...
Hy was self die onbetwiste meester van die kortstorie.
...
In WO Kühne se Huppelkind-verhale waarna ek as kind op ’n langspeelplaat geluister het, was daar ’n karakter wat bekend was as die Storieman. Huppel en sy maats kon na hom gaan om na stories te luister. As kind het ek net ’n vae verbeeldingsprentjie van die Storieman in my kop gehad. Eers as volwassene het daardie beeld helder en vaste vorm aangeneem, met ’n bokbaardjie. Die “slim ou, stokou, storieman” heet Braam.
My kennis van die Afrikaanse kortverhaalkuns is deur opeenvolgende hersienings van Abraham H de Vries se Die Afrikaanse kortverhaalboek gevorm. Die eerste uitgawe is in my eerste jaar in Afrikaans-Nederlands vir my voorgeskryf. Generasies studente het De Vries so leer ken as die kanoniseerder van die Afrikaanse kortprosa. Baie van ons se idees oor die kortverhaal is deur hierdie bundel gevorm (en dis dalk daarom dat langer kortverhale, soos dié van SJ Naudé, byna onbekend in Afrikaans is). Nooit sou ek kon geglo het dat die beroemde Storieman byna drie dekades later vir my sou vra om te help kies aan verhale vir die sewende uitgawe nie.
Maar hy was nie bloot ’n kenner van die kortkunsvorm en samesteller van die kortverhaalboek nie. Hy was self die onbetwiste meester van die kortstorie. Of dit nou ’n humoristiese of tragiese vertelling uit die Klein Karoo is, ’n worsteling met sin maak uit ’n vliegoogblik op ’n versplinterde moderne wêreld of die oorweldigende trauma van bliksoldate wat nie bloei nie, of ’n vertelling van hoe ’n storie ook anders vertel sou kon word, De Vries kon met gemak tussen klein-realistiese streeksvertellings, modernisme en postmodernisme spring. So dikwels het al hierdie maniere van vertel vermeng in een bundel voorgekom, en op so ’n wyse dat dit nie soos eksperimentering gevoel het nie, maar altyd bloot soos dié van ’n meesterverteller wat jou kan boei selfs met die storie van hoe hy sukkel om die storie vertel te kry, of hoe hy nodig het om sy eie storie van vroeër nou anders te vertel.
Op ’n keer het ek en my vrou met vakansie Roete 62 gevolg en in Ladismith stilgehou vir aanwysings na die gasteplaas waar ons vir die nag bespreek het. Die winkeleienaar het boeke deur Braam op ’n rakkie gehad en toe doen ek sommer ook navraag oor die stasie waar Makkadas sou stilhou en die ligging van Winkelplaas. Enkele dae later het ek ’n e-pos van Braam gekry. Hy vra verskoning dat hy nie in Ladismith was nie. En tussen hakies: “Gedog julle kan daar wees sonder dat ek daarvan hoor?” En dan volg drie paragrawe met stories – oor die plaas waar ons oornag het waarop Jan van Tonder se oom blykbaar kalbasse gekweek het waarvan “in Amerika belaglike duur Sherlock Holmes-pype vervaardig is”. En ’n storie oor hoe sy storie oor die twee broers wat vir 27 jaar oor ’n waterkwessie nie met mekaar gepraat het nie, op ’n plaas ’n klipgooi daarvandaan afgespeel het; ’n storie oor hoe die Gamkaskloof so nou is dat mens snags skaars die sterre kan sien.
Dis of Braam homself nie kon keer nie. Elke ervaring het in sy kop reeds ’n storie begin word, ’n manier om ’n greep op die ervaring of waarneming te kry. Soos hy in sy bundel Tot verhaal kom geskryf het: “Omdat ek in stories dink, soek iets in my steeds na samehang.”
Storievertel is ’n manier om samehang te soek. Stories beloof iets van geborgenheid in die sluiting wat dit bied. Maar as bedrewe storieverteller was Braam daarvan bewus dat die sluiting van die storie illusie is, ’n droom. Hy skryf immers in dieselfde bundel dat daar nie heimwee na die verlede kan wees nie, want die mooi verlede vir een is ten koste van die uitsluiting van ’n ander. Ons verlang eintlik na “die droom van geborgenheid”. Hy was bewus daarvan dat die verhaal bloot ’n droom van geborgenheid bied, dat iets altyd onder die storie uit wegglip.
In sy aanvaardingstoespraak van die eredoktorsgraad by UP in 2022 haal hy die kortste kortverhaal met ’n begin, middel en einde aan: Hemingway se verhaal van ses woorde wat lui: “For sale. Baby shoes. Never worn.” (En hy wys met trots daarop dat dit, vertaal in Afrikaans, selfs minder woorde het.) Maar hiermee wou hy ook aandui hoedat die eintlike betekenis van die verhaal elders, buite die woorde lê. Die woorde het hy self altyd fyn afgewerk, goed bereken, maar besef dat die impak verder strek, en dat daar altyd ook iets van ’n misterie is, iets wat anderkant die grypbare lê, iets waarna ons almal ’n heimwee het.
Sy stories het wye draaie in ander se werk gegooi – en hoe beskerm jy jou kopiereg as jou stories so wyd uitgegooi word, so aanhoudend uitborrel? Die uur van die idiote, die nag van die clown, spookstories en winkelstoepstories, hervertelde Kersverhale met so baie ander moontlikhede, altyd verskuil agter ’n bedrieglike eenvoud.
En ’n sin vir humor.
In een van sy laaste e-posse aan my, waarin hy dele in bokas en dele in onderkas getik het met so ’n opmerking dat die “masjien nou sommer weer in hoofletters tik, jammer”, vertel hy van die padstal op pad na Ladismith waar twee susters allerlei gebak verkoop het en op die muur van die padstal geverf is: “Ons krag lê in ons koeke.”
De Vries was ook een van die laaste Sestigers met ons. Hy was verbonde aan die tydskrif Sestiger en het saam met Leroux en Brink en Breytenbach en Bartho Smith en Adam Small die rigting van die Afrikaanse literatuur help verlê. Hy en Hennie Aucamp was die groot vernuwers van die kortprosa, maar die erkenning van die groot pryse het hom ontwyk, waarskynlik onder meer omdat wanneer ’n kortverhaalbundel en ’n roman saam op ’n kortlys vir ’n prys beland, beoordelaarspanele voorkeur aan die romans gee. Dit het hom by ontvangs van die UJ-prys vir Tot verhaal kom laat opmerk dat die verskil tussen romanskrywers en kortverhaalskrywers is dat al twee vir so 10 of 20 bladsye skryf, maar dan hou die romanskrywers aan met tik.
Kortverhaalskryf was nie vir hom ’n kuns nie. In die ontvangsrede vir die eredoktorsgraad by UP het hy gesê dat die kortverhaal nie talent is nie, maar ’n lewenswyse. Dit was sy lewenswyse. ’n Lewenswyse waarin storiemaak telkens iets kon gryp van ’n oomblik, ’n uur, ’n nag, of van ’n plek, of van ’n geluid, of van mens. Maar altyd met respek vir die ongrypbare, die onbegrypbare wat buite die bestek van die storie val, die beskroomdheid om te weet dat die storie ons verhaal is waarin ons betekenis versin deur tot verhaal te probeer kom, ons storie agtermekaar te probeer kry teen die oorweldigende onverstaanbare groot wêreld.
In een van daardie wonderlike e-posse vol stories eindig hy in sy laaste paragraaf met die woorde: “Ek het myself nou aan die verlang geskryf.”
Gelukkig staan daar rye bundels vol stories op ons rakke vir die onthou.