar was ook een van die leiers met die opstel van die grondwet.
In 2007 het Braam aan Rachelle Greeff gesê (Rapport, 2 Februarie 2007) dat die probleme van die Afrikaanse boek nie by die skrywers lê nie, maar by die feit dat sommige uitgewerye deel is van maatskappye wat op die aandelebeurs genoteer is. “Ek weet goed daar is voordele ook, beslissende voordele, maar as met ’n kleiner taal gebeur wat ná 1994 met Afrikaans gebeur het, verkope wat op party plekke ineengestort het en weer opgebou moes word, ly die skrywer en/of die koper van boeke skade, want die uitgewer moet oor sy skouer bly kyk na die aandeelhouer se winste. Skrywer en koper is al wat nie aan daardie kraal behoort nie.
“Afrikaanse skrywers het met die nuwe kontrakte ’n minimum van R10 op ’n boek van R114 verloor. Die grap is natuurlik dat dit nie juis die uitgewerye is wat dié maatskappye se aandele laat styg nie, dis wêreldgehalte-entrepreneurskap se internasionalisering. Uitgewerye in so ’n omgewing kan egter nie agterbly nie. Dis hoekom ek wonder of hulle daar hoort. Klein, laerkoste-uitgewerye en veral die al hoe meer boekhandelprestasies is vir die hele Suid-Afrikaanse letterkunde nog steeds van gróót belang.”
Willie Burger (Die Burger, 23 November 2009) skryf as volg oor Braam se bundel Verbeel jou dis somer wat in 2009 verskyn het: “Die verhale is meer as plaaslike pogings tot singewing wat net naïewe, lokale vertellings sou wees. De Vries lê herhaaldelik bloot hoe uitgesoek en wat weggelaat is uit die vertellings. Hy wys hoe die plot uitgewerk is en sodoende rafel al die verhale as’t ware uit. Die verhale word nie sluitende stories wat sin gee nie. Ons begrip – deur middel van vertelling – word telkens geproblematiseer deur een vertelling in ’n groter verhaal in te bed.
“Waar die kontreiverhaal dalk nog vroeër kon troos, word hierdie verhale telkens teen die agtergrond van die wêrelddorp onthutsend. Die eerste verhaal in die bundel se openingsparagraaf suggereer al dat geen sluitende storie aangebied kan word nie: ‘Die begin van die beloofde verhaal stuur ek nou vir jou. Hoe verder, dit weet ek nog nie.’
“Hierdie onvermoë om te voltooi oorheers in die bundel. Ook die slotverhaal word in twee dele aangebied: ‘die storie’ en ‘die geskiedenis’. In hierdie tweede deel word die mooi liefdesverhaal van die eerste deel gekontekstualiseer. Die klein dorpsvertelling word in die wêrelddorp geplaas.
“Om oorhaastig te besluit hierdie bundel is nóg ’n tirade oor verval in die land of teen globaliserende kragte, sou ’n fout wees. Soos in Tot verhaal kom word nostalgie na die vorige bedeling afgewys. Ou murasies word nie bloot gerestoureer nie. Daar word opnuut gebou, omdat bou en aanleef en vertel al is wat ’n mens kan doen. Maar ’n mens kan net hiér, in jou eie kontrei bou en liefhê en hoop en jou verbeel dit is somer.
“De Vries keer die kontreivertelling op sy kop, plaas dit in die wêrelddorp. Sodoende lewer hy ’n vernuftige bydrae tot ons dink oor die spanning tussen die lokale en die globale. Die kompleksiteit van hierdie spanning blyk nie soseer uit die argumente nie, maar uit die belewenis van die stories wat juis só vertel word dat ons maniere van sinmaak bevraagteken word.”
Hans Ester, professor in die lettere aan die Radboud Universiteit Nijmegen, kies Verbeel jou dis somer as een van die beste kortverhaalbundels wat in 2009 gepubliseer is (Beeld, 29 Augustus 2010): “Hierdie stories lê so naby aan die aarde, nie net die rooi aarde van die Klein Karoo nie. Hulle herinner aan jou eie lewenservarings. Hulle doen ook reg aan die waarheid van die lewe dat elke ervaring in ’n samehang gebring en begryp word. Wat jy onthou van die dinge wat jy belewe het, is ’n vorm van verwerking en van kommunikasie. Ek ken geen ander skrywers in Afrikaans wat so oortuigend aangetoon het hoe belangrik die menslike gesprek in ’n samelewing is nie. Daarom is die wêreld vol stories. Braam de Vries kan uitstekend luister na wat mense vertel wat ander mense aan hulle vertel het. Daar is ’n element van weldadige troos in De Vries se stories. Dit hang met sy subtiele humor saam, ’n glimlag wat die menslikhede aanvaar. Egter, met kennis van die uiterstes. Vir die idille moet jy as leser wel betaal met aanvaarding van die geniepsighede van die mensdom.”
In 2010 is Braam de Vries vereer met ’n Sala-toekenning vir sy lewensbydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde. Verbeel jou dis somer was in 2010 op die kortlys vir die WA Hofmeyr-prys.
In 2011 verskyn Die behoue huis, ’n keur uit veral sy laaste drie “ernstige” bundels. In sy inleiding tot hierdie keur skryf Wium van Zyl: “Geen kortverhaalskrywer in Afrikaans ewenaar De Vries se volgehoue uitdaging aan sy leser nie: die intens gekonsentreerde intriges, die kriptiese weergawe van hele lewensgeskiedenisse in volle verwikkeldheid en daaragter tergende oerbeelde uit die kollektiewe onbewuste (die towenaar, die idioot, die jokkie, die clown) met beheer oor dood en lewe, oor verval en opbou ... De Vries bly ’n maatskaplik betrokke skrywer (...) ’n skrywer wat te midde van ons land se nimmereindigend kwellende geskiedenis in ’n deur kritici afgeskeepte genre sy skrywerskap aanhou verfyn het om ’n groot oeuvre tot stand te bring wat vreesloos wonder oor die raaisels van die menslike bestaan.”
Die verhale in Die behoue huis is deur die skrywer self uitgekies uit Soms op ’n reis: ’n keur (1987), Nag van die clown (1989), Skaduwees tussen skaduwees (1997), Tot verhaal kom (2003) en Verbeel jou dis somer (2009).
In Skaduwees tussen skaduwees vat Braam die Kannalandse oerbronne waaruit sy verhaalkuns ontstaan het, só saam (Die Burger, 29 Februarie 2012): “Ek het grootgeword met diewe en moordenaars wat ontsnap het en dan in vervalle murasies of in Swartberg se klowe tussen ruie bosse wegkruip. Gange waarin iemand afstap en dan skielik die reuk van die dood kry, vrouens wie se hare in een nag heeltemal grys word, gesmoorde gille, dig toe vertrekke waarin klippe of klonte vars bloed op mense val, dit het nie net in my nagmerries bestaan nie. Maar daar was ook dié stories wat jou gevoelens verwar het ...” (Wium van Zyl met Braam se 75ste verjaardag in 2012).
“Op abstrakter vlak verwys [Braam] daarna as die onbegryplike, die verskriklike, die onverwagte en (soms) droefheid. Die meestervertellers van die Klein Karoo was inderdaad vir hom rigtingwysers, hoewel sy groot kundigheid oor literêre teorie steeds meespeel.”
Volgens Van Zyl is dit dus uiters gepas dat die KKNK in 2012 aan Braam ’n Afrikaans Onbeperk-toekenning vir Lewensbydrae toegeken het. En is dit ook verblydend dat daar na hom as beide “meesterkortverhaalskrywer” en “kontreistorieverteller” verwys word. Van Zyl gaan voort: “Die vernaamste rede waarom hy oor die jare so stief behandel is deur onder andere die toekenners van Akademie-pryse is waarskynlik dat die hoë letterhere en -dames daardeur verwar is dat hy twee oeuvres uitgebou het.
“Allereers is daar die ‘ernstige’ verhale, altyd nog die kern van sy werk, en waarvan verlede jaar ’n bloemlesing, Die behoue huis, verskyn het.
“Daarteenoor staan die komiese kontreistories soos in Rooikoos Willemse is soek (2006), net mooi dit wat geleerdes afskrik. Wat die saak nog ingewikkelder maak, is dat De Vries soms glimlagstories as springplank gebruik na die groot temas van die wêreldletterkunde. Daarvan is die einste Rooi Koos, wie se bravade by dorpsrugby hom in ’n diepe eksistensiële krisis laat beland, ’n sprekende voorbeeld. Miskien is De Vries se grootste sonde juis dat hy ‘gevoelens verwar’.
“Deurgaans het ’n mens by hom met ’n vakman te make op soek na nuwe maniere van vertel. Dit is daarom nie verbasend nie dat ’n jonger skrywer soos Etienne van Heerden juis De Vries se werk vir ’n doktorsgraad gekies het. Met sy studies oor die kortverhaal en die Groot Afrikaanse Kortverhaalboek het De Vries bowendien al ’n reusebydrae tot die Afrikaanse literatuurwetenskap gelewer.
“Nog ’n sonde is hoeka dat hy by uitstek kortverhaalskrywer is. Dit is ’n genre wat by pryse ontereg gereeld laer as die roman aangeslaan word. De Vries se werk self laat al sien hoe ’n mistasting dit is. ’n Enkele bundel van hom, dikwels selfs ’n enkele verhaal, stel groter eise aan die leser en omvat meer as die meeste romans.
“Daarom is die tyd ryp vir die instel van ’n jaarlikse Abraham H de Vries-prys vir die Afrikaanse kortverhaal, by uitstek die genre vir die volgehoue verfyning van ons prosa. Intussen sal sy eie werk bly flonker vir wie dit ook al oopslaan lank-lank nadat berigte oor pryswenners vergeel het.” (Die Burger, 29 Februarie 2012)
Tydens die KKNK van 2012 het Braam se skatkis van verhale en staaltjies oor die Klein Karoo beslag gekry in die produksie Smeltwat daar opgevoer is. Die teks is deur Saartjie Botha geskryf.
