Sy Kannaland is nie al wêreld wat aan Abraham H de Vries behoort nie. Hy ken ook ander klippe en rante as dié in die Klein-Karoo, maar ’n landskap waarsonder hy nie kán nie, is die horisonne van stories. Foto’s: Cara Bakkes.
O, ek ken dié wêreld al jare, dié klipdroë wêreld waarvan al die kontoere, heuwels en dale, berge en klowe duisende jare gelede deur water gevorm is. Maar my nuuskierigheid lei my telkens in ’n landskap in vol geheime, met mense vol raaisels.
Kom ons maak die landkaart oop. In die binneland van die Suid-Kaap, tussen Barrydale en Ladismith, waar die Karoorandjies die Oukoppies heet, staan twee kennisgewingborde langs die pad. Die een vertel dis die einde van die Overberg, en die ander sê hier begin Eden. Dié kennisgewings is die soort grap waarmee koloniale regerings eeue lank al Afrika met kaart en liniaal verdeel het.
Die Klein-Karoo het natuurliker grense as onsigbare lyne tussen gannabossie en oor berge. Die wesgrens aan die Kaapse kant is die Kogmanskloof by Montagu. ’n Mens ry die Klein-Karoo in deur ’n tonnel; bo-op staan ’n klipfort wat gebou is deur soldate wat die Slag van Magersfontein oorleef het.
Van Montagu af oos loop die pad oor De Tradouw, tussen bewerkte aarde en wit plaashuise en vrugtetuine deur tot by Joseph Barry se naamdorp, Barrydale. Van daar af dan Ladismith toe deur ’n stuk verlatenheid wat net anderkant Lemoenshoek al begin.
Ladismith is vernoem na Juana Maria de los Dolores de Leon, die vrou van sir Harry Smith. Hiervandaan deur die Huisrivierpas na die port-hoofstad, Calitzdorp, en daarvandaan Oudtshoorn toe met links die blou berg en die Rooikoppe (’n ysterneerslag, hematiet, wat so oksideer) tot by die verste dorp wes, De Rust, aan die mond van die Meiringspoort. Aan Uniondale se kant van De Rust begin die Langkloof en eindig die Klein-Karoo.
Noord van die Klein-Swartberg en suid van die Langeberg skei die Klein- Karoo van onderskeidelik die warmer Groot-Karoo en die koeler kusgebiede.
Nege passe verbind die Klein-Karoo met die groter wêreld: die Kogmanskloof, die Tradouwpas, Garciapas, Montagupas, Swartbergpas, Meiringspoort en Seweweekspoort, Buffelsrivierpoort, Klein-Swartbergpas en een sonder blywende naam tussen Van Wyksdorp en die see.
Dis ’n lang, smal stuk aarde dié, met sy lusernlande, vrugtebome, letsels droë veld, sy klapper- en kareebome. Hier en daar ’n plaashuis, teen die middagson beskut deur die skuiwende skaduwees van peperbome.
Daar is damme ook, party vol van water en wolke, ander droog en gebars, daar is kreunende windpompe, daar is werwe met beeskrale en malvas, huiskamers wat aan die slaap raak met krakende deure en donker gebede.
Snags as alles inkrimp tot skaduwees en lampe, kruisbande, radio’s, boeke, voorvaderportrette, ’n muurhorlosie en die sagte weerstand van beddens frons die sterre al hoe groter oor die mens se duisterheid.
Jare lank het ek gedink ek weet hoekom die bewoners destyds – soos Vaandrig A.P. Beutler in 1752 berig het – dié wêrelddeel Kannaland of “ ’t land Cana” genoem het. Maar ek is nie meer so seker of dit ’n woordspel was met die naam van die Beloofde Land, ’n vernoeming na die Kannabos of eer aan die t’kanna, soos die oumense die eland genoem het nie. Al drie is moontlik, al drie is waar. Kom ons maak die landkaart toe.
Ons het almal ook wêrelde elders. Die klein bruin Middeleeuse dorpe van Umbrië, die vervalle dorpies van die Moordenaarskaroo, La Roche aan die kabbelende rivier in die Ardenne, die morsige moerasse van die Baltiese
See aan die mond van die Neva, die klipgebou-gehuggies tussen die digte bosse van Pole, die ruim huis aan die plein in Antwerpen van waar agter dubbele vensters die druk lewe buite geluidloos voortbeweeg, die sonwerf van Winkelplaas met die vyeboom waaronder ’n man vir ’n seun probeer verduidelik hoekom ’n karnivoor-ma haar haas-kleintjies opvreet.
