Schoeman en die VOC-tyd: Historikus of kroniekskrywer?

  • 2

Dan Sleigh het voor sy dood oor Karel Schoeman as historikus geskryf, en sy dogter Jean Sleigh het die teks aan LitNet gestuur om te plaas as meningsartikel.

Karel Schoeman (Fotobron: NALN)


Schoeman en die VOC-tyd: Historikus of kroniekskrywer?

Nie almal wat oor gebeure in verlede tye skryf, kan as historici beskou word nie. Het Karel Schoeman dié titel verdien? Voordat geskiedenis as vak hier aan universiteite gedoseer en nagraadse studente in die teorie en metodiek van die vak opgelei is, is gebeure uit die Suid-Afrikaanse verlede, of aspekte daarvan, deur kroniekskrywers in verbeelde vorm aan ’n geteikende publiek aangebied. ’n Kroniekskrywer beskryf gebeure uit die verlede in chronologiese volgorde. Aan die einde van die negentiende en begin van die twintigste eeu was daar byvoorbeeld D’Arbez (skrywersnaam van JF van Oordt), ’n skrywer van historiese romans op Afrikaanse lesers gemik. Die inligting vir sy gewilde verhale, van Van Riebeeck se tyd af tot dié van Paul Kruger, het hy onder andere uit die werk van ’n mede-kroniekskrywer, G McCall Theal geput.1 In dieselfde kategorie was Gustav Preller, ’n joernalis en taalstryder, wat “geskiedenisse” in Afrikaans geskryf het in ’n tyd toe dit hoofsaaklik in Engels gedoen is. Sy belangstellingsvelde was onder andere die Groot Trek en die Tweede Vryheidsoorlog. Sy styl was propagandisties en nie-objektief; as Afrikaner-nasionalis wou hy “sy volk” van hul “nasionale verlede” bewus maak, al was sy bronne soms gebrekkig en sy gegewens onnoukeurig.2 In dieselfde tydperk was Engelse kroniekskrywers soos HCV Leibbrandt (’n argivaris), Ian Colvin (’n joernalis) en EE Mossop (’n apteker) aktief. HCV Leibbrandt was ’n predikant sonder argivale opleiding of ervaring wat in 1881 op omstrede wyse as eerste argivaris van die Kaapkolonie aangestel is. Hy het VOC-dokumente vir publikasie in Engels vertaal en selfs opgesom, aktiwiteite wat myns insiens onnodig en ’n vermorsing van tyd en geld was. Vir sy Précis of the Archives of the Cape of Good Hope, rakende die VOC se Daghregisters , Resolusies van die Politieke Raad, Inkomende en Uitgaande Briewe, Memoriën, ens, en sy reeks Rambles through the Archives of the Colony of the Cape of Good Hope, 1688–1700, het hy na willekeur uit oorspronklike dokumente gekies, uittreksels gemaak, weggelaat, opgesom en vertaal.3 Dié redigering deur ’n leek, sowel as die onvolledigheid daarvan, maak Leibbrandt se publikasies onbruikbaar vir ernstige navorsing; dit kan hoogstens as ’n gids tot die opspoor van primêre argivalia gebruik word.

Karel Schoeman het van veel van Leibbrandt se publikasies gebruik gemaak. Leibbrandt het in sy Rambles through the Archives die kant van die afgesette goewerneur WA van der Stel (1699–1707) teen die Kaapse burgery gekies en die goewerneur se wanadministrasie probeer verdedig. Dié beskouing is nagevolg deur AF Trotter in Old Cape Colony (1903) en Ian Colvin in sy Romance of South Africa (1909) in die reeks The romance of Empire. Die reekstitel verklaar die aard en die inhoud daarvan. Die teenoorgestelde sy van die sogenaamde WA van der Stel-kwessie is deur G McCall Theal uiteengesit, in ’n polemiek wat van Augustus tot November 1909 in die koerant Cape Times gevoer is.4 Colvin se Cape of Adventure (nog ’n selfverklarende titel) het in 1912 verskyn.5

Bogenoemde amateur “geskiedkundiges” het in ’n populêre styl geskryf en bygedra tot waninligting wat onder die publiek versprei is. Kennisvlakke was laag en daar is op losse voet met “geskiedenis” omgegaan. EE Mossop skryf byvoorbeeld in Old Cape Highways (1927) oor “Colonel Gordon, who took his life after General Janssens’ surrender”6 ’n verwarring van twee tydperke, 11 jaar uit mekaar. Uit D’Arbez se Mooi Annie (1896) kom ’n mite dat Wolraad Woltemade ’n vryburger was, wat tot vandag geglo word. Mossop se werk, nie sonder meriete nie, is ook as koerant- en tydskrifartikels gepubliseer en die destydse Historiese Monumente Kommissie (later die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede) het, by gebrek aan kundige personeel, op Mossop se inligting plekke of voorwerpe tot gedenkwaardighede verklaar.7

Hul tydgenoot G McCall Theal (die amptelike koloniale historikus) kan beskou word as ’n oorgangsfiguur tussen die kroniekskrywers en geskiedkundiges. Die historikus AJ Böeseken het hom as ’n baanbreker geloof. Hy kom ook uit die voor-wetenskaplike era, was ook ongeskool in die vak, was bevooroordeeld teen swart mense in hul stryd teen wittes en het ook selde voetnote gebruik, dokumente vertolk of bronne vermeld, maar sy inligting is meesal korrek en sy werk, steeds gebaseer op argivale dokumente, is van ’n hoër standaard as die van ander kroniekskrywers. Theal was die eerste wat probeer het om ’n omvattende en gedetailleerde geskiedenis van Suid-Afrika saam te stel. Daarvoor het hy jare in Europese argiewe deurgebring om dokumente te kopieer. Onder sy reuse-uitset tel die elfdelige History of South Africa, driedelige Basutoland Records, negedelige Records of South East Africa (oor die Portugese handelsryk), die 36-delige Records of the Cape Colony, en die steeds nuttige “Verbatim Copien” van belangrike VOC-dokumente wat hy in die Haagse Argief gekopieer het. Die historikus CFJ Müller wys op weglatings of gapings in Theal se “geskiedenisse”, maar sy publikasies kan as ’n nuttige basis vir verdere studie gebruik word.8

Schoeman het ook veel gebruik gemaak van Donald Moodie se The record. Moodie (1794–1861) was iets anders as ’n kroniekskrywer. As staatsamptenaar is hy deur die Kaapse koloniale regering aangestel om amptelike dokumente in die koloniale argief te selekteer, kopieer, dit indien nodig in Engels te vertaal en te publiseer, met die oogmerk om die sendeling Philip se gepubliseerde verdraaiings te weerlê. Moodie moes ’n eed aflê om volledig en sonder kommentaar te kopieer. Sy driedelige The record “relative to the condition and treatment of the native tribes of South Africa” is van 1832 tot 1841(?) in Kaapstad gepubliseer.9 Die geselekteerde inhoud, vertaling en gebrek aan kommentaar maak die werk ongeskik as ernstige naslaanbron.

In die vorige eeu was die joernaliste Lawrence Green en Jose Burman gewilde skrywers van geromantiseerde vertellings uit die verlede op wie se inligting daar geen staat gemaak kan word nie. Nie net amateurs nie, maar ook opgeleide (of swak opgeleide en onervare) historici was skuldig aan die skep en verspreiding van vals inligting. Uit AC Ras se MA-tesis “Die Kasteel en ander vroeë Kaapse vestingwerke, 1652–1713” van 1956,10 kom byvoorbeeld die wanbegrippe “katmuur” en “katbalkon” vir onderskeidelik die dwarsmuur en pui, en “donker gat” vir die kruitkelder onder bastion Catzenellenbogen. Dié waninligting het in Kasteel de Goede Hoop se toeristebrosjures en ander literatuur beland, waaraan Karel Schoeman, as leek en nie-gebruiker van argivale bronne, hom blootgestel het.

Daar is verskeie ander ooreenkomste tussen Schoeman se werk en die van bogenoemde kroniekskrywers. Voor ek die versoek om hierdie hoofstuk te skryf ontvang het, het ek net twee van Schoeman se vele “geskiedenisse” gelees; die eerste, Handelsryk in die Ooste, Die wêreld van die VOC, 1619–1685 (voortaan word in dié teks na die boek as Handelsryk verwys, en ander verkorte titels word in hakies geplaas) was na aanleiding van ’n versoek om ’n resensie.11 Die tweede boek, Skepelinge. Aanloop tot ’n roman (voortaan Skepelinge) was as gevolg van ’n aantal resensies wat by my die indruk gewek het van luide applous deur lede van ’n gehoor wat nie die verhoog kan sien nie. Na aanleiding van laasgenoemde is my artikel, “Geskiedskrywing in Karel Schoeman se Skepelinge. Aanloop tot ’n roman”, gepubliseer in die 2017-uitgawe van die tydskrif T.N & A. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans.12 My gevolgtrekkings in laasgenoemde geval was grootliks negatief, en die boek Skepelinge sal nie in hierdie hoofstuk uitvoerig ontleed word nie. Vir die huidige teks is verskeie ander van Schoeman se “geskiedenisse” ondersoek om te probeer vasstel of hy as ’n historikus of eerder as ’n kroniekskrywer beskou behoort te word, en as ’n onderdeel daarvan, of sy ongebalanseerde uitlatings in Skepelinge sy gewone styl of ’n eenmalige saak was. My beskouings en gevolgtrekking daaroor sal ek in dié hoofstuk probeer verduidelik; dit is ’n oefening in historiografie en ’n persoonlike meningstuk.