Oor ’n boek wat sy lewe verander het, vertel Braam in Beeld van 21 Augustus 2000: “Dit was nie van die boek léés nie; toe ek Zorba die Griek van Kazantzakis die eerste maal gelees het, het ek Anthony Quinn se vertolking in die Amerikaanse moord op dié boek in my kop gehad. G’n wonder die Kretensers het hom die dorp uitgejaag nie, agter sy kamma robuustheid kon jy die naskeermiddel ruik.
“Nee, dit was nie met die eerste lees nie, dit was met die vertaling. Bartho Smit (die vader van die Sestigerbeweging, indien iemand nog nie weet nie) was uitgewer by die ou APB en hy het ’n reeks ‘Wêreldletterkunde’-boeke laat vertaal. Ek was pas uit Spanje terug waar ek Afspraak met eergister, die reisboek oor Griekeland, gaan sit en skryf het. Nee, natuurlik ken ek nie Grieks nie. (Die meeste Afrikaanse boeke word ook uit Engels uit in die ander tale vertaal.) Geen probleem vir Smit nie; ek moes die vertaling ‘so oor ’n maand’ gereed hê.
“Dis in my studentejare se buitekamer op Winkelplaas waar ek Kazantzakis se Alexis Zorbas, die man wat duisend jaar moes gelewe het, leer ken het. Die man wat probleme met dade beantwoord, die oermens met sy bouzouki wat hy so jaloers soos ’n siel bewaar.
“Vertaling, sê die Italianers, is verraad. Die uitdaging was om Zorba nié te vertaal nie, maar te herskep, in Afrikaans geloofwaardig te maak. Hoe sou hy antwoord op ‘meester’ se vrae? (Anders as ’n kortverhaal laat ’n roman skynbaar stukke swak skryfwerk toe; as jy die geheel lees, kom jy dit nie agter nie.)
“En teenoor Zorba: Kazantzakis se ‘meester’, die twyfelaar, die boekwurm, die alter ego van die verteller in die onverbeterlike Report to Greco. Vreemd dat die edele Kazantzakis so byna vergete is. Sy graf is op die groot muur van Herakleon, met geen steen nie; net ’n ruwe houtkruis bespeel die wind.”
Oor sy “vertellery” bely Braam teenoor Kirby van der Merwe (Rapport, 9 Junie 2002): “Ek is en bly net ’n storieverteller. Ek het nog nooit voorgegee ek is dié groot verteller nie. Dit sou verkeerd wees om voor te gee dat ek dié groot verteller is. Ons put almal uit baie bronne. Ek het die voorreg gehad om te kon luister na vertellers in murg en been, want ek het tussen hulle grootgeword. Pa was een van hulle.
“Ou Paai kon ’n Saterdagoggend lank in die middel van die hoofstraat in Ladismith staan en konsert hou. Nou is die grootste verteller in die kontrei Izak Bruwer en moenie vir Stanley de Wit met sy koeistorie vergeet nie.
“Wanneer ek verhale maak van vertellings, is die kuns om ’n ding so te vertel dat ’n mens die náklank van die vertelling nog kan byhoor. Dan is dit nodig dat jy in jou kop ’n klomp stemme het – dat jy weet hoe vertel Pa, Izak, Stanley, my suster, ’n storie. Dis hulle wat die borrels in die stories inpraat.”
Kirby van der Merwe skryf: “Dis aan een van hierdie vertellers, sy vriend Izak, dat sy bundel Op die wye oop Karoo (2002) opgedra is. Izak vertel dat hy partymaal in die veld rondstap en die hardste stukkies hout wat hy kan kry, optel en vir Braam neem. Dis vir hom altyd mooi om te sien hoe ’n meester te werk gaan om fyn meubeltjies daarvan te maak.
“Braam de Vries word beskou as een van die belangrikste vernuwers van die kortverhaal in Afrikaans. Hy skryf sy vermoë om woorde 'só fyn te timmer' toe aan sy studie en kennis van Nederlands, maar veral aan die invloed van twee groot leermeesters in Amsterdam, WG Hellinga en Merwe Scholtz: 'Hulle kón die woord, Afrikaans en Nederlands, meet en pas.'
André P Brink beskryf Braam de Vries as ’n skrywer wat “die hele kortverhaalgenre binneste-buite kan keer”. En Joan Hambidge sê: “Ek ken min skrywers wat ’n mens so bewus kan maak van die onafheid van alles, die gebrokenheid van die wêreld” (Jaco Jacobs in Beeld van 16 Augustus 2003).
“Etienne van Heerden het in sy Postmodernisme en prosa: vertelstrategieë in vyf verhale van Abraham de Vries aangedui hoe postmodernisties De Vries te werk gaan. Tekste en sitate uit ander tekste word betrek, regte mense en regte plekke genoem en gefiksionaliseer, die ruimte word ’n karakter in die verhaal en daar is die oop slot. Dit verklaar ook hoekom die leser fyn moet lees, want met hierdie meester kan jy jou lelik vasloop en van die betekenisnuanses mislees,” skryf Marius Crous in sy resensie van Die behoue huis in Beeld van 25 April 2011.
“Ek wil egter nie voornemende lesers afskrik nie. De Vries slaag daarin om met sy goedgekose titels en sy storietrant-insette die leser gou in te lok in sy verhaal in. Dikwels begin die verhaal oënskynlik eenvoudig met ’n voorval van ’n karakter met ’n goedige naam soos Miss Maggy of ’n brief of ’n oproep wat van iewers af ontvang word. Die storie loop dan sy gang, maar word ingevleg met verskeie postmodernistiese stylgrepe en ’n bewustelike besinning oor die skryf van stories.
“In die voorwoord tot Die behoue huis skryf Wium van Zyl tereg dat die leser dikwels in een verhaal van De Vries 'meer moet verwerk as in die oorgrote meerderheid literêre romans'.”
Met Braam se 70ste verjaardag het Christine Barkhuizen-Le Roux die volgende gedig geskryf:
’n Stopseltjie vir Braam – op 70
hy roer die geure om en om
stryk oor die wit kenbaard en kop
druk hier en daar ’n knypie twak
verbode feit met duim en vingers vas
blaas ring op ring gedagtes uit
soos wat hy aansteek teug en trek
’n nuwe stopsel vir ’n dampie slaan
meng hy en maak dit vurig brand
totdat die hele Kannaland se berg
van swart tot rookwit wolke skuim
die kinders van die Klein Karoo
sal eeulank met sý pruimpies pronk
toorstories uit hul heer se pyp:
Abraham de Vries van Donk.
In 2013 verskyn daar ’n nuwe bundel van De Vries by Human & Rousseau getiteld Maar wie snoei die rose in die nag? Op die flapteks word meer vertel van hierdie nuwe bundel: “Abraham de Vries vermom sy 'kontreiverhale' soms as 'ernstige verhale' en sy ernstige verhale as kontreiverhale. Vir die toegewyde De Vries-leser maak dit weinig verskil. Maak nie saak … wat die genre eintlik is nie; dis die storie en die vakmanskap wat in beide gevalle primêr tel – soos Linda Rode tereg sê (nav van DH Lawrence se woorde: ‘never trust the artist. Trust the tale'). De Vries se vertroude vertellerstem is byna uniek in Afrikaans – daar is die herkenbare en die realistiese, maar sy verhale word ook gekenmerk deur ’n evokatiewe onuitgesegdheid. ’n Ander kenmerk is sy deernis met die buitestander of die underdog. In hierdie verhale is daar hartseer en humor, lokkende geheime, misterieuse karakters, triekster-elemente. Die eerste verhaal in die bundel, 'Agter nege passe', is as’t ware ’n liefdesverklaring aan die Klein-Karoo!”
In Zuid-Afrika het Hans Ester as volg oor die nuwe bundel geskryf: “Abraham de Vries se verhaalbundel, Maar wie snoei die rose in die nag? is ’n besondere beskrywing van die Karoo. Sy woorde beeld uit die landskap wat jou voorstel aan die verhale wat agter die sigbare voorwerpe gevind kan word.”
Hierdie 21ste bundel van De Vries bevat 12 nuwe kortverhale wat almal in sy geliefde Klein Karoo gesetel is. In Rapport van 4 Oktober 2013 sluit Betsie van der Westhuizen haar resensie van Maar wie snoei die rose in die nag? só af: “Landskap en taal, teks en verhaal, feite en fiksie is vervleg, dit loop deurmekaar en inmekaar in sommige verhale, maar ook oor die grense van verskillende verhale. Fiksie is in die reële, konkrete werklikheid van die Karoo-landskap veranker en uitgebou in menseverhoudinge waarvan die betekenis veel wyer uitkring as wat eksplisiete woorde kan verklaar.
“Antwoorde op die vraag van die bundeltitel hou moontlik verband daarmee dat die wêreld en die lewe vol geheimenisse is waaroor die mens hom bly verwonder, dat die mens dikwels sy verbeelding moet gebruik om lewensraaisels op te los, en dat definitiewe antwoorde op talle vrae die mens dikwels bly ontwyk. Maar wie snoei die rose in die nag? is ’n ryk en insigryke kortverhaalbundel met buitengewone boeikrag.”
Cilliers van den Berg het Maar wie snoei die rose in die nag? vir Beeld (17 September 2013) bespreek: “Die bekende motiewe uit De Vries se oeuvre kom ook in hierdie bundel aan bod: Dit is die landskap van die Karoo, maar dan veral die landskap van sy mense wat beskryf word.
“Die vermenging van ’n ligter kontreikuns-aanslag met die meer sobere, maar soms ook geheimsinnige aspekte van hierdie wêreld, teken ’n ruimte wat sowel bekend as onbekend is. En dit is onder meer juis hierdie ambivalensie wat die verteller van 'Agter nege passe' (’n verhaal opgedra aan Breyten Breytenbach) onbeskaamd sy verwondering laat betuig, ’n verwondering wat dalk net die hoogste sou wees waartoe die mens in staat is.
“Maar dit is ook ’n landskap gebaai in melancholie, weens ’n verlede wat veral net in drome en herinneringe vertoef. Daarom word ’n besoek hier as volg beskryf: 'Terug na die landskap van onthou en droom en verbeel. Terug na die landskap van eerstes: brood en gebed en die sagte lig van ’n Millerlamp, ook op growwe bruin hande en geslote gesigte teen die muur in die skaduwee; terug na die landskap van ons kinderlikste gebede en ons grofste nalatighede'.
