Om stories te vertel

  • 0

Abraham de Vries aan die werk op Winkelplaas naby Ladismith in die Klein Karoo.

Dit is nie ’n kursus hierdie in die skryf van kortverhale nie. Toe ek begin skryf het, so om en by my sestiende jaar, was daar nog nie iets soos skryfkursusse nie. Gelukkig het my pa ’n plaaswinkel gehad en die klante en die bure het ewe veel gekuier en gesels en vertel, dat die seun van die huis kon groot word met stories en hoe om stories “op te maak” met as motto ’n sêding van sy pa wat hy nou nog onthou: “As jy dan moet lieg, lieg so dat ’n mens jou kan glo, anders raak jy vervelig." Wat het jy nou weer bygelas? En wat het régtig gebeur? Dié vrae het ek nooit by die winkelvertellers en hul bure van die omliggende plase gehoor nie. Niemand het omgegee nie, almal het geweet. Hulle het nie hulleself as storievertellers beskou nie. Ook vir Isak Bruwer en Stanley de Wit later was stories ’n manier van gesels.

Miskien daarom dat ek dit nou nog vreemd vind as iemand vir my vra wat ek bygelas het. Stories gebruik wat stories nodig het uit die oneindig grote lewe.

Laat my dan probeer verduidelik.

Die eerste tien of meer verhale wat ek Huisgenoot toe gestuur het, het teruggekom met ’n kort notatjie by oor wat verkeerd was, hoekom hulle die verhaal nie wou plaas nie. Ek het elke keer gewéét hulle het gelyk. En dit verbaas my by terugskoue nie – die name onder aan die briewe was Dirk Kamfer en na hom Klaas Steytler.

Op Winkelplaas was ons vir die pos afhanklik van die possakke wat met Makkadas gekom het, die stroomtreintjie tussen Touwsrivier en Ladismith wat die heel eerste dag waarop dit geloop het al omgeval en die verwelkomingskomitee op die Ladismithse stasie met leë hande laat teruggaan het huis toe. Ou Rosie, die drywer vir vele jare nog daarna, het nie seergekry nie, die stoker en die “guard” ook nie; die trein het skynbaar lus gehad om skuins te gaan lê op die laaste draai toe die Kleinswartberg en Towerkop al in sig was. Makkadas was nie sommer net ’n ryding nie.

Die interessantste en opwindendste vrag wat elke jaar met die trein gekom het, was die sirkus, die kameelperde met die lang nekke en die leeus met die gegrom en die olifante wat gelyk het asof hulle dwarsdeur die trokke se bodems kon sak. En die narre wat op elke stasie – die mees godverlate plekke in die hele Klein Karoo – afgeklim en almal wat wou kom kyk, vermaak het met toertjies en lawwighede. Meestal was dit net die stasiemeester en sy gesin, maar soms ook mense wat hulle gehelp het om die slagvee wat Ladismith of Touwsrivier toe moes gaan in die kraaltjie te hou of om die water uit die groot tenktrok te pomp na die toring langs die woonhuis toe.

Waar was dit nou weer – Hondewater, Allemorgens, Muiskraal, Vensterkrans? – waar die stasiemeester en sy vrou met die inkennige seuntjie was wat nie wou leer praat nie en wat die moeë nar aan die praat en aan die lag gekry het met tekeninge teen ’n muur van die waenhuis. Toe die sirkustrein daardie jaar al weg was om die verste draai het die hulle eers agtergekom die nar het agtergebly. Die trein het drie weke lank heen en weer verbygekom, maar hulle het hom weggesteek omdat hulle nie wou hê hy moes weer weggaan nie. Dis verlate op so ’n stasie, op al die stasies langs daardie spoor.

Dis dié nar wat een nag voor die trein die volgende dag weer kon verbykom, met die stasiemeester se donkiekar gery het tot by die grootpad, sewe kilometer daarvandaan; dis waar hulle die karretjie en die donkies gekry het, aan ’n doringboom vasgemaak. Niemand het ooit weer iets van hom gehoor of hom gesien nie. Dat een van sy skoene nog op die karretjie bly lê het, was sommer ’n storie.