Geskiedenis is ’n intellektuele dissipline wat deur geskiedkundiges beoefen word. Ek weet van geen gestandaardiseerde “grondwet” vir die skryf van geskiedenis nie, maar daar bestaan internasionaal aanvaarde standaarde en gebruike wat dien as universele riglyne. Wat verwag die wetenskaplike benadering van ’n geskiedkundige? Dit word verwag dat ’n historikus die aanvaarde metodiek en teorie van geskiedskrywing toepas, soos om behoorlike voetnotas en ’n betroubare bibliografie te verskaf, dat hy sy navorsing hoofsaaklik doen in primêre bronne uit die tydperk wat hy ondersoek (in die geval van die VOC, uit plaaslike en oorsese VOC-argiewe), dat sy navorsing volledig, betroubaar en korrek is, en dat hy die taal en skrif van daardie argiefstukke aanleer, soos die Engelstalige historici CR Boxer (Nederlands en Portugees) en Eric Axelson (Portugees) byvoorbeeld die taal en skrif aangeleer het van die oorspronklike dokumente wat hulle bestudeer het. Dit word ook verwag dat die geskiedkundige hom toespits op ontleding en vertolking van dokumente in hul verskeidenheid van vorms (tekste, kaarte, planne, ens), moreel neutraal bly, objektiwiteit nastreef en subjektiwiteit afsweer, redelik en ewewigtig is in sy uitsprake, nie die waardes en oordele op gebeure in die verlede toepas nie, nie veralgemenings maak of ander s’n herhaal nie, en dat hy alle tekens van onkunde en vooroordeel uit sy werk weer en geen politieke ideologie in sy teks bedryf nie.

’n Kenmerk (en dit is algemene kennis) van Schoeman se nie-fiksie tekste is die skrywer se erudisie. ’n Tweede kenmerk (ook algemene kennis) is die groot volume daarvan. Volume of hoë produktiwiteit is nie ’n waarborg van kwaliteit of selfs nut nie en dit word ook nie van ’n geskiedkundige verwag nie, dit is dus van geen belang vir die vraag onder bespreking (geskiedkundige of kroniekskrywer?) nie en speel geen rol by die beoordeling daarvan nie. Ek beskik tans (Desember 2021) oor ’n lys van 31 Schoeman-titels wat as nie-fiksie beskou kan word; miskien word daar in die toekoms nog meer van sy nie-fiksie manuskripte gepubliseer. Uit die 31 titels het ek 15 gekies wat verband hou met die Kaapse VOC-tydperk (1652–1795). Dié tekste raak ongelukkig nie net die Kaap en die betrokke tydperk nie, maar die grootste deel van Wes-Europa, die Wes-Kaap en die kus van Asië in die eeue vóór en ook ná die VOC-tyd. Die boeke se titels is soms misleidend in dié opsig.

’n Derde kenmerk van sy werk is die wye en eklektiese verskeidenheid van onderwerpe wat hy vir bespreking byhaal. In sy alfabetiese registers is daar benewens alkatiewe, argitektuur, feeste, forte, handel, huwelike, kleding, meubels, plantkunde, porselein, slawe, speserye, tee en tuine, meermale maatskaplike verskynsels soos buite-egtelike verhoudings, prostitusie en swaarlywigheid, of mode-voorwerpe soos hoepelrokke, binnenshuise versiering, sowel as beddens, biljart, botanie en tafelmaniere (“they wipe their nose on the table cloth”) wat nie normaalweg in VOC-dokumente gevind word nie.

Die skrywer is ’n onvermoeide en vernuftige speurder wat wydte en diepte aan sy leeswerk verleen, daarvan getuig ook die inhoud en lengte van die bibliografieë agter in elke boek. Byvoorbeeld, die boek Armosyn van die Kaap. Die wêreld van ’n slavin, 1652–1733 (voortaan Armosyn 1999/2001) beslaan 855 bladsye, insluitend ’n algemene register van 42 bladsye (dubbelkolomme) lank, ’n persoonsregister van agt bladsye (dubbelkolomme) en ’n bibliografie van 16 bladsye (dubbelkolomme) wat nie minder nie as 502 titels bevat.

Wydlopigheid dra ook by tot die volume. Schoeman waarsku soms, en soms nie, wanneer een van die wydlopige afwykings, wat hy “ekskurse” noem, gaan begin. ’n Kort voorbeeld van sy “ekskurse” is in Dogter van Sion (voortaan Dogter) waar hy in vyf bladsye die maatskaplike toestande in Duitsland beskryf vóór hy die herkoms van Machtelt Smit se man probeer verklaar.13 Soms word hy uiters wydlopig. In Swanesang. Die einde van die Kompanjiestyd aan die Kaap, 1771–1795 (voortaan Swanesang) se hoofstuk agt (“’n Burgerfamilie: die Van Reenens”) verskyn dié familienaam eers ná agt bladsy van teks. In Kolonie aan die Kaap. Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652–1662 (voortaan Kolonie) wat oor Van Riebeeck se tienjarige arbeid aan die Kaap gaan, word verskeie bladsye gewy aan vroue-arbeid en -betaling in Nederland, wat nie betrekking het op die lewe van vryburgers in Van Riebeeck se tyd nie.14 Daar is ook beskrywings van Nederlandse buurte, dorpe, gemeentes, weeshuise, wonings, die lewe op die platteland, die ekonomie en boerdery15 (ongelukkig sonder die hoogs nodige verwysing na die Klein Ystyd), of oor vryburgernedersettings in Batavia, Ceylon, Banda en Ambon,16 wat ook nie juis betrekking het op Van Riebeeck se Kaap nie. Soms lewer sy “ekskurs” bloot beuselagtighede op, soos sy verwysing na die Franse natuurkundige De la Brousse in goewerneur Van Plettenberg se tyd.17

Van Schoeman se beste nie-fiksie, wonderlik interessant met fris en keurige beskrywings en min hinderlike foute en veralgemenings, is myns insiens te vind in die eerste helfte van ’n Duitser aan die Kaap, 1724–1765: die lewe en loopbaan van Hendrik Schoeman (voortaan Duitser), waarin hy probeer om “aan die hand van eietydse dokumente” sy Kaapse voorvader se lewe te herskep, en waarvoor hy weer eens wyd gelees, gesif en gesorteer het. Maar in die tweede helfte van Duitser verloor sy storie spoed, word die skrywer wydlopig en by gebrek aan inligting oor die voorvader begin hy rond te tas onder tientalle ander Duitse tydgenote, verskaf hy trivia oor immigrasie na die Kaap, vryburgers, knegte, vryswartes, die lot van Koina en slawe, boedelinventarisse, voorbeelde van geweld en nogmaals geweld, en sy kroniek vervaag tot ’n algemene beskrywing van die verspreiding van veeboere na verskillende streke van die kolonie. Daar is ook lang woordelikse aanhalings, sy teks verloor samehang en uiteindelik kry die leser, teen sy verwagting, veel meer spesifieke inligting oor boere by wie die voorvader as kneg gewerk het en hul aanverwante as oor die verlore voorvader self. Daarby gesê: Daar is behoorlike bronverwysings, maar uit sy lys van 33 sogenaamde “eietydse bronne”18, wat twee van sy eie werke insluit, is daar net 13 wat nie verwerkings of herskrywings van ander redakteurs is nie.

Die groot hoeveelheid inligting wat in elke boek deur Schoeman opgedis word, is dikwels chronologies van aard, en word vir dié doel aangewend. Chronologie is die kaal beendere van ’n gebeurtenis wat antwoorde verskaf op vrae soos wie? wat? waar? en wanneer? (’n Algemeen bekende stel antwoorde sou byvoorbeeld wees: Van Riebeeck. Maritieme aanvullingsdiens. Tafelbaai. 1652.) Dit is dus slegs beskrywend. Maar historici stel meer belang in die vrae waarom? en met watter gevolg?