“Hierdie soms melancholiese opmerkings doen egter nooit sentimenteel aan nie – en dit is bevestiging van ’n volwasse skrywerskap dat met sulke simplistiese observasies en beskrywings die ewewig steeds behou word. (...)
“Buiten die geografiese landskap, is dit veral die groot verskeidenheid van karakters wat by die lees van die bundel opval. Hierdie sluit grotendeels karakters in wat nie altyd aktief aan die handeling deelneem nie, maar eerder as terloops genoemde 'locals' só deel van die Karoo-agtergrond is soos die bossies van hierdie kontrei. (...)
“Is die fokus van die bundel verskralend deurdat dit so deurdrenk is van die besondere milieu? Kontrasteer sommige verhale soms nadelig met die besinnende perspektief van ander?
“Ja en nee: ’n Bundel is ook ’n eenheid waar ’n verskeidenheid van stories en aanslag die wêreld wat onthou word, die wêreld wat verbeel en waaroor geskryf word, in verskillende nuanses voorstel. Want uiteindelik word alles deur die skrywer byeengebring '[v]ir ’n tuiste in woorde, in paragrawe [...] Vir hulle wat dit later skaars sal glo.'“
In Oktober 2013 vereer die ATKV vir Abraham de Vries met ’n oorkonde vir die bevordering van Afrikaans. Dit is aan hom oorhandig tydens ’n geleentheid wat deur die ATKV-tak Towerkop op Ladismith aangebied is ter nagedagtenis van Stanley de Wit, wat “Ladismith se ewige liggie” op 31 Mei 1963 aan die hang van Elandsberg opgerig het.
Abraham de Vries vertel in sy kortverhaal “Die ander lig” die storie van Stanley de Wit, wat op 14 in Die Burger gepubliseer. Tydens hierdie geleentheid op Ladismith het Braam de Vries en ander Ladismitters die gehoor vermaak met hulle herinneringe aan De Wit. (Die Burger, 30 Oktober 2013)
In ’n onderhoud met Murray la Vita (Die Burger, 3 Februarie 2017) wei Braam de Vries verder uit oor sy geliefde Klein-Karoo: “Daar is iets Middeleeus aan die Klein-Karoo. En natuurlik die soort afwykendes van die Middeleeue … Ons praat altyd van die donker Middeleeue, maar dit was als behalwe ’n donker tydperk, die Renaissance het op die loer gelê in baie opsigte. Maar kyk nou byvoorbeeld Pieter Breughel die Oue en daai snaakse vlieënde visse van hom. En wie is dit wat die naaste aan hom was?
“Breyten Breytenbach! Het jy sy skilderye al gesien? Hy het ’n streep weg … Breyten ken die platteland net so goed soos ek, nè. So, daai soort van ding is nie vir hom vreemd gewees nie. Jy kry dit ook in sy bundel Katastrofes en in Jan Rabie se bundel 21 en Henri Michaux se Verschijningen.
“Dis almal presies dieselfde soort van omvergooi van die werklikheid of die te voorskyn haal van die skadukant, of die lagwekkende skadukant partyslae van die werklikheid. Dis ’n fássinerende wêreld. Dis ’n ongelóóflike diép menslike wêreld.”
Die afsterwe van skrywers soos Ronnie Belcher, Adam Small, George Weideman, André P Brink, Chris Barnard, Ina Rousseau, Elisabeth Eybers en Hennie Aucamp bestempel Braam de Vries teenoor Murray la Vita as ’n groot verlies vir die Afrikaanse letterkunde: “Dit is almal unieke stemme, dit is nie net sommer stories nie. Maar dis nie te sê dat daar nie ander bykom nie, want daar kom prágtige goed by.
“Ek wil nie nou oor die soort dinge praat nie, maar … wat op die oomblik besig is om met Afrikaans te gebeur is een van die grootste tragedies wat hierdie land nog getref het.
“My boeke gaan vergete raak omdat dit nie in ’n ander taal geskryf is nie … Die Afrikaanse koerant, die Afrikaanse boekwêreld, die héle Afrikaanse wêreld, het ’n probleem. En hierdie probleem is verskriklik diepliggend en dit is die móórd wat ideologie pleeg.
“Baie min mense sien dit raak, maar wat in Stellenbosch aangaan en wat die ou Nasionale party aan Afrikaans gedoen het, is presies dieselfde. Dis álbei ’n keuse van ’n sekere manier van dink bo die waarde van die taal as sodanig. Dis ’n keuse van ’n ideologie, van ’n kamma grênd manier van dink en geen énkele begrip van wat taal in werklikheid is nie.”
In 2017 het die FAK Abraham de Vries vereer met die NP van Wyk Louw-medalje vir die bevordering van die Afrikaans taal en kultuur.
Wat hierdie prys vir De Vries só belangrik maak, het hy in sy aanvaardingstoespraak gesê, is dat dit gekoppel is aan NP van Wyk Louw wat een van die grootste denkers, dalk die heel grootste, in die Afrikaanse letterkunde was. (Beeld, 3 November 2017)
“Dit is ’n eer waarvan ek seker is dat ek dit nie verdien nie,” het Abraham de Vries voortgegaan, “en wat my laat vermoed u het ’n baie welkome fout gemaak. Maar daar is ’n troos wat ek raak hoor en nie vergeet nie, want woorde verkondig soms hul eie waarhede: Van Wyk Louw is ’n boorling van die Groot-Karoo; ek kom uit die Klein-Karoo. Woorde weet en woorde verklap.
“Dit is so in gedigte en dit is so in kortverhale. Hennie Aucamp het al daarop gewys dat dié twee genres ’n voorliefde gemeen het, vir verwysings, assosiasies, vir taal as eintlik iets onvertaalbaars. Maar veral vir die ‘glansryke werktuig’ en ‘tweesnydende swaard’ se vermoë om te suggereer, om iets totaal anders te fluister as wat jy sê. (…)
“Ek vermoed daar is ’n ongestelde vraag by almal van ons wat vanaand hier is: Van watter taal praat jy? ’n Taal waarin ’n hele geslag in die buiteland nog net sal droom in die nag? ’n Taal waarvoor in die politiek van tipies neokoloniale, eentalige universiteite nie plek is nie? ’n Taal wat sal bly voortleef so lank as wat daar mense is wat dit praat? Daar is baie spoke om op te jaag en baie skralerige geraamtes om vol lawaai en hoop te laat ratel.
“Ek vermoed dis die moeite werd om Louw se antwoord uit 1961 weer goed te lees omdat hy die gesprek wegstuur van herkoms en stryd, van geskiedenis en taalsosiologiese wetmatigheid af na die menslike, die moreel/etiese toe: Ek haal hom aan: ‘Oor wat ons taal sal word, of oor wat van hom sal word, kan ons nie praat nie, behalwe met hartstogtelike verlange.’ (Uit Vernuwing in die prosa.)
“Begrip en eerbied vir hierdie ‘hartstogtelike verlange’ is die kweekplek vir medemenslikheid en vir respek. Waar wanbegrip en ’n gebrek aan eerbied heers, verdwyn respek en ontstaan konflik. Ek weet van nêrens waar respek nie welkom is nie – dit geld in gewone gesprekke en beroepe, maar ook in hofdokumentasie en aan universitêre inrigtings.
“Waarmee ek my dankwoord wil afsluit: Ek aanvaar dié eerbewys ook namens die Afrikaanse kortverhaal, dié genre, wat saam met poësie, juis nou in hierdie wye en droewe land vra vir begrip wat so belangrik is.
“Elizabeth Bowden had gelyk: ‘The short story, as I see it to be, allows for what is crazy about humanity: obstinacies, inordinate heroism, “immortal belongings’.
“En ja, juis in hierdie land. Ek haal aan uit Tristia:
Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.
O my land, o my land: jy is ek.
Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.
Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.”
Abraham de Vries vertel verder aan Murray la Vita oor die einde van die kortverhaal en taal: “Hoe ’n kortverhaal eindig, is baie belangrik. Die slot van enige kortverhaal is eintlik veronderstel om lig te werp oor dit wat jy vertel het, om dít in perspektief te plaas en om die geheel af te rond, en dit is partyslae moeilik, want dit is partyslae waar jy … jy moet taal goed ken.
“Ek sou dit nie kon doen in Nederlands óf in Engels óf in enige ander taal wat ek ken nie. Daarvoor het jy die skaduwees en die ligkante van Afrikaans nodig. Dít is die aspek van taal wat Stellenbosch nie verstaan nie … Die feit dat dit deel is van ’n lewende organisme; dit is nie iets wat jy gebruik soos ’n mandjie wat jy … Dis nie Rooikappie wat vir Ouma goed neem in ’n mandjie nie. Dis die fluisteringe van die wolf … Taal is daai fluisteringe van die wolf … en wat die houtkapper gehoor het.” (Die Burger, 3 Februarie 2017)
Tydens die Woordfees van 2017, net ná Braam se 80ste verjaardag, vra Christine Barkhuizen le Roux hom uit oor die verhouding tussen feit en fiksie, stories en die werklikheid en hy het heel gepas met ’n storie geantwoord: “Ek was ’n seuntjie, seker nie ouer as agt, nege jaar nie. Toe loop ek een oggend van my kamer af oor die werf kombuis toe – soos ek baie oggende tevore gedoen het.
“En toe, besef ek vir die eerste keer die son skyn en dat al die huise om ons s’n eintlik vorms is. Dit (die vorms) is nie noodwendig iets waarin mense woon nie, maar dis pragtige vorms. En daar’s die tenk waarin die water is …
“Skielik het daar vir my soort van ’n wonderwerk oopgegaan dat hierdie goed almal bestaan. Nie dat dit bestaan om iets te doen of om iets te wees nie, maar dat dit hoegenaamd bestaan.
“Ten grondslag van ons storievertellery lê ’n ander storie en dis die feit dat dit bestaan. Ons is maar net besig om in woorde te stel, maar die woorde is nie die wonderwerk nie. Die bestaan self is.