Dit was byna asof hy nooit bestaan het nie, asof daar nêrens enigiets van hom agtergebly het nie. Selfs die stasiemeester en sy vrou het later nie meer van hom gepraat as hulle met hul seun se prestasies, eers op skool en later as ingenieur, by die drywers en die stokers spog nie.

*

Die plekke wat ek hier bo noem, bestaan almal, nou nog, die meeste heeltemal vervalle, want die trein, Makkadas (kort verafrikaansing vir “the muck and dust train”) kon net loop tot die groot Laingsburg-vloed die spoor weggespoel het; dis selfs waar dat die trein op sy eerste rit omgeval ook; ook dat daar elke jaar ’n sirkustrein was.

Die nargedeelte, die verhaal van die seuntjie, is fiktief. In “Nag van die clown” uit die bundel met dieselfde naam, kom dit voor as net ’n stuk van die storie, wat Chris Barnard met my toestemming oorgeneem het in sy draaiboek vir Paljas, verfilm deur Katinka Heyns.

Wie die nar was, selfs wat sy naam was, is vir die storie nie belangrik nie. Die storie kies self wat nodig is, en dié "keuses" – miskien moet ek sê invalle – het niks met die waarheid te make nie. ’n Mens sou met ’n naam iets kon suggereer van sy herkoms of voorkoms, maar dié storie het dit nie gekies nie. (Ek praat met opset van storie en verhaal asof dit sinonieme is. Vir baie skrywers, soos vir my, is dit.)

Van waar die Klein Karoo-verhale en die clown-stories? Ek het meer as net Klein Karoo-kontreiverhale geskryf en ek is lief vir narre. Narre en ander "afwykendes” wág op stories om iets in te beteken.

’n Groot gedeelte van “Staan poppie staan” (in Verbeel jou dis somer), oor ’n dwergie-nar se huwelik met ’n plattelandse meisie – berus miskien op die werklikheid met ’n storiekinkel. Wat gebeur het, is die volgende: Ek was in Leipzig in Duitsland vir ’n kongres en daarvandaan is ons een naweek na die herboude Dresden toe, die kunsstad aan die Elbe, wat van weinig indien enige strategiese waarde was in die Tweede Wêreldoorlog, maar wat op die aand van 13 Februarie 1945 met meer as 3 900 ton bomme verwoes is, deur eers die Engelse en die oggend daarná deur die Amerikaners. Ek was geïnteresseerd in die betrokke lande se pogings tot skulddelging met dollars en ponde en die poging om te help herstel wat so onherstelbaar was soos die geskiedenis self. (Dié Leipzig-gegewens sou ek later gebruik in "Dagboek van ’n afloop" in Tot verhaal kom.)

Toe vertel ek na ons terugkoms in Pretoria vir ’n vriendin ek ken Victor Klemperer se dagboek met die beskrywing van die verwoesting en hoe hy en sy vrou mekaar die volgende oggend in die onnatuurlik stil stad weer gekry het, maar wat ek nou wens, is dat ek iemand kan ontmóét wat die brandbom-bombardement oorleef het. Haar reaksie was ek moes by hulle in die straat af stap – die vrou in die laaste huis was ’n lugwaardin op ’n vliegtuig wat in Dresden geland het die aand voor die Geallieerde aanval. Hoewel hulle geweet het van ’n moontlike aanval, wou sy nie saam met die ander kajuitpersoneel in ’n bunker gaan skuil nie. Wat ook haar redding was, want die brandbomme het alles en almal vernietig.

"Haar seun," voeg sy toe by, "die een wat ook ’n dwerg is, nes sy pa, is ’n mos ’n kollega van my broer Jan.”

Stories werk soos magnete: dit trek aan, vergader self wat dit die nodigste het. (Die nar in my treinstorie was nie ’n dwerg nie!) Maar as die Karoovrou se nar ’n dwergie is, het die gegewe van so ’n skewe huwelik iets bykomends, iets so voor die hand liggends dat ek dit voor baie ander móés skryf: so ’n onpaar paar voor die kansel vertel met min woorde hoe ’n “ongepostuurde” ding vol skewighede die liefde regtig is. En dit is van alle tye.