Die wêrelde in ons lê soos woorde in ’n verhaal, ingebed in ’n éérste landskap van die gees, waar die plein van Antwerpen pas oor die werf van Winkelplaas op ’n koue Julie-aand; waar die duister waarheid van die karnivoor skuif oor die skrikbeeld van die verkoolde Sondagskoolklas in die ruïne van die stad wat Dresden was.
Mý Kannaland se stories en sy spoke, sy drome, vrese en raaisels lê in my anders as in jou. Jy kon nie weet hoekom ek so geskrik het vir wat Basie Joubert die ander aand doodonskuldig ná die jaarvergadering gesê het nie.
Oor die koffie het ons met outydse geselsery eers weer by die Klein-Karoo en toe weer by oom Stefan uitgekom. Hoe moes jy die storie ken waarvan Basie die ontknoping had? Die storie wat begin by die “spook” op daardie lusernland in die bakarm van Dwarsrivier op die Bruwers se plaas. Izak het, nadat hy dit vir my vertel het, oor sy wedervarings geswyg.
Dis wat gebeur het: Izak het dié winteraand so teen halftwaalf met die graaf oor die skouer al met die rivier langs na die uitkeerplek aan die bopunt van die “koel” landjie gestap. Dis hoe laat sy leibeurt begin het vir die land waar hy elke jaar kalbasse plant. Hy’t ’n man op die land in die skaduwee van die groot wilgerboom herken. Izak het die sluis oopgetrek, oom Stefan gegroet, ’n paar woorde gesels en toe gaan slaap.
Oom Stefan het net iets gesê oor hoe lekker sag die “koel” landjie onder hul voete was vanweë die diep syferwater.
Maar die volgende middag toe Izak by oom Stefan ’n hamer gaan leen en hy iets sê oor die vorige nag, het oom Stefan sy kop geskud en gesê: “Nee, Sakman, nou maak jy ’n fout, ék was dit sekerlik nie; ons het toe al geslaap, vra maar vir die vrou.” En tant Sarie kon dit bevestig. Sy sou wakker geword het as hy uit hul bed opgestaan het. Izak het dae lank nog gewonder hoe sy oom dié fout kon maak.
Vir my het hy die storie vertel toe ons drie weke later van oom Stefan se begrafnis af terugry huis toe. “Slaaplopery, dis al wat ek kon dink.” En bygevoeg: “Maar dis tog vir my eienaardig. Hoekom het Kerneels hom Maandag net daar waar ons staan en gesels het, gekry? Dokter Uys sê die nadoodse ondersoek het gewys dit was so ’n kwaai hartaanval, hy het van die uur van sy dood niks geweet nie.”
Nie daardie uur nie, maar wat van drie weke eerder? Waarvan het hy gaan seker maak? Dis waaraan ek met ’n skrik gedink het toe Basie vir my vra of ek geweet het van dié vrees wat oom Stefan sy lewe lank gehad het. Vir val.
Afval van iets af of omval as iets hom pootjie. Dis dié wat hy so snaaks op ’n perd gesit het. Het hy daardie nag in sy slaap geloop of in ’n voorgevoel?
O, ek ken dié wêreld al jare, dié klipdroë wêreld waarvan al die kontoere, heuwels en dale, berge en klowe duisende jare gelede deur water gevorm is. Maar my nuuskierigheid lei my telkens in ’n landskap in vol geheime, met mense vol raaisels.
Dié swerwer wat die aand by Sarel Marais-hulle op hul plaas oorgeslaap het, soos vele voor hom. Sarel-hulle was Christenmense in doen en late. Maar dié vreemdeling was anders as die messlypers: netjies, regop, aan beter gewoond, sonder drank op sy asem. Net sy hemp se kraag en die moue was vuil. Al aan hom wat die huismense opgeval het, was die manier waarop hy elke nou en dan sy kop geskud het, so asof hy aan iets dink waarvan hy niks wil weet nie, en hoe hy voor hom uit sit en staar, en dan eers weer praat.
Waarheen hy die nag verdwyn het, sal ons nooit weet nie. Hy is spoorloos weg tot vandag toe. In sy sak was niks besonders nie, net ’n paar stukkies klere en ’n silwer hartjie wat oopvou. Weerskante ’n klein foto van ’n donkerkop meisie met ’n breë glimlag.
Boet, Sarel se seun wat in die Kaap werk, het haar herken van foto’s in die koerant. Dis sy, het hy vertel toe hy die hartjie die eerste keer sien, wat op ’n trein was Noorde toe, maar wat net duskant De Aar in haar kompartement dood aangetref is. Daar was nog ’n storie van die man wat in die Paarl opgeklim het en wat by haar in die kompartement gesien is, maar dit kon nie bevestig word nie.