“Ons besef dit nie altyd nie, maar ons lewe in ’n wonderwerk.” (Volksblad, 14 Maart 2017)
LitNet het met Abraham de Vries se 80ste verjaardag sy seun, Willem, gevra om ’n onderhoud met hom te doen. Willem wou by sy pa weet of die vertel van stories en die skryf van stories ’n invloed op mekaar uitoefen: “Wat die vertellery betref, praat jy van Oupa-hulle in Winkelplaas se winkel. Onthou dit was jarre voor TV; die radio het met ’n motorbattery gewerk, mens moes nuus klaar luister en afskakel anders is die battery te gou leeg. In die winkel saans het hulle gesels oor alles onder die son: van wat die beste salf was om aan oom Hans se koei se uier te smeer (Germolene natuurlik; oom Hans het Germolene gebruik vir al wat ’n skeet of pyn was) tot die moord wat glo anderkant Seweweekspoort op pad Laingsburg toe gepleeg is. En is die storie van Joey en Daïl wat op Makkadas se stasie in haar kantoor nou ’n vryery aan die gang het, waar of is dit sommer skinnery? En honderde ander. Aan my het hulle hulle nie gesteur nie, genadiglik! Ek kon die mens leer ken op sy menslikste en in al sy ónmenslikheid, terwyl ek die geborgenheid gehad het van my ouerhuis. Dis die soort vertellery wat ek nageaap het.
“Maar vreemd, weet jy, die twee stories wat die eerste in Die Huisgenoot verskyn het, ‘Bert die Jagter’ en ‘Spioene’, het ek nêrens ooit eers vertel nie. Die ander wat nooit aanvaar is nie, ook nie. Seker goed veertig, miskien selfs meer. Hoekom nie? Ek weet dit nie. Dit was net nie winkelstories nie. Hulle sou nie weet wat om te maak met hoe seuntjies reageer op die dood van ’n bok of van ’n soldaat nie.”
Willem wou ook by Braam weet hoe die stryd rondom moedertaalonderrig vandag verskil van die probleme wat die Skrywersgilde in die verlede ervaar het.
Hierop het Braam geantwoord: “Almal van ons in die Gilde het besef Jan Rabie het gelyk: Afrikaans sou die rekening betaal vir die wandade van apartheid. Dit was in die lug. Nie net onder skrywers nie. Moenie vergeet nie, dit was ook die jare wat onderwysers met taalprobleme te make gekry het. Party sou ons vandag beskou as net gedeeltelik taalprobleme (byvoorbeeld die spelwyse in die klas van variante van Afrikaans), maar ‘standaard-Afrikaans’ was al hoe meer Apartaans (Apartheid-Afrikaans) aan die word. Die wurggreep van die apartheidspolitiek en die gepaardgaande manier van dink se invloed op Afrikaans, die assosiasie van eeue oue variante as die Afrikaans van politieke minderes, selfs die plek en rol van Afrikaans in ’n postapartheid Suid-Afrika het ál dwingender gesprekke begin oorheers. (…)
“Met die huidige onvoorsiene en ondenkbare verengelsing van Afrikaanse universiteite (met die uitsondering van Potch) mis ek, as ek die dokumentasie oor daardie jare nou weer lees, tóé se naïwiteit, maar ook die insigryke, eerlike, menswaardige pogings deur denkendes om ’n toekoms tot stand te bring tot voordeel van almal.
“Dat ’n situasie ooit afgedwing sou word – en dit deur mense wat die Vryheidsmanifes uit hul koppe behoort te ken – waar juis die mins bevoorregtes ’n kamma toekoms kan koop slegs met prysgawe van die enigste taal wat hulle van moedersknie af ken, was ondenkbaar.
“Ek sou nou vir jou daarop kon wys dat die geskiedenis eintlik nie verander het nie: die oujare se nasionaliste het ’n ideologie verkies en die waarskuwings oor die gevaar daarvan vir taal verontagsaam. Die rektore van die betrokke universiteite herken vandag nie die ideologie wat hul verontagsaming van die waarde van taal met heel eenvoudige skuiwe (byvoorbeeld die misbruik van demografie) dikteer nie. Wat nie Jan, en sekerlik ook nie die Gilde ooit sou glo nie, is dat mede-Afrikaanssprekendes die grootste vyand van Afrikaans sou word.
“Laat my afsluit met iets wat gebeur het. Jy weet wie Danie van Gend was. Sy pa en WA (Bill) de Klerk se pa, oom DP, was die stigters van die Kaapse prokureurfirma De Klerk en Van Gend. Dis Danie wat my gevra het om een aand vir hulle, by die ek weet nie meer hoeveelste verjaardag nie, seremoniemeester te wees. Wat ek nie geweet het nie, is dat die president tóé, FW de Klerk, die spreker van die aand was. Die huidige Grondwet was, as ek goed onthou, net gepubliseer. President De Klerk was die hele aand baie vriendelik oor my stories, maar ek het agtergekom hy wou hê ek moes iets oor die Grondwet sê.
“Toe dit rooktyd word, voor die einde van die aand, het hy my eenkant toe geroep en gevra: ‘Waar het ons na jou mening foute gemaak in die Grondwet?’ Ek het geskerm dat ek nie ’n regsgeleerde is nie, maar hy het aangedring op ’n antwoord. Ek het gesê: ‘Julle het nie tale goed genoeg beskerm nie.’ (As dit nou sou gebeur, sou ek antwoord: ‘Julle moet Jakes se twee of drie Afrikaanse universiteite uitspel as universiteite vir Afrikaanse studente van alle herkomste. Taal ken nie apartheidstories en raskeuses nie.’)
“Nee, Braam,’ was pres De Klerk se antwoord, ‘dit kan jy nie sê voor die reëlings wat ons wel in die Wet getref het, nie in ’n hof getoets is nie.’
“Wat anders bly oor? Verlede jaar het daar ’n M-verhandeling verskyn en daarvolgens is die verengelsing wat – let wel – aan die US al meer as 15 jaar aan die gang is, verbasend stadig. Is Afrikaans nie miskien veel sterker as wat ons dink nie?”
In 2021 ken die Universiteit van Pretoria aan Braam ’n eredoktorsgraad toe vir sy skeppende werk in Afrikaans, asook vir sy bydrae as kritikus, as kanoniseerder van die Afrikaanse kortverhaal, as krag in skrywersorganisasies, as vertaler en as filmmaker. Op die Voertaal-webwerf praat Wium van Zyl met Braam oor hierdie toekenning en wat dit vir hom beteken.
Braam de Vries sê aan Van Zyl: “Ek weet nog nie hoe ’n mens veronderstel is om te voel nie. Al waarvan ek seker is, is dat dit by verre die grootste eer is wat my nog te beurt geval het.”
In die commendatio word gemeld dat die verskynsel van die wonderlike in sy kortverhale voorkom. Van Zyl wil weet of die wonderlike inderdaad vir hom iets is wat in die gewone, die kenbare werklikheid skuil. Hierop antwoord De Vries beslis: “Einste. Wat die wonderlike genoem word, is meestal wat in die gewone misgekyk word. Die lewe self is ’n wonderwerk.”
Wium van Zyl wys verder op die universaliteit van Abraham de Vries se verhaalkuns. “Jou CV as akademikus en jou werk as kritikus wys natuurlik dat jy ’n leser is van die wêreldletterkunde en kundig ten opsigte van internasionale strominge. Kritici wys in hierdie opsig veral op die verskeidenheid enkelinge en enkelingskap wat jy ten tonele voer. Wat is dit aan die enkeling, die verdwaalde wat jou interesseer?”
Abraham antwoord hierop: “Op die plaas het ek alleen tussen die volwassenes grootgeword. Later leser, nog later leerder, daarna student, al die seisoene van jare en jare. Ek ken die mens as enkeling en as verdwaalde, nie juis as kuddedier nie.
“Die kortverhaal is by uitstek die verhaal van ’n enkeling; dis net hier en daar dat ’n mens iets teëkom soos Etienne Leroux se ’n Dag in Berg-en-Dal’. Wat my betref is ‘universaliteit’ iets veel eenvoudigers as wat die woord suggereer. ‘Universaliteit’ sluit aan by iets ‘algemeen-mensliks’. Daarmee bedoel ek verhale waarin die karakters iets onverwags doen of oorkom wat almal, oor die hele wêreld, kan doen of oorkom, onder sekere omstandighede. Wium, ek probeer vir die eerste keer nou hier vir myself die verskynsel duidelik maak. Wat dit in my skrywery beteken, is dat dit ’n gevoel is wat ek op my maag kry; dis stories wat mý opsoek – dit gebeur selde in stories wat ek probeer ‘uitdink’.”
Oor Die Afrikaanse kortverhaalboek, waarop Braam de Vries se reputasie as die “voorste kanoniseerder van die Afrikaans kortverhaalkuns” berus, vertel hy aan Van Zyl: “Wium, Die Afrikaanse kortverhaalboek het begin met ’n antwoord op die vraag: Watter verhale is vir my die beste? In Nederland het toenterjare toe vir die eerste maal ’n dik boek met verhale verskyn. Hier by ons was die samestellings almal redelik dun en uitgedun. Ek wou Hennie Aucamp bybring as medesamesteller toe ek die plan vir Koos Human gaan voorlê het, maar Koos wou nie; sy antwoord was: ‘Hoekom doen jy dit nie self nie? Dit sal makliker wees vir my.’ Min wis ek toe hoeveel tegniese probleme ons sou moes oorkom. Dis ’n verhaal, eintlik ’n lang boek, op sigself oor hoe die versameling ontstaan het. Anders gestel, dis eintlik ’n versameling van wat ’n aantal lesers as die bestes beskou het. Dis ook hoe Die Afrikaanse kortverhaalboek ‘die kanon van die Afrikaanse kortverhaal’ geword het, soos John Kannemeyer – nie ek nie – dit genoem het. Deur die jare het Hennie Aucamp, Emma Huismans, John Miles, André P Brink, Willie Burger en jy self my gehelp met die keuses.