Praktiese geskiedskrywing is ’n kuns en ’n wetenskap; die kuns is in die skrywer se styl en taalgebruik, terwyl die wetenskap in toegepaste metodiek lê. ’n Merkwaardige aspek van Schoeman se “geskiedenisse” is sy hantering en die kwaliteit van Afrikaans, wat ’n positiewe punt in sy nie-fiksie werk verdien. Dat hy ’n buitengewone skryftalent het, is bekend. Dit is moontlik dat van sy resensente en ook die lesende publiek, met respek vir sy reputasie as romanskrywer maar onopgelei in die beoordeling van geskiedenis, nie veel dieper as sy woordkuns kyk nie. Dit het met Skepelinge gebeur. Het hy dalk geskryf “deurgaans uit die liefde vir die saak”, soos die resensent H Haasbroek oor Schoeman se werk skryf?19 Maar watter “saak” bedoel resensent Haasbroek, is dit die skryfkuns waarop elke gebore skrywer verlief is, of die taal wat soos kleurvolle ink uit Schoeman se pen vloei? Die artikel wat Haasbroek geresenseer het, is toevallig in Engels geskryf, maar Schoeman het ’n aangetrokkenheid tot Afrikaans gevoel en dit nie weggesteek nie. Hy skryf in die inleidende hoofstuk “Bedankings” voor in Patrisiërs & prinse. Die Europese samelewing en die stigting van ’n kolonie aan die Kaap, 1619–1715 (voortaan Patrisiërs) dat hy nie kan “nalaat om met dank en waardering melding te maak van die pionierswerk [van vier historici] met hul navorsing en redaksiewerk [en dit is] vir my persoonlik ’n rede vir genoegdoening dat hul werk deurgaans in Afrikaans mog verskyn”.20

Toeganklikheid of leesbaarheid is ’n verdere kenmerk van Schoeman se werk. Sy bedoeling, sê hy, “is om dit so leesbaar en aangrypend te skryf soos ’n roman, want voorheen is onleesbaarheid meesal as waarborg vir akademiese integriteit beskou”.21 Dit is jammer dat sy verklaring met so ’n veralgemening eindig, en dat hy nie “akademiese integriteit” deurgaans en as eerste prioriteit nagestreef het nie. Ten opsigte van toeganklikheid, leesbaarheid en ook beskikbaarheid het hy ’n guns bewys aan die Afrikaanse lesende publiek wat Schoeman se “geskiedenisse” oor die algemeen kan beskou en waardeer as ’n toevlug. Hy het inligting wat vir die meeste lesers moeilik toeganklik is, in naslaanbiblioteke se kluise en rakke versamel en dit toe, met klem op die interessantste aspekte, verwerk tot “makliker” boeke vir die entoesiastiese lesers van Kaapse “geskiedenis”, en dit beskikbaar gemaak in die bereikbare voorstedelike provinsiale biblioteke.

Die meriete van Schoeman se bydrae tot die korpus van kennis oor die VOC-tyd, al maak dit nie ’n beter historikus van hom nie, lê in sy bekendstelling van nuwe inligting wat nie tevore in Afrikaans beskikbaar was nie. Hieronder tel hoofstuk 10 van Handelsryk, oor die ryk, kleurvolle sosiale lewe van die VOC se hooggeplaastes in Batavia, wat uitmunt in die omvang en detail van sy beskrywings.22 In Kinders van die Kompanjie. Kaapse lewens uit die sewentiende eeu (voortaan Kinders) is die hoofstuk “Bandiete en Bannelinge” ’n voorbeeld van die skrywer se begrip van die uitgerekte konflik tussen die VOC en opstandige Oosterse regeerders, van wie sommige onder dwang met gesinne en volgelinge in die Kaapse samelewing beland het.23 ’n Verdere voorbeeld van sulke inhoud is die kort biografieë van die slawe Angela van Bengale, Evert van Guinee en Maria Evertsz in die boek Early slavery at the Cape of Good Hope, 1652–1717 (voortaan Slavery).24 Die boek Dogter vul ’n groot leemte in inligting ten opsigte van die agtiende eeuse piëtiste-beweging en die aktiwiteite van sendinggenootskappe.

Subjektiwiteit

’n Nuwe belangstelling in maatskaplike sake en menseregte het slawe en slawerny as ’n gewilde studieonderwerp na vore gebring, hoewel ideologiese dryfvere nie buite rekening gelaat kan word nie. Die populariteit van die onderwerp kan lei tot verwarde sentimentaliteit, soos dat ’n moderne burgemeester van Amsterdam hom geroepe voel om namens die stad om verskoning te vra vir die stad se deelname aan slawehandel, asof ’n stad ’n gewete of ’n bewussyn het, en al is Amsterdam se laaste slawe en slawehandelaars al eeue gelede dood en kan hom nie hoor nie. ’n Geskiedskrywer moet hom van ’n vertoon van sentimentaliteit of emosie weerhou; enige emosie is altyd sy eie, dit gaan dan oor die skrywer, en hy moet nie sy private lewe met die geskiedenis meng nie. Die resensent AT van Deursen stel dit so: “Het is tamelijk onvruchtbaar het verleden gevangen te houden in een dilemma van schaamte en trots. Het een noch het ander kan de doel van de geschiedschrijving zijn. We beoordelen het verleden dan naar de emoties die het bij ons oproept. […] Maar geschiedenis gaat niet over onszelf, ze gaat over andere mensen. […] Of dat ons dan stof geeft tot lijden of verblijden is niet van wezenlijk belang.”25

Schoeman is geneig om in sy tekste simpatie te betoon met mense uit sekere klasse wat hedendaags tot “onderdruktes” veralgemeen word, wat al eeue dood is en nou niks meer as woorde op papier is nie. In die vertoon van simpatie is hy nie moreel neutraal nie maar eensydig. Hy skryf byvoorbeeld dat dit hom “’n sekere genoegdoening” gee dat sekere gestrafte Koina uit aanhouding ontsnap het, maar wys daarteenoor nie die minste meegevoel met die onskuldige slagoffer wat deur hulle aangerand en beroof is nie.26 In Slavery is sy houding aanvanklik beheersd, neutraal en gebalanseerd ten opsigte van slawe.27 Hy haal voorbeelde aan van goeie behandeling en tevrede slawe en noem selfs die moontlikheid van die (myns insiens onwaarskynlike) heimwee van ’n vrygestelde slavin na die Slawelosie.28 Die laaste hoofstuk van Slavery noem hy “Coda: the turning point”, en vertel daarin hoe gunstig en voorspoedig sosiale sake aan die einde van die sewentiende eeu vir dié deel van die gemeenskap bekend as “vryswarten” voorgekom het. Dan wyk hy af van die gebalanseerde benadering en beskryf ’n insident wat op 26 Desember 1698 op die pui van die Kasteel afgespeel het en noem dit “a single symbolic incident”.29 Op Boxing Day (’n anachronisme, oorgeskryf uit Leibbrandt?), skryf hy, is daar ’n bakleiery “on the Kat Balcony” (’n wanbenaming, deur hom ongekwalifiseer uit sy bron oorgeskryf) tussen ’n vryswart skoolmeester en ’n wit skoolmeester wat elkeen ’n groep leerlinge daarheen gebring het, vermoedelik om ’n kerkdiens by te woon. (Die raadsaal het destyds as kerk gedien.) Sy aanname dat daar op die dag ’n kerkdiens kon wees, kan toevallig korrek wees; ’n proef uit die Daghregisters vir 1712, 1713 en 1737 toon dat daar elke keer na ’n Nagmaaldiens op 25 Desember ’n opvolgpreek op 26 Desember gehou is. Raadslid Johannes Swellengrebel raak by die geveg op die pui betrokke; hy gooi die vryswart persoon (’n gewese bandiet) teen die grond en skel hom uit as ’n swart hond wat nie sy hand teen ’n Christen moet lig nie.30 Daarna loop Schoeman se argument dood in bespiegelings oor eer, ras en godsdiens (heiden en Christen).

Waarom beskou hy die voorval as simbolies of ’n keerpunt ten opsigte van rasbewustheid? Hy behou nie sy afstand nie. Dit verhoed dat hy sien dat ’n insident wat hedendaags as ’n rasse-insident met geregtelike gevolge bestempel sou word, destyds nie veel aandag sou trek nie. Hy het moreel betrokke geraak, wat voorkom dat hy opmerk (hoe onaangenaam die insident vandag ook voorkom) dat Swellengrebel as lid van die regering net die sosiale status quo herstel het, met die middele en tipiese gebrek aan simpatie van sy tyd. Metafisika behoort nie as ’n geskiedkundige argument aangewend te word nie; simbole (negatief óf positief) bestaan net in die waarnemer se gedagtes. Shakespeare het dit, by monde van sy Hamlet-karakter, so gestel: “There is nothing either good or bad, but thinking makes it so.”31 Die aanwysing en benoeming van “simbole” is dus onvanpas, omdat dit ’n abstraksie en Schoeman se persoonlike gedagte is.

In Skepelinge dryf Schoeman sy subjektiwiteit en emosionele betrokkenheid tot onaanvaarbare uiterstes. Een voorbeeld: dat hy nie na ’n Kaapse gewelhuis kan kyk sonder om in sy verbeelding die pynkrete van slawe te hoor nie.32 Ek het dié verskynsel uitgebreid bespreek in die artikel “Geskiedskrywing in Karel Schoeman se Skepelinge”. In sy boek Dogter aanvaar Schoeman ’n stelling van die historikus Robert Ross dat “a mild slave regime is a contradiction in terms”, waarmee hy ’n genuanseerde bestaan van die gruwel (slawerny) aan die Kaap en ook internasionaal ontken. Myns insiens het Ross hier semantiek ingespan om ’n veralgemening en non-sequitur te skep. Schoeman noem Ross se siening “heilsaam”,33 neem dit kritiekloos oor en wyk so af van die riglyn dat historici nie deur moderne oë nie, maar deur tydgenootlike oë na die verlede moet kyk. ’n Alternatiewe beskouing is dat slawerny as ekonomiese verskynsel en sosiale euwel vergelykbaar is met ’n fisiese siektetoestand soos kreupelheid of blindheid, wat in verskillende vorms en grade kan bestaan. 