"Van alle tye" is die kern waarop al wat verhaal is, afstuur. En waarin weinig slaag.

Ek verkies om uit stories te praat as dit dan moet, maar óór stories uit eie ondervinding: daar is niks wat nie verhaal kan word of in ’n verhaal gebruik kan word nie. In my geval: nie in die grootwordjare op Winkelplaas nie, nie die tragedie van my geboorte, Oumoedie se dood, nie; nie die studiejare in Amsterdam, die besoeke en uitnodigings daarna nie. My studie onder Merwe Scholtz en Wietse Helinga was vir ’n student wat aan die US nog nie eens van Wellek en Warren, Wolfgang Kayser, Reichling of die Russiese Formaliste gehóór het nie, iets nuuts, iets heerlik nuut. Bruikbaar ook. Ook ideologiekritiek het goeie leeswerk nodig.

Want Scholtz en Hellinga was albei onvolprese akademici wat nie besef het dat hulle Woensdagaande tydens die soms drie uur lange besprekingsessies op die Keizersgracht 141, ook pragtige en bruikbare storiekarakters was nie! (Van gewone lesings – “chalk and talk”-sessies – was toe al weinig sprake.)

Maar ’n wêreldstad is boonop ’n uitdaging én ’n genade. Ek kon kennis maak met Simon Carmiggelt (skryfnaam Kronkel) en Remco Campert ("Hoe ik mijn verjaardag vierde”) en met die eerste proesels van die werk van ’n toe nog min bekende Frans-Belgiese fantas, Henri Michaux – een van die Franse, het Jan Rabie altyd gesê, wat sý taal praat. Die Duitse Nobelpryswenner Heinrich Böll se Verzamelde verhalen het eers in 1988 verskyn, maar individuele bundels was al by Scheltema en Athenaum te koop.

Ek het kort na my terugkoms in Suid-Afrika ook afgekom op wat ek herken het as die handjievol byna Michauxagtige verhaaltekste van Pulvermacher wat Pieter Grobbelaar ontdek het: "Gebet van Tities Tokaan" en "Huwelik van Spacie Aardbol", eersgenoemde met die Bybelse figure en verwysings en laasgenoemde met die komiese gebeure en die betekenisvolle name. In Nederland was dit die groot Noor Stig Dagerman ( “Het verbrande kind") wat my ’n hele ruk besig gehou het. Waarskynlik was dit later Dagerman se Duitse herfs wat my laat wonder het oor Dresden. Die vernietigde Dresden was nog bewaar in ’n straat wat nie gerestoureer sou word nie, net langs die hoofstraat.

Wie vergeet ’n "poësieaand" in die teater Carre langs die Amstel met die gillende, springende Johnny the Selfkicker en die Prins der Nederlandse letteren, die statige Adriaan Roland Holst – wat sy kierie vir Simon Vinkenoog gee het oor hy verkies om kersregop te staan en van sy gedigte voor te lees – op dieselfde verhoog?

En die deurmekaar week wat begin het twee oggende nadat ek my doktoraal afgelê het? Daar was ’n boodskap van Maarten Rooij van die Perswetenskapfakulteit op die Prinsengracht (ek het perswetenskap geneem as een van my byvakke): of ek hom om tienuur kan kom spreek? Die kort van lank: hy bied my ’n navorsingspos aan in Perswetenskap. Soms is ’n week baie lank. E-posse en sms’e het nog nie bestaan nie. Ek moes self en alleen oor my toekoms besluit. Gelukkig.

Benewens pakke ongelese boeke en die gereelde Woensdagaandse akademiese sy was daar die Amsterdamse flieke waar gereeld die nuwe films van Ingmar Bergman, Luc Godard, Michelangelo Antonioni vertoon is.

Ingmar Bergman, Luc Godard en Michelangelo Antonioni

Hoe filmmakers hul verhale vertel ... Dis die onderwerp wat my met die films van skryf net soveel geleer as die akademiese, miskien meer, en nogal op ’n verwante manier. (Ook Merwe Scholtz het Hellinga en byna elke besoekende Afrikaanse kollega laat deelneem aan Woensdae se besprekings.)