“Die ‘besinnende artikels’ was maar net ’n manier om die verhale vir studente te verduidelik – dis nie bedoel as ‘besinnende proses’ nie. Ek het ’n boek (Kortom) geskryf met verduidelikings vir elkeen van die verhale wat ek gekies het. Koos Human het dit gepubliseer. Toe wys ek die boek vir Merwe [Scholtz] en dis hoe my doktorsgraad ontstaan het; Merwe wou weet hoekom ek nie die boek nie vir ’n doktorsgraad voorlê nie.”
Oor sy betrokkenheid by die maak van dokumentêre films vertel De Vries aan Van Zyl: “Die reeks films oor die Klein Karoo wat ek en Koos Roets gemaak het, was hoogtepunte, maar so ook die een oor Afrikaans en Nederlands na apartheid en die laaste drie oor bruin digters, die heel laaste, Ek hoor die vryheid sing oor Adam Small, minder as ’n maand voor hy oorlede is.
“Ek het met films begin toe Chris en Katinka Barnard my vra om tekste te skryf by ’n reeks wat reeds verfilm was. Dis waar die gogga gebyt het; die reeks oor die Klein Karoo was die eerste wat ek self gemaak het, met Koos Roets as kameraman. Dáárna het Afrikaans en Nederlands na apartheid gevolg met Jurie le Grange as kameraman, Merwe Scholtz as raadgewer, en my seun Andries as klankhulp.”
Abraham de Vries is Vrydagaand 23 Augustus 2024 om ongeveer 19:30 aan natuurlike oorsake in Durbanville, Kaapstad in die ouderdom van 87 oorlede. Hy word oorleef deur sy vrou, Hannie, en drie kinders, Andries en Willem de Vries en Anneke Andrews. (Netwerk24, 23 Augustus 2024)
Huldeblyke:
- Willem de Vries, Braam de Vries se seun: “My pa is ’n skrywer uit ’n heroïese era toe soveel begaafde skrywers die pen opgeneem het in ’n donker tyd in die land, om mense daaraan te herinner dat ons almal mense is. (…) Hoewel mens en storie nie gelyk te stel is aan mekaar nie, is die karaktertrekke van my pa in sy verhale herkenbaar: Deernis tussen mense ongeag die groter politiek van die dag en die groter, sistemiese geweld wat hulle omgeef het. Hy het ook geskryf oor die masjinasies van mag en mense wat mag oor ander toe-eien en uitoefen. My pa kon onregverdigheid nie verdra nie.
“Hy was altyd onseker hoe sy werk ontvang gaan word, hierdie skrywer van verhale wat klassiek geword het in Afrikaans en steeds wyer bekendstelling verdien. My pa was baie betrokke by die verskynsel mens. Stories was sy manier van verstaan en bly ’n uitnodiging aan die leser. Hy het generasies studente en medeskrywers help vorm. (…)
“Alzheimer het my pa se persoonlikheid gerysmier net soos met die afgewitte gerofkaste muur van ’n ou, geliefde huis anderkant Ladismith. Betreklik vroeg al kon hy nie meer sy verhale onthou nie, maar hy kon steeds Boerneef volledig aanhaal, maar sonder om te weet wie ‘Die berggans’ geskryf het.
“Dis ’n genade dat wanneer ek na my pa verlang, dan kan ek enige van sy verhale lees en onmiddellik weer sy stem hoor. Winkelplaas het nou ander eienaars, maar Volmoed se gasie behoort aan ons almal. Wie gaan nou so lekker en roerend en oneindig wys vertel en saamlag vir almal se nonsies, waarvan soveel ons eie is?
“Veilig reis, Dêds. Laat weet sodra jy vir Winkelplaas kan sien. Ons kom ’n bietjie later deur.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Toyota Stellenbosch Woordfees: “Ons neem met eerbied en waardering afskeid van die skrywer en geliefde Sestiger Abraham H de Vries. Sy kortvertellings het ’n behoue tuiste in baie lesers se harte. ’n Noukeurige storieverteller, inspirerende dosent, brugbouer vir Afrikaans. Rus in vrede, Braam.” (Facebook)
- Dana Snyman, skrywer: “Die dag toe my pa oorlede is, het oom Braam vir my ’n boodskap gestuur: ‘Om ’n pa te verloor, is om ’n hoekpaal te verloor.’ Vanoggend toe ek hoor hy is weg oorkant toe, het ek opeens hoekpaalloos gevoel. Hy was die eerste skrywer wat my soos ’n skrywer tussen ander skrywers laat voel het. Voor die publikasie van meer as een van my boeke, het ek vir Erika Oosthuizen, die uitgewer, gesê: ‘Vra asseblief vir oom Braam of hy bereid is en tyd het om die manuskrip te lees.’ Wat hy elke eer onbaatsugtig en deeglik gedoen het, met notas by elke storie waaruit ek soveel kon leer. Ek weet hy het dit vir ander skrywers ook gedoen. Uit liefde vir mense en woorde en stories ... Wie het beter kortverhale in Afrikaans as hy geskryf, van literêre verhale, tot sy Klein-Karoo-vertellings, wat meer as sommer net sketse was. Hy was een van die grotes van ons letterkunde. Hy het die akademiese kennis gehad – veral oor die binnewerkinge van ’n kortverhaal – en hy kon dit oordra sonder om jou dom te laat voel. Dit is ’n dekselse skande dat die Hertzogprys vir Letterkunde nooit aan hom toegeken is nie. Hy sal vir altyd ’n hoekpaal vir Afrikaans en onse stories wees. Sterkte aan tannie Hannie, Willem en sy ander nabymense. Soveel van ons dink met liefde aan hom – liefde en dankbaarheid, en ’n gevoel van verlies.” (Facebook)
- Wium van Zyl, letterkundige: “In De Vries se kortverhale het hy die wêreld van die orale letterkunde en die streekverhaal, veral dié van die Klein-Karoo, naatloos verbind met dié van groot temas in die wêreldletterkunde. Nie net was my vriend die grootste kenner van die Afrikaanse kortverhaal as genre nie, sy gereelde hersiening van sy Groot Afrikaanse kortverhaalboek het hom dekades lank die groot kanoniseerder daarvan gemaak. Hy het baie moeite gedoen om jong talent te inspireer, veral skrywers uit voorheen gemarginaliseerde kringe. Daarnaas sal sy belangrike bydrae om die betrekkinge tussen Afrikaans en Nederlands te bevorder, insluitend sy werk as bestuurslid van die Nederlandse Biblioteek in Pinelands, nie maklik vergeet word nie. Ek gaan my hartlike, getroue vriend met sy fyn humorsin vir altyd bly mis.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Willie Burger, akademikus: “Al het groot pryse hom bly ontwyk, het De Vries hom oor meer as 60 jaar as die voorste kortverhaalskrywer in Afrikaans gevestig. Hy was een van die laaste Sestigers wat nog met ons was. Groot pryse het hom ontwyk – juis omdat hy homself op die kortverhaal toegespits het en hy het gevoel romanskrywers kry meer aandag. Hy het dikwels opgemerk dat die verskil tussen romanskrywers en kortverhaalskrywers is dat albei vir 10 of 20 bladsye skryf, en dan hou die romanskrywer aan met tik.
“Hy was die meester van die streeksvertelling. Hy het met die vernuwings van die modernisme die grense van invalshoeke en vertelwyses ondersoek en uiteindelik ook postmodernisties geskryf. Sy werk het nie gedra aan die las van selfbewuste eksperimentering nie. In sy hande was dit byna ’n natuurlike uitbreiding van die gewone stoepvertelling of die magiese van die Klein-Karoo. Dit was omdat Braam in stories geglo het – hy het lankal geweet wat neuroloë intussen bewys het: dat die mens in stories dink.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Kerneels Breytenbach, ouduitgewer: “Iemand met ’n skerp oog vir mense se eienaardighede wat op sy dag aande kon ompraat oor die sonderlinge wat hy in die Karoo geken het. Ladismith het hom nie verniet in die middel-negentigs met ereburgerskap vereer nie. Daardie aand was dit asof nie alleen sy vriende nie, maar ook die ganse voorgeskiedenis van Ladismith saam met hom in die saal was. Ek beskou hom nie net as een van die beste beoefenaars van die kortverhaalkuns nie, maar as die kenner van dié genre en sy onwikkeling in Afrikaans. As jy in sy Die Afrikaanse kortverhaalboek (laaste uitgawe 2007) opgeneem was, kon jy jouself as gekanoniseer beskou. Die hoogtepunt van sy eie beoefening van dié genre was Nag van die clown (1989), waarmee hy die beste kans gehad het om die Hertzogprys te wen. Bekroning deur die SA Akademie het hom bly ontwyk.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Alida Potgieter, De Vries se uitgewer: “Daar is soveel meer wat ’n mens kan sê en wat ’n mens moet sê as dit by De Vries kom. Ek het nog altyd gevoel meer van sy boeke het bekroning verdien. Dit was vir my ’n groot voorreg om met iemand soos Braam te kon saamwerk, en om hom te ken. Hy was altyd meelewend, opreg, simpatiek en spontaan.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Rachelle Greeff, kortverhaalskrywer: “De Vries se ‘sê-goeters’ oor die kortverhaal is diep in my shopping-sak oor stories-maak gebêre. Soos: ‘Die sin of betekenis (is) sekerlik nie die vertrekpunt nie. Dis nog altyd hoorsê, bymekaarlieg en verbeelding’ … En ‘dis ’n visvanger daardie – dit vis donker, glibberige goeters uit ’n mens se binneste op.’ Hy was ’n uitgesproke skrywer in dit waarin hy onwrikbaar geglo het. Ek het sy energieke entoesiasme waardeer. Die naam van die Klein-Karoo-plaas waar hy gebore is, is Volmoed. Dit sê van hom wat hy dalk self sou verswyg.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Steward van Wyk, akademikus: “Abraham de Vries het eiehandig die Afrikaanse kortverhaal vernuwe. Hy het die kontreikuns in Afrikaans sterk vernuwe en daai problematiek nie net binne ’n klein, lokale opset geplaas nie, maar ook binne die groter strominge in die wêreldliteratuur. Dit wat Breyten Breytenbach vir die digkuns gedoen het en André P Brink en Etienne Leroux vir die roman en Adam Small vir die drama, het De Vries vir die Afrikaanse kortverhaal gedoen met ’n heel nuwe struktuur en nuwe aanbod van die gegewe, die elemente van die kortverhaal. Sy metafiksionele aanslag vergelyk goed met die Suid-Amerikaanse kortverhaal van Jorge Luis Borges en ander skrywers van die tyd.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Izak de Vries, joernalis en ouduitgewer: “Hy was baie betrokke by die Suid-Afrikaanse Skrywersgilde, wat veelrassig was. Hy was kwaad vir die Natte en hul politiek. Hy het vertel hoe hy met skrywers sou praat en hulle kon hoor hoe die veiligheidspolisie inbel, en jy kan hoor hoe hulle pyprook terwyl hulle inluister en dat hulle met die polisie gespot het. Braam was betrokke by die veelrassigheid van Afrikaans. (…)
“Braam is natuurlik ’n meer verwikkelde skrywer as wat ’n mens op die oog af lees, maar hy het nogal ’n manier gehad om die geskiedenis en die spoke en dié soort goed met mekaar te laat gesels.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Annari van der Merwe, uitgewer: “Ek het De Vries die eerste keer as ’n Afrikaans-Nederlandse eerstejaarstudent aan die UPE (vandag die Nelson Mandela-universiteit) meegemaak. Dit was in 1967 en ek het van hom geweet. Die Sestigers was immers groot in die nuus toentertyd. Maar wat my meer beïndruk het, was sy Nederlandse aksent. Ek kon my verluister as hy veral van Simon Carmiggelt se kortverhale voorgelees – voorgedra – het. Ons het baie plesier aan sy klasse gehad, want ons Nederlands-dosent het gehou van lag.
