Wat sê Bettina? Malema kom sy haatspraak-moses teë

  • 0

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Julius Malema was vir ’n baie lang ruk ’n politikus wat sy vinger op die pols gehad het van wat die land se politieke koors is, maar die afgelope ruk het hy binne en buite sy party die politieke winde van voor gekry.

Verlede week het hy ook die regswinde teen hom voel waai toe die Gelykheidshof  bevind het dat hy skuldig is aan haatspraak. Die hof het staat gemaak op onder andere ’n forensiese linguistieke verslag oor die elemente van die toespraak ter sprake om tot hul bevinding te kom.

Die saak het ’n lang aanloop gehad. In 2020, tydens Covid, het Brackenfell Hoër hul matriekafskeid gekanselleer. Die ouers het toe hul eie funksie vir die matrikulante gereël, op ’n wynplaas. Na bewering was al die matrikulante en leerkragte genooi, maar na afloop van die funksie was beweer dat dit net vir die wit matrikulante was. Die EFF het toe by die skool gaan protesteer, maar hulle vasgeloop teen wat hulle as “heavily armed white people” beskryf het. Hulle het die aftog geblaas nadat die polisie hulle by die skoolhekke gestuit het.

Twee dae later was hulle terug, met versterkings. Van die skool se kant het ouers, sekuriteitsbeamptes en ander gemeenskapslede bymekaargekom om hulle teen te staan. Vuiste het geklap, en een van die verdedigers, Danté van Wyk, is van aanranding aangekla. Hy is later vrygespreek. Dit het gelyk asof die stof gaan lê het, en almal behalwe Malema het van die saak vergeet.

In Oktober 2022, tydens ’n politieke toespraak by die Wes-Kaapse People’s Assembly, het Malema weer die situasie opgehaal en sy aanhoorders aangemoedig om Van Wyk, vir wie hy by sy naam geïdentifiseer het, op ’n privaat plek te gaan regsien. In dieselfde toespraak moedig hy EFF-lede aan om rassiste te vermoor. Van Wyk sê in sy getuienis dat hy daarna meer as 4 000 Twitter-dreigemente ontvang het. Hy en sy gesin moes uit die Wes-Kaap wegvlug.

........
Dis die eerste teken dat sy legitieme politieke ster besig is om te kwyn. Toekomstige verkiesings sal dit bewys, maar Malema en die EFF waaraan hy nou bou, is net vir gewelddadige randfigure aantreklik.
........

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en Van Wyk het by die Gelykheidshof klagte van haatspraak teen Malema gelê. Van Wyk se regsverteenwoordigers het die dienste van Karien van den Bergh, ’n forensiese taalkundige en kundige in dreigende taal en haatspraak, bekom om Malema se toespraak te ontleed. Haar getuienis was dat die toespraak afwyk van gewone politiekery en wel oorgaan in haatspraak. Die hof het haar getuienis so aanvaar, en teen Malema bevind.

Van Wyk het gevra dat die hof Malema ’n boete van R1 miljoen moet oplê. Die kanse dat die hof wel so ’n boete sal oplê, is skraal, maar Malema en die EFF het reeds aangedui dat hulle appèl aanteken teen die bevinding. Natuurlik moet hulle, want hulle openbare beeld word erg geskaad deur hierdie bevinding.

Ongeag wat die uitslag van die appèl is, dui die blote feit dat Malema so blatant moord aanmoedig, op die desperaatheid van iemand wat relevant probeer bly terwyl hy al meer teen sy vyande binne en buite die party moet veg.

Dis die eerste teken dat sy legitieme politieke ster besig is om te kwyn. Toekomstige verkiesings sal dit bewys, maar Malema en die EFF waaraan hy nou bou, is net vir gewelddadige randfigure aantreklik.

Ongelukkig is daar hopeloos te veel van hulle.

Lees ook:

Onthou die gevare van ongeërgdheid

Vonnisbespreking: Die siviele verbod op haatspraak – “Shoot the Boer” in die gelykheidshof, hoë hof en die uitsaaiklagtetribunaal

Vonnisbespreking: Konteks en bedoeling – besinning oor die Hoogste Hof van Appèl se haatspraakuitspraak

Wat sê Bettina? Om te skiet of nie te skiet nie?

Wat sê Bettina? Oor nasionale dialoog

Wat sê Bettina? Myburgh, Malaka en die Dior-sak met R60 000 kontant

Wat sê Bettina? Kos of krag: die Eskom-dilemma

Wat sê Bettina? Is een tree vorentoe en twee treë terug ’n cha-cha, Uncle Cyril?

Wat sê Bettina? President Ramaphosa in die Wit Huis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top