Aan Erik. Ter herinnering.

  • 0
Abraham H de Vries

Oor die vyftiger- en sestigerjare aan Kaap is daar meer onopgeteken en onbekend as wat opgeteken of gebruik is in boeke. Kronologie help weinig in ’n herinneringsbeeld van daardie jare, vreemde jare; die mense en hul doen en late klink self soos fiksie teen die agtergrond van daardie tyd.

Jan Rabie en sy vrou, Marjorie Wallace, het teen die einde van 1955 ingetrek op die boonste verdieping van Cheviot Place 6 in Groenpunt, met ’n onbelemmerde uitsig oor die Atlantiese Oseaan, Robbeneiland en die vuurtoring. Dit het nie lank geduur nie of die plek het, sonder dat baie fantasie nodig was, die aantrekkingskrag van die eksotiese gehad. Die skrywer van 21 het met ’n gewone pen gesit en skryf in gewone skool-skryfboeke, van die soort met die harde swart buiteband. In ’n ewe gewone skoolbankie met ’n opklapblad, ’n inkpot ’n pennevoortjie. Afhangende van die weer buite op die stoep of binne in die woonvertrek. Sy biltonglyf, kortbroek en maer bene kon hy maklik genoeg sitmaak in die skoolbank. Hoeveel woorde hy op ’n dag geskryf het - hy was besig met Ons die Afgod - het hy elke aand getel.

Jan en Jorie in 1966, uit die US Argief-versameling

Agter hom teen die mure was Jorie se skilderye teen die mure, in vertrekke vol seereuke, tabakreuke, koffie en gebrande brood (soggens), Tassies-bottels met krom kerse, wankelrige boekrakke met alikreukels en gedroogde seewiere en foto’s van hulle en hul vriende in Parys. Groot en klein kussings van allerlei kleure en vorme op stoele en die bank.

Die eerste agtermiddag wat ek daar gaan kuier het, het Jan die skoolboek waarin hy aan die skryf was, vir my gegee en gulhartig gesê: “Lees maar. Ek gaan maak vir ons koffie.”

En ek het gelees:

Die Lied en die Land.

... Maar hoe sal jy waak teen die nuwe vrees?
Ons sal beitel dat jou ossewawiele oplaas kan rus in steen. Ons sal die liefde weer vind in ’n vandag sonder laers.

Hoe sing jy jou lied tussen vyf, ses andersoortige stemme?
Ons sal ’n klein instrument in ’n groot orkes moet wees.

Die sin assosieer ek met Jan en Cheviot Place soos Erik se groot skilderye van die Rûens en Ingrid se “Die winter is ’n krom ou vrou// wat op die sypad ween.”

Erik Laubscher

Op grondvlak van Cheviot Place het dié vriendelike, verdraagsame, robuuste en altyd wellewende skilder gewoon met sy bos pikswart hare en sy pragtige Franssprekende skildervrou, Claude Boucharain; dit was Erik Laubscher.

In my geheue was daar in hulle huis meer orde as by die Rabies. Miskien is my onthou beïnvloed deur die groot simmetriese vlakke van Erik se skilderye in die gang, afgewissel met iets speels in Claude se kleiner doeke op die esel in haar werkplek. Erik se skilderye skep ruimte, is self ruimte wat deur die aarde se hellings en dale nageboots word. Merwe Scholtz sou later Erik se impressionistiese landskappe kernagtig só “opsom”: “’n Mens kry die merkwaardige indruk dat die nogal barre landskap inskiklik vir die skilder kom poseer het. Dit is ’n teken van die meesterskap van ’n skilder wat byna die ganse register van die abstrakte kuns oor dekades lank keurend beoefen het.”

Maar terug in die hede van destyds: Erik was die enigste in Huise Cheviot wat om den brode ook “gewone werk” gedoen het. Hy was in die verfhandel, ’n baan wat hom aangebied is deur een van sy na-uurse kunsstudente, Ivor Garb. Dit was voor die stigting van Ruth Prowse, die kunsskool in ’n pragtige ou Kaapse huis wat eens aan ’n ander Laubscher behoort het, in 1777 al, ene Pieter Laubscher.