Sarel het gesê, nee, onsin, die vreemdelinge voor ons poorte is anders as ons, maar hulle is nie daarom moordenaars nie. Ons ander het nie geweet wat om te glo nie en die storie stadig weggeskuif in die vergetelheid in. Sonder ’n slot.
Tussen Barrydale en Lemoenshoek, aan die regterkant van die pad, staan twee huise teen mekaar gebou. Die regterhuis is geverf en al die jare netjies gehou, die linkerhuis het verval tot ’n ruïne. Die regterwerf se plante kry gereeld water, die linkerwerf is ’n woestyn. Stories is die enigste redding.
Bo-op die Klein-Swartberg waar die hoogste waterval tussen die loodregte kranse uitwaaier tot ’n fyn misreën wat ’n mens se gesig en arms en hande klam maak en op die warmste dag koud is, is Waterkloof op sy mooiste.
Laer af, aan die bokant van Blougat, stuif die misreën nog neer op die helder water, maar net waar die son nog nie onder ’n bakkrans kan invoel nie. Hulle het die hele dag geswem en in die son op die rotse rondgeklouter, mekaar gesoen, en vir mekaar weggekruip. Die plante is welig. As hy ’n deuntjie fluit, het die klank teen die rotse vasgeslaan en geklink asof dit met eggo’s in die skeur afbons tot doer vêr waar die lae bossies van die vlakte begin.
As sy op haar hande klap, een maal, twee maal, het duiwe bo van die kranse afgetuimel en op die bergwind afgesweef tot oor hul koppe. In die bome het die voëls gekwetter van daglumier af tot die donkerste skaduwees.
Voor hulle in die lang skaduwees teruggeloop het dorp toe, het hy in sy broeksak gevoel en ’n klein silwer aronskelk waarvan die aansteekspeld al afgebreek het, uitgehaal. “Ek het dit saamgebring, ek weet nie hoekom nie,” het hy gebieg. “Dit het sommer daar gelê, maar dis mooi. Nou weet ek.”
Toe stap hy onder ’n bakkrans in en begrawe die aronskelkie onder ’n groot klip wat selfs stormwater nie sou kon wegspoel nie. Sy haal ’n stringetjie rooi krale van haar arm af en sy sê vir hom: “Begrawe dit saam.”
“Hoekom?” vra hy. “So lank as wat ons lief is vir mekaar moet dit daar bly. Net ons weet dit is daar. Net ons weet wat dit beteken. Kom ons belowe die een van ons wat ontrou raak, moet dit kom uithaal, want dan hoort dit nie meer bymekaar nie.”
Hy het later in Engeland gaan studeer en daar bly werk in ’n groot uitgewery. Sy het eers medies gestudeer en toe, ná ’n paar jaar in ’n hospitaal vir tuberkuloselyers, gaan spesialiseer in borskwale onder adolessente. Albei is getroud met eggenotes wat die Swartberg en die Blougat nooit gesien het nie; niemand het ooit die aronskelkie en die krale daar gaan haal nie.
In berge en op vlaktes, in woude en op savannas, selfs in woestyne lê baie sulke vergete beloftes. As dit in ’n storie was wat hulle die besluit geneem het, het iemand die swaar klip gaan wegstoot. Maar dis nie ’n storie nie.
Uit Hongarye het dié man kort voor die Tweede Wêreldoorlog na Suid- Afrika gekom en hom op ’n dorp in die Klein-Karoo kom vestig. Hy was in Boedapest ’n leerlingapteker en hy het aandklasse geloop by ’n kunsskool voor dit flenters gebombardeer is.
In die Karoo het hy ’n winkel oopgemaak, nie ’n apteek nie. Hy het later sonder enige aksent Afrikaans gepraat, maar nooit ’n woord gerep oor sy familie nie. Hy is later getroud en sy seuns het die winkel oorgeneem. Min mense in die dorp het geweet hy kom uit Hongarye.
Toe hy dood is, het hulle ’n hele versameling tuinkabouters wat hy gemaak het, gekry in ’n agterkamer van ’n buitegebou waar niemand gekom het nie. ’n Verre familielid het in die sestigerjare Suid-Afrika besoek en hy kon in elke kabouters mense eien wat hy in Boedapest op hul familiefoto’s gesien het.
Nege passe lei die besoeker oor die berge uit die Klein-Karoo uit. En deur nege poorte kan die besoeker inkom. Ons wat daar gebore is, het op ’n dag daar aangekom en ons het die voorgeslagte in ovaalrame met ons saamgebring. As iemand vra, kan ons sê ons kom van sê maar Winkelplaas of van Voorvadersgawe of van die Mond van Pietsrivier af. Maar wáárvandaan regtig? En om wat hier te kom maak?
Dis omdat ons dit nie weet nie wat ons stories vertel. Ons moet ons lewens maak.