Onthou die gevare van ongeërgdheid

  • 4

Julius Malema kon weer eens daarin slaag om die land, dié keer selfs die wêreld, warm aan die praat te kry. Die EFF-leier se dreunsing van “Kill the Boer” (voorts “KTB”) by sy party se 10de verjaardagvieringe was ysingwekkend, uitdagend, aggressief en triomfantelik, afhangende wie jy vra.

Openbare terugvoer rondom die lied en sy hoofsanger was tydens die hofverrigtinge tussen AfriForum en die EFF in 2022 meer geneig om hoogstens Malema se “swak smaak” uit te lig, en andersins die klaers se geregtelike pogings as uitermatige vet op die vuur af te maak. Die heersende winde van kommentaar, bondig gestel, was as volg: Malema is ’n opvoerige nar wat nie ernstig opgeneem moet word nie, en diegene wat alarm maak oor “KTB” sou die bedreigingswaarde daarvan oordryf.

Die kroon wat dikwels hieroor gespan word, is dat alarmmakers se motiewe verdag moet wees, want ons leef dan in ’n grondwetlike demokrasie waar groep-teen-groep-geweld noodwendig iets van die verlede is. Of dat die beweerde teikengroep van “KTB” in post-apartheid-bevoorregting leef en dus die natuurlike waarskynlikheid van spraak soos “KTB” moet aanvaar. 

.....
Die diskoers rondom die jongste weergawe van die lied was weer eens uiteenlopend, maar hierdie keer tog anders. Daar is ’n besliste verandering in die weerklank. Meer meningsvormers wat gewoonlik die bovermelde soort oordele gevel het, was aansienlik meer krities teenoor Malema.
.....

Die diskoers rondom die jongste weergawe van die lied was weer eens uiteenlopend, maar hierdie keer tog anders. Daar is ’n besliste verandering in die weerklank. Meer meningsvormers wat gewoonlik die bovermelde soort oordele gevel het, was aansienlik meer krities teenoor Malema. Sommige skrywers het selfs vergelykings tussen die opkoms van destydse Nazi-fascisme en die EFF-verskynsel aangevoer. Die begrip “fascisme” om die EFF te beskryf, neem trouens toenemend sy loop indien die onlangse pers breedweg beloer word. Iets aan die onomwonde woordgebruik in “KTB”, die gepaardgaande militêre opvoerigheid en die soos-fascistiese estetika van die EFF het ’n lugsteuring veroorsaak.

Tog was daar steeds ’n stewige skeut skeptisisme oor die gedeelde angs oor “KTB”, en veral deelnemers aan die grootliks oorsese (en hopelose) kultuuroorloë het gespring om die diskoerse rondom die lied as grofgeskut aan te wend. 

Ek wil nie te veel op laasgenoemde reageer nie. Amerikaanse en Europese kultuurstryders is lief om gebeure buite hul samelewings te gryp en vir hul eie doeleindes te verdraai. Elon Musk was gou om die gelaaide “white genocide”-twiet te uiter, en die New York Times se trant poog om die “KTB”-verhaal voor die deur van ’n oordrewe angs onder Amerikaanse regses te lê. Op hierdie lot moet Suid-Afrikaners hul liefs nie verlaat om aan ons uitdagings eerlike, internasionale aandag te gee nie.

Plaaslik het Max du Preez gewaarsku teen sogenaamde “condonation by soft condemnation” deur plaaslike meningsvormers wat louwarm en onseker oor “KTB” gereageer het. ’n Mens kan nie Ntsikelelo Breakfast se kommentaar hieroor in ’n Netwerk24-artikel buite rekening laat nie. Vir Breakfast is die grootste probleem met die lied dat dit verdeeldheid veroorsaak en die DA en AfriForum “op hul perdjie” laat spring. Richard Poplak, ’n satirikus en meer dikwels veelwoordige politieke dramaturg van Daily Maverick, het ’n vreemde twiet geplaas wat gevra het “watter wyn die beste saam met wit volksmoord” sal pas. Daarna het hy gepoog om sy twiet te kontekstualiseer, deur onder andere die misplaaste watwou-argument dat ander gevalle van moorddadigheid minder akademiese aandag kry en dat Malema eintlik net probeer aandag trek.