Dis nie heeltemal waar dat net Erik “gewone werk” gedoen het nie. Jan was ’n hele paar jaar omroeper by die SAUK, skrywer van gereelde posseëlrubrieke vir Die Burger en resensent van Afrikaanse boeke vir ’n Engelse koerant.

Maar die wêreld óm Cheviot Place 6 was nie dieselfde as ín Cheviot Place nie. Toe 21 verskyn het, was apartheid al agt jaar oud en in dieselfde jaar sou bruin Suid-Afrikaners verwyder word van die gemeenskaplike kieserslys. Die apartheidsbeleid het nie net mense van kleur van mekaar geskei nie, dit het ook grense getrek tussen mense wat dieselfde taal praat. In 1959 het Jan na die publikasie van Die Evolusie van Nasionalisme uit vrye wil, en omdat hy polities swaarde gekruis het met Piet Meyer, by die SAUK bedank. Meyer, die destyds hoof van die SAUK, se enigste reaksie was om te verbied dat Jan ook stukwerk by die SAUK mag gedoen het.

Met daardie jare in gedagte het ek weer na Erik se skilderye uit daardie tyd gekyk. Die Euphorbia-skilderye, van stekelrige vetplante wat in ’n paar doeke omvorm tot stokvegters; daarna die triestige Bolandse winter, die Sterwende wortel en die Tormented trees. Ek het gewonder: sy bydraes tot die polemieke, die ideevorming en die kunsopvoeding van sy tyd is bekend en word aangeprys. Maar hoeveel van sy kommer en woede oor sy land sit in die krag van sy kleurgebruik, die verwronge vorme en die keuse van onderwerpe?

Terwyl die berg buite die wind probeer teëhou, ontstaan wat ons later skoon en wys en blywend noem nie uit ook die warboel van menslike tragiek, komiek, maar ook die onbewuste en selfs oppervlakkige beuselagtighede nie?

*

Ingrid Jonker
Jack Cope
Uys Krige
Breyten Breytenbach
André P Brink
Adam Small
Elsa Joubert

Die man op wie Willem van der Berg in die dertigerjare die hooffiguur in Reisigers na Nêrens gebaseer het, het nog daagliks werk toe gegaan met ’n blom in sy knoopsgat. Hy was die alombekende Charlie Weich, EMOL, die musiekresensent van Die Burger. Musiekkonserte toe is hy gereeld vergesel deur jong dames, almal langer as hy. Oral het die blom bietjie groot gelyk, maar dit was omdat hy kort en geset was. Van der Berg het hom in die roman met lengte probeer vermom, maar Charlie het dit geweet. En hy was trots daarop, want “Willem was die enigste mens wat my ooit regtig geken het” was sy woorde toe ons een agtermiddag oor sý “goeie ou dae” gesels het. Byna soos party Sestigers in Cheviot Place het by Weich aan huis amper al die Dertigers en bekende Burger-Kapenaars van daardie tyd geloseer of gekuier. Daar bestaan hopelik nog iewers die 8 mm-filmpie wat hy in sy agtertuin gemaak het van (wat ek onthou) NP Van Wyk Louw, WEG Louw, Hettie Smit (van Sy kom met die Sekelmaan) en Willem van der Berg en Suzanne Swart. In Van Wyk Louw se “huthuis” op Tweede Strand  in Clifton het later Uys Krige en Jack Cope gewoon, twee van die drie vriende (die ander een is Jan) in Ingrid se “Ballade van die drie vriende”. Terwyl die see “skemerlaat” word, drink hulle wyn en praat oor liefde en vriendskap, en verlang elkeen na sy eie jeugwêreld, “want elkeen het sy Gordonsbaai of sy bekende straat”.