Die tradisionele grense van die kortverhaal het verskuif. Daar is geen genre meer wat die alleenreg het op assosiasies, invoegings, drome, verskillende verhaallyne, verskillende lettertipes, gebruik van die bladspieël, gebruik van ander genres (briewe, verslae, aantekeninge), selfs funksionele verwarring nie. Daar is dinge wat ’n mens weet (dergelike tegnieke kom al in die kortverhale van Katherine Mansfield voor), maar nie besef nie. Dis films wat my die waarde van hierdie grensverskuiwings vir verhale laat besef het.

Na my doktoraal het ek nog byna ’n jaar in Nederland aangebly en toe Israel om vir die reisboek wat Leon Rousseau wou hê ek moes skryf, teruggekom.

Ek keer nou terug na my eie verhale toe. Verdwaal in kundigheid óór is maklik.

Ek het ook verhale geskryf wat as gevolg van die meer verstrengelde inhoud anders móét werk as die Klein Karooagtige kontreiverhale. Verhale soos dié in Skaduwees tussen skaduwees, Tot verhaal kom en Verbeel jou dis somer.

Sonder datum by het ek in my geheueboekie ’n aantekening gemaak: "Kyk weer na Langenhoven se ‘Donker spore’. Titel vir verhaal oor plaasmoorde? Verminkings? D kon net sowel W se vriend gewees het."

Selfs Langenhoven se "Donker spore" (die eerste speurverhaal in Afrikaans, waarvan ek die titel oorgeneem het) is ’n relatief eenvoudige verhaal van ’n ou professor met ’n gesplete persoonlikheid wat in ’n grot agter Prins se Krans woon en dan ’n moord pleeg. (Die grot sit inderdaad in Ladismith se distrik hoog teen ’n oorhangende krans in Prinsrivierpoort naby Zorgvliet.) Hoekom dit juis ’n verhaal van Langenhoven was, is nie verbasend nie: was dit nie hy wat (soos veel later ook Breyten) sy eie naam gegee het aan ’n fiktiewe karakter nie? Verhaaltegnies was Langenhoven sy tyd vooruit.

Politiek is ’n storie op sigself. Om doelbewus te vereenvoudig: politiek werk met mag, maar swyg meestal doelbewus van die menslike leed en die patrone van verskrikking waarvan min magspel vry te spreek is; verhale werk met woorde en wat die Nederlandse digter Lucebert onnavolgbaar genoem het "die ruimte van die volledige lewe". Hierdie ruimte is vir verhale belangrik; die voorskriftelike inknotting daarvan in ekonomiese, religieuse of politieke tendense vind ek versmorend. Tendense moet uit voltooide verhale afgelees word, nie andersom nie.

In my verhaal met Langenhoven se titel is dit die moord op die vriend van ’n koerantredakteur se seun wat die vader laat besef daar is ’n moontlikheid dat hulle hom gaan verloor omdat "hy te jonk en te eerlik is vir soveel weerloosheid" (as wat gebeurtenisse in die land vereis) en omdat baie ander om dieselfde rede oorsee gaan werk. Om perspektief te probeer kry, aanvaar hy die uitnodiging na die herdenking toe van ’n waterramp soos die Laingsburg-ramp van 1981. Die leser kan sy ondervindings en reaksies daarop volg omdat hy daaroor terug huis toe (kantoor toe?) boodskappe stuur; die boodskappe is deel van die verhaal.

Die eerste "iets belangriks oor die ramp wat ek nêrens gelees het nie", berig hy, "is dat die huise by die draai van die rivier (die lokasie) die eerste in die slag van die water was en toe met potte, panne ... dwarsdeur die ‘wit’ buurt gespoel het ..."

Daaruit, redeneer hy, kan hy nou miskien ’n koerantstorie maak wat vroeër miskien heiligskennis sou gewees het, want: "Hulle soek en hulle wys die erfgoed vir mekaar ... Hulle kom telkens by dieselfde woorde: Het julle ook die gewoonte gehad? Nés by ons. Ja, dit ken ek goed. Só eenders."

