'n Ander land as wat ek ken?

  • 3

“Het my land 'n ander land geword as wat ek ken?” Een van die bekendste reëls van NP Van Wyk Louw. Die waarheid in versreëls het die manier om te sluimer tot iets gebeur wat dit wakker maak en oor tye heen weer en weer nuut.

Wat nóú gebeur het, is die African Bank-debakel, ’n ineenstorting wat volgens berigte lank al voorspel is, waarop enkele ingeligtes glo gespekuleer het, waarvan die waarheid nou hopelik in ’n hof duideliker gaan word vir die gewone belegger.

Ek is nie ’n ekonoom nie, ek weet nie hoe selfs die Raad vir Finansiële Dienste en die Reserwebank ’n gewone bank kan lei om sy kliënte se beleggings te gebruik nie. 

Maar hierdie storie is oor iets anders as net die ekonomiese, waar argumente mekaar pootjie. Wat hier aan die gebeur is, het ’n ménskant: dit vertel in gewone woorde watter soort mense ons geword het. “Cruelty has a human heart,” het William Blake gesê. ’n Mens merk dit aan jouself.

Ons sit op ’n trein tussen Leipzig en Dresden, ’n soort melktrein, en sonder eetwa. Maar selfs vir ’n melktrein staan ons ongemaklik lank op Eisleben, ’n piepklein Saksiese haltetjie met skaars ’n perron buite in die yswind. Eers hoor ons daar was ’n ongeluk, toe word oor die luidspreker berig iemand het voor die lokomotief ingespring van die trein voor ons.

Ek sit en lees Harry Mulisch se Het steenen bruidsbed. Ons is onderweg na een van die raaisels in die geskiedenis. In die nag van 13–14 Februarie 1945, net drie maande voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het die Geallieerde Magte met 244 Britse Lancaster-bomwerpers onder aanvoering van Arthur (“Bomber”) Harris die stad aan die Elbe, Dresden, met brandbomme in ’n vuurstorm verwoes. Maar Dresden was altyd geassosieer met kunsskatte en onvervangbare Barok-argitektuur, selfs tóé nie met oorlogtuig en fabrieke nie, met skoonheid, nie met bomme en  ruïnes nie. Oor die vraag: Waarom Dresden? is daar vandag nog onsekerheid.

Verantwoordelikheid kruip maklik weg in strukture. Dis eers in die verhore van Neurenberg wat die individu dié aspek van menswaardigheid teruggekry het toe selfs politieke bevele nie aanvaar is as alibi nie. 

’n Halfuur later op Eisleben, toe dieselfde berig nogeens weerklink, sê ek knorrig vir my vrou: “Ag, nee! Nog steeds?”

Die Duitse gesin, man en  vrou, oorkant ons op die bank sit doodstil. Maar toe ons later stadig by die bloedjong verminkte verby ry, haal die man sy hoed af en laat sak sy kop. ’n Eenvoudige gebaar van deernis met dié wat dit minder goed gevind het met die lewe as ons.

’n Gebaar uit ’n ander land en ’n ander tyd as dié waaruit ons Duitsland toe is.

My gewete kla. Wat het geword van deernis en van deemoed?

Terug in hierdie ander land. Ek moes navraag doen na die byna R800 wat uit my geldmarkfonds verdwyn het en waaroor die bank geen sprook sprak nie. Nou kom ek al lank met dié ou skedonk van ’n bank saam, van die dae af toe “volk” in ’n naam dieselfde reklamewaarde gehad het as "African" nou. Hulle korrespondensie was nog nooit watwonders nie. Maar ’n kliënt se geld vat, aflaai, noem dit wat u wil, sonder toestemming, sonder om die kliënt selfs te laat weet, daarvan sou ek hulle nog nooit verdink het nie. Op die bankrekenaar het al die verdwene geld se geheime in ’n kode gestaan wat niemand kon ontsyfer nie; dit was boonop in Afrikaans, oor die destydse bank geweet het dis normale maniere om met ’n Afrikaanse skrywer Afrikaans te praat.

Uit-ein-de-lik ten minste die soet stem van ’n jong dame uit die kantoor van my “persoonlike bankier”. Sy begryp nie. “U het tog geweet toe u die geld in geldmark belê het dat die geld nie verseker is nie.” Vra sy nie, sê sy.

Haar stem is te jonk. Dié verskoning kon sy nie self uitgedink het nie. Ek twyfel skielik of dit ’n redenasie is wat in dié bank ontstaan het. Skuldverlegging het hulle nie nodig gehad nie – dis die voordeel van eerlikheid.