Van Dertig terug na later: Breyten Breytenbach het by Gerry de Melker van HAUM in Langstraat gewerk – in dieselfde kantoor, op dieselfde verdieping waar Ingrid Jonker ’n paar jaar tevore Aat Kaptein van Culemborg se sekretaresse was. Die gedig-motto’s boaan al die verhale in Hoog teen die Heuningkrans het sy uitgekies; sy was ook by ons familieviering van my eerste boek by ’n hotel in die Strand. Was Jorie nog in Parys of het sy by haar ouers in Skotland gekuier toe Ingrid gereeld na Jan se welstand omgesien het? Marius Schoon was toonbankklerk by APB (later Perskor) se boekwinkel in Kerkstraat – die winkel was aan die Tuine se kant van die kort stukkie straat tussen Adderley- en St Georgesstraat, nou die Wandelgang. Marius en Breyten se woonplek was bo-op ’n kroeg onder in Langstraat; van hulle vriendinne was die een ’n Francaise wat ek nooit eintlik leer ken het nie en die toe nog jong dame wat later die vrou in die familie in Rome sou word waarvandaan Breyten as Galaska Suid-Afrika toe vertrek het. Breyten en Marius het ’n mak spook gehad, ’n 17de-eeuse ou seeman wat met geskuif van letters op ’n omgekeerde tamatiekissie die toekoms kon voorspel en dit op aanvraag gereeld gedoen het ook. Hy’t gelieg of die toekoms vir homself gehou.

Daantjie Saayman, goeie vriend van Erik, soms babawagter by hul drie kinders, later ook uitgewer, was die bestuurder van Nasionale Pers se boekwinkel in die Groote Kerk-gebou. Was dit voor of ná Kobus van der Colff, die akteur, Marco se pa? Ook Eulalia het daar gewerk, Uys se dogter, vernoem na sy groot liefde wat hy in Spanje agtergelaat het. Boerneef met sy baret en growwe baadjie het minstens twee maal per week ’n draai daar gemaak. Het hulle Nederlandse boeke ook verkoop? ’n Ruk lank wel, vermoed ek.

Oor die uitgewerye van destyds: juis die klein, onafhanklikes, het die boeke uitgegee wat later as seminale werke in die Afrikaanse letterkunde herken is: van Etienne en André se eerste romans tot Adam en Ingrid en George Louw se eerste poësie. Die drukkoste van Die eerste lewe van Colet by Culemborg het Stephen self betaal.

Ook die grotes van later was destyds klein. Behalwe in waagmoed. Koos Human en Leon Rousseau het Human & Rousseau begin in die gang en benedeverdieping van Koos en Nakkie se huis in Alexandralaan 24 in Oranjezicht. Hulle eerste Afrikaanse publikasie was ’n uitgawe van Marais se Dwaalstories, maar die werke van die Sestigers het kort daarna gevolg, beginnende met André se Lobola vir die Lewe.

Guus Balkema, wie se lessenaar al die jare van sy onvolprese uitgewersloopbaan die deurmekaarste in die hele Kaap was, het Jan se 21 gepubliseer, later ook Ons die Afgod.

JD Pretorius was besig om met sy kennis van reklame wat hy by Cola-Cola opgedoen het, Tafelberg-uitgewery op te bou uit ’n klein uitgewerytjie wat aan Blaar Coetzee behoort het en die destydse “pornografiese” tydskrif Fyn Goud uitgegee het. JD se eerste groot boekpassie was Frans Venter se Voortrekker-romans. Die eerste van die romans se eerste eksemplaar het JD van die drukkery af gekry op die dag van die eerste groot protesoptog deur swart mense in Adderleystraat.

Toe ek by Tafelberg se ingang in Waalstraat verbystap, het JD net uitgekom met die eerste van dié Venter-romans in sy hand, my aan die arm beetgekry en saamgesleep boekwinkel toe terwyl hy die roman aanprys. Voor die Ou Hooggeregshofgebou, waar oom Jannie se onderrug-pyn nou verewig is, was ’n leërvoertuig op die sypaadjie geparkeer. Die polisie het die jong Philip Ngkosana opgehelp en hy het daarvandaan die optoggangers deur ’n outydse luidspreker toegespreek. JD het op pad Groote Kerk-gebou toe reguit oor Adderleystraat, dwarsdeur die voorpunt van die protesgangers gestap en deurentyd die roman se lof besing. Eers in die boekwinkel het hy hardop gewonder: “Hoekom sou daar dan soveel mense in die Kaap wees? Is hier vandag iets aan die gang?”