Bronne

Dit is opmerklik dat Schoeman grootliks sekondêre bronne (dit is geredigeerde of verwerkte tekste) vir sy navorsing gebruik. Waarom het hy dié beleid gevolg en nie die oorspronklike VOC-dokumente, wat beskikbaar en behoorlik georden by die (huidige) Wes-Kaapse Argiefbewaarplek en Rekorddiens (WKARD) bewaar word, vir sy reuse-navorsingsprojekte gebruik nie, maar gepubliseerde en selfs vertaalde weergawes daarvan? Hy erken in een van sy eerste “geskiedenisse”: “Daar is min oorspronklike navorsing onderneem […]. Soos vir beroepshistorici duidelik sal wees, is dit nie die werk van ’n historikus nie.”34 Hy verduidelik dan dat hy probleme gehad het met die lees van die Nederlandse dokumente, “opgestel in die moeilik toeganklike gotiese skrif van die tyd” wat volgens hom “moet wag op ’n navorser met die nodige kennis, ervaring, belangstelling en geduld om dit na behore te ontsluit”.35 Aansluitend hierby: “Vir moderne Suid-Afrikaanse navorsers is die sewentiende eeu met sy moeisame Nederlands en gotiese skrif nog suiwer Middeleeue, en hulle verkies helaas om op die helderder en meer toeganklike agtiende eeu te konsentreer. Die Kaapse sewentiende eeu wag nog op verkenning.”36 Dat dit te moeilik sou wees om te lees vir iemand van Schoeman se intellek, taalvaardighede, ondernemingsgees en werksvermoë, is moeilik om te glo. Sy stelling: “Die Kaapse sewentiende eeu wag nog op verkenning” is eenvoudig onwaar en dui op beperkte kennis van bestaande werk.

Waarom is dit noodsaaklik om oorspronklike dokumente te gebruik? Omdat inligting wat hulle bevat met elke dokument se vertaling, herskryf of tegnologiese herskepping kan verlore gaan. As voorbeeld: ’n Swart en wit foto van LM Thibault se plan van die VOC-buitepos Clapmuts in die Wes-Kaapse Argiefbewaarplek toon al die mure as grys en die vertrekke se gebruiksname word aangedui (“cuisine”, “chambre á coucher du Baas”, ens) en as sulks kan dit in goeie trou as ’n volledige stel inligting beskou word.37 Maar dit is nie. As die oorspronklike kaart in die Nationaal Archief, Den Haag ondersoek word, kom nuwe inligting en ook verskeie vrae na vore. Die mure se verskillende kleure wys duidelik dat dit ’n ontwerp of bouplan is vir aansienlike aanbouings, bestaande uit verskeie vertrekke met hul eie vensters en buitedeur op die voorstoep en ongebruiklike name soos “cabinet”, “chambre á coucher” en “salle de manger”, en hoogs ongewoon, ’n binnehuise-latrine, wat op iets soos gastekamers of ’n aparte woonstel dui. Vir watter doel en watter hooggeplaaste se gebruik sou sulke gerief op ’n Kompanjiespos amper teen die einde van die Kompanjietyd gebou word? Sulke bouwerk is nooit deur die Politieke Raad gemagtig nie. Wie het dit versoek of goedgekeur?38

Schoeman staan nie totaal onkrities teenoor Leibbrandt as bron nie. In Armosyn (2001) erken hy tekortkominge en swakhede van Leibbrandt se werk: “Volgens Leibbrandt se opsomming met sy kenmerkende weglating van name”39 en “Leibbrandt se swak transkripsie” in Kolonie (159). Hy erken dat Leibbrandt se teks “gekuis” (sy beskrywing) is, en “helaas weer in Leibbrandt se vertaling”.40 Hy noem in Here en Boere. Die kolonie aan die Kaap onder die Van der Stels, 1679–1712 (voortaan Here en Boere) een maal Leibbrandt se “uiters summiere transkripsies” (dit is onduidelik wat hy daarmee bedoel)41 en in Burgers & Amptenare. Die vroeë ontwikkeling van die Kolonie aan die Kaap, 1662–1679 (voortaan Burgers) na “Leibbrandt se enigsins afgewaterde Engelse vertaling”.41

Schoeman se gebruik van Leibbrandt se vertalings, wat meebring dat briefwisseling tussen die Hoë Raad van Indië en Kaap de Goede Hoop, en selfs Van Riebeeck se Daghregister nou in Leibbrandt se laat-negentiende eeuse Engels gelees moet word, is vals weergawes van die sewentiende eeuse dokumente se aard en moontlik selfs die inhoud.42 Teenoor Moodie se vertalings (“The record”) en Mandelbrote se vertaling van Mentzel, wat “cagie” (woonplek) as “cage” (hok, soos vir diere) vertaal43 en “de gek scheeren” (gekskeer) as “shaving the fool”, of dat Mentzel die spot dryf met Kolbe se inhoud, staan Schoeman onkrities.

Ten spyte van Schoeman se ligte kritiek op Leibbrandt, ontsien hy nie om hom herhaaldelik as bron te gebruik nie. Was hy miskien net dankbaar vir die beskikbaarheid van Leibbrandt se werk op die rakke van die (destydse) SA Biblioteek waar hy gewerk het en, omdat hy ongeskool in die vakmetodiek van geskiedenis was, onbewus van die minderwaardigheid daarvan as bron? Sy mildelike gebruik van Leibbrandt het myns insiens sy werk, soos die van ander amateurs wat Leibbrandt (en deesdae selfs vir Schoeman) as bronne aanwend, gekorrupteer.

Nog ’n gevolg van Schoeman se vermyding van primêre bronne is dat hy verkeerde afleidings maak. Hy skryf byvoorbeeld: “Oor slawe bestaan daar min inligting”,44 terwyl die Kaapse VOC-argief volop inligting oor slawe bevat. Robert Ross, Leon Hattingh, Nigel Worden, Gerald Groenewald en ander historici het baie daaruit geput. ’n Verdere gevolg van die gebruik van sekondêre bronne is dat dieselfde foute herhaal en dieselfde korrektiewe inligting weggelaat word, as gevolg waarvan onkunde voortduur en mites gekonsolideer word.

Die jammerste van Schoeman se werk is dus dat dit onbetroubaar is en nie vir navorsing geskik nie. Sy vertellings kan nogtans met plesier gelees en met vrug gebruik word, byvoorbeeld om te dien as ’n gids tot die oorspronklike dokumente, om belangstelling in die verlede te wek en as ’n ruimskootse bydrae tot inligting oor en ’n verduideliking van die verlede.

Foute en herhalings

Daar is veel foutiewe inligting in die 15 boeke wat vir hierdie taak ondersoek is. Dit kan die gevolg wees van haas om sy selfopgelegde taak te voltooi, of uit onprofessionele nalatigheid. Vergelyk die volgende verkorte seleksie van voorbeelde: In Dogter word verkeerdelik beweer dat Simon van der Stel van 1679–1699 “goewerneur” van die Kaap was (17), dat daar ’n “handelspos” in Tafelbaai was (24, 45), dat daar ’n “handelskolonie” aan die Kaap was (28), die pui in die Kasteel word “katbalkon” genoem (32), en dat Nederlandse skepe in 1795 in Saldanhabaai aan die Engelse oorgegee is (326). Schoeman verwar laasgenoemde moontlik met Lucas se oorgawe in 1796, buite die VOC-tyd.

In Armosyn (2001) word die pui weer verkeerdelik “katbalkon” genoem (388), die landdros Starrenburg is wel ontslaan en herroep (246), en die mite van “klompjes” as “hardgebakte stene wat as ballas (sic) in die skepe na die Kaap gekom het” word herhaal (404). In Slavery word onder meer vertel dat Claes van Malabar in 1692 sy eienaar se vrou vermoor het (241). Die slagoffer was die eienaar se moeder. “Muller […] served as burgher representative on the Council of Policy” (354). Daar was nooit burgers op die Politieke Raad nie. Die Kasteel is ook nie met wit arbeid alleen gebou nie (85); daar was ook slawe- en Koina-arbeiders betrokke. Foutjies in Handelsryk is byvoorbeeld dat kleipype net een keer gebruik is (74), die buitepos Saldanhabaai was geen “handelspos” nie (270). In Kolonie is weer sprake van “Balkon voor die katgebou” (270) en “katbalkon” in plaas van “pui” (318), Jan “Grof” Visser se bynaam het nie beteken dat hy fris gebou was nie; hy was ’n grofsmit (283), Van Riebeeck is nie op ’n “aanklag van privaathandel na Batavia terug geroep nie” (Armosyn, 1999:131), maar bloot op ’n beskuldiging. Hy is nooit op enige klag aangekla, verhoor, gestraf of ontslaan nie en het met behoud van rang en gasie na Europa teruggekeer. Die retoerskip Aernhem het nie gestrand nie, maar in die Indiese Oseaan vergaan (319).