Juffrou, al die jare was dit algemene kennis, herhaal deur geslagte bankbestuurders en amptenare, dat Geldmark nie ’n hoë rente bied nie, maar dat dit ’n veilige belegging was. Nie net winkelier en wolboer nie, juis student en weeskind, weduwee en pensioenaris, klein beleggers, het hul geld daarin belê. Ook die nalatenskap vir die Jannie Coetzee-beurs (spesifiek vir voorheen benadeelde, arm studente) het ek daarin belê. Nee, sê sy, maar u behoort ...

Arme amptenaar. Sy het net die een verskoning gekry om mee te werk en dit kom van hoog bo haar kop af. Die geskiedenis van ’n kleiner rentekoers in ’n veilige belegging was die volgende dag al bevestig. Wanneer die belegging ’n krimpmark geraak het, is onduidelik; toe die belegging onveilig geraak het, het die rentekoers ook nie gestyg om die onveiligheid te balanseer nie.

Die patroon van verryking ten koste van verarming wat ons land die ongelykste ter wêreld maak, het al hoe duideliker geword. Maar gevolge vir wandade sal uitbly; die geld sal nooit terugbetaal word in die geldmarkfondse nie, want reg en verkeerd is iets waaroor net howe kan besluit, en hulle is oorlaai.

Wel opvallend is dat die bank na die middernagtelike onttrekkings uit die geldmarkfondse en kort nadat briefskrywers in die koerante hul misnoeë te kenne gegee het, skielik derduisende rand bestee aan halwe en vol advertensie-“baadjies” (die eerste en laaste bladsye van koerante), sonder dat iets besonders geadverteer is. Wie is veronderstel om wat te wete te kom of te onthou?  

Wanneer het “gewete” ’n vloekwoord begin word in hierdie  land?

’n Mens raak kwaad. Oorweeg ander beleggingsmoontlikhede. Jy lag selfs, want  ’n vriendin het op Kaapse versoek ’n telefoonnommer gekry om die bank se hoofkantoor in die noorde te skakel vir inligting. Die telefoon is beantwoord deur: “African Bank”! 

Maar as die sound and fury gaan lê, tref dit jou: Hoekom was niemand bekommerd dat die banke in die reddingsdaad die vertroue van kliënte sou verloor nie? Wat het geword van die kernwaarde van vertroue wat nie herstel kán word met benoude spronge en blink baadjies nie?

Hoe kan jakkalsstreke, soos distansiëring van openlike selfverryking en van walglike minagting van die armes, die vertroue herstel wat verbreek is in ou en bekende banke se oordeel? Wat het geword van skaamte?

Wat het in hierdie nuwe land geword van ordentlikheid? 

  • 3

Kommentaar

  • Ek het groot simpatie met Abraham H de Vries en al die ander beleggers van wie daar geld "gevat" is deur ABSA na die African Bank fiasko. Maar die saak is nie so eenvoudig nie.

     Eerstens het ABSA nie die kliënt se geld "...sonder toestemming gevat nie..." en tweedens het die jong dame nie 'n "verskoning uitgedink" toe sy gesê het dat die belegging nie "verseker" is nie. Sy het inderdaad 100% die waarheid gepraat. 

    Derdens was dié onttrekking uit mnr de Vries se geldmarkrekening, nié deel van 'n "reddingsdaad" tov African Bank nie.

     Wat het hier gebeur? Hoekom het mense geld verloor?

     Ten eerste: Dit is 'n onwaarheid dat geldmarkfondse 100% veilig is. 'n Geldmarkfonds is soorgelyk aan 'n effektetrustfonds, behalwe dat die geldmarkfonds-beleggers se geld in sg geldmarkinstrumente belê word. Instrumente soos staatseffekte, korporatiewe effekte, vaste depositos, ens. Die geldmarkfonds leen maw kliënte se geld uit aan die Staat, semi-staatsinstellings en ander maatskappye. Hierdie instellings betaal rente op die lenings wat dan weer aan die geldmark-kliënte toegewys word. Indien enige van hierdie instellings aan wie geld geleen is, ophou om rente te betaal, ly die geldmarkfonds 'n verlies wat deur al die beleggers in die fonds proporsioneel gedeel word. Soos AllanGray dit op hul webtuiste stel: (http://www.AllanGray.co.za)

     While capital losses are unlikely, they can occur if, for example, one of the issuers of an instrument in the Fund defaults. In this event losses will be borne by the Fund and its investors.

    Mense is (was) dus onder 'n totale wanindruk dat geldmarkbeleggings geen risiko's het nie.

