
Vir Spot – Hoërskool Parel Vallei, Somerset-Wes (Foto: Nardus Engelbrecht)
...........
Die ATKV-Tienertoneel se nasionale kompetisie is oor ’n hele week by die Kunstekaap-teater in Kaapstad in verskeie kategorieë beslis en die Tienertoneel-wenproduksie, Vir Spot van Hoërskool Parel Vellei, word op 5 Oktober om 10:00 en 6 Oktober om 09:30 by die Toyota Stellenbosch Woordfees by Rhenish Girls High School opgevoer.
...........
Die ATKV-Tienertoneel se nasionale kompetisie is oor ’n hele week by die Kunstekaap-teater in Kaapstad in verskeie kategorieë beslis en die Tienertoneel-wenproduksie, Vir Spot van Hoërskool Parel Vellei, word op 5 Oktober om 10:00 en 6 Oktober om 09:30 by die Toyota Stellenbosch Woordfees by Rhenish Girls High School opgevoer.
Dié produksie kry die ATKV-Tienertoneel-wisseltrofee, R30 000 kontant en die speelvak tydens die Woordfees. Die naaswenner, 99 Lutfballons, ook deur Parel Vallei, kry ’n kontantprys van R20 000 en die derdeplekwenner, Mensdom van Curro Durbanville Hoërskool, kry R10 000.
Darryl Spijkers, die dramaturg van die wenner- én naaswennerproduksies sê: “Die ATKV-Tienertoneel-projek is ’n wonderlike projek waar ons deur professionele mentors gementor word. Jy leer en verbeter en dis deur daardie proses dat ons groei en in professionele teaters gaan optree. En dit bring kinders uit verskillende grade en verskillende sterktes en aanlegte bymekaar. Ons skep herinneringe wat jy nooit sal vergeet nie,” sê hy.
“En dit gee ’n volle span die kans om deel te wees en uit te blink – nie net akteurs of sangers nie.”
Hy het baie geleer met die wenproduksie. “Dis natuurlik nie lekker as jy aanvanklik nie presteer nie. Jy moet luister na ander se raad en insae. Verander, pas aan en leer.”
Die top 10 ATKV-Tienertoneelproduksies, die top vier-ATKV-Sêrproduksies en die top ses Tjokkertoneelproduksies het dinge op die verhoog uitgespook.
Die 60ste ATKV-Tienertoneel se tema is #Simbiose en 3 200 tieners het landswyd by nege streeksfeeste deelgeneem. Altesaam 187 produksies van regoor Suid-Afrika het nie op die planke teruggehou nie en die mentor-beoordelaars was weer verstom oor die gehalte en kreatiwiteit waarmee vandag se tieners teaterproduksies aanpak.
Die wenners van die eerste ATKV-Sêrkompetisie was Hoërskool Garsfontein met Checkers Sixty60 superheroes. Die nasionale sêrmentors, Frieda van den Heever en Francois van der Merwe, moes behoorlik kopkrap om die wenners aan te wys danksy die inskrywings se hoë standaard.
Meer as 920 tjokkers van regoor Suid-Afrika het vanjaar aan die ATKV-Tjokkertoneelkompetisie deelgeneem en die top ses produksies is na die tweede nasionale finaal vir tjokkers genooi. Hier maak Laerskool De Hoop skoonskip: beste produksie; beste hantering van tegniese aspekte deur tjokkers; beste tjokkerakteur (Ruben Pfaff as Alexander Lombard, Juf Geduld, busbestuurder); beste tjokkeraktrise (Berné Peters as Ouma); beste tjokkerensemble; en beste tjokkerregisseur (Samuel Jumat). Die skool wen R10 000, asook die ATKV- Tjokkertoneeltrofee.
Die tien finaliste vir die titel van beste Tienertoneelproduksie is in twee speelvakke van vyf vertonings elk opgedeel. Toe die ligte doof vir die eerste vyf vertonings, kom daar uit die skemerte van die reuse Kunstekaap-teater die jong stemme: “Belê in jouself; belê in die toekoms; wees die verskil”, en soos die tonele uitspeel, vier dit ons reënboognasie se talent in al sy toekomstige glorie.
Die produksie wat meegeding het, was:
Hoërskool Parel Vallei op Somerset-Wes se Vir Spot is een van Darryl Spijkers (geen vreemdeling op die Tienertoneel-wennerspodium nie) se tekste en hierdie komedie-drama het ’n beperking van geen onder-13’s vir taal en seks. Dis ’n storie van ’n gewone middelklasgesin met ’n vakansiehuis en ’n boot en wegbreeknaweke Weskus toe.