Here en Boere bevat ook ’n aantal foute. Onder andere: Die “veepos” by Klapmuts was in werklikheid ’n hooimakery (36). Schoeman herhaal Theal se fisiese beskrywing van Simon van der Stel (51), terwyl geen geverifieerde afbeelding van dié goewerneur bestaan nie; hy aanvaar ook, kritiekloos, ’n sekere skildery van Van der Stel as eg (23, 416). Die dwarsmuur in die Kasteel word so beskryf: Verdeel deur middel van ’n muur, ’n sogenaamde “kat” (74, 76, 98, 363). Die “pui” word herhaaldelik “katbalkon” genoem (135, 308, 310, 434). Erfenisplein in Kaapstad is nie die ou Hottentotsplein nie (217). Govertt Cnoll was nie ’n skipper nie maar skout-admiraal van 1710 se retoervloot (300) en die “galgeveld” was nie ’n plek van teregstelling nie, maar vir tentoonstelling van tereggesteldes (310). In Kinders word ’n haakbusskieter beskryf as “artilleris” in plaas van “infanteris” (142), en die versoek van Maijke van den Berg om met R Hendricksz te trou is nie “die laaste wat van haar gehoor word” nie. Sy is in 1687 dood en haar skamele boedelopgaaf is aan die Kaapse administrasie gestuur.45

Sekere elementêre feitefoute word keer op keer in opvolgende boeke herhaal. Is dit omdat Schoeman se resensente nagelaat het om hom of sy uitgewer daarop te wys? In Swanesang, naby die einde van Schoeman se loopbaan, skryf hy steeds oor ’n “katbalkon” (98, 178, 344) en noem hy die Kaap ’n “handelspos” en “handelskolonie” (183, 383) en help daardeur om dié verwarring te verewig. William van Reede van Oudtshoorn se naam was nie “Willem” nie (32, 162). De Suffren se vloot het Valsbaai as basis gebruik, nie Tafelbaai nie (186). Poshouer Deneys se grafsteen is al sedert 2001 nie in Simonstad se kerkhof nie, maar voor die dorpsmuseum (216). Die VOC is nie in 1601 gestig nie, maar in 1602 (320). Die groot aantal foute in Skepelinge is reeds bespreek in die artikel waarna hierbo verwys is.

Foute wat eenvoudig oorgeskryf is uit sy bronne, sluit in “bastas” in plaas van “baftas” en dat daar tussen die nedersetting en die Kasteel ’n openbare begraafplaas is, albei uit Mentzel oorgeskryf.46 Die versinsel dat die wrakke van Oosterland en Waddinxveen in Tafelbaai ontdek is, is oorgeskryf uit B Werz (bron nie vermeld nie). Dié twee skepe is op die wal gesloop en hul hout is vir hergebruik gesorteer.47

Ook opmerklik in die tekste onder bespreking, is hoe dikwels Schoeman sekere gegewens en inligting in sy latere boeke herhaal. Enkele uit die vele voorbeelde volg: Anne Barnard se beskrywing van ’n swartgeklede optog om die goewerneur te groet in Dogter (64) word herhaal in Swanesang (261). Die ontvangs van ’n retoervloot in Duitser is ’n herhaling van Armosyn (2001:200–2). Die beskrywings van Van Plettenberg se administrasie in Dogter (9–38) word herhaal in Swanesang (121–70) en dié van Van de Graaff in Swanesang (210–1). Die geveg tussen die swart en wit onderwysers, eers vertel in Armosyn (2001:201), word herhaal in Slavery (370). Cornelia van Beveren se brief aan haar skoonma insake die slawe in haar huishouding in Armosyn (1999:172–3) word herhaal in Slavery (22–3) en weer in Handelsryk (246–7). Die storie van die slavin Catherina van Bengale en haar meester Sarcerius in Slavery (39) word herhaal in Handelsryk (248). Van Claas van Malabar se moord op die weduwee Visser in 1692 word in Slavery (240–1) vertel en in Handelsryk (242–3) herhaal. Mieje van Malabar, ’n oorlewende van Bennebroek se stranding, verskyn eers in Slavery (208) en weer in Handelsryk (243). Van Arij van Bengale, in 1706 beskuldig van drostery en brandstigting, word vertel in Suidhoek van Afrika. Geskrifte oor Suid-Afrika uit die Nederlandse Tyd, 1652–1806 (157–8) (voortaan Suidhoek) en weer in Slavery (287–8, 379–80). Benewens bogenoemde voorbeelde van herhaling is daar nog vele meer.

Schoeman en skeepvaart

Die skrywer van Skepelinge se voorste flapteks noem “Schoeman se uitgebreide kennis van die VOC-tyd en spesifiek die skeepvaart”. Inteendeel, die meeste gebreke, vergissings of foute in sy werk is juis ten opsigte van skeepvaart en seevaart-verwante sake, en hy kom op tegniese gebied nooit heeltemal die mas op nie. Die retoerskip, ’n bewapende vragskip, sterk, hanteerbaar, betroubaar en doeltreffend, was die tegnologie wat dit vir Nederland, ’n klein en arm land, sonder hout vir skeepsbou, yster vir ankers en kanonne, koper vir spykers of katoen vir seile, moontlik gemaak het om die Klein Ystyd se klimatiese probleme te oorkom en twee eeue lank tienduisende kilometers van hul hoofkantore hoogs suksesvol handel te dryf.

Die VOC was ’n talassokrasie, soos die Portugese voor hulle en die Engelse na hulle, maar Schoeman gee in die boeke wat ondersoek is, skamele aandag aan besonderhede van die Kompanjie se seevaart. Dit is asof hy nie daarin belangstel nie. ’n Anekdotetjie illustreer sy houding. Die kultuurhistorikus Helena Scheffler, ’n skepe-liefhebber wat in 1987 deel was van die Bounty-replika se bemanning, het in Desember 1996 aan Schoeman vertel dat sy ’n plek bekom het op die Endeavour-replika en binnekort op ’n dwarsgetuigde driemaster om Kaap Agulhas sou seil, waarop hy geantwoord het: “Gee vir my maar die Vrystaat se vlaktes.”48

In die reeks boeke wat Schoeman oor die VOC-tyd aan die Kaap (1652–1795) geskryf het, is nie inligting wat wys dat hy bewus was van die invloed van geografie op die verloop van wat “algemene geskiedenis” genoem word nie. Hy noem byvoorbeeld nie die Klein Ystyd se buitengewone winterstorms in die Noord-Atlantiese Oseaan nie, of die VOC se gebruik van die natuurlike kolkings van wind en seestrome weerskante van die ewenaar vir navigasie (die sogenaamde Brouwer-roete) nie. Hy skryf breedvoerig oor die Kompanjie se forte en personeel, versprei van die Kaap af tot Japan, sonder om die Klein Ystyd as natuurlike dryfkrag of oorsaak agter die aktiwiteite te noem. Die Kompanjie was verplig om die Kaapse seeroete te gebruik omdat die moontlike Noord-Oostelike en Noord-Westelike deurgange na die Ooste bevrore was, en moes in sy beplanning rekening hou met die orkaanseisoen in die Indiese Oseaan en ook die koms van die Europese winter, wanneer vrag nie langer langs Nederlandse binnewaters vervoer kon word nie. Schoeman haal ’n besoeker aan oor die Kaapse klimaat: “Rosemary etc. need not be taken out of the soil because of the cold”49 en kyk hier ’n direkte verwysing na die Klein Ystyd in Europa mis. Sulke inligting moes noodsaaklik in Handelsryk of in Kolonie verskyn het. Hy hou ook vas aan die uitgediende storie van skeurbuik as ’n skeepssiekte, terwyl dit in werklikheid sy oorsprong op land het, veroorsaak deur ’n vitamien-gebrek in die dieet, as gevolg van die uitwerking van die Klein Ystyd se groter koue en verlengde winters op Europese graan-, vee- en groenteboerdery. Skeurbuik is van die land af na die skepe gedra, en dit was veral personeel op Paasskepe wat aan die einde van die vitamien C-arm winter uitvaar, wat getref is.50

Schoeman se gebrek aan insig blyk verder uit sy neiging om skepe “skippies” te noem.51 Dit is soos om passasierstralers “vliegtuigies” te noem. Hy verwar aanhoudend die skeepstipe “jag” (’n vragskip) met “seiljag” (bedoel vir sport en plesier).52 Die VOC-rang van “adelbors” was beslis geen “seekadet” nie.53 Schoeman se “uitgebreide kennis” het ook nie verby die beperkende begrippe en totaal verouderde “halfwegstasie” en “verversingstasie” tot die moderne begrip “skeepsdiens” of meer omvattende “maritieme aanvullingsdiens” ontwikkel nie.54 In my artikel oor die boek Skepelinge waarna hierbo verwys is, is ’n aantal van sy wanbegrippe tov seevaart uitgewys en hoe hy soms dinge, byvoorbeeld sy verduideliking van die aktiwiteit “vertuig”, uit die duim gesuig het. Daarby kan nog uit sommige ander boeke genoem word: “stengen” is nie “dwarsbalke” nie maar opwaartse verlengings van maste, ’n “hoeker” is beslis nie ’n “klein platboomvaartuig met ’n bemanning van 12 of 14” nie55 en die skepe wat die Kaap aan die einde van 1695 besoek het, was nie ’n retoervloot nie maar uitvarende skepe uit die wêreld van die Klein Ystyd; die 228 dooies en 678 siekes moes dit vir hom gesê het.56 Die “hel” voor in die boeg van ’n skip is nie so genoem as gevolg van die “dreuning van water teen die romp” nie; dit beteken bloot helling of skuinste.57 

