Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Vergeet van my (en moenie vergeet van gratis of goedkoop vertonings nie)

  • 0

Filmplakkaat: Silwerskermfees; Woordfeestemaagtergrond: woordfees.co.za

Dalk laat die film se titel dit ironies voel.

Daar is opvallend min mense in die Neelsie-vertoning van Vergeet van my. Miskien is dit die sneeu op die berge.

Die film (’n kort dokkie) is Beer Adriaanse se vertelling van die totstandkoming van, en sy reis met, die alternatiewe Afrikaanse rockgroep Zinkplaat. Die film bied beeldmateriaal van ’n seuntjie vir wie alles met musiek begin, sy grootword en sy drome oor musiek maak. Die fliek bied ’n blik op ’n tydperk, ’n era. Dit wys die ekstase, die chaos, die intensiteit van die skeppende Afrikaanse rockmusikant. Maar mens kan nie vir altyd op toer gaan sonder om veel te beplan nie. Dis dalk oulik om jonk te wees en sonder ’n tent op reis te gaan (omdat jy nie daaroor nagedink het nie), maar iewers, eendag, is daar meer uitgawes om mee rekening te hou. ’n Hele wêreld se ekonomie kan jou band se ondergang help bewerkstellig. Die film handel oor die verganklikheid van dinge. Dit handel oor verlies. Dit handel oor hoe alles nie dieselfde kan bly nie.

Om iets van hierdie film te verstaan, hoef jy nie jonk te gewees het in die tyd wat Beer Adriaanse beskryf nie. Jy kan steeds ’n student wees. Of ’n volwassene wat heelwat ouer is en terugkyk na ’n ander tydperk, met ’n ander samehorigheidsgevoel.

Dit kan die beeldmateriaal wees wat slim bymekaargevoeg is, of Beer se teks – wat gestroop is van onnodige woorde, en wat net die nodigste vertel of impliseer – wat hierdie film die moeite werd maak om te gaan kyk.

Dis gratis en dit vertoon weer by die Woordfees! Hier is nog inligting

Die Spaar Bar is een manier om geld te bespaar by die Woordfees. Gaan na Erfurthuis om elke dag ’n halfpryskaartjie van ’n vertoning te koop wat binne die volgende vier uur op daardie selfde dag plaasvind. As jy op Stellenbosch woon, het jy nie ’n verskoning om te kla dat alles by die Woordfees te duur is nie. Daar is gratis vertonings en daar is halfprysvertonings. Hier is die nog inligting oor vanjaar se Woordfees as jy wil sien wat nog vandag uitgesonder word. 

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Saartjie Botha

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe

Marie se laaste dag by Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n kort resensie van ’n kortfilm

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Othello – an Instagram review

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top