    Tweedens: Indien die geldmarkfonds 'n verlies ly, moet die beleggers elkeen proporsioneel tot die aantal eenhede wat hy/sy in die fonds het, die verlies dra. Die geld kan nie deur die bank "terugbetaal" word nie, en geen hof kan die bank beveel om so te doen nie, al het die howe ook genoeg tyd. Die verlies is gely en klaar daarmee.

    Derdens: Geldmarkfondse gee baie hoër opbrengste as spaarrekeninge en is baie kompeterend met die koerse wat vaste deposito's bied, en tog is die geld op aanvraag beskikbaar. Daar moet dus risiko's wees om hierdie koerse aan te bied.

    Vierdens: Die "verliese" van beleggers is nie oorbetaal aan African Bank nie.

    Die groot jammerte is dat die banke en beleggingsadviseurs nie altyd voornemende geldmarkbeleggers ordentlik oor die risiko's (hoe kliein dit mag wees, maar dis dáár) inlig nie.

    Mnr de Vries is myns insiens té skerp met sy oordeel van "jakkalsstreke, openlike selfverryking en walglike minagting van die armes."

    Naskrif: Ek werk nie vir ABSA nie, het nie familie of vriende wat daar werk nie, en ek bank ook nie by hulle nie. Ook het ek geen sentiment teenoor die instelling nie. Al wat ek doen is om die feite te stel, net soos dit is. Gaan kyk gerus na die webtuistes van die geldmarkfondse. Almal spel die risiko's uit.

     

     

  • Avatar
    Jans de Jager

    "Gooi jou pêrels voor die varke, en dit sal vertrap word" (so byna-byna uit die Bybel). Daarby word ons belowe dat: "As jy net die geloof van 'n mosterdsaadjie het, kan jy berge verskuif". Ons konsep van volk het inderdaad verander sedert bouverenigings en staatsverbande ("Baantjies vir boeties"?) die orde van die dag was. Of is dit steeds die geval dat ons slegs skape is wat deur 'n herder deur die vallei van verlatenheid gelei word, altyd in vrees, en altyd in risiko om van die herd geskei te word.

    Die eintlike les van African Bank is dat maklike krediet verskriklik lonend is vir 'n bank, en veral vir 'n bank soos ABSA wat die proses van invordering tot 'n kuns volmaak het ("method in madness" is my ervaring). Die vraag wat eintlik wag is wie die verantwoordelikheid neem, en hoe die regulasies aangepas word. Die wegneem hier is dat partykeer is daar geen heenkome as om te voel as jy nie kan hoor nie.

  • Avatar
    Abraham de Vries

    In verband met Dirk Rigter se bydrae tot die gesprek in Litnet oor wat óns geword het in hierdie onbekende land het  ek ‘n brief gekry wat ek aanhaal omdat dit kort en kragtig ‘n eerste reaksie opsom:  “Hy verdedig die fynskrif  eerder as om in te gaan op maatskappyveranderinge en probleme in verbruikersvertroue. In wese is fynskrif fyn om die instansie te cover en nie om kliënte in te lig nie.”

    Maar gedeeltelik het Rigter gelyk: tans, nóú, is Absa se  Geldmarkfonds ingedoek, overgesetsynde: beveilig in fynskrif, growwe skrif, koerantmenings, ens.  Hierdie ingedoekte onveiligheid het ten tye van my beleggings in die fonds nie bestaan nie en my bankiers van destyds (ongeveer 2002) was net so min bewuste leuenaars as dié van vandag. Maar ek herhaal wat kennelik nie duidelik genoeg was nie: “Hierdie storie is oor iets anders as net die ekonomiese, waar argumente mekaar pootjie. Wat hier aan die gebeur is, het ’n ménskant: dit vertel in gewone woorde watter soort mense ons geword het.”

    Dis ménse wat in baie gevalle skáárs geld verloor het. “Kliënte wat in die Absa Geldmarkfonds belê is, sien 0% opbrengs vir 11 Augustus 2014 asook vermindering in die werklike Randwaarde op hulle fondsstate””, volgens  Absa se inligtingpamflet. Dit beteken in eenvoudige taal geld is onttrek uit die  Geldmarkfonds van ‘n bejaardehuis in Franschoek, dis onttrek uit ‘n fonds vir studente wat die geld nodig gehad het omdat hulle nie genoeg het om elke dag te eet nie. Dis voorbeelde. Vermeerder hierdie twee verhale met duisende. 

    Hóékom het mense geld verloor?