Volledigheid

Teenoor die onnodige omvangrykheid van sy werk moet die erns van weglatings, in die vakmetodiek bekend as lacunae, wat ’n skewe of onvolledige beeld van gebeure by lesers laat, geweeg word. Hoewel sulke afwesige inligting dalk in een van Schoeman se ander boeke mag verskyn, benodig en verlang ’n belangstellende leser onmiddellik ’n volledige beeld. ’n Ernstige leemte in al die betrokke boeke is verwysings na die Klein Ystyd. In die boek Kolonie sou ’n verduideliking van omstandighede by Van Riebeeck se aankoms, die toestande aan boord en aan wal, die totale afwesigheid van plaaslike hulpbronne en wat op die eerste twee dae (6 en 7 April 1652) gebeur het, soos in besonderhede deur Van Riebeeck in die Daghregister beskryf, veel kon bydra om byvoorbeeld Charles Bell se bekende (en moontlik karikaturale – Bell was bekend vir sy skilderye en tekeninge van beskonke Koina, ens) skildery The Landing of Jan van Riebeeck58 te ontluister en as ’n vals voorstelling te diskrediteer. In Kolonie ontbreek ook ’n ontleding en vertolking van wat moontlik die belangrikste gebeurtenis van Van Riebeeck se tienjarige kommandeurskap was, naamlik sy besetting van die Liesbeeckvallei in 1657, waarmee hy ná jare van sukkel die probleem van skeepsvoorsiening opgelos, ’n voedingsbron van die inheemse volk gekoloniseer en Europese nedersetters aan die Kaap gevestig het. Waarom en met watter gevolge? Schoeman vra dit nie.

In Suidhoek word vertel dat die reisiger Van Putten in 1709 steeds ’n veepos van WA van der Stel in die Overberg vind, twee jaar nadat laasgenoemde verban is en die land moes verlaat. Dit was ’n ideale geleentheid om die belangrike stryd tussen die burgers en amptenare in ’n paar paragrawe te ontleed. Ook in Suidhoek beskryf hy kortliks die militêre oorgawe van die Kaap aan Britse magte in 1795,59 sonder om een maal kolonel Robert Gordon se rol in en aandeel aan die oorgawe te noem, of om die saak te ondersoek van die Kaapse burgers, aan alle kante verraai, wat ná die Amerikaanse Vryheidsoorlog (1775–1783) en die Franse Revolusie (1789–1799) na nasionale onafhanklikheid uitgesien het en moes toekyk hoe hul vaderland van een Europese oorheerser in ’n nog meer vreemde oorheerser se hande oorgegee word. Dié oorgawe het onder andere uiteindelik tot die Groot Trek gelei, met uitgebreide reperkussies in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Schoeman rep geen woord daaroor nie. In Suidhoek se hoofstuk “Die wêreld van die slawe” laat hy na om kaptein DMP de Chavonnes se minderheidsverslag van 1717 teen slawerny te bespreek en hy beskryf Xhosas in die omgewing van die Oranjerivier as “uitgewekenes van die oosgrens”, sonder om enigsins die situasie op die Oosgrens te verduidelik of waarom die mense daarvandaan gevlug het.60

In Skepelinge, waar die skrywer uitwei oor die werwing van manskappe en hul vertrek uit Nederland, sowel as in Armosyn (1999), waar die indiensneming van die volk weer bespreek word,61 is ’n onverklaarbare afwesigheid van essensiële inligting oor onderwerpe soos “swaar en ligte geld”, die rare “goede maanden”, die “Haagsche Besoygnes” en hul “Turkse passen”, die “kameel” waarmee skepe oor die Pampus gelig is, of die drie boeie in die see by “Helsdeur” waar die reis amptelik begin het. Die goewerneurs Simon (1679–1699) en Willem Adriaan van der Stel (1699–1707) se administrasies word breedweg in Here en Boere beskryf, maar die leser soek vergeefs na pertinente inligting oor die massiewe skade wat dié twee goewerneurs gedurende hul gesamentlike regering van 28 jaar aan die Wes-Kaapse Koina se sosiale stelsel gedoen het deur hul onophoudelike veeruiltogte (45 togte in 26 jaar) na Koina-krale.62 Hulle het ook die Koina se weiregte ernstig aangetas deur die stigting van nuwe burgerkolonies (Stellenbosch, Drakenstein en Waveren), verskeie nuwe buiteposte, en in die geval van WA, private veeposte waarmee al die weiding in die omgewing opgeëis is. Daar is ook ’n totale stilte oor die aanval, berowing en uitroeiing van hoofman Dorha en die Chainouqua-stam in 1693, op bevel van Simon van der Stel. Wou Schoeman, oor sy uitgesproke afkeer van die Kaapse burgers, beide Van der Stels meer eerlik laat voorkom as wat hulle was, soos Leibbrandt vir WA van der Stel probeer goedpraat het? In dié boek word ook nie genoem dat die Kompanjie se buitepos Hottentots-Holland die oorsprong was van WA se plaas Vergelegen en die buitepos Klapmuts die oorsprong van sekunde Elsevier se plaas Elsenburg nie, met ander woorde, hoe dié twee hoë amptenare die Kompanjie bedrieg en besteel het.63

In die boek Swanesang wat oor die Kompanjie se laaste bewindsjare aan die Kaap gaan, is ook ernstige weglatings, en die vrae waarom? en met watter gevolg? word weer nie gevra nie. Schoeman noem nie dat goewerneur Van Plettenberg verskeie kere die Here Sewentien se voorskrifte oortree het nie, met groot geldelike verlies en ander skadelike gevolge vir die Kompanjie. As voorbeeld: Die goewerneur se versuim om die skip De Jonge Thomas in 1773 na die verpligte winterhawe te stuur het tot sy stranding en die Woltemade-heldedaad gelei. Tweedens het hy, terwyl admiraal De Suffren se Franse oorlogsvloot in Simonsbaai beskikbaar was, die retoervloot van 1781 téén De Suffren en die kommandeur van die retoervloot se advies na die onbeskermde Saldanhabaai gestuur, waar dit sonder weerstand deur die Britse oorlogsvloot gevang en weggevoer is. Die summiere verbanning sonder verhoor van die soldaat Johann Kunz in 1778 is deur die klaende Kaapse burgery as ’n voorbeeld van onderdrukking aan Here Sewentien gerapporteer. Schoeman vra ook nie hoe die verlies van die kosbare vrag en skepe tot die VOC se finansiële verval bygedra het, of oor die lae moreel en gebrek aan veglus onder die skepe se bemannings wat blyk uit die hofondersoeke,64 of waarom dié inligting van Here Sewentien weerhou is deur dit in Kaapse dokumente te verduister deur byvoorbeeld die woorde “gevlugte scheepelingen” dood te trek en met “gesalveerde [dit is, “geredde”] scheepelingen” te vervang.65 Schoeman ondersoek nêrens die gevolge van kaptein Robert Gordon se afwesigheid uit die garnisoen op maandelange private togte in die binneland, waarom daar nooit amptelike verslae oor dié reise van Gordon verwag is, of hoekom slegs Gordon deur hoë kommissarisse Nederburg en Frijkenius bevoordeel en begunstig is nie. Hy sou (hopelik) die geheimsinnige skakels tussen Gordon en stadhouer Willem V ontbloot het, en hoe dit direk tot die ondergang van Gordon se regiment, die verlies van die Kompanjie se Kaapse diensstasie en sy selfmoord in 1795 gelei het.66 Deur hierdie stokou vrae deeglik te ondersoek, sou Schoeman ’n waardevolle bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing gelewer het. In dieselfde boek vertel hy van die hoë kommissarisse se optrede in Batavia, sonder om te noem dat Kasteel Batavia se Raad van Justisie om etiese redes geweier het om hulle onderdanig te wees of hul gesag te erken.67 Daar is ook ’n foutjie ten opsigte van die twee genoemde kommissarisse se aanstelling aan die Kaap, dit was nie op 20 Junie 1791 nie maar in 1792. Bostaande is enkele voorbeelde van wat as ernstige leemtes beskou kan word; daar is nog verskeie ander.

