Oor jare het ek al soveel mense gehoor wat ’n kort definisie probeer aanbied oor Abraham H de Vries, eintlik net Braam, wat nou wrintie 75 jaar oud word. Die beste een is dalk: “Hy is sommer soms al die karakters in sy stories in een”, ’n opmerking wat ek by die 1982-Skrywersgildeberaad te Gordonsbaai oor hom aangeteken het. Opnuut dink ek dat dit ’n goeie beskrywing is. Hy ís dit alles, die Klein Karoo-mens wat dié aarde in sy bloed dra.
Ek wil opnuut oor Braam iets onder die aandag bring, waarvoor skrywers – dalk veral vandag sy jonger brigade – hom nie genoeg kan waardeer nie. Ek kan ’n regstreekse getuie wees, omdat ek in die jare nou met Braam geskakel het. Hy was die voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde en ek die sekretaresse. Braam het, soos elkeen van die voorsitters, iets anders na die Skrywersgilde gebring. Hy het sorge gemaak oor geld – meer geld vir skrywers en ’n behoorlik onderhandelde kontrak wat die tantieme-persentasie vir verkope waarborg. Dit het ook – en dalk veral – ingesluit kompilasiebundels, destyds gewild ook in die skolemark. Dit was nie ’n vanselfsprekende veronderstelling dat die skrywer sy pond vleis altyd gekry het nie. Dit was ook ’n debat wat die uitgewers nie noodwendig verwelkom het nie. Maar dis hoe Braam kán wees: hy kry die ding beet en hy haak en knor en voer die ding deur. Dis wat hy reggekry het met baie harde werk – en dikwels ook ’n paar haakhoue na hom of in die lug – maar dis daar. Vandag nog ’n bate wat tot voordeel van skrywers staan.
Reisigers op John Kannemeyer en Wium van Zyl se literêre toere, waarvan ek dikwels deel was, sal Braam ook altyd verbind met die lekker stories en plekke van die Klein Karoo. Dis ’n plesier wat jy lewenslank met jou saam dra. Om die Klein Karoo of Kannaland deur Braam se kortverhale te leer ken, laat jou met verwondering na “die vaal, verspotte bossies van die Karooveld, die lappe bewerkte aarde, om jou” kyk. Jy soek en vind “hier en daar ’n soliede wit huis” en onthou: “wat die mens hier gedoen het, lyk oral nederig soos dit hoort, want die aarde is kwistig, baldadig en ontembaar.” As buitestander kyk en kyk jy en onthou dat “hoe ’n mens ook kyk en hoe jy ook ken”, hierdie kontrei “sien jy nooit volledig nie”.
Hierdie wêreld – Braam se kontrei – sê hy, is nie ’n plek van veldslae nie, maar van “lang en geliefde” geskiedenisse van watertwiste. Minerale rykdomme was daar nooit, maar hier myn jy nooit te diep “na die pit van die storie” nie. Hier leef jy ook met die ironie waar mense “ver van mekaar leef in tye van vrede, so naby in tye van nood”. ’n Meer gasvrye gemeenskap kan daar nie wees nie, maar vergeet daarvan om eers te probeer om ’n “liefdevolle klomp dwarstrekkers” te paai.
Die teks wat Braam geskryf het, waaruit ek meestal put, Die Klein Karoo, ’n legkaart (Tafelberg, 1977), met stemmingsvolle foto’s deur Paul Alberts, bied so ’n wonderlike insig in hoe Braam met sy wêreld en sy mense omgaan. Dit gaan in die eerste plek om mense en hul stories, oor ’n streek wat eeue geduldig verdra, maar nie getemper word nie. In die boek vertel hy hoe gemeenskappe gevorm is “wat dan eers later ingesaai is tussen die ander”, maar erken dat ’n uitleg oor families nooit betroubaar kan wees nie: “Maar wie familie is van wie en hoe die takke van die bome uitloot, dis ’n ander saak en ingewikkelder as die patrone in ’n kreeboom se blare.” Hy noem van Winkelplaas, waar vier Van der Vyvers gewoon het, maar hulle was nie familie van mekaar nie, nie eens aangetroud nie. Daar woon op Winkelplaas maar vyf gesinne.
As hy so na die uitlegte van familiegeskiedenisse geluister het wat nêrens naastenby by ’n stamboom kan inpas nie, teken hy ’n voorbeeld aan van Klasie, wie se familiegeskiedenis soos ’n wiskundige probleem lees. Hy vat dit maar soos dit kom, maar staan tog verwonderd oor waarvandaan en waarnatoe die storie loop. Die laaste sarsie teken Braam só aan: “Hy sê: ‘Ek kom nou net van die vleilandjie af daar onder langs die rivier. Ek gaan net gou ’n stywigheidjie teen die hol kol gooi en dan gaan ek omlê tot melktyd toe, want die son steek spitserig vandag, en laasnag had ek so ’n mooi droom wat ek wil probeer bysien vanmiddag as die vleisgoedjie vet genoeg is.’”
Nou ja, wat wil ’n mens nou eintlik meer weet? Hy teken ook aan: “Dis ’n stokou sêding in ons kontrei: as jy dan móét lieg, lieg dan darem so dat ’n mens jou kan glo.”
Dankie vir die dinge waarin ons, jou lesers, ons kan verkneukel. Dankie dat jy ons toelaat om jou kontrei en jou mense op ’n manier te leer ken wat hulle as lewendes en legendes in jou geheue laat tuiskom. Laat ons ’n stywigheidjie op jou driekwarteeu drink!
<<< Keer terug na die Abraham de Vries-verjaarsdagblad.