Elders gesien: Braam de Vries, jy was onvolprese

  • 1

Valda Jansen skryf op Facebook: 

Abraham H de Vries (1937 – 2024)

Die laaste klompie jare was ek gereeld by Gardens Centre in Oranjezicht terwyl my kind daar naby op skool was. Dis ’n plek waar mens onverwags in bekendes vasloop. Die een bekende wat ek altyd kon groet, was Braam. Ek het geweet wie hy was en hy het geweet wie ek was.

So staan ek ’n paar jaar gelede in ’n kort ry by die bank se OTM oorkant die Duitse deli. Later kom nog iemand van voor af aangestap en kom staan agter my. Dit neem my ’n paar sekondes om te besef wie dit is. Sulke tye wonder mens mos: sal ek, of sal ek nie?

Maar Braam is so ’n vriendelike siel, met ’n glimlag wat altyd gereed staan en helder, meelewende oë.

Ek groet hom en sê my naam. Ons skud hand en hy begin onmiddellik praat oor my boek. Weet jy, sê Braam de Vries vir my, daai boek van jou is onvolprese.

“Maar sê gou vir my,” gaan hy voort, “ hoe gaan dit met jou seuntjie? Die seun in jou boek, dis mos jóú seun, né?”

Hy was vol bewondering oor hierdie karakter en ek was verbaas dat hy so onmiddellik en totaal binne in die storie kon delf in die paar minute wat ons twee in die ry by die OTM gestaan het.

Daar was nog ander ontmoetings, meestal ’n vinnige hallo hoe gaan dit in die verbygang. Elke keer kon mens sien hoe hy ouer voorkom, die oë dowwer en later nie meer veel herkenning nie. Ek is ook jammer dat ek en hy nie ons gesprek verder gevoer het nie. Mens dink mos altyd daar is nog tyd, ons sal dit op ’n ander keer doen.

Maar ek is diep dankbaar dat ek daardie eerste keer die moed gehad het om hallo te sê. Ek sal dit altyd koester.

Braam de Vries, jý was onvolprese.

Sien ook:

Elders gesien: Dankie vir al die stories

Abraham H de Vries (1937–2024)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top