“Ek het hom in die 1980’s in Kaapstad herontmoet aan huis van Elsa Joubert en Klaas Steytler, Braam en Hannie se goeie vriende. Ek was verbonde aan Tafelberg, die Steytlers se uitgewers, en Braam was by Human & Rousseau, en wat ons aanvanklik bymekaargebring het, was die Afrikaanse Skrywersgilde, waarvan die drie aktiewe lede was.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Yves T’Sjoen, Belgiese akademikus en navorser: “De Vries se verhalende prosa is deurgaans in die konteks van die geskiedenis van die (kort)verhaal in Afrikaans, naas die werk van onder andere Hennie Aucamp, Koos Prinsloo en later Fanie (SJ) Naudé. De Vries is ’n monument in die Afrikaanse letterkunde. Sy literêre oeuvre, imposant in omvang en tematies en stilisties besonder ryk, bewys die ontwikkeling in die Afrikaanse prosa: van die vorm-eksperiment in die 1960’s tot die postmodernisme. De Vries se rol as brugbouer tussen Afrikaanse en Nederlandse letterkunde moet onthou word. Ek lees die literêre reus se werk herhaaldelik en sy verhalende werk verdien ’n internasionale gehoor.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Darryl David, organiseerder van boekefeeste: “Ek het Braam die eerste keer in 2009 in Richmond ontmoet. Dit was die eerste fees wat ons daar aangebied het. Ek het in ’n onderhoud met ’n joernalis gesê hoe trots ons was daarop is dat hierdie groot skrywers in Richmond is en na Braam verwys en genoem dat dit so ’n voorreg is om een van my helde te ontmoet nadat ek net die naam Abraham H de Vries geken het. Toe vind ek later uit die joernalis met wie ek gepraat het, is niemand anders as Braam se seun Willem de Vries nie. Ek het gewonder waarom Willem so ’n grimlag gehad het. (…) Sedertdien was Braam nog altyd ’n groot ondersteuner van my werk. Toe ek van sy afsterwe hoor, het die emosie my oorweldig. Toe dink ek terug aan my gesprek met Dana Snyman oor die gedagte om Braam met ’n Abraham de Vries-fees te vereer. Ek het probeer, maar ek ken geen siel in Ladismith nie. Dalk moes ek harder probeer het.” (Netwerk24, 24 Augustus 2024)
- Valda Jansen, skrywer: “So staan ek ’n paar jaar gelede in ’n kort ry by die bank se OTM oorkant die Duitse deli (in die Gardens Centre in Oranjezicht). Later kom nog iemand van voor af aangestap en kom staan agter my. Dit neem my ’n paar sekondes om te besef wie dit is. Sulke tye wonder mens mos: Sal ek, of sal ek nie? Maar Braam is so ’n vriendelike siel, met ’n glimlag wat altyd gereed staan en helder, meelewende oë.
“Ek groet hom en sê my naam. Ons skud hand en hy begin onmiddellik praat oor my boek. Weet jy, sê Braam de Vries vir my, daai boek van jou is onvolprese. ‘Maar sê gou vir my,’ gaan hy voort, ‘hoe gaan dit met jou seuntjie? Die seun in jou boek, dis mos jóú seun, nè?’
“Hy was vol bewondering oor hierdie karakter en ek was verbaas dat hy so onmiddellik en totaal binne in die storie kon delf in die paar minute wat ons twee in die ry by die OTM gestaan het.
“Daar was nog ander ontmoetings, meestal ’n vinnige hallo hoe gaan dit in die verbygang. Elke keer kon mens sien hoe hy ouer voorkom, die oë dowwer en later nie meer veel herkenning nie. Ek is ook jammer dat ek en hy nie ons gesprek verder gevoer het nie. Mens dink mos altyd daar is nog tyd, ons sal dit op ’n ander keer doen. Maar ek is diep dankbaar dat ek daardie eerste keer die moed gehad het om hallo te sê. Ek sal dit altyd koester. Braam de Vries, jý was onvolprese.” (LitNet, 25 Augustus 2024)
- Frederick Botha, skrywer: “Abraham H de Vries is oorlede, die meester van die Afrikaanse kortverhaal wat soveel meer erkenning verdien het. Dat die Hertzogprys vir prosa nooit aan hom toegeken is nie, is ’n skande, en een van die hartseerste oomblikke in die Afrikaanse letterkunde. Ek het die groot voorreg gehad om twee keer in sy geselskap te wees. Die eerste keer was in 2013 by die bekendstelling van Nuwe stories 2, waarin twee van my kortverhale opgeneem is, en die tweede keer in 2014, toe drie van my kortverhale in Nuwe stories 3 opgeneem is, en ek ook as wenner aangewys is. Die hoogtepunt van daardie aand was egter toe hy ná die bekroning my kom vra het om sy bundel te teken. Vir ’n 26-jarige aspirantskrywer is dit ’n gróót oomblik, een waaraan ek altyd terugdink wanneer daardie selftwyfel jou wil laat glo dat jy eerder die hele skryfbesigheid moet laat vaar. Rus in vrede, Abraham H de Vries. En dankie vir al die stories.” (LitNet, 25 Augustus 2024)
- Daniel Hugo, skrywer, digter en vertaler:
Braam, dis maklik om ná jou dood
met ’n slap metafoor vorendag te kom
soos: die lewe is ’n kortverhaal
maar in jou geval was dit glad nie
so kort nie, dit was vol gebeure
en interessante karakters – meer
soos ’n roman van Kazantzakis
wat jy in Afrikaans vertaal het
die lewe is ’n katastrofe, ja
maar soos Zorba het jy dit waardig
en wys onder woorde gebring
daarvoor is ons jou dankbaar
sê ons graag in Grieks: eucharisto (LitNet, 26 Augustus 2024)
In sy In memoriam-artikel op LitNet skryf Willie Burger oor Abraham de Vries: “Maar hy was nie bloot ’n kenner van die kortkunsvorm en samesteller van die kortverhaalboek nie. Hy was self die onbetwiste meester van die kortstorie. Of dit nou ’n humoristiese of tragiese vertelling uit die Klein Karoo is, ’n worsteling met sin maak uit ’n vliegoogblik op ’n versplinterde moderne wêreld of die oorweldigende trauma van bliksoldate wat nie bloei nie, of ’n vertelling van hoe ’n storie ook anders vertel sou kon word, De Vries kon met gemak tussen klein-realistiese streeksvertellings, modernisme en postmodernisme spring. So dikwels het al hierdie maniere van vertel vermeng in een bundel voorgekom, en op so ’n wyse dat dit nie soos eksperimentering gevoel het nie, maar altyd bloot soos dié van ’n meesterverteller wat jou kan boei selfs met die storie van hoe hy sukkel om die storie vertel te kry, of hoe hy nodig het om sy eie storie van vroeër nou anders te vertel.
“Op ’n keer het ek en my vrou met vakansie Roete 62 gevolg en in Ladismith stilgehou vir aanwysings na die gasteplaas waar ons vir die nag bespreek het. Die winkeleienaar het boeke deur Braam op ’n rakkie gehad en toe doen ek sommer ook navraag oor die stasie waar Makkadas sou stilhou en die ligging van Winkelplaas. Enkele dae later het ek ’n e-pos van Braam gekry. Hy vra verskoning dat hy nie in Ladismith was nie. En tussen hakies: “Gedog julle kan daar wees sonder dat ek daarvan hoor?” En dan volg drie paragrawe met stories – oor die plaas waar ons oornag het waarop Jan van Tonder se oom blykbaar kalbasse gekweek het waarvan ‘in Amerika belaglike duur Sherlock Holmes-pype vervaardig is’. En ’n storie oor hoe sy storie oor die twee broers wat vir 27 jaar oor ’n waterkwessie nie met mekaar gepraat het nie, op ’n plaas ’n klipgooi daarvandaan afgespeel het; ’n storie oor hoe die Gamkaskloof so nou is dat mens snags skaars die sterre kan sien.
“Dis of Braam homself nie kon keer nie. Elke ervaring het in sy kop reeds ’n storie begin word, ’n manier om ’n greep op die ervaring of waarneming te kry. Soos hy in sy bundel Tot verhaal kom geskryf het: ‘Omdat ek in stories dink, soek iets in my steeds na samehang.’
