
Plakkaat: https://silwerskermfees.co.za/
Hulle sê mens skryf ’n roman as jy nie ’n suksesvolle kortverhaal kan skryf nie. Ek dink hieraan direk nadat ek ’n halfuur lange fliek by die Woordfees gesien het: Marie se laaste dag, ’n kortfilm; dis ook ’n kortverhaal.
Terwyl ek dit kyk, beleef ek herinneringe aan Hennie Aucamp en Chris Barnard se kortverhale.
Die film skop af op die laaste dag voor die nuwe oorgangsregering in 1994 aan bewind kom. En op die eerste dag van die nuwe bestel, die nuwe begin.
Hoe moeilik om ’n komedie te laat slaag in ’n land met soveel sensitiwiteite vir mekaar. Hoe vars en eerlik en bitter ongemaklik-snaaks is hierdie kleinverhaal.
...........
Hoe moeilik om ’n komedie te laat slaag in ’n land met soveel sensitiwiteite vir mekaar. Hoe vars en eerlik en bitter ongemaklik-snaaks is hierdie kleinverhaal.
.............
Mens kan hierdie film ook net gaan kyk net ter wille van Mandri Sutherland se hoofrolvertolking. Sy speel die karakter Marie met warmte en deernis en baie onderliggende humor. As mens vir Marie lag, lag mens saam met haar. Sy is nie bespotlik nie. In ’n besonder kort tydjie kruip sy heeltemal onder mens se vel in.
Die slot van die film is op een vlak geheel en al bevredigend, al is dit op ’n ander vlak problematies.
Oplaas kan mens sê: Dis ’n land se grootwordverhaal. Dis ’n vrou se grootwordverhaal. Ek wens hierdie film het nog baie langer aangehou. Mens kan nie genoeg daarvan kry nie. Maar dan was dit nie so presies rég nie.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud oor Marie se laaste dag