So ’n nuwe storie (ironies genoeg oor ’n tyd van hoop en drome – die euforie in die land ná 1994) was in 1981 ook nie in werklikheid moontlik op Laingsburg nie: die "bruin dorp" was hoër teen die Karookoppie geleë as die "witte" en het nie met die oorstroming rivier-af gespoel nie.

Laat my nou met die gewone werklikheid dié verduideliking onderbreek. Die "spore" van die byna metafisiese redeloosheid wat die redakteur tydens die besoek aantref, berus op die werklikheid: die bobbejaan wat met die paal in sy anus teen die heining sit, die waansinnige vrou wat gillend oor die straat hardloop, die verskeurde koerantplakkaat, ’n operasangeres wat met haar klein motortjie en ’n papegaai uit Europa, deur Afrika, op ’n Karoodorp aankom – daarvan is net twee plekke nie "soos dit gebeur het" nie: die operasangeres het in Durban in ’n apteek gewerk, nie in die Karoo nie, en dis in die Vrystaat dat die seun toevallig die plaasmoord op sy ouers voorkom het.

Die "groter, byna metafisiese redeloosheid wat losgelaat is, wat teer op bloed, op waansin ... iets wat oral net spore laat", soos die verhaal dit noem, het by die skryf van die storie bestaan in die werklikheid. Ek laat dit aan koerantlesers oor om te besluit of dit verander, verbeter of versleg het sedert 2003 toe die verhaal in Tot verhaal kom gepubliseer is. Wat vir my belangrik was, was dat hierdie onbegryplikheid van totale verval in die Suid-Afrikaanse werklikheid gevolg het op 1994 se tyd van romantiek, van hoop en drome.

’n Gelukkige slot vir hierdie "reis" was voor die hand liggend nie moontlik nie. Verhaalgewys was die vrou met die motortjie en die papegaai se vroeëre loopbaan as operasangeres in die verhaal ’n "los rafel" om vas te knoop.

Die slot van die verhaal is die gedroomde "waansintoneel" soos aangekondig deur sy vrou, Anna, in ’n operaplek wat al die kenmerke het van Epidauros in Griekeland (die ronde dorpsplein wat wegval tot aan die Baai van Ayina). Die waansin begin met die klag: "Ons het die son verwag. Waarom drup daar bloed? Waar ..."

Hierdie woorde in die verhaal kom in die bekende waansintoneel uit Donizetti se Lucia du Lammermoor nie voor nie.

Die enigste spoor van hoop is die weggesteekte geel ligte wat ’n ewigheid duur om aan te gaan. (Geel is die kleur van hoop; die liggies onder aan die halfmaan klip-sitplekke op Epidauros is in werklikheid groen.)

Of die keuses wat die verhaal gebruik, slaag, sou ook ’n uitspraak wees oor die gehalte van die verhaal, en daaroor het hierdie teks geen boodskap nie. Dat dergelike tekste meer van die leser verwag as sê maar gewone Klein Karoo-verhale is bekend en juis.

Ook dat die moderne kortverhaal meer neig in die rigting van poësie as van die novelle.

Die laaste brief wat hy die oggend voor ontbyt tik, en wat ten slotte sý reaksie op hierdie werklikheid bevat, is die slot van die verhaal:

Ek moes seker laasnag met engele of duiwels geworstel het, maar daarvan onthou ek niks. Ek weet ook nie waar die droefheid in my vandaan kom terwyl ek hier sit en skryf nie, ’n gelate droefheid soos met die aanvaarding van iets onontkombaars. Want dit het ek vanoggend toe ek wakker word duidelik en genadeloos gewéét: Hier was ’n vloed, ja, ’n vloed waarin grensdrade, hoekpale, familiefoto’s, deure, stoele, dokumente en portrette weggesleur en deurmekaargemaal en saamgespoel is. Hier was ’n vloed, ja, maar dit was lank gelede toe hier nog hoop was én drome.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top