...
Vir kop oopskiet. Vir dapper dink. Ter wille van oorlewing. Almal welkom.
...
’n Soirée is ’n gestruktureerde partytjie. (Ja, ek moes dit opsoek, ten spyte van my (het ek gedink) uitgebreide woordeskat). ’n Oksimoron, lyk dit. ’n Fees tegelyk elegant en intiem, met die doel om gesprek te stimuleer oor onderwerpe veral rakende literatuur, musiek en kuns. Wie sou so iets wou bywoon?
’n Hele spul, by die een honderd inskrywings, veral omdat dit hierdie jaar die ATKV-Skryfskool en die Olive Schreiner-fees omarm het. Die feesgangers het behoorlik die lokale in die Victoria Manor op Cradock vol gepak, die Tuishuise vol geslaap, en Buffelshoek Dirosie Lodge vol gekuier. Ek en my suster besluit: ideale saamgaan-naweek, met ons gedeelde belangstellings. Ons woon ver uit mekaar en is in jare verwyderd, was nooit eens saam op skool nie. Maar ons wen elke vasvra en Thirty Seconds as ons in dieselfde span beland.
Die elegansie is beslis onderbeklemtoon, behalwe die ouwêreldse sjarme in die argitektuur en die heerlike kos. Maar intimiteit van verskillende soorte kan ’n mens beslis van praat, ná die tyd. Intellektueel, sekerlik, maar geensins pretensieus, soos waarvoor ek bevrees was nie. Gewone mense met passie en toewyding besluit om onder een dak in te skuif en daar te bly, deel te neem.
’n Paar dae later draai my kop steeds van al die gesprekke. Afgesien van die inhoud – netnou meer daaroor – is ek diep onder die indruk van die gemak, die amper doelgerigtheid, waarmee deelnemers op gesprek afgepyl het. Met enige iemand en almal. Selfs vir ongemaklike vrae en onbevredigende antwoorde. Vir kop oopskiet. Vir dapper dink. Ter wille van oorlewing. Almal welkom.
’n Groot bederf vir my was die voorlesings van die nederige digters, hul eie werk lig op die tong. Dis amper soos om ’n sakrament te ontvang as ’n digter jou so bedien. Bernard Odendaal en Cradock-legende Clinton du Plessis, dankie.
Boekbekendstellings is ingeryg; eers ná die tyd besef ’n mens die gewig van elkeen: Marita van der Vyver se langverwagte Laaste kans / Still breathing; almal se Afrikaans-held Darryl David se Bookbedonnerd (uitverkoop); en natuurlik Gebeente van die meester Etienne van Heerden, nog nie eens in die winkels nie.
Literêre gesprekke kap die tentpenne in: Hein Willemse oor Patrick Petersen, Imke van Heerden oor KI as ’n nuwe lepel in die laai in “Kompers en kreatiwiteit”, Jan van Tonder oor sy geliefde karakter Sagie en dié se wêreld. (Jan vra om verskoning – hy is nie ’n publieke prater nie, sê hy. En die hele gehoor verseker hom net daar dat dit juis sy opregtheid is wat so goed oorkom.) In plaas van die gewone gespreksvorm oor sy roman Ons skulde het PP Fourie die gehoor meegesleur met ’n voorlesing, ’n ontboeseming, ’n getuienis oor die bevrydende krag van woorde en skryf.
Ek beleef besondere waardering vir die doelbewuste vasslaan op plaaslike bodem, aangesien soveel denkoefeninge los van die lyf en los van die omgewing geskied. Ek het die hele naweek geanker gevoel, my voete op die grond. Daar was ’n besoek aan die Cradock 4-gedenkteken, Paul Murray se plasing van Cradock as garnisoendorp, Linda Roothman se geogebaseerde blik op die aardgesentreerde Karootekste van Etienne van Heerden, Luan Staphorst se verstommende insigte oor velddenke, die Karoo as universum en die Boesman-universiteit. Feeskunstenaar Estelle Marais se oeuvre teen die mure getuig stilweg van haar agting vir die oerlandskap. Dis byna onverklaarbaar hoe haar werk die ruimte en oopte vasvat. Intussen kom die son op en gaan onder, vloei die Visrivier deur die dorp, sus die suidewind ons onder die Karoo-hemel.
Hans du Plessis gesels oor sy roman Inkommers, inleidend tot ’n waardering vir die interseksies waarmee inkommery ons konfronteer, meegepleeg deur mense wat almal iets hiervan aan die lyf gevoel het: Marita van der Vyver, Eben Venter, Bettina Wyngaard, onder leiding van Izak de Vries.
...
Hierdie naweek was ek saam met my suster op universiteit. Meer, miskien: die universiteit van die lewe.
...
Die kultuurgesprekke verloop uitdagend: Christi van der Westhuizen oor ons verhouding met die Hollanders en transnasionale witwees asook xenofobie as nuwe rassisme; Frans Rautenbach oor Help yourself South Africa; Barend la Grange en Freek Robinson oor vorentoe kyk. Uitdagend kwadraat is Pedro Tabensky oor korrupsie in The rise of the hustler state; en Tembeka Ngcukaitobi en Mpush Ntabeni oor grondhervorming, konstitusionele reg en sosiale geregtigheid. Die grootste uitdaging van die naweek kom beslis van Bettina Wyngaard, reguit en onverskrokke. Oor ons kan beter doen. Veral hier.
Ons het darem rugby gekyk en wyn gedrink en deur die nag gesels, oor “Wat nou vir die landbou?” (Christo van der Rheede) en “Hoe lyk die toekoms?” (Theo Venter).
Op die laaste oggend is daar sawwe harte in die kamer, voel ek aan. Ons geniet RR Ryger se rebelsheid, omarm Anchien Troskie se nuwe roman, Die laaste kanariegeel notaboek, laat Decima van Eben Venter ons harte breek en ons koppe verstrengel. Hein Willemse se slotrede bring gesonde en eietydse perspektief op Olive Schreiner, wie se graf ons van die heuwel bekyk, deurdrenk van Karoo-reën.
Die storm versterk, daar is moeilikheid met ’n pap wiel, ons vergeet grimeersakkies en nuut aangekoopte leesstof in mekaar se motors. Ons groet vervaard en jaag in teenoorgestelde rigtings, huis toe. Tuis gekom besef ek: Hierdie naweek was ek saam met my suster op universiteit. Meer, miskien: die universiteit van die lewe.
***
Met dank ook aan die borge: Die Tuishuise en Victoria Manor, Buffelshoek DiRose Lodge, die ATKV-Skryfskool, Dagbreek Trust, Amazwi, NB Uitgewers en Penguin Random House South Africa.
- Alle fotografie: Johan Kotze
Lees ook:
Die sprekers | The speakers: Etienne van Heerden Veldsoirée 2023
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors
Dagbreek Trust
Die Tuishuise en Victoria Manor
Buffelshoek DiRosie Lodge