Pseudo-geskiedenis

Geskiedenis kan as wapen gebruik word in ’n kulturele of ideologiese stryd. Vir dieselfde doeleindes kan dit gekaap en tot pseudo-geskiedenis verdraai word. Schoeman was bewus van hierdie praktyk; hy haal in Handelsryk (272, eindnoot 42) aan uit ’n webblad wat deur internasionale akademici geskep is met die doel om G Menzies, 1421: The year China discovered America (New York, Perennial, 2004), se bewering dat ’n Chinese vloot in 1421 onder andere die Kaap omseil en Amerika besoek het, bloot te stel en te diskrediteer: “The purpose of this website is to […] ensure that history is not rewritten by publishers more interested in short-sighted marketing campaigns that ensure their financial security, rather than intellectual integrity and public enlightenment.”68

Schoeman doen nogtans mee aan hierdie praktyk, of dit uit nalatigheid of om politieke redes was, is onbekend; let byvoorbeeld op sy uitlatings aangaande die sogenaamde wildeamandelheining. Van Riebeeck het in 1660 wildeamandelpitte laat plant buite om ’n deel van die Liesbeeckvallei (“de begrepen circle”), wat hy ter wille van skeepsvoorsiening vir landbou en veeteelt doeleindes geannekseer het. Schoeman verwys verskeie kere na dié heining; hy skryf dat die doel daarvan was om wittes in dié gebied teen die inboorlinge (Koina) te beskerm en dat dit die eerste fisiese verdeling van rasse, met ander woorde ’n apartheidsgrens was, die “eerste eksplisiete poging om ’n skeiding tussen die verskeie rasse in hierdie land te bewerkstellig”.69 Die heining se werklike en enigste doel, naamlik om die Kompanjie se beeste teen diefstal en sy graan teen vernieling deur Koina-vee te beskerm, staan in die Daghregisters en ander primêre bronne te lees.70 Van Riebeeck het beraam dat die boompies ses tot agt jaar sou neem om te groei en ’n effektiewe heining te vorm, maar die projek is na net drie jaar (1663), toe die plantjies maar vingerlengte was, deur kommissaris P Overtwater gestaak, as te duur, te veel moeite en nie langer nodig nie.71 Die heining het dus niks met die skeiding van mense te doen gehad nie en het as “heining” ook nooit bestaan nie. Die Koina het soos voorheen met ruilvee deur die drif by Keert-de-Koe gegaan en die Goringhaicona het binne die “heining” by De Duijntjes bly woon. Waarom het Schoeman hierdie eenvoudige landbou-eksperiment in moderne terme verpolitiseer? Dit was nie eens ’n oorspronklike gedagte nie; dieselfde ongegronde bewering staan in die Kirstenbosch Botaniese Tuin se (ongedateerde) toerisme-brosjure, en adjunk-president Thabo Mbeki het dit op 25 Februarie 1999 in sy toespraak in die parlement in Kaapstad gesê toe hy die amptelike verslag van die Waarheids- en Versoeningskommissie in ontvangs geneem het.72 Het Schoeman die ironie in dié verklaring opgemerk? Waarom het hy dit nooit weerspreek nie? As hy ’n historikus was, sou hy die amandelheining se ontstaan, bestaan en einde in primêre bronne nageslaan het. En as hy Mbeki se politieke retoriek om persoonlike redes herhaal, oortree hy nogmaals die riglyne vir ’n histories-wetenskaplike werksmetode.

Balans

Wanneer Schoeman oor die Kaapse burgery skryf verskyn ’n wanbalans in sy werk, wat duidelik na die negatiewe neig en moontlik opsetlik so is. Een veralgemening volg op die ander. Hy gebruik byvoorbeeld ’n beskrywing wat verwys na Noorse immigrante in die VSA as “diminutive, ugly, stupid, brutal in appearance, very dirty” om op Kaapse boere toe te pas of beskryf ’n handgemeen onder burgervroue in Nederland en besluit dat ’n “mens kan seker aanneem dat dieselfde patroon aan die Kaap gevolg is”.73 Beteken “seker” hier steeds “met sekerheid”? ’n Negatiewe beskrywing van VOC-amptenare, waaronder “hulle snuit hul neuse aan die tafeldoek” (sonder bronverwysing), word gevolg deur ’n negatiewe beskrywing van Nederlandse seevolk, waarop weer ’n oorwegend negatiewe beskrywing van die VOC-kolonie volg.74 En die inhoud van bostaande is blote chronologie. Het die oorsese waarnemers waaruit Schoeman aanhaal nooit iets positiefs oor die Kaapse burgery geskryf nie? Hulle het; ’n enkele voorbeeld wat Schoeman se eensydige beskouing weerspreek: Lichtenstein gee meer as een keer ’n positiewe mening oor die geaardheid (“character”) van koloniste wat hy in verskillende dele van die kolonie aantref, en weerspreek “Mr Barrow’s exaggerations respecting the barbarity of the Colonists”. Hy skryf ook hoe ontsteld die jong burgers wat Goewerneur Janssens op sy landsreis vergesel het, oor die Bataafse soldate se daaglikse vloekery was.75 Schoeman noem dit nie.

Schoeman skenk veel aandag aan fisiese geweld, hy noem “alomteenwoordige geweld in die alledaagse samelewing”, haal voorbeelde aan en gaan so ver as om die woorde “vanselfsprekende gewelddadigheid, binne die huwelik en gesin” te gebruik.76 Hy beskou sy voorbeelde deur oë van die hede en maak morele uitsprake daaroor, maar vra nie die historikus se tipiese vrae: waarom en met watter gevolg? daaroor nie. Is dit nie moontlik dat die VOC se Duitse immigrante gebrutaliseer is deur armoede, die stryd om oorlewing teen die natuur en die Dertigjarige Oorlog (1618–1648) of sy Nederlandse immigrante deur sy oorloë teen Spanje, Frankryk en Engeland, openbare strawwe en teregstellings of langdurige militêre en skeepsdissipline nie? Schoeman noem dit nie.

Geen geskoolde historikus sal Schoeman lees om hom as bron te gebruik nie, omdat sy gegewens onbetroubaar en meesal ten minste twee maal (soms meer) van die bron verwyder is. Ander lesers sal bogenoemde herhalings waarskynlik as vervelend ervaar. Sy neerhalende aanhalings uit Barrow, Thompson, Janssens, Paravicini di Capelle, Thunberg, Le Vaillant en Borcherds ten opsigte van die opvoeding, kleredrag en wonings van die trekboere word deur herhaling vervelend. Verwag Schoeman in sy 21ste eeuse studeerkamer dat mense wat in grensgebiede onder pioniersomstandighede met perde en osse werk en skape slag, klipmure pak en hout kap, anders geklee en hul huise anders gemeubileer moes wees? Hy haal ewe dikwels onkrities oorsese besoekers se kommentaar aan insake oorgewig Kaapse burgers en burgeresse, hul gelaaide tafels en oormatige etes; dit kom in omtrent al sy werk voor. Hy hoef nie daardie bronne te weerspreek nie, maar behoort hulle te ontleed en vertolk. In die boek Dogters alleen haal hy oor die genoemde onderwerp aan uit Barrow (95), Kapf (216), Sparrman (101), Barras (211), Barnard (93, 233), Abu Talip (233) en St Pierre (79). ’n Alternatiewe beskouing kon byvoorbeeld wees dat Europese besoekers, miskien ondervoed en klein van liggaamsbou as gevolg van die Klein Ystyd, die Kaapse burgers aan Europese standaarde meet, of dat die burgers en hul kalorieryke maaltye toonbeelde is van die beskikbaarheid van proteïen, suksesvolle voedselproduksie en ’n gebrek aan oefening, wat weer die gevolg is van slawearbeid en ’n gerieflike lewe. Maar die skrywer herhaal net hul opmerkings, sonder om te ontleed, wat eerder die styl van ’n ondersoekende sosioloog met ’n belangstelling in kultuurgeskiedenis is as die van ’n historikus.

Die kwessie van wanbalans in Skepelinge is uitgebreid bespreek in die artikel waarna hierbo verwys is.77 Schoeman beskuldig die Europese immigrante uit die VOC-tyd, alle latere immigrante uitgesluit, dat “hulle gesamentlik verantwoordelik gehou moet word vir die totstandkoming van hierdie land.” Selfs die wat onbeplan hierheen gekom het, is volgens hom “skuldig” en “mede-aanspreeklik vir wat hier gebeur het […] daar kan ook van hulle rekenskap geverg word”.78 Die Ierse filosoof en staatsman Edmund Burke (1729–1797) se woorde is hier van toepassing: “I do not know the method of drawing up an indictment against a whole people.”79 Maar wat sê die hierbo aangehaalde veralgemening, subjektief, moraliserend, veroordelend en totaal ’n produk van sy verbeelding, oor Schoeman se geloofwaardigheid as geskiedskrywer? 

Gevolgtrekking

Schoeman het hom op ’n terrein begeef waarvoor hy nie die basiese opleiding gehad het nie. Sy gebruik van onbetroubare sekondêre bronne, foutiewe inligting, weglatings, veralgemenings, subjektiwiteit, gebrek aan ontleding en vertolking, deelname aan pseudo-geskiedenis en ander afwykings van die vakwetenskaplike metode, toon ooreenkomste met die werk van die vroeë kroniekskrywers, en dit lyk of hy hul werkswyse aanvaarbaar gevind en hom daarmee vereenselwig het. Na aanleiding daarvan, kom ek tot die gevolgtrekking dat hy ten opsigte van die VOC-tyd eerder as ’n kroniekskrywer as historikus beskou behoort te word.

Afkortings

NA: Nationaal Archief
SABW: Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek
SESA: Standard Encyclopaedia of South Africa
VOC: Vereenigde Oost-Indische Compagnie
VRS: Van Riebeeck Society
VRV: Van Riebeeck Vereniging
WKARD: Wes-Kaapse Argief en Rekorddiens

Bronnelys

Böeseken, A.J. (red.). 1966. Memoriën en Instructiën, 1657–1699. Kaapstad: Staatsdrukker.

Bosman, D.B. en H.B. Thom (reds.). 1957. Daghregister gehouden by … JA van Riebeeck, deel III. Kaapstad: Van Riebeeck Vereeniging.