.....
Sou dit steeds snaaks wees om ander gevalle van moorddadigheid, soos in die townships, te satiriseer?
.....

Sy en Daily Maverick se bokspringende verduidelikings laat steeds vrae: Sou dit steeds snaaks wees om ander gevalle van moorddadigheid, soos in die townships, te satiriseer? Watter grappige verband is daar tussen Gucci-liefhebber Malema, wyn en volksmoord? As hy satiries bedoel het dat die luuksheid-liefhebbende EFF iets so banaal soos wynkeuse by volksmoord sou oorweeg, insinueer hy dat hul prag en praal die kern van bespotlikheid is? Maar dat die kontras tussen iets aakligs soos volksmoord en ’n meer stoflik-nederige weergawe van die EFF minder skerp sou wees?

Die punt wat staan, is dat Poplak en ander dit blykbaar as aanvaarbaar beskou om eenkant in die kryt van die ekstreme “wit volksmoord”-narratief te gaan boks, en erger, om dít as hoofsaak van die “KTB”-verskynsel op te rig.

Waarom sou sommige Suid-Afrikaners so ongeërg wees oor “KTB”, en waarom die verskynsel, soos Max du Preez tereg opmerk, dat die gelykheidshof die ou Suid-Afrikaanse vlag en “KTB” so ooglopend verskillend hanteer?

Ek waag ’n verklaring. Daar is rofweg twee denkpatrone rondom uiterste spraak wat, breedweg beskou, op Suid-Afrikaners gemik is wat onder die apartheidbedeling bevoordeel is. 

Die ouer skool noem ek om gerief die “1994-triomf”-denkskool. Dit beskou daardie soort spraak as iets wat eintlik net tydelik verduur moet word, ’n soort babelas wat sal wegkwyn soos die triomfantelike Nuwe Suid-Afrika stelselmatig dog noodwendig inskop. Diegene wat hieraan vasklou, is geneig om “KTB” sagkens te veroordeel en daarna luid die wysvinger te swaai teen die ekstreme “wit volksmoord”-narratief. Dit is jammer, want diegene wat oor plaasgeweld besorg is, is kennelik uiteenlopend wat hul diagnose en beskrywing van die verband tussen plaasgeweld en ekstremistiese politiek betref. 

.....
Waarom dan die motiewe van die ganse anti-plaasgeweld-beweging verdag maak en “KTB” uit die staanspoor geringskat, omdat daar sekere mense is wat op grond van vereenvoudiging en vooroordeel, aandring dat daar tans ’n ras-gebaseerde volksmoord in Suid-Afrika sou plaasvind?
.....

Talle “1994-triomfantelikes” sal tereg beswaard wees oor menings wat die ganse beginsel van besorgdheid rondom swart lewens as oordrewe afmaak, weens die gedrag of ideologie van die georganiseerde #BlackLivesMatter-beweging. Waarom dan die motiewe van die ganse anti-plaasgeweld-beweging verdag maak en “KTB” uit die staanspoor geringskat, omdat daar sekere mense is wat op grond van vereenvoudiging en vooroordeel, aandring dat daar tans ’n ras-gebaseerde volksmoord in Suid-Afrika sou plaasvind?

Dit bring my by die volgende jonger (of een minder uitdruklike) denkskool, die “magsbalans”-denkskool. Hierdie benadering glo dat gelykheid voor die reg voorafgegaan word deur ’n abstrakte, absolutistiese “verdrukker-teen-verdrukte” of slagoffer-ranglys, wat weens relatiewe geskiedkundige benadeling opgestel word en gevolglik relatiewe magsposisies moet verteenwoordig.

Die probleem met ideologie is dat dit gereeld op die feitelike en ware trek, en so is dit ook wat hierdie denkskool betref: Wit Suid-Afrikaanse boere, hetsy etnies-Afrikaans of nie, dra statisties ’n vlak van bevoordeling uit die geskiedenis saam. Om voortgesette ongelykhede uit die geskiedenis reg te stel, word die beginsel van gelykheid voor die reg in ons grondwet sodanig gekwalifiseer dat “billike diskriminasie” moontlik is, ’n geweldig regstegniese meganisme. Dit kan nie so gebruik word dat groepe uit die staanspoor gerangeer word sodat oorhoofse gelykheid voor die reg ’n fiksie word nie.

