Verdwyn die e-resensie in die digitale toekoms?

  • 0

Crito maak twee interessante opmerkings oor Wium van Zyl se resensie in Rapport van Hans du Plessis se Inboekeling. Interessant omdat Van Zyl bekend is by kollegas en studente as die soort leser wat, as hy 'n fout maak, jy seker kan wees daarvan dis minstens 'n interessante fout. Crito verskil van Van Zyl oor "wat Du Plessis doen as hy iets verswyg" en hy tel net een in plaas van die “etlike drukfoute” waarmee Van Zyl sy indruk van oorhaastige publikasie verduidelik.  As drie nader is aan "etlike" as een het Van Zyl gelyk.

Want Crito tel nie so lekker nie: Op bl 29: tussen “Drie groot deure” en “op die voorstoep uit”  het ’n woord  (loop?) weggeval; bl 34: groot “soep” ipv “stoep”; bl. 169: “sentjie” in plaas van “seuntjie".

Van Zyl staaf sy mening oor die “lastige intrigefout” met selfs bladsyverwysings: twee figure wat pertinent “omdat hulle wegdraai” iets nie sien nie, het dit ’n paar bladsye verder in hul eie woorde wél gesien. Crito sê Wium snap nie wat Du Plessis doen as hy iets verswyg  nie. Maar Crito swyg self in alle tale oor wát Du Plessis dan doen as hy iets verswyg! As ek Hans du Plessis en sy studente was, het ek Wium van Zyl se resensie verwelkom: Hulle kan leer uit wat Wium pla, hy suggereer dit nie, hy sê dit en bewys dit. (Moontlike opdrag: wat verswyg die skrywer en wat  vertel 'n onbetroubare verteller? Du  Plessis verswyg  niks, Crito, inteendeel. Kyk weer na die titel.)

Crito se mening het egter ’n ander soort rugsteun: die toeval, die wegraak van die mening waarmee hy onvrede het. 'n Kernparagraaf van Van Zyl se resensie word wel aangehaal op Inboekeling se reklameblad en daar is selfs 'n verwysing na waar die hele Rapport-resensie beskikbaar is, maar waar die resensie moes gestaan het, staan nou: "Hierdie webskakel bestaan nie".  In plaas van om interessante, mekaar weersprekende insigte te kon vergelyk, moes ek as geïntereseerde leser agterkom inligting wat van platforms wissel (sê maar van Rapport na netwerk24)  het die onsalige manier om net wég te raak: berigte, foto’s, tekeninge,  alles waaruit koerante bestaan.

Die nuuskierige leser kan nou nog die papier-Rapport met Van Zyl se resensie iewers gaan soek. Maar ek wonder tog: Is in ’n toekoms sonder papierkoerante (wat al voorspel is) die wegval van negatiewe menings en die beskikbaarheid van slegs positiewes ondenkbaar? Lees weer George Orwell. As einste toeval sy lyf sensor hou, wie gaan waghou oor e-sensors wat e-tekste kan laat  verdwyn agter twee woorde: "bestaan nie"?

Abraham (Braam) de Vries.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top