Cheviot Place was die bymekaarkomplek van almal wat ’n kwas of ’n pen kon hanteer: Bill de Klerk, Barend Toerien, Breyten Breytenbach, Elsa Joubert en Klaas Steytler, Adam Small, Marius Schoon, Peter Clarke, Richard Rive, André Brink, Uys Krige, Jack Cope, Stephen en Renée le Roux, Siebert Wiid, Barend Toerien, Nico Verboom, Herman van Nazaret, Athol Fugard – later ook “politieke” figure: Albie Sachs; ook Jobst Grapouw, wat in Breyten se boeke herkenbaar is. Die jong Richard Rive het besluit hy gaan Olive Schreiner se briewe uitgee, maar voorlopig was sy kortverhale oor die Distrik, sy gebrandmerkte, gedoemde geboorteplek, belangriker.

Daar was in Cheviot Place 6 ’n paar slaggate wat jy kon vermy net as jy daarvan geweet het en versigtig nugter was. MP Olivier Burgers, destyds Kaapse streekhoof van die SAUK, hét die aand nie en hy wás nie. Geweet en nugter. Dit was warm in die woonvertrek, hy het die venster gesien in die gangetjie tussen die vertrek en die kombuis, en hoewel hy ’n korterige man was, kon hy, toe hy die gordyne wegtrek, deur die venster die liggies van Groenpunt sien. Die venster was oop. Hy wou sy kaal kop by die venster uitsteek om bietjie vars lug te kry. Hy het nie geweet Jorie het die venster daar teen die blinde muur geskilder nie, Groenpunt se liggies en al. Net die gordyne was regte gordyne. Looptyd daardie nánag toe hou hy nog steeds sy kop vas en kla: “My brains! My poor brains!” En Jan het hom nie aangespreek oor hy in Engels gekla het nie.

André het soms uit Grahamstad kom kuier, en later al hoe meer. In die sestigerjare was hy en Ingrid per brief, gedigte, verhale en yslike groot geluidsbande met mekaar in verbinding. Dis op so ’n geluidsband – wat het daarvan geword? – dat Ingrid gedigte voorlees terwyl sy wyn drink en daar op die agtergrond ’n wekker tik. Vroeër die aand was Bonny Davids by haar en die band het toe ook aangeskakel gestaan. Die vrolikheid was groot. Maar nie blywend nie. Toe Bonny weg en Ingrid weer alleen was, dikteer sy ’n boodskap van verlatenheid aan André. Dan begin sy haar eie gedigte en Uys se vertaling van die Surrealiste voorlees. Die woorde raak onduidelik en later onhoorbaar. Dit klink asof sy die mikrofoon ’n paar keer laat val. Dan in die middel van “Liberté” (Vryheid), ’n gedig van Paul Eluard, bly sy stil. Vir die res van die gedig, op die res van die band, is daar net die getik van die wekker. Tik. Tik. Tik. As jy mooi luister, en lank genoeg, begin die mishoring later mistroostig kla. Kom ons gun die dogtertjie-vrou haar slaap. Kom ons maak asof ons regtig die toekoms oor die maanblink baai kon sien aankom.

Jan was die eerste skrywer wat ingesien het, en by herhaling gewaarsku het, dat Afrikaans nog die rekening sou kry vir die wandade van apartheid. Aparte woongebiede is deur wetgewing verpligtend gemaak – nie eens al Cheviot Place se gaste was daar sonder om die wet te oortree nie. Die sensuurwet was in aantog. Vir die werklik geïnspireerde politieke aktiviste was Cheviot Place te mak, te oop, te vol harde woorde en argumente sonder bruikbare gevolgtrekkings. Dis eintlik ook te verstane dat die huis ’n kopseer was vir die veiligheidspolisie: Christen, Jood en Mohammedaan, swart en bruin en wit was almal ewe welkom. Almal was net gewone mense. Almal moes wyn drink (“Suid-Afrika is ’n wynland!” het Jan een aand in die Paarl tydens ’n wingerdfees uitgeroep en so hard met sy vuis op die onvas toonbank geslaan dat ’n brandewyndrinker aan die ander kant bo van sy krukkie af geval het!). Almal in sý huis moes volgens ’n Edik van Pous Jan Afrikaans praat, en omdat hy so ’n geliefde mens was, het almal dit met graagte gedoen, tot almal besef het dié praktyk is eintlik niks meer nie as goeie maniere teenoor die tale van álle gashere. Almal wat kom kuier, moes iets saambring vir die maag en die keel. (Of gaan haal; vergeet is nie ’n verskoning vir swak maniere nie!)