’n Hond is die mens se beste vriend. Só lui die spreekwoord. Maar vir Sebastian en Spot is dié woorde in oortreffende trap van toepassing. Hulle doen alles saam. Spot wag heeldag vir Sebastian se tuiskoms. Hy is meer as Sebastian se hond; hy is sy beste vriend, sy kameraad, sy vertroueling. En hy is skreeusnaaks, lewendig en sooooo empaties teenoor die storm-en-drang van sy baas.
Hier gaan die Oscar aan Francois Retief as Spot. Liewe genade, ek wil só ’n hond hê.
Spot begin sommer die vertoning met die “bederfwaarskuwing” en “vrywaringstelling”: Die hond gaan dood aan die einde. So moenie sê jy is nie gewaarsku nie. Maar dan het ons immers kaartjies gekoop om ’n show te kyk waarin die hond doodgaan. So dis eintlik ons eie skuld.
“Kindertrauma op sy beste!” verklaar hy met sy stert al swaaiend.
En dan kom ons by daardie deel in die vertoning en die lag val weg en die hartseer tree in en elkeen wat al ’n troeteldier verloor het, word stil. En dan kom Spot terug met ’n halo bo sy kop en vertel hoe “spectacular” sy dood was!
Gelukkig is daar tyd vir trane en dan is daar tyd vir nuut begin en nuwe liefdes en dalkies ’n klein arrogante klein matkakkertjie ... (Sebastian se woorde, nie myne nie.)
Een van die lekkerste stukke heeldag. Baie lag, ’n bietjie huil, maar baie goedvoel as jy uitstap. En natuurlik sal ek nooit weer na enige hond kyk sonder om Spot se woorde te hoor van hoeveel honde nou eintlik hul base mis as hulle nie saam is nie.
Beslis ’n waardige wenner van dié jaar se Tienertoneel.

99 Luftballons – Hoërskool Parel Vallei, Somerset-Wes (Foto: Nardus Engelbrecht)
Hoërskool Parel Vallei op Somerset-Wes se 99 Luftballons, wat die naaswenner was, is ’n multidissiplinêre drama – ook uit die pen van Darryl Spijkers. Hierdie nuutgeskrewe teks bring hulde aan kinders regoor die wêreld wat in oorloggeteisterde lande woon. Iviwe Dibela as Kleine Alle – metafoor vir elke kind in die wêreld – word ondersteun deur ’n sterk groep kinders, vlugtelinge en soldate, ’n groep dansers, en ’n vyfmanorkes.
Die stuk is geïnspireer deur die Duitse groep Nena se 1983-antioorloglied met dieselfde titel en beskou die onskuldige lewe van ’n kind wat daarvan hou om by haar ouma se voete te sit en na haar stories te luister. Vir wie ballonne en speel met maats, lag en sonskyn vreugde bring. Maar oorlog vernietig ’n kind se drome van sing en lag en speel. Dis ’n storie van oral én van nêrens; van hier en ver vandaan: Berlyn, Majuba, Boipatong, Mitchells Plain, Gaza; van gister en nou en van môre. Darryl ontleen aan sóveel bekende Afrikaanse tekste, gedigte en lirieke, en speel ook só met internasionaal herkenbare beelde, dat die stuk nie net praat vir en met elke Suid-Afrikaner wat dalk nog verdeeld kan staan teenoor sy plek in die Afrika-son nie, maar ook elke kind regoor die wêreld wat die teiken en slagoffer van oorlog word.
Die boodskap maak van hierdie stuk een waar ons almal gedwing word om weer introspektief te kyk na die waansin van oorlog en verdeeldheid. En ons bydrae – hoe gering ook al – daarin.
Die kind is inderdaad nie dood nie; die kind is orals.
Die spelers was almal sterk en inspirerend, maar dis die ongelooflike sangtalent van Danica Moodie wat my hoendervleis besorg het met haar vertolking van bekende antioorlog liedjies wat die nutteloosheid van oorlog vasvang.
Ek het egter gevind die stuk probeer te veel verskillende elemente indruk, en die effektiwiteit daarvan het vir my ietwat verlore gegaane. Die boodskap is sterk genoeg sonder die oorbeklemtoning – en hulp – van nóg meer teatrale elemente. Maar met soveel om in te neem en te sien en hoor, het dit juis weer die absolute absurditeit en chaos van oorloë goed tuisgebring.
