Was daar enigiets geskik vir ’n dertienjarige op 2024 se Toyota Stellenbosch Woordfees-program?

  • 0

Agtergrond-prent: Maak stil die geblaf-dokkie (kykNET Silwerskermfees), Woordfees-logo (www.woordfees.co.za),ATKV-logo (atkv.org.za), Cape Choral Academy (capechoral.com), pizza (https://pizaevino.co.za/)


Die Woordfees-program bied iets vir elke smaak.

Daar is teater (vir volwassenes en kinders), diskoerse, boeke, komedie, musiek (kontemporêr en klassiek), film en kuns.

Maar hoe maak ouers wat vroeë tienderjariges – of dan tweens – Woordfees toe wil bring? Is alles op die program nie óf te gewaagd nie, óf dalk te babaägtig nie? Moet daardie kinders wie se ouderdomme oënskynlik nêrens inpas nie, liefs by die huis bly?

As ma van ’n dertienjarige dogter, doen ek graag hierdie voorstelle vir volgende jaar aan die hand: Doen huiswerk, gryp stapskoene en ’n bottel water, en sit af na die teaters.

Vrydagmiddag 4 Oktober 2024. Daar was ’n kykNET-pryswenner-dokkie aan die beurt (Neelsie Cinema-filmteater). Hier is ’n persverklaring van wenners by die Silwerskermfees.

Indrukke van die kykNET Silwerskermfees-dokumentêr, Maak stil die geblaf:

Die film is nog net ’n paar minute lank aan die gang toe ek besef die mense wat dit gemaak het, het ons almal ’n vuil streep getrek. Mens gee van die begin af om vir elke kind en sy hond – hoe maak mens nou as alles oor ’n kompetisie gaan? In hierdie dokumentêr word plaaskinders van De Doorns en hul honde se stories vertel. Alles stuur op die hondekompetisie af. Daar word ’n kompetisie vir hondetoertjies aangebied, maar ’n skamele tien minute het verloop en nou gee mens genoeg om vir elke kind en sy hond dat mens wil hê elkeen moet wen.

Ons leer elke kind se eerlike storie ken; ons beleef hoe die honde hulle lewens verander het. Ons sien hulle eenvoudige speletjies speel en hoor hoe hulle hul ouers uit hulle omstandighede wil bevry. Dis regte mense, die kinders. Die honde het elk hul eie persoonlikheid. En die verskrikking: Hulle is sterflik, hulle kan seerkry.

Gaan al die honde kan deelneem? Vir die kinders in die fliek is hierdie nie net ’n kompetisie nie, dis ’n lewensdroom.

Dis ’n dokumentêr oor kinders en hulle honde. Moeilik om te sê wie die hoofkarakters is – die kinders en die honde is almal sterre. Hulle almal kruip in mens se hart in.

As hulle uiteindelik in Stellenbosch aankom en teen deftige deelnemers met hul rats honde moet meeding, wat gaan gebeur?

Antwoord: Die storie wen.

..........
Geen wonder hierdie film is bekroon as beste dokumentêr by vanjaar se Silwerskermfees nie.
............

Geen wonder hierdie film is bekroon as beste dokumentêr by vanjaar se Silwerskermfees nie. Maak nog sulke films, kykNET! En iemand moet ’n skool daarvan vertel, sodat die film vir duisende kinders vertoon kan word.

Bonus: Dit het ons nie ’n sent gekos nie. (Die enigste koste was die roomys agterna. En as jy in die film wou peusel ... die Neelsie se springmielies is ook goedkoop.)

My tween is eerder ’n katte- as ’n hondemens, en hierdie film het haar aan die hart geraak. Die gevolgtrekking is: Hierdie film skitter!

Saterdagoggend, 5 Oktober 2024. Indrukke van die ATKV-Tienertoneelwenner, Vir Spot. Deur Hoërskool Parel Vallei. (Opgevoer by Rhenish High School.)

In hierdie hartverwarmende Tienertoneel-produksie, nog eens ’n wenner uit die stal van Parel Vallei in Somerset-Wes (hoe kry julle dit jaar na jaar reg, Darryl Spijkers en kie?), is ’n hond en ’n seun die twee hoofrolvertolkers.

Die produksie is effens kleiner en daar is minder kinders op die verhoog as wat die geval was met die vorige twee jare se Tienertoneel-wenners (Maanmaats en Wegwêreld), en die klem is op ’n doodgewone 17-jarige seun met ’n geheime verliefdheid op ’n meisie, ’n aanhoudende gesukkel met wiskunde, die vrese en hormone van ’n graad 11-kind, die irritasie met ’n sussie wat sy privaatheid binnedring – en ’n hond wat alles beter maak.

.........
Spot. Die seun se beste vriend. Hy verstaan alles.
..........

Spot. Die seun se beste vriend. Hy verstaan alles. Hy ken sy eienaar se hart; hy praat hom moed in om met die meisie van sy drome te praat. Dit werk nie altyd uit nie. Sy eienaar probeer uitblink met sy spiere op die strand, maar die meisies kom kielie liewers Spot se magie. Daar is soveel humor en menslikheid in die film.

Maar die tragiese einde word met die intrapslag verklap. Spot vertel die gehoor sommer self. Spot gaan teen die einde dood. Hoekom kom kyk mens dan die teaterstuk?