“Storievertel is ’n manier om samehang te soek. Stories beloof iets van geborgenheid in die sluiting wat dit bied. Maar as bedrewe storieverteller was Braam daarvan bewus dat die sluiting van die storie illusie is, ’n droom. Hy skryf immers in dieselfde bundel dat daar nie heimwee na die verlede kan wees nie, want die mooi verlede vir een is ten koste van die uitsluiting van ’n ander. (…)
“In sy aanvaardingstoespraak van die eredoktorsgraad by UP in 2022 haal hy die kortste kortverhaal met ’n begin, middel en einde aan: Hemingway se verhaal van ses woorde wat lui: ‘For sale. Baby shoes. Never worn.’ (En hy wys met trots daarop dat dit, vertaal in Afrikaans, selfs minder woorde het.) Maar hiermee wou hy ook aandui hoedat die eintlike betekenis van die verhaal elders, buite die woorde lê. Die woorde het hy self altyd fyn afgewerk, goed bereken, maar besef dat die impak verder strek, en dat daar altyd ook iets van ’n misterie is, iets wat anderkant die grypbare lê, iets waarna ons almal ’n heimwee het.
“Sy stories het wye draaie in ander se werk gegooi – en hoe beskerm jy jou kopiereg as jou stories so wyd uitgegooi word, so aanhoudend uitborrel? Die uur van die idiote, die nag van die clown, spookstories en winkelstoepstories, hervertelde Kersverhale met so baie ander moontlikhede, altyd verskuil agter ’n bedrieglike eenvoud. (…)
“Kortverhaalskryf was nie vir hom ’n kuns nie. In die ontvangsrede vir die eredoktorsgraad by UP het hy gesê dat die kortverhaal nie ’n talent is nie, maar ’n lewenswyse. Dit was sy lewenswyse. ’n Lewenswyse waarin storiemaak telkens iets kon gryp van ’n oomblik, ’n uur, ’n nag, of van ’n plek, of van ’n geluid, of van ’n mens. Maar altyd met respek vir die ongrypbare, die onbegrypbare wat buite die bestek van die storie val, die beskroomdheid om te weet dat die storie ons verhaal is waarin ons betekenis versin deur tot verhaal te probeer kom, ons storie agtermekaar te probeer kry teen die oorweldigende onverstaanbare groot wêreld.
“In een van daardie wonderlike e-posse vol stories eindig hy in sy laaste paragraaf met die woorde: ‘Ek het myself nou aan die verlang geskryf.’ Gelukkig staan daar rye bundels vol stories op ons rakke vir die onthou.” (LitNet, 26 Augustus 2024)
Publikasies:
Publikasie |
Hoog teen die heuningkrans |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Reina Prinsen Geerligsprys 1962 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Verlore erwe |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Reina Prinsen Geerligsprys 1962 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Proegoed |
Publikasiedatum |
1959 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: HAUM |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Vetkers en neonlig |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: HAUM |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Eugène Maraisprys 1967 (vir al sy prosawerke) |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Dubbeldoor: Kaapstad – Amsterdam – Kaapstad |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624013731 |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Eugène Maraisprys 1967 (vir al sy prosawerke) |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die rustelose sjalom |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Reisverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Vliegoog |
Publikasiedatum |
1965 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Eugène Maraisprys 1967 (vir al sy prosawerke) |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Kruispad |
Publikasiedatum |
1966 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Novelle |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Eugène Maraisprys 1967 (vir al sy prosawerke) |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Dorp in die Klein Karoo |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
062800324 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Eugène Maraisprys 1967 (vir al sy prosawerke) |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Afspraak met eergister: Griekse reisjoernaal Oktober 1965 tot April 1966 |
Publikasiedatum |
1966 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Reisverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Joernaal uit ’n gragtehuis |
Publikasiedatum |
1968 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk |
Literêre vorm |
Reisverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Twee maal om die son |
Publikasiedatum |
1969 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Volmoed se gasie |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Briekwa |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0628004427 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Perskorprys 1973 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Bliksoldate bloei nie |
Publikasiedatum |
1975 |
ISBN |
0798106409 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Legkaart |
Publikasiedatum |
1976 (Grootdrukuitgawe) |
ISBN |
0909231222 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Makro |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Klein Karoo: ’n legkaart |
Publikasiedatum |
1977 |
ISBN |
062401004X (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kontrei + fotoboek |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die uur van die idiote |
Publikasiedatum |
1980 |
ISBN |
0798110473 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Kortom: ’n gids by die Afrikaanse kortverhaalboek |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
0868741701 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Literêre kritiek |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Soms op ’n reis. Saamgestel deur André P Brink |
Publikasiedatum |
1987 |
ISBN |
0798120754 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Nag van die clown |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
0798126132 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
’n Plaaswinkel naby oral |
Publikasiedatum |
1994 |
ISBN |
079813309 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Skaduwee tussen skaduwees |
Publikasiedatum |
1997 |
ISBN |
079813688X (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Kort vertel: aspekte van die Afrikaanse kortverhaal |
Publikasiedatum |
1998 |
ISBN |
9074112153 (sb) |
Uitgewer |
Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut |
Literêre vorm |
Literêre kritiek |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Op die wye oop Karoo: plaaswinkelstories uit die Klein Karoo |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
0798142251 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Tot verhaal kom |
Publikasiedatum |
2003 |
ISBN |
0798143533 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk 2004 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Verhale uit ’n koel voorhuis: die Klein Karoo eersteling |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
1869191269 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Rooikoos Willemse is soek |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0798146982 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Onder hoë sterre |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
9781869191276 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Verbeel jou dis somer |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780798149211 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die behoue huis: ’n keur uit die kortverhale van Abraham H de Vries |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780798152792 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Maar wie snoei die rose in die nag? |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780798157742 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Sala-Nadine Gordimer-kortverhaalprys 2015 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasies onder skuilnaam
- Van der Vyver, Thys: Die swart sirkel: ’n speurverhaal. Kaapstad: Tafelberg, 1961
- Van der Vyver, Thys: Mense agter glas. Johannesburg: Erica-uitgewers, 1965
- Van der Vyver, Thys: Alibi van ’n verdagte. Kaapstad: Tafelberg, 1972
Abraham H de Vries as samesteller
- Alles goed en wel – lagstories na willekeur. Pretoria: Lapa, 2007 [ISBN 9780799339925 (sb)]
- Doubell, Annelize: ’n Lekker saamlag-boek. Volksblad, 1 Januarie 2008
- Du Toit, PA: Die lag het baie gesigte: PA du Toit lees Alles goed en wel – lagstories na willekeur. LitNet, 12 Desember 2007
- Fransman, Willem jr: Alles is goed en wel hier, en nog lekker ook! Die Burger, 25 Februarie 2008
- Die Afrikaanse kortverhaalboek. Kaapstad: Human & Rousseau, 1978
- John, Philip: Sterk plaaslike stem in nuut aangepaste bundel (6de uitgawe). Die Burger, 30 Mei 2005
- Hambidge, Joan: De Vries ’n betroubare kanoniseerder (6de uitgawe). Rapport, 13 Februarie 2005
- Van Zyl, Anna: ’n Belangrike bundel Afrikaanse kortkuns (3de uitgawe). Die Burger, 15 Mei 1986
- Belcher, RK: Van heidebos en Skepper: ’n keur uit die poësie. Pretoria: Protea Boekhuis, 2008
- Visagie, Andries: Eindelose plesier wag in Belcher se nuutste verse. Beeld, 4 November 2008
- Brink, André P: Die fees van die malles: ’n keur uit die humor van André P Brink. Kaapstad: Saayman & Weber, 1981
- Eeu: honderd jaar van Afrikaanse kortverhale. Kaapstad: Human & Rousseau, 1996
- Literêre dagboek 1987. Johannesburg: Perskor, 1986
- Kort keur. Kaapstad: Human & Rousseau, 1977
- Kortom 2: ’n inleiding tot die Afrikaanse kortverhaalboek. Kaapstad: Human & Rousseau, 1989
- Steekbaard: die beste Afrikaanse hondestories: ’n keur. Pretoria: Makro, 1995
- Van Zyl, Dorothea: Hondestories van alle geure en kleure. Die Burger, 12 Oktober 1989
- Uit die kontreie vandaan. Kaapstad: Human & Rousseau, 2000
- Crafford, Albert: Skatkis verrassings uit 55 grotes se kontreie. Rapport, 6 Augustus 2000