Dit bied uitstekende kykgenot en beslis oorgenoeg stof tot nadenke, veral nou, op die vooraand van een jaar van die Israel-Hamas-oorlog wat op 7 Oktober begin het. Baie van die toneelspel kan by professionele akteurs kers vashou.
Curro Durbanville Hoërskool se Mensdom, wat in die derde plek was, is ’n drama met ’n ouderdomsbeperking van geen onder 13’s. Mia-Cecilia Kriel is in die rol van Mensdom, Lucy Morillion as Onskuld en Inge Dippenaar as Dood. Die program verklaar: “God het die hemel en aarde geskep. Op dag een skep hy lig. Op dag twee die grond. Op dag drie die land, see en plante. Op dag vier die son, maan en sterre. Op dag vyf die visse en die voëls. Op dag ses die mens. Op dag sewe het Hy gerus. Hy het seker geweet wat kom.”
Lize-Meri Amann is die teksskrywer, een van die regisseurs en ook verantwoordelik vir die kostuums, stelontwerp, beligting en multimedia en klank. Haar oorkoepelende hand en oog vir besonderhede het hierdie toneelstuk naas Vir Spot my ander gunsteling op hierdie fees gemaak.
Dis ’n gestroopte stuk wat ’n baie soortgelyke boodskap het aan 99 Luftballons s’n: Ons verwoes, verteer, vermoor en verafgod. Ons neem goed van die aarde wat nie eers ons s’n is nie. Die sewe dae waarin die aarde geskape is, is elkeen gedoem nadat die mens op die sesde dag sy verskyning gemaak het.
Kostuums is roomkleurig, die karakters dra maskers, die verhoog het geen stelontwerp behalwe ’n paar lere nie. Dis asof die kleur uit alles gesuig is.
Toe Mensdom 24 uur kry om terug te gaan aarde toe en Dood te oortuig dat Mensdom se tyd nog nie om is nie, is die plek waar al Mensdom se goeie dade moet wees, ’n hol vakuum. Familie is verstrengel in sosiale media en die onvermoë om te kommunikeer – sosiale zombies; vriende reik ’n helpende hand uit – van ver af. “Ons is altyd daar vir jou. Vir goeie tye – en hierdie is nie ’n goeie tyd nie,” verklaar hulle.
Woorde van Breyten Breytenbach flits teen ’n groot doek agter die spelers. Dit verkondig dat “bloed kruip waar dit nie kan loop nie; die dood wikkel met kieries tussen die grafte ...”, en mens sien amper die profetiese aard van sy skrywes van jare gelede.
Mensdom verklaar dat ons goed doen; ons het tegnologie wat alles wat ons bereik het, sekonde vir sekonde, vaslê. Tog is tegnologie ook die ding wat ons harte stom gemaak het.
Dood waai alles weg met al die verspeelde kanse: Ná elke aardbewing, vulkaan en vloed kry Mensdom nog ’n kans, maar alles tevergeefs.
Inge Dippenaar as Dood is skrikwekkend realisties en haar naam is beslis een wat ek hoop ons in die toekoms in teaterprogramme en rolprentkrediete sal sien.
Hoërskool Zwartkop in Centurion se Teddie et al is ’n komedie/klug, en met Emil Haarhoff as een van die regisseurs, wat saam met die dramaturg Johann Smith werk, weet jy dis lekker lag wat wag. En as jy twee mafialummels met name soos Bakkies en Kakkies het, kan geen mens enigiets ernstig verwag nie.
Cedric en sy meisie, Deirdré, se liefdesbootjie beland op die rotse oor ’n slegte gerug oor ene Marvin, vir wie sy liewer is as enigiets anders. ’n Gebroke hart is egter nie waaroor hy bekommerd behoort te wees nie, maar eerder gebreekte bene. Hy bevind hom in die middel van ’n dwelms-en-diamante-sindikaat en dit lei tot groot konsternasie, want die mafia is op sy spoor. Eers is daar ’n dreigende oproep en toe baie vreemde gedrag van sy beste vriend, Andries, wat uitvra oor wat die mafia met jou sal aanvang as hulle jou vang, en wat is die storie met Alex en Zandria, die bibliotekarisse wat so om hom draai? En natuurlik kan mens nie die hele gedoente om die teddie met die strikdas tersyde stel nie. Is dit Andries of Erika of Cedric s’n, en hoekom is daar klippe in die teddie se maag?
Felicity is die vriendin wat alles laat reg uitwerk, maar het sy bybedoelings? Want genade, sy is darem baie bedrewe as misdadige woekeraar.
