
https://capechoral.com/
Die Kaapse Koorakademie (KKA), ’n jong skool in Stellenbosch, huisves tans leerders tussen grade 4 tot 10, en spog reeds met hul deelname aan hul tweede Woordfees sedert hul deure in Januarie 2023 geopen het.
In 2023 was die skool bevoorreg om die verhoog te deel met die gekroonde Kaapse barokorkes, maar tydens die 2024 Toyota Stellenbosch Woordfees spog die koor met hul eie unieke produksie wat beloof om die gehoor te neem deur ’n magiese reis in Stellenbosch Universiteit se Endlersaal.
’n Kaapse fantasie weerspieël die misterie van die natuurskoon en fantasieë en sprokies van die Kaap wat nog nooit tevore aangeteken is nie. Hierdie nuwe en opwindende koorwerk vir kinder- en jeugkore, met kindersoliste, ’n strykorkes en orrel, is gebaseer op verskeie gedigte geskryf deur leerders van die Kaapse Koorakademie.
Die uitvoering is ’n ware weerspieëling van die demografiese samestelling van die Kaap, en neem gehore op ’n magiese reis van klank en kultuur, saamgevat in Afrikaans, Xhosa, Engels, en Afrikaaps. Die nuutgeskrewe koorwerk skakel ook treffend met die eerste werk van ’n jong WA Mozart, ’n klein Mis vir koor, soliste, en strykers. Hierdie uitvoering is ’n eerbetoon aan die kinders van Kaapstad wat die bergtoppe en skoonheid verstaan, en ook aan die Salzburgse kind wat uit ’n sprokiesagtige wêreld kom: ’n herinnering dat musiek geen grense ken nie en die harte van mense van alle kulture kan raak. ’n Besonder spesiale aspek agter hierdie produksie is dat die leerders ’n integrale rol gespeel het tot die ontwikkeling van die produksie; al die lirieke is gegrond om gedigte wat die leerders self geskryf het.
Die meeste van hierdie gedigte was dan deur die leerders self getoonset, terwyl personeel van die KKA die wysies en gedigte verwerk het om ’n splinternuwe koorwerk te skryf vir jeug- en kinderkore. Die werk is verder aangepas om ’n strykensemble, orrel, en soliste te akkommodeer. Die produksie is ook bevoorreg om talentvolle kunstenaars soos onder andere Toni Rooms (dirigent, solis, en komponis), Sung Jun Chung (solis), Diederick Basson (ervare orrelis), Johanna Roos (bekende violis), asook Estelle Kemp (bekende opkomende musikant) deel te maak van die Woordfeesspan.
Alhoewel die KKA se koor bestaan uit leerders tussen die ouderdomme van 12 en 17, kan hierdie koor kers opsteek van die beste kore in die land. ’n Kaapse fantasie word ook met trots deur die Ruperts Musiekstigting en die Accountability Group (PTY) Ltd ondersteun.
Agtergrond van die produksie:
’n Kaapse fantasie is deur die leerders en personeel van die Kaapse Koorakademie gekomponeer vir die Stellenbosse Woordfees in 2024 en word op die 5de Oktober 2024 vir die eerste keer in die Endlersaal, Stellenbosch, uitgevoer. Die struktuur van hierdie werk is deur die kinders van CCA uiteengesit in werkswinkelsessies gelei deur Xander Kritzinger en sy musiekpersoneel. Die musiek is deur die kinders gekonseptualiseer, en hoofsaaklik genoteer, verwerk en georkestreer deur Toni Rooms met bykomende komposies en verwerkings deur Xander Kritzinger en Diederick Basson. Toni Rooms en Xander Kritzinger het die finale redigering en samestelling van die finale partituur gedoen. Die proses het oor oor vier maande gestrek vanaf Junie tot September 2024.
Die narratief van ’n Kaapse Fantasie neem ons op ’n reistog wat bo-op Stellenboschberg begin. Daarna beweeg ons af tot in die dennewoude net onder die kranse wat ’n gevoel van verdwaaldheid versinnebeeld. In die woud ontdek ons ’n grot. As gevolg van ons nuuskierigheid ondersoek ons die onheilspellende grot en alles wat dit moontlik kan inhou.
Ons word vasgevang in die onvoorspelde duister. Dan kry ons dit reg om te ontsnap en ervaar ’n versigtige vryheid. ’n leer verskyn skielik en ons begin klim na bo terwyl ons soms sukkel en struikel wat simbolies is van ons konstante dryf om bo uit te kom. Ons voete gly soms af maar ons maak dit to heel-bo. Bo-op die wolke staar ons in verwondering na die niks en ervaar ons ’n kinderlike vrede net voor onweer stadig begin broei tot ’n reusestorm wat woed in al sy mag en glorie terwyl ons in die wolke wegkruip. Die donder ruk en die blitse skiet, die reën sak uit op die aarde met grasieuse wonder en dan is dit skielik net als verby.
’n Dubbele reënboog verskyn wanneer die son en die laaste reëndruppels begin dans en ons gly by hom af tot in die wingerd in. In die wingerd vier ons fees en oorrompel die wysheid ons met alles wat ons geleer het op die berg, in die woud, in die grot, op die leer, op die wolke, in die storm en weer af met die reënboog. Die belangrikste ding is hoe om steeds fees te vier, veral in die middel van die wingerde. Die werk word afgesluit met die hoof-fantasie-tema wat ’n gevoel van verborgenheid vestig. Onder die helder Kaapse hemel strek die wingerde uit vol drome. ’n Kaapse fantasie vier Afrikaans en sy variëteite se verhouding met Xhosa en Engels in ’n smorgasbord bord van klanke, denke en kulture wat ons as samelewing in ’n nuwe rigting van hoop en samehorigheid instuur.
Datum van optrede:
5 Oktober 2024
Endler:12h00 - 13h00
Kaartjies beskikbaar via Quicket en by hierdie skakel.
Lees ook:
Lara Foot’s Othello at the Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Dhania Kara Schultz’s review
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud oor American rhythm