Want mens kan nie anders nie. Jy sit vasgenael en kyk na nog ’n Tienertoneel-produksie wat die ATKV jaar na jaar ondersteun. (Daardie kinders wat mens ’n rukkie gelede in vorige Tienertoneelstukke gesien het, is nou ook volwasse akteurs by ander Woordfeesproduksies.)

Welgedaan, Spot.

Hierdie toneelstuk is vir jou, soos die titel van die stuk verklap. Vir Spot.

Die hond stap met die louere weg. Francois Retief, wat die rol van die hond vertolk, wen die prys as beste akteur. (Hier is ’n oorsig van die ander tienertoneelproduksies van vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie.)

Op die lys van die top 10 Tienertoneel-produksies is Parel Vallei ook tweede – met 99 Luftballons. Die dertienjarige vra gretig toe ons uitstap: “Waar kan ons die ander Tienertoneel-stukke gaan kyk, Mamma?” Haar ma wil ook weet. Sy is net bly hierdie een was by die Woordfees te siene.

Die tween en haar ma se enigste kritiek teen hierdie produksie is die kat was te … katterig. Die hond se storie het egter steeds hul harte gesteel.

Foto verskaf deur ATKV en dit verskyn met skriftelike toestemming van die kinders se ouers.

Later op Saterdagoggend: Koormusiek en komposisies deur kinders en tieners: ’n Kaapse fantasie (in die Endler).

Zander Kritzinger was as skoolseun in die Drakensbergse Seunskoor. Hy was ’n Drakie. Hy het later musiek en koor afgerig by die Drakensbergse Seunskoor en by Hoërskool Stellenbosch, jare lank. Nou het hy sy eie musiekskool op die been gebring, die Kaapse Koorakademie. By vanjaar se Woordfees het sy musiekskool se leerlinge hulle eie werk gekomponeer, met leiding van die skool se personeel. ’n Kaapse fantasie was op die planke by die Endler.

Dis bewonderenswaardig wat hierdie kinders kon regkry, en hulle stemme klink suiwer op.

Ek wens wel daar was meer kinders. Ek mis die klank en die energie en die volume van ’n groter koor. Ek mis ook effens meer meelewing, liggame wat saam met die musiek beweeg waar dit nie anders kan nie.

Maar hoe pragtig om al die tale in die produksie te hoor, en te sien en te beleef hoe Zander se droom van ’n meertalige musiekskool gestalte kry. Die lirieke van die produksie is in Afrikaans, Engels, Xhosa en Kaaps. Dis die tale wat die kinders in die skool praat.

..........
Maar hoe pragtig om al die tale in die produksie te hoor, en te sien en te beleef hoe Zander se droom van ’n meertalige musiekskool gestalte kry. Die lirieke van die produksie is in Afrikaans, Engels, Xhosa en Kaaps. Dis die tale wat die kinders in die skool praat.
..............

Mag hierdie skool groei en groter en sterker word.

Die gehoor juig hulle staande toe.

 

Ander aktiwiteite by die Woordfees: Daar was ’n speelkamer by die Woordfees. Daar was verskillende bordspeletjies en aktiwiteite, soos om teikens met boontjiesakkies raak te kan gooi. Tydskrifte, woordspeletjies. Daar moes nog meer kinders van hierdie ouderdom daar gewees het. Daar was ’n uitstalling van speelgoed as deel van die kunsuitstalling in die museum.

Nog ’n lekkerte saam met die dertienjarige: Die Spaar Bar. As mens daar ’n kaartjie koop en jy het meer as R150 uitgegee, kan jy nog kaartjies wen (spin ’n win!). Of ’n prys. (My tween het die wiel gedraai en afslag by ’n restaurant gewen en ons moes op haar aandrang iets by Piza e Vino gaan eet. Bo by die fokusprent is ’n foto van die ete toe daar nog iets daarvan oor was.)

Slotsom: Bring die tweens volgende jaar – daar’s baie plek vir hulle. Hulle is die huidige teatergehore. Hulle is die teatergehore van die toekoms.

Wenke vir ouers wat hul kinders Woordfees toe wil neem:

  1. Bestudeer die Woordfeesprogram.
  2. Doen navorsing (vra op WhatsApp-groepe vir aanbevelings: kyk of daar lokprente op YouTube is).
  3. Moenie van spesiale aanbiedinge vergeet nie (die Spaar Bar), en boonop is sekere vertonings heeltemal gratis.
  4. Ken jou kind. Hou hulle van musiek, dans, teater, kuns of film?

Vraag: Bestaan daar enigiets vir ’n dertienjarige op die Toyota Stellenbosch Woordfees-program?

Antwoord: Ja. Vanjaar was daar ’n bekroonde Silwerskermfees-dokkie oor kinders en hul honde, ’n pryswenner-ATKV-Tienertoneelstuk en ’n meertalige Kaapse fantasie wat deur kinders van haar eie ouderdom gekomponeer en opgevoer is. En dit was slegs produksies op die laaste Vrydagmiddag en Saterdagoggend van die fees.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Vergeet van my (en moenie vergeet van gratis of goedkoop vertonings nie)

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Hoe het dit skielik laat geword? – ’n resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Fotoblad 1 van sprekers (EasyEquities Skrywersfees en diskoersgesprekke)

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, en so meer: Die ongewerwelde-trilogie – ’n resensie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top