Dis ’n heerlike lekkerlag stuk en vir daardie paar minute vergeet jy van alles wat sleg en mal buite die teaterdeure is. Dis net verwarring, ’n cha-cha-cha-cha met boekrakke in ’n biblioteek en baie twyfel.
Eben Cloete as Cedric, Sadi Janse van Vuuren as Deirdré, en Eli Ecroignard as Alex staan uit, want hulle omarm die hele klug-genre soos gesoute akteurs soms nie kan nie.
Hoërskool Eldoraigne in Centurion se Kou my vingers tot die been word in die program bloot as “postmodernisme, absurdisme” gekategoriseer, en die programnota lees: “Moenie dit oordink nie. Moenie dit vashou nie. Laat gaan.” Maar met dié titel word daar tog gesuggereer dat jy nie rustig gaan agteroor sit nie.
Ek voel nie nader aan enige verklaarbare opsomming nadat ek die stuk gesien het nie. Die verhoog lê bestrooi met speelgoed, klein kinderstoeltjies en ’n kindertafeltjie, amper soos die gebruikte speelgoed in ’n dokter se wagkamer. Die karakters het elkeen hul eie televisieskerm wat eintlik ’n spieëlbeeld van hul eie lewens is. Hul dialoog is brabbetaal en hulle neem om die beurt die woorde as hul eie. Die boodskap dat alles eendag net alles anders was, word herhaal. Alles – behalwe hul angs vir alles. Dit verander nooit nie.
Hulle smag daarna om kind te bly; mis hul ouers, hul niggie, hul hond. In hierdie vakuum van wag waar slaap, eet, werk die roetine is, is hulle vasgevang. Dis maar seker die metafoor vir ons almal se lewens.
Verskillende beelde flits oor die skerms. Daar is sterk flikkerende ligte en daardie angstigheid van die flikkering kom sit in jou borskas en bly daar, tot lank nadat die vertoning verby is. “Moenie dit oordink nie. Laat gaan.”
Makliker gesê as gedoen.

Kou my vingers tot die been – Hoërskool Eldoraigne, Centurion (Foto: Nardus Engelbrecht)
Hoërskool Durbanville se Kamp saam is satire uit die pen en onder regie van Chanté Viljoen en Lyla Botha, wat ook by bykans elke ander aspek van die stuk betrokke was. Dis landsdiens- of veldskoolkamp op sy beste. Met al die vooroordeel, kritiek en afguns wat jong meisies bymekaar kan bring. By Kamp Saam is stereotipering die wagwoord en behoede dié wat uit hulle kassie wil klim. “Elkeen is uniek, maar binne streng reëls,” soos die kampreëls bepaal.
Aletta is die nuutste kampeerder. Haar nuuskierigheid laat koppe draai en sy besef hierdie is nie ’n normale verbeteringskamp nie. Sy word bekendgestel aan die meisies wat bibber en beef sodra Kampberader opdaag.
Sy maak ook kennis met die Goeies (met Sandrine as leier) en Slegtes (met Jade as leier). Waar sy inpas, weet sy self nie. Sy moet deel van die samelewing wees – samelewing wat vooropgestelde idees oor jou het en jou kritiseer, ongeag watter kant toe jy gaan. Sy moet wel kies, maar is nie goed óf sleg genoeg om ’n tropdier te word nie. Die kamp se reëls is vir haar belaglik – onnodig en inperkend. Terwyl sy probeer om die ander te oortuig dat hulle nie hoef in te val in die stereotipering nie, maak sy die gaping tussen haar en hulle net groter.
Dit het ’n stewige rolverdeling, en verskeie karakters skitter, maar dis Lanelle Knoessen as Aletta – wat as ambassadeur vir almal staan wat nie weet waar hulle inpas nie – wat hier aandag trek. Sy waag dit om vrae te vra, te rebelleer, en haar man te staan as sy nie saamstem met die breinspoeling en emosionele skade wat die Kampberader aan elke dogter berokken nie.
Ek voel hoe die hare in my nek orent staan en hoe al daardie nare herinneringe van daardie onnies op skool wat regte Kampberaders was, sommer oor my spoel.
Hoërskool Garsfontein in Pretoria se Hoe lyk ’n engel? is ’n drama met Duandré Vorster se teks en regie, klank en beligting, met ouerbegeleiding, en dit vertel die storie van Karla wat wonder hoe ’n engel lyk. Sy en haar ma swerf van dorpie na dorpie nadat haar ouers geskei is, en sy het werklik ’n engel in haar lewe nodig om die pad te wys. Haar ma is deur haat verteer; sy is kwaad vir die wêreld, vir haar eks en vir God. “Ek is vrou. Ek is ma. Ek is moeg.” Sy word blind vir haar dogter se seer van die verlies van ’n gesin waar sy veilig gevoel het.