- Olivier, Fanie: Kuskoesterplekke, bergwêreld of droë vlaktes. Beeld, 8 Mei 2000
- Venter, LS: Verhale ryk geskakeerd. Volksblad, 29 Mei 2000
- Viljoen, Louise: Sambreelboek. OuLitNet
Abraham H de Vries as redakteur
- Jonker, Ingrid: Versamelde werke. Johannesburg: Perskor; Kaapstad: Human & Rousseau, 1975, 1983, 1994
- Op die wyse van die taal: ’n huldigingsbundel ter geleentheid van prof Merwe Scholtz se 65ste verjaardag, 8 Julie 1989. Vlaeberg: Vlaeberg Uitgewers, 1989
Abraham H de Vries as vertaler
- Hedayat, Sadegh: Die blinde uil. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1965
- Gijsen, Marnix: Jojakim van Babilon. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1967
- Kazantzakis, Nikos: Zorba die Griek. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1968
- Maugham, W Somerset: Die vonnis. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1968
- Van Dis, Adriaan: Palmwyn. Kaapstad: Human & Rousseau, 2001
- Cilliers, Cecile: Ewige stryd van setlaar tussen eie, nuwe kultuur. Rapport, 29 Julie 2001
- Venter, Louis: Geskenk van die natuur, maar moralisasie te direk. Volksblad, 24 September 2001
- Visagie, Andries: “Palmwyn”: Van Dis oor Afrika. Beeld, 13 Augustus 2001
- Willemse, Hein: Eenvoud van visie op Afrika. OuLitNet
Publikasies oor Abraham H de Vries
- De Vries, Abraham H (met ’n kritiese waardering deur Merwe Scholtz): Sestigers in woord en beeld. Johannesburg: Perskor, 1988
- Van Vuuren, Helize: Plesierige boek oor De Vries. Die Burger, 12 Januarie 1989
- Van Heerden, Etienne: Postmodernisme en prosa: vertelstrategieë in vyf verhale van Abraham de Vries. Kaapstad: Human & Rousseau, 1997
- Crous, Marius: Verstaan die postmodernisme aan die hand van De Vries. Die Burger, 5 November 1997
- Venter, LS: Postmodernisme-boek moet jy lees en herlees. Beeld, 26 Mei 1997
- Van Zyl, Wium (samesteller): Elke slot ’n weerbegin. Kaapstad: Universiteit van Wes-Kaapland, 2007
- Du Plooy, Heilna: Dié langasem van sestigs nog lank nie klaar repliek gelewer nie. Beeld, 9 Julie 2007
- Human, Thys: Bundel bestendig gesprek oor De Vries se werk. Die Burger, 10 Desember 2007
- Jordaan, Annette: Abraham H de Vries 70: Elke slot ’n weerbegin. Tydskrif vir Letterkunde, 2007
- Van der Merwe, Chris: Elke slot ’n weerbegin – ’n huldigingsbundel aan Abraham de Vries (LitNet)
’n Keur van artikels oor Abraham H de Vries
- Abraham de Vries is 75
- Abraham de Vries sterf. Die Waarheid Media, 25 Augustus 2024
- Abraham H de Vries
- Abraham H de Vries
- Abraham H de Vries gesels by die Open Book-fees in Kaapstad
- Abraham H de Vries is oorlede. LitNet se Facebook-blad, 23 Augustus 2024
- Afrikaanse skrywer Abraham H de Vries (87) sterf. Netwerk24, 23 Augustus 2024
- Botha, Amanda: Al die karakters in sy stories in een: Amanda Botha oor Abraham de Vries
- Botha, Frederick: Elders gesien: Dankie vir al die stories. LitNet, 24 Augustus 2024
- Burger, Willie:
- Al die stories waarmee ons tot verhaal kom. Beeld, 17 Julie 2004
- Die storieman wat ons aan die verlang kon skryf (In memoriam). LitNet, 26 Augustus 2024
- Coetzee, Nia: De Vries na Nederland vir lesings. Die Burger, 28 Maart 1998
- Crous, Marius: Abraham H de Vries: Skryf is ’n tweerigting-besigheid (LitNet)
- De Vries, Abraham en Herman Wasserman: Abraham H de Vries en Herman Wasserman in gesprek oor kortverhale, verwondering en skrywerskap (LitNet)
- De Vries, Aucamp oor nuwe boeke. Beeld, 4 November 2009
- De Vries, Izak en Coenraad Walters: Abraham de Vries: Die rooi vaas [Douspoor-handleiding] (LitNet)
- De Vries, Willem:
- De Vries slaan R1 000 los met “staatskaping”. Netwerk24, 16 Desember 2016
- Du Plessis, Janice: Bekroonde skrywer Abraham de Vries sterf. Maroela Media, 24 Augustus 2024
- Erasmus, Elfra: Onreg teenoor De Vries reggestel. Beeld, 16 September 2004
- Gaum, FM: De Vries, Abraham Hermanus. E.ecke
- Greeff, Rachelle: Die mateloos energieke Abraham. Rapport, 2 Februarie 2007
- Hugo, Daniel: Abraham H de Vries (1937–2024) (In memoriam). LitNet, 26 Augustus 2024
- Jacobs, Jaco:
- “Iets donkers los in SA”. Die Burger, 19 Augustus 2003
- SA se 2 gesigte. Beeld, 16 Augustus 2002
- Janse van Rensburg, Marzanne: Tributes pour in for beloved Afrikaans writer Abraham H de Vries. The South African, 24 Augustus 2024
- Jansen, Valda: Elders gesien: Braam de Vries, jy was onvolprese. LitNet, 25 Augustus 2024
- Keyser, Gawie: “Ou koloniale patroon” toegepas – De Vries. Die Burger, 29 April 1998
- Klopper, Tercia: Honorary doctorate awarded to Abraham H de Vries
- La Vita, Murray: Braam de Vries: “My boeke sal vergete raak”. Netwerk24, 3 Februarie 2017
- LitNet/ABSA Chain: Kole Omotoso in conversation with Abraham de Vries (LitNet)
- LitNet/ABSA Ketting: André P Brink gesels met Abraham H de Vries (LitNet)
- Norval, Roline: Tyd vir wakkerskrik oor Afrikaans – De Vries. Die Burger, 7 Augustus 1993
- Opperman, AJ: De Vries is “monument in Afrikaanse letterkunde”. Netwerk24, 24 Augustus 2024
- Pople, Laetitia:
- Abraham H de Vries: “Iemand wat in stories gedink het”. Netwerk24, 24 Augustus 2024
- De Vries en Kamfer vereer. Die Burger, 25 Januarie 2012
- Prins, Jo:
- Abraham H de Vries: “Kortverhaal skep liefhebbers”. Netwerk24, 10 Maart 2017
- Stand van kortverhale bekyk. Die Burger, 30 Januarie 2015
- RIV Abraham H de Vries. Vriende van NALN se Facebook-blad, 23 Augustus 2024
- Sanlam SkryfNet IX: Inwonende skrywer (LitNet)
- Smith, Francois: Braam kom tot verhaal. Beeld, 29 Junie 2002
- Van der Merwe, Kirby: Rakker vol stories in Braam se “winkel”. Rapport, 9 Junie 2002
- Van der Merwe, P: Twee Bybelse verhale van Abraham de Vries
- Van der Merwe, Willem Petrus: Aspekte van die kortkuns van Abraham H de Vries
- Van Zyl, Wium:
- “Op 75 goeie jare, Braam”. Volksblad, 10 Februarie 2012
- Suid-Afrikaanse skrywer Abraham H de Vries ontvang eredoktorsgraad in die lettere. Voertaal, 19 Mei 2021
- Sy kortverhale bly flonker. Die Burger, 9 Februarie 2012
- Weideman, George: Die clowneske in die kortverhale van Abraham H de Vries
- Weymar, Hettie: ATKV vereer De Vries. Die Burger, 30 Oktober 2013
’n Keur van artikels deur Abraham H de Vries beskikbaar op die internet
- ’n Ander land as wat ek ken
- ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 21 Augustus 2000
- ’n Poolse les oor Stellenbosch – en oor trots. Beeld, 11 November 2005
- Aan Erik. Ter herinnering (Erik Laubscher)
- ABSA Chain: Abraham de Vries in conversation with Mike Nicol
- ABSA Ketting: Abraham H de Vries gesels met Hennie Aucamp
- Adam Small. Hoe gemaak met swye?
- Afrikaanse verhale open nuwe wêreld vir Nederlanders (Abraham H de Vries gesels met Hans Ester). Die Burger, 6 Junie 2002
- Behoed die taal van nuwe magspel. Die Burger, 28 Julie 1993
- Corona in die nuwe Kannaland
- Die Akademie en die sewe slapende skones. Die Burger, 18 Mei 1991
- Die bakhand bedelaars [kortverhaal]. Netwerk24, 20 April 2016
- Die behoue huis [kortverhaal]. LitNet
- Die kwessie van Hennie se kierie. Rapport, 9 Januarie 2015
- Die man met die laphoed: Klaas Steytler. Die Burger, 22 November 2000
- Dié opsie is ook vir swart studente minderwaardig. Rapport, 23 April 2006
- Die storie van Jan se droom. Beeld, 18 Februarie 2006
- Die storie van Piet se oupa
- Die vergeetagtige Akademie. Die Burger, 4 Mei 1991
- Een woord, ses letters … Netwerk24, 17 April 2016
- Feitefoute duik in fiksie van selfs groot skrywers op. Die Burger, 11 Desember 2006
- Gedwonge verhore bied nie beste ruimtes vir lesse in vryheid nie. Die Burger, 8 Maart 2000
- Geskenke vir die geringstes [kortverhaal]. Netwerk24, 24 Desember 2018
- Gevoel van stamverwantskap met Nederland is deesdae vreemd aan Afrikaanssprekendes. Die Burger, 23 Maart 1999
- In memoriam: Rus in vrede, Chris
- Klein Karoo ruimte van volledige lewe [brief]. Die Burger, 12 Mei 2012
- Malema se bedoeling met lied onbelangrik. Rapport, 6 Junie 2011
- Marius Crous: Hoort mens enigsins êrens? (LitNet)
- Mooiloop/LitNet-skrywersdorp: Die wêreld agter nege passe
- Nederlanders leer oor Afrikaans. Volksblad, 17 November 2005
- Net soos in die verlede sal pogings misluk om die boodskapper te muilband. Die Burger, 25 Februarie 2000
- Nie net Afrikaans wat sterwend is. Die Burger, 30 Maart 2010
- NP Van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur (FAK)
- Nuwe eiendomsbelasting kan sake vir huiseienaars ondraaglik laat word. Die Burger, 20 Junie 2000
- Oe, omdat alles verander, het ook die Kersfeeste … Die Burger, 24 Desember 1998
- Om stories te vertel. LitNet, 11 Mei 2017
- Omstandighede sit angel in Mokaba se dreunsang. Beeld, 24 Junie 2003
- Opgewondenheid oor Afrikaans strek tot Praag, Boedapest. Die Burger, 23 Januarie 1992
- Orwell aan die stuur
- Poolse besinning oor Stellenbosch. Die Burger, 14 November 2005
- Skoon water het ons, maar nie kos of klere nie. Die Burger, 28 Julie 2010
- “Suggestie, fantasie, poësie” (Bedankingswoord by die ontvangs van die RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk). Beeld, 27 Oktober 2004
- Taalbeheersing as vak het deesdae noodsaaklik geword. Die Burger, 31 Mei 1994
- Taalbelange, vrye assosiasie, eiendomsreg “belangrik in samelewing”. Die Burger, 12 Februarie 2002
- “Taalstryd”: 2 perspektiewe. Die Burger, 16 Maart 2006
- Van mense en muise [Skrywersberaad] (LitNet)
- Verdwyn die e-resensie in die digitale toekoms?
- Voorsitter reageer op sensuur-moles. Die Burger, 30 Julie 1986
- Wanneer gee kom uit gebrek en nie uit Mammon se oorvloed. Beeld, 24 Desember 2012
- Wat hét gebeur? Die Burger, 24 September 2002
- Weideman het kantelende reis met eer afgelê. Volksblad, 30 Augustus 2008
- “Woorde weet en woorde verklap”. Netwerk24, 1 November 2017
Abraham H de Vries se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2015-10-08 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bronne:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.