Die magsbalans-denkskool gaan baie verder. Soos die 1994-triomf-benadering, beskou sommige mense wat hierdie posisie aanhang, “KTB” en verwanthede as iets wat onbepaald lank verdra moet word, maar omrede die teikengroep ’n geskiedkundige verdrukker op die slagoffer-ranglys is. Erger nog, glo ander dat iets soos “KTB” ’n soort noodsaaklikheid is wat op regstelling van magswanbalanse gemik is. ’n Teikengroep kan hulself “veilig (heilig?) maak” deur hierdie regvaardige geweldstaal oor te sien en eerder hul ten gunste van radikale sosio-ekonomiese regstelling uit te spreek. Hierdie twiet van die vurige EFF-ondersteuner Kim Heller spreek boekdele in hierdie verband. Wat die regsbeoordeling van haatspraak betref, is hierdie denkskool bereid om te sê dat haatspraak gewoon afhang van wie op die ranglys dit uiter.

.....
Die naoorlogse Universele Verklaring van Menseregte is ’n poging om ’n teenmiddel vir ongeërgdheid en kruipende chaos daar te stel.
.....

Elie Wiesel, ’n Holocaust-oorlewende en skrywer, het in 1999 ’n bekende toespraak getiteld “The Perils of Indifference” voor die Amerikaanse presidensie gelewer. Wiesel se treffende punt was dat die mens se ongeërgdheid juis die voorste moontlikmaker van die Holocaust en ander wandade is. Dit sluit aan by die filosoof Hannah Arendt, wat in haar terugvoer oor die Israelse vervolging van die Nazi-moordenaar Adolf Eichmann, ’n vinger op die “banaliteit van boosheid” – die algemene oftewel oorsienbare alledaagsheid daarvan – gelê het. Hieruit kan ons ’n skermgreep neem oor die kruipende aard van die chaos van haat en onreg: Dit is nie ’n skielike, bodemlose put of ’n natuurramp nie. Trouens, dit is ’n trapleer. Menslike ongeërgdheid, meerderwaardigheidsin, dwepery en grootheidswaan is van die trappe van hierdie leer.

Die naoorlogse Universele Verklaring van Menseregte is ’n poging om ’n teenmiddel vir ongeërgdheid en kruipende chaos daar te stel.

Dit word gedoen deur ’n georganiseerde, internasionale bedeling en beregbare menseregte, wat gevolg gee aan die morele besef dat geweld as samelewingstrategie nie meer kan deug nie. Die nuwe samelewingstrategie is een wat die menswaardigheid van iedereen en die groepe waarvan hul deel vorm, bevestig, gebaseer op beregbare reëls wat van die grondliggende waardes van gelykwaardige menslikheid afgelei is. Die naoorlogse samelewingstrategie is inderwaarheid ’n reaksie op ’n oorhoofse geskiedenis van trauma en uiterste geweld, wat tydens die Holocaust ’n industriële omvang aangeneem het. Die mens het aan sigself bewys tot watter gruwels ons in staat is. Ons oplossing is ’n stelsel wat ons toerus om vroegtydig ’n kruipende, groeiende toestand van chaos te help raaksien en verhoed.

.....
In ons eie grondwetlike bedeling, wat beregbare menseregte uit hierdie selfde naoorlogse samelewingstrategie verplaaslik, is die stilswyende menslike vermoë tot grootskaalse en georganiseerde wandade ons gewete.
.....

In ons eie grondwetlike bedeling, wat beregbare menseregte uit hierdie selfde naoorlogse samelewingstrategie verplaaslik, is die stilswyende menslike vermoë tot grootskaalse en georganiseerde wandade ons gewete. Maak nie saak wie jy of jou komvandaan is nie, die chaos-potensiaal maak van jou ’n moontlike slagoffer óf wandaadpleger. Menslike gelykheid beteken ook dat ons nie kan redeneer dat sommige groepe inherent meer of minder tot boosheid in staat is nie. ’n Samelewingstrategie wat hierdie gesonde paraatheid aanvaar, sal nie Julius Malema se chaos-potensiaal as gering skat bloot omdat hy van benadeelde afkoms is nie.