Jan en Jorie, Erik en Claude het mekaar in Parys al geken; gewone manierlikheid en gangbare gewoontes op die Wesbank van die Seine het mekaar sonder veel moeite en pretensie aangevul.

Wat in daardie jare in Cheviot Place normaal was, was eers ná 1994 in Suid-Afrika op pad om normaal te word. Dis pynlik ironies hoe kort die droom geduur het. Sou die heersers en die besluitnemers van vandag met al die korrupsie en afkortings vir die só bekende in Cheviot Place welkom gewees het? Welkom sou hulle gewees het, daarvan is ek seker. Onder al die oppervlakkige geraas en geblaas was daar sterk etiese kodes op die bekende wysies van “Nee, ’n mens maak mos nié so nie”, of “O, is onmenslikheid is nou skielik vir jou aanvaarbaar?” Of: “Gee die drinkgoed en die eetgoed, dan sit ek dit by almal s’n in die yskas. Nie? Gaan haal.” Die taal van lering, van voorbeeld. Welkom gevoel het? is iets anders.

In die praktyk was die Laubschers die Rabies se steun. Dis nie net in Erik se skilderye waarin emosies tuisgaan in afgemete vlakke en kleure en tinte nie; dis nie net in die lyne wat ook sy liefde vir die Boland, die Rûens en die Karoo met elke skildery duideliker geword het nie.

Erik was altyd en oral ’n medemens én die onbetwisbare hoof van hierdie heerlike makgemaakte sirkus cum tuishuis. Erik was een van die rare soort mense na wie jy net eenmaal hoef te kyk om na hom te kon opsien. Nee, nie oor enigiets wat hy opsetlik gedoen het nie, maar oor die manier waarop hy in die omblaas van strooihuise én in gewone gesprekke oor ingewikkelde sake kon stilbly en luister en ’n praktiese opmerking maak al is die gesprekke ook hoe esoteries of gelade.

Jan Rabie, Ampie Coetzee, André Brink, Daantjie Saayman en Alba Bouwer voor die hof tydens die appèlsaak van Brink se Kennis van die aand, 1974

Een middag laat ... Die Sensuurwet was in die Parlement onder bespreking, almal bo by Jorie en Jan in die woonkamer was aan die kop skud in verskillende stadia van moedeloos toe Erik skielik sy glas in die lug hou en hard sê: “Proost! Kom ons verbeel ons dis die toekoms. Calm down. Ons sal hulle eendag nog met ’n smile onthou!”

“Joker! ‘Skies, Jan. Grapmaker!” het iemand tot verhaal gekom.

Maar Erik het doodernstig geantwoord: “Dink jy nie dit sal hulle hoesêmensnouweer ... skyt bang maak nie! Hoe sal jy voel as jy een van hulle is and you see us smiling at you?”

Ek het skielik die funksie van spotprente beter gegryp!

In die later jare, toe Jan en Jorie al op Onrusrivier gaan woon het, was dit Erik wat die yskas gaan regmaak het, die stoof gaan skoon skrop en die kombuis “vir die arme twee oumense” (ai!) gaan uitverf het. Dit was Erik wat oor die vakansies die banke en tafels en ander meubels van die Ruth Prowse gaan skoon en heel maak het.

It was the best of times. It was the worst of times.

Die ware verhale van Cheviot Place klink soos fiksie uit ’n tyd toe die werklikheid berus het op ’n leuen. ’n Tyd waarin gewone menslikheid die neiging het om vir domheid aangesien te word.

Maar daar was ook die spel van herkenbare en nuwe vorme, die krag van eenvoud en aardsheid, kleure wat in die Boland, die Karoo, in die Rûens, in die Swartland, in wortel, boom en wrak donker noutes in balans hou met groot, lokkende ruimtes.

Dit was Erik. Dit is ook die eintlike storie van Cheviot Place 6. Dit is nou verby. Dit was nie net ’n gebou nie. Dit gaan nooit verby nie.

Requiscat in pacem.

---

Hierdie huldeblyk is ’n verwerking en uitbreiding van my “Die Laubschers van Cheviot Place” wat in Erik Laubscher – a Life in Art byeengebring en met ’n voorwoord deur Hans Frasen in beperkte oplaag van 500 by Smac-galery op Stellenbosch verskyn het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top