
https://vrystaatkunstefees.co.za/karl-schoeman-gedenklesing/
Willie Burger het die tweede Karel Schoeman-gedenklesing by 2024 se Vrystaat Kunstefees gelewer. Hier is die agtergrond van die lesing.
In aansluiting by die werk van Walter Benjamin word die aard van Schoeman se omgaan met die verlede in sy romans ondersoek. Dit gaan nie vir Schoeman om die blote opteken van feite oor die verlede nie. Hy is geen kroniekskrywer (soos al beweer is) nie. Hy bou ook nie magistrale verklarende historiese verhale nie. Hy is deurgaans besig om enkele momente uit die verlede tot ons hede te laat spreek. Benjamin se idee van die "dialektiese beeld" word gebruik om Schoeman se omgaan met die verlede te belig. Benjamin het met hierdie begrip die historisisme verwerp: die historisisme as ’n beskouing van geskiedenis as ’n onstuitbare, logiese gang van oorsaak en gevolg waarin elke historiese oomblik binne ’n samehangende, aaneenlopende, enkele verhaal geïntegreer kan word. Die dialektiese beeld is ’n enkele gebeurtenis wat uit die verlede geneem word en wat ’n revolusionêre potensiaal verkry – om ’n invloed op die hede te kan hê – wanneer dit as’t ware uit die stroom van die geskiedenis gered word om tot die onmiddellike hede te spreek. In hierdie lesing word aangetoon dat dít by uitstek is wat Schoeman met sy Stemme-drieluik gedoen het, en daarmee word ook aangedui dat Schoeman inderwaarheid, anders as wat dikwels deur literatore (bv Andre Brink) gemeen is, ’n werklik "betrokke" skrywer was.
As mediavennoot van die geleentheid publiseer LitNet 'n video-opname van die volledige lesing.
Lees ook:
’n Vreemdeling in die land: ’n kortverhaal uit 1965 van Karel Schoeman in die Ierse taal