Karla maak ’n nuwe vriend, maar die skeur tussen haar en haar ma word groter. Sy verlang na die verlede toe sy en haar broer en ouers ’n gelukkige gesin was.
En net soos daar ’n ligstraaltjie in die ma-en-dogter-verhouding kom, gryp die noodlot in. Die lewe is toe nie so lig soos die wolke soos haar ma altyd vertel het nie, maar Karla besef uiteindelik dat ’n engel op haar ma se gestalte geskoei is.
Die stuk gebruik aktetasse en lere baie doeltreffend. Dis asof die karakters nie hul bagasie kan agterlaat nie en die op-en-af by lere die metafoor van hul opdraande stryd en soeke na antwoorde word.
Wat hier vir my hinderlik was, was die baie sterk Christelike aanslag. Dit was amper te prekerig en voel net té eksklusief in vergelyking met die ander stukke wat verskillende kulture, gelowe en tale omarm. Die stuk het my teruggeneem na my hoërskooldae toe ons onder ’n vingerswaaiende maniak geleef het en alles sonde was en Afrikaans en Christenskap die enigste manier van lewe mog wees.
Hoërskool Hugenote in Springs se Wat wolke weeg uit Kobus van der Schyff-Smal se pen het ’n beperking van geen onder-13’s vir taal en seks. 16 jaar gelede, 11 pap babatjies, een verpleegster en ’n halwe music theatre major. Tannie Es het ons almal gered toe dit gebeur het – ons was dankbaar ons kon onder in ’n teaterkelder oorleef.
Tannie Es is ons almal se mamma, maar Isak se regte een. Ons is nou twee jaar hier waar die son nie skyn nie. Volgende bestemming: Daar bo ... hopelik.
Twee lande, twee gelowe en een knoppie in 2024 – wie weet watter lande en watter leiers daarvoor verantwoordelik was. Hoe ook al, die aarde is een groot radiasieput en Elon se vuurpyle na die Rooi Planeet is al genade.
Die water is giftig, behalwe dit wat neerreën, en een straaltjie sonskyn is al waarna die mense kan uitsien om gesond te bly. Dan kom die kans vir daardie laaste vuurpyl, maar daar is nie genoeg plek nie ...
En Tannie Es sê ons verdien in elk geval nie ’n tweede kans nie; die planeet wat ons gehad het, het ons versmoor en verniel.
Maar tussen alles deur is daar liefde wat alles oorwin, en dalk, dalk, is daar hoop vir weer begin.
Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad se Callback is ’n metateatrale tragikomedie wat die spreekwoordelike ui se laaste drie skille afdop en oopvlek. Die eerste skil is ’n “oudisie”. Hoofrol bevind hom in ’n tong-in-die-kies wêreld waar hy vir sy plekkie in die son veg. Die tweede skil, ’n “produksie”, is ’n ongenaakbare, eerlike blik in 17 karakters se binnestes. Derdens bevind die karakters hulle in die callback. As jy ’n oudisie kon aflê om terug te kom aarde toe in ’n heel ander lewe, sou jy? Hoofrol rafel voor ons oë uit tot net sy kern oorbly – ’n nar. Welkom by sy laaste callback.
Potchefstroom Gimnasium se Spel deur Pierre-André Viviers
Die koerantopskrifte lui: “4 SEUNS VERMIS”.
Drie jong seuns – elk met ’n kleurryke verbeelding – speel saam in ’n openbare parkie. Iets wat elke dag regoor die wêreld gebeur. Doodgewone pret – of nie? Maar die drie se opwindende kinderspeletjies maak wilde spronge oor die streep tussen spel en realiteit...
Maar as die koerantopskrifte verklaar dat vier seuns vermis is, val die doodgewoon en pret sommer gelyktydig by die venster uit. En elke ouer se grootste nagmerrie word ’n realiteit.
Ek is dankbaar ek het nie kinders nie. Uitstekende spel deur Etienne Dannhauser as Barend, Shaun du Plessis as Henno en Pieter Kruger as Dirko.
Nog inligting oor die geleentheid is hier.
Die wenproduksie is vanjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees te sien. Kaartjies vir die wenproduksie by Vir Spot is hier beskikbaar.
Lees ook:
Persverklaring: WKOD vat hande met Proscenium en kunstefeeste
Fotoblad: Langtafel vol lag en deel – Toyota Stellenbosch Woordfees 2024
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Othello – an Instagram review