
Drie dae van gesprekke in die grootse Karoolandskap wag op diegene wat van 20 tot 22 September 2024 die Etienne van Heerden Veldsoirée te Cradock sal bywoon. Soos verlede jaar vind die ATKV-skryfskool tydens die Veldsoirée plaas. Skryfskooldeelnemers sal weer gratis toegang tot alle gespreksessies tydens die Veldsoirée kry.
Vanjaar sal die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad tydens die Veldsoirée afskop. Talle van die deelnemers sal kort referate in Cradock lewer en dit later opvolg met ’n langer teks wat op LitNet gepubliseer sal word.
Soos in die verlede sal ’n wye verskeidenheid onderwerpe gedek word.
- Ingrid Winterbach en Jayden Kukari kom gesels albei oor hul nuwe romans.
- Jaco Jacobs gaan oor kinderboeke praat.
- Nathan Trantraal, Tom Dreyer, Darryl David en Stefaans Coetzee ondersoek identiteit in hul eie skryfwerk en in dié van ander.
- Hans du Plessis sal sy navorsing oor Griekwa-Afrikaans met die gehoor deel.
- Dominique Botha, Johann Rossouw en Mpush Ntabeni sal gesels oor die rol van versoening, al dan nie, deur middel van die letterkunde.
- Fanie Olivier, Vasti Roodt en Lynthia Julius vra of ernstige debat nog in ons moderne samelewing gevoer mag word.
- Ronelda Kamfer ondersoek ons letterkundige bande met lande in die Noorde.
- Burgert Senekal en Mercia Coetzee beskou tegnologie se rol in die lettere.
- Andries Gouws en Dietloff van der Berg sal ondersoek instel na tekste se vermoë om te kan transformeer.
- Izak de Vries sal vrae oor die rol van resensente stel.
- Clinton du Plessis, Bernard Odendaal en Etienne van Heerden gaan uit hul eie werk voorlees.
- Basil Mills sal belangstellendes die veld in begelei om, ander andere, Olive Schreiner se voetspore na te speur.
Die ATKV-skryfskool skop om 09:00 op Vrydag 20 September 2024 af, met die Veldsoirée wat om 10:45 in die Victoria Hotel begin.
Belangstellendes kan reservations@tuishuise.co.za nader vir verblyf of om ’n plek by die ATKV-skryfskool te bespreek.
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise en Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge


Lees ook:
R350 vir die ATKV-skryfskool in Cradock én skouerskuur met skrywers
Die sprekers | The speakers: Etienne van Heerden Veldsoirée 2023