    Die kernvaag is nie wáár Absa geld belê het nie, die kernvraag is hoekom Absa nie vroeër blootstelling aan die African bank van hul Geldmarkfonds verwyder het nie.  Dié vraag beantwoord Rigter nie en dit word ook nie beantwoord in die inligtingstuk wat Absa uitgestuur het  nie, die stuk begin op 10 Augustus ná African Bank onder kuratorskap geplaas is.

    Maar Absa moes geweet het dat African Bank ‘n toksiese bate is, waarteen twee jaar lank al gewaarsku is en waar twee bestuurders kort vóór die ineenstorting hulle aandele, volgens koerantberigte,  verkoop het vir altesaam meer as R120 miljoen! Waarom wag vir die “Raad op Finansiële Dienste (RDF) se riglyn oor hoe die SARB se aankondiging geïmplimenteer moet word”?

    Nêrens is daar inligting van kommer oor die vertrouensbreuk wat dié implimentering sou veroorsaak nie.

    Is hier nie iets aan die gang wat van ons as mense in ons veranderde land net soveel verklap as van Absa se Geldmarkfonds nie?  Word die kommer oor ‘n ou en bekende bank se on-Absa optrede nie vergroot deur die konteks waarin dit afspeel nie?

    Rigter sê "Die groot jammerte is dat die banke en beleggingsadviseurs nie altyd voornemende geldmarkbeleggers ordentlik oor die risiko's (hoe klein dit mag wees, maar dis dáár) inlig nie."

    Eers was dit ek as “die beleggers” wat “moes  geweet” het, nou kry die banke en die beleggingsadviseurs ‘n rol. Herken hy nie die patroon van skuldverskuiwing nie? Hoeveel “skuld” moet nog op die mindere besluitnemers, amptenare, bouers, bourekenaars, selfs argitekte, dié soort  hardwerkendes afgeskuif word voor die verantwoordelikes geleer het wat die mag is van die voorbeeld van leiers, van diegene in belangrike posisies? Wat het adviseurs van kliënte te sê  as die advies en waarskuwings  oor die veiligheid van beleggings so lank deur Absa self geïgnoreer is?

    Rigter skryf: “Die geld kan nie deur die bank "terugbetaal" word nie, en geen hof kan die bank beveel om so te doen nie, al het die howe ook genoeg tyd. Die verlies is gely en klaar daarmee.”

    Ook nie as die verlies herleibaar is tot wat ook nalatigheid of swak oordeel kan heet nie? Hierdie hele situasie is immers nie die boustof vir ‘n soort rykmanshemel sonder konteks: agtergrond en spieëls nie. Dis nie  hoe die gewone man op straat dit lees nie. Agter al die jargon sit daar ‘n redelik eenvoudige storie. Absa se beleggers in die Geldmarkfonds is die figure aan die een kant en wat met hulle gebeur het, maak die leser kwaad en ontgogeld en onseker. Maar die koerante staan ook vol van die ander figure: African Bank se bestuur met die kits-rykdomme wat hulle net betyds onder die wip uitgeruk het en die uitgesproke veragting vir die armes  (“F… the poor!”). Aan hulle dink die leser in terme van swaarweer en weerlig. Tussen dié twee was daar ‘n onweerlegbareverband,  wát die bousels en strukture en kanale ook al is wat dié verband uitmaak. 

    Maar selfs al sou die belegger se geld net gehelp het om die verband te skep, bly die  vraag: skuil onverantwoordelikheid ooit só volledig in/agter strukture? Die geskiedenis se antwoord is: nee.

    Moet ek uitspel wat ek probeer vertel het? Die verhore in Neurenberg na die Tweede wêreldoorlog se groot les in die geskiedenis is dat persoonlike verantwoordelikheid onafskeidbaar deel is van menswaardigheid. Dat die uitvoer van selfs “politieke” opdragte op watter vlak ook al, geen alibi is vir wandade nie.

    Dis waarom ek willens en wetens die historiese konteks van die Saambou-geskiedenis en die voor die hand liggende “politieke” assosiasies weggelaat het  wat selfs net die banke se name al begin vertel (African= gered, Saambou = nee, nie). Dit sou moontlik deel kon uitmaak van die verhaal van hoekom nie betyds opgetree is nie,  maar dit sou geen verskil gemaak het aan die belang van menslike verantwoordelikheid en aanspreekbaarheid nie.

    Dis sake vir die verhore wat hopelik sal volg om oor te bereg, want regspleging moet ook banke se kliënte beskerm teen onverantwoordelike besluite van bankiers. So nie is daar  niks wat ons belet om die slagoffers te word nie van al die gierigheid en grypsug wat menslik moontlik  is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top