Dit is waarom dit bevraagtekenbaar, teenstrydig en selfs gevaarlik is om op samelewingsvlak ongeërg oor verskynsels soos “KTB” te wees. Daar is geen presies-afgebakende kategorie vir “haatspraak” nie, hoogstens ’n stelsel van beregbare menseregte wat ons kan help om ’n verwekte of groeiende chaos raak te sien en dit te hanteer deur ’n waardeoordeel te vel. Voor die chaos soos ’n kanker buite beheer groei.

Frederik Rudolph van Dyk is ’n LLM-kandidaat aan die Universiteit Stellenbosch.

Lees ook op LitNet Akademies:

Vonnisbespreking: Die siviele verbod op haatspraak – “Shoot the Boer” in die gelykheidshof, hoë hof en die uitsaaiklagtetribunaal

Kyk ook op LitNet:

LitNet Akademies Weerdink ‒ "Kill the boer": Hoe moet hierdie woorde in 2022 verstaan word?

  • 4

Kommentaar

  • David Willers

    Insiggewende artikel, baie dankie. Die 'Spectator'-tydskrif in Britannje het juis onlangs geskryf oor die Malema storie as 'n voorbeeld van 'haatspraak', met moontlik verreikende gevolge.

  • Die gevolgtrekking van hierdie deeglike artikel behoort ter harte geneem te word. Die gevaar is natuurlik altyd om die onafhanklikheid van die regstelsel te verloor as gevolg van regeringsinmenging. Goeie onlangse voorbeelde van die teenoorgestelde van ongeërgdheid, waar massa-optrede terugrollende wetgewing gestuit het, is Israel en Georgië.

    'n Land se grondwet, hoe demokraties ook al, bied geen outomatiese beskerming nie. Haatspraak, propaganda en aanhitsing kan daartoe lei, sodra 'n genoegsame aantal volgelinge opgebou is, dat 'n regerende party die grondwet manipuleer, en selfs verander, en deelname aan internasionale regsorganisasies opskort.

    'n Sprekende voorbeeld hiervan is rusland. Haatspraak en aanhitsing tot volksmoord op die Oekraïners is deel van die daaglikse stapelvoedsel op staatstelevisie. 'n Leier van die russies-ortodokse kerk verduidelik op TV hoekom dit volgens die Bybel geregverdig is dat Oekraïners keelafgesny moet word. Omdat rusland onttrek het van internasionale menseregte-organisasies, en alle nie-regeringsorganisasies verban het, is daar weinig wat gedoen kan word, behalwe om te kyk waarheen die proses lei, en agterna die skuldiges aan die pen te laat probeer ry, soos in die geval van Nazi-Duitsland.

    Die EFF se steun vir rusland, en die druk wat hulle op die ANC regering uitoefen, dui op kommerwekkende verwikkelinge. Die voorgestelde onttrekking van SA uit die ICC is 'n goeie voorbeeld van 'n stap wat katastrofiese gevolge vir SA se toekoms kan inhou. Steun vir die behoud van deelname aan erkende internasionale regsorganisasies, uit alle oorde van die samelewing, is daarom van lewensbelang.

    Nie net blote ongeërgdheid nie, maar ook die blinde steun van sommige Suid-Afrikaners, veral uit minderheidsgroepe, vir rusland en ten gunste van SA se noue verhouding met rusland, dien om 'n proses van onttrekking uit demokratiese instansies en inburgering in die gemeenskap van paria-lande te ondersteun, sonder dat diesulkes besef dat hulle dalk die eerste slagoffers van hierdie onttrekkingsproses kan wees.

    SA se multikulturele samelewing is 'n potensiële bron van krag, maar dit maak hom ook weerloos; etniese verskille is die eerste om uitgebuit te word deur magsbehepte wreedaards. Daar was nog nooit tyd vir ongeërgdheid nie, maar daar is nou nog minder.

  • Hans Richardt

    Eben Viktor, die Russiese Federasie is enigste land wat in Tver, St Petersburg distrik, 'n dorp vir wit Afrikaners gaan bou om boerdery te begin en te verbeter. Die Moskou staatsuniversiteit het Afrikaanse departement.
    Waarom nie nastarovia sê nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top