
Etienne van Heerden, Clinton V du Plessis en Darryl David (Foto: Izak de Vries)
...
Dis ver verwyderd van ’n Hertzogprys.
...
Elke jaar iewers in September trek liefhebbers en plegers van woorde en dade byeen in die historiese Oos-Karoo-dorp Cradock vir die intieme en informele Etienne van Heerden Veldsoirée. Dit is ’n fees van besprekings en rondom-die-tafel-kuiery. Skrywers en lesers raak vriende, klink ’n glasie wyn en bewonder die sterrehemel.
Teen die einde van die naweek word die Orde van die Windpomp toegeken. Daar is afwagting hiervoor, want dis spesiaal – die ontvanger verpersoonlik die gees van die soirée, in lewe en in woorde. Dis ver verwyderd van ’n Hertzogprys, want dis bloot ’n windpompie van blik wat langs die hoofpad buite die dorp gekoop is, al is dit met silwer verf opgetooi. Dis soort van ’n ode-orde van een vriend aan ’n ander, ’n gebaar van respek en erkenning. Dit maak die toekenning vir my, as doodgewone leser, toeganklik en kosbaar.
Vorige ontvangers is Fanie Olivier, Darryl David en Elise Bishop – kreatiewe, skeppende reuse elk met sy of haar unieke sagte hart en gees, elkeen met ’n storie wat met ontsag gerespekteer moet word.
Vanjaar was die ontvanger Cradock se eie Clinton V du Plessis, ’n digter wat woorde met ’n skoffel en ’n graaf omdolwe en uitspit, ’n fyn waarnemer van sy eie lewe en die lewe rondom hom.
Die Orde van die Windpomp word nie op TV vertoon nie, maar dit vind warm aanklank in die harte van boekvriende. En dis waar dit saak maak. Die beskeie windpompie van blik boor sterk grondwater raak.
Bravo aan die ontvangers – julle is dit so waardig!
Lees ook:
Die sprekers | The speakers: Etienne van Heerden Veldsoirée 2023
Kommentaar
Dankie, Jo.
Wat 'n lieflike gebaar. Baie geluk Clinton.
Waardeer die positiewe bydraes. Hoop om eendag die soirée in Crdock te kan bywoon.