De Kock, W.J. (red.). 1968. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel I. Kaapstad: Tafelberg.
Fouché, L. (red.). 1970. Dagboek van Adam Tas, 1705–1706. VRV, (2)1. Kaapstad: Longmans, Green and Co.

Hendrich, G. 2022. Leibbrandt’s legacy. Cape Librarian, Januarie/Februarie 2022.

Hyman, R. 1973. A dictionary of famous quotations. Londen: Pan Books.

Krüger, D.W. (red.). 1972. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel II. Kaapstad: Tafelberg.

Lichtenstein, H. 1928. Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805 and 1806. Vertaal deur A. Plumptre. VRS, (1)10. Kaapstad: Henry Colburn.

Maat, G.J.R. 2002. Scheurbuik, “De nieuwe ziekte…” In L. Blussé en I. Ooms (reds.). Kennis en Compagnie. De VOC en de moderne Wetenskap. Amsterdam: Balans.

Mossop, E.E. 1927. Old Cape highways. Kaapstad: Maskew Miller.

Müller, C.F.J. 1974. Standard Encyclopaedia of Southern Africa, vol. 10. In D.J. Potgieter (red.). Kaapstad: NASOU.

Oberholster, J.J. 1972. The Historical Monuments of South Africa. Kaapstad: The Rembrandt Van Rijn Foundation For Culture.

Ras, A.C. 1956. Die Kasteel en ander vroeë Kaapse vestingwerke, 1652–1713. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Universiteit Stellenbosch.

Schoeman, K. 1997. Dogter van Sion. Machtelt Smit en die 18de eeuse samelewing aan die Kaap, 1749–1799. Kaapstad: Human en Rousseau.

Schoeman, K. 1999. Armosyn van die Kaap. Voorspel tot vestiging, 1415–1651. Kaapstad: Human en Rousseau.

Schoeman, K. 2001. Armosyn van die Kaap. Die wêreld van ’n slavin, 1652–1733. Kaapstad: Human & Rousseau.

Schoeman, K. 2002. Die Suidhoek van Afrika. Geskrifte oor Suid-Afrika uit die Nederlandse Tyd, 1652–1806. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schoeman, K. 2004. ’n Duitser aan die Kaap, 1724–1765. Die lewe en loopbaan van Hendrik Schoeman. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schoeman, K. 2006. Kinders van die Kompanjie. Kaapse lewens uit die sewentiende eeu. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schoeman, K. 2007. Early Slavery at the Cape of Good Hope, 1652–1717. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schoeman, K. 2008. Patrisiërs en Prinse. Die Europese samelewing en die stigting van ’n kolonie aan die Kaap, 1619–1715. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schoeman, K. 2009. Handelsryk in die Ooste. Die wêreld van die VOC, 1619–1685. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schoeman, K. 2009. Seven Khoi lives. Cape biographies of the seventeenth century. Pretoria: Protea Book House.

Schoeman, K. 2010. Kolonie aan die Kaap. Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652–1662. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schoeman, K. 2011. Burgers & Amptenare. Die vroeë ontwikkeling van die Kolonie aan die Kaap, 1662–1679. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schoeman, K. 2013. Here en Boere. Die kolonie onder die Van der Stels, 1679–1712. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schoeman, K. 2016. Swanesang. Die einde van die Kompanjiestyd aan die Kaap, 1771–1795. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schoeman, K. 2017. Skepelinge. Aanloop tot ’n roman. Kaapstad: Human & Rousseau.

Shakespeare, W. 1971a. Hamlet. In Shakespeare 1971b.

—. 1971b. The complete works of William Shakespeare. Londen: Rex Library.

Sleigh, D. 1993. Die Buiteposte. Pretoria: HAUM.

Sleigh, D. 2009. Schoeman verryk geskiedenis van VOC. Die Burger, 28 Desember.

Sleigh, D. 2017. Geskiedskrywing in Karel Schoeman se Skepelinge. Aanloop tot ’n roman. T.N & A. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 24(2). Pretoria: Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek.

Van den Berg, N.P. (red.). 1904. Uit der dagen der Compagnie. Haarlem: Willink & Zoon.

Van Deursen, A.T. 2000. Resensie van P. Emmer: De Nederlandsche Slavenhandel, 1500–1850. De Volkskrant, 28 April.

Eindnotas
  1. D.W. Krüger (red.). SABW II, ble. 813–5.
  2. W.J. de Kock (red.). SABW I, ble. 673–7.
  3. D.W. Krüger (red.). SABW II, ble. 394–6; G. Hendrich, Leibbrandt’s legacy, ble. 6–11.
  4. Oor dié polemiek en veral Leibbrandt en Colvin se werkswyse, sien L. Fouché (red.), Dagboek van Adam Tas, 1705–1706, ble. 208, 210.
  5. W.J. de Kock (red.). SABW I, ble. 189–90.
  6. Old Cape highways, bl. 115.
  7. Die verwysing is oa na ‘t Ziekenhuis, Riviersonderend. Sien E.E. Mossop, Old Cape highways, ble. 106–9; J.J. Oberholster, The Historical Monuments of South Africa, bl. 109.
  8. C.F.J. Müller in D.J. Potgieter (red.). SESA 10, ble. 468–70.
  9. D.W. Krüger (red.). SABW II, ble. 500–3.
  10. A.C. Ras, Die Kasteel en ander vroeë Kaapse vestingwerke, 1652–1713, ble. 47, 148, 154.
  11. D. Sleigh, Die Burger, 28 Desember 2009, bl. 11.
  12. T.N & A. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans.
  13. Dogter, ble. 176–80.
  14. Kolonie, ble. 175–93.
  15. Kolonie, ble. 193, 210.
  16. Kolonie, ble. 253–76.
  17. Swanesang, ble. 190–1.
  18. Duitser, ble. 479–81.
  19. H. Haasbroek, Resensie van K. Schoeman: Early white travellers in the Transgariep, 1819–1840.
  20. Patrisiërs, bl. 11.
  21. Dogter, bl. 8.
  22. Handelsryk, ble. 202–32.
  23. Kinders, ble. 496–513.
  24. Slavery, ble. 353–62.
  25. A.T. van Deursen, De Volkskrant, 28 April 2000.
  26. Kinders, bl. 257.
  27. Slavery, ble. 213–4, 254, 370.
  28. Slavery, ble. 245, 253, 346.
  29. Slavery, ble. 370.
  30. Slavery, ble. 373–4.
  31. Shakespeare, W. Hamlet, bedryf II, toneel II, bl 858.
  32. Skepelinge, bl. 28.
  33. Dogter, bl. 164.
  34. Dogter, bl. 8.
  35. Kinders, ble. 457–8.
  36. Kinders, bl. 426.
  37. L.M. Thibault, Plan van de Clapmuts. WKARD.
  38. L.M. Thibault, Plan van de Clapmuts. WKARD.
  39. Armosyn, bl. 387.
  40. Armosyn, ble. 468, 491.
  41. Here en Boere, bl. 456.
  42. Burgers, bl. 259.
  43. Kolonie, bl. 77.
  44. Mentzel, VRS, (1)4:98–9.
  45. Armosyn, bl. 11.
  46. Kinders, bl. 240; Inkomende Brieven: I. Lamotius – S. van der Stel, bl. 193. WKARD.
  47. VRV (4):143, 128.
  48. Skepelinge, bl. 331; Here en Boere, ble. 263, 266; Daghregister, ble. 544, 546. WKARD.
  49. Persoonlike mededeling: HM Scheffler – D. Sleigh, 17 Junie 2021.
  50. Burgers, bl. 141.
  51. G.J.R. Maat, Scheurbuik, “De nieuwe ziekte…” in L. Blussé en I. Ooms (reds.). Kennis en Compagnie, ble. 117–52; Armosyn (1999:84); Armosyn (2001:6); Kolonie, ble. 27, 32, 68, 80, 83, 86, 91, 119; Burgers, bl. 69.
  52. Armosyn (1999:74, 270); Duitser, bl. 209; Kolonie, ble. 11, 17, 68, 186, 211; Burgers, ble. 83, 109, 121, 156.
  53. Duitser, ble. 137, 139; Kolonie, ble. 101, 129, 158, 226; Here en Boere, ble. 48, 54, 403, 409; Swanesang, bl. 267.
  54. Suidhoek, bl. 17.
  55. Duitser, bl. 452.
  56. Here en Boere, bl. 146.
  57. Here en Boere, bl. 166.
  58. C. Bell, The Landing of Jan van Riebeeck, 1850.
  59. Suidhoek, ble. 50, 121.
  60. Suidhoek, ble. 141–67, 186 vtn 196.
  61. Armosyn (1999:99–102).
  62. D. Sleigh, Die Buiteposte, ble. 66–7.
  63. Here en Boere, bl. 374.
  64. Criminele Proces Stukken: Ondervraging van G. Harmeijer, 6 Desember 1781, ble. 635–6. WKARD; Criminele Proces Stukken: Ondervraging van A. van Ebelshout, 12 Desember 1781, ble. 645, 665, 685, 708. WKARD; D. Sleigh, Die Buiteposte, ble. 464–5.
  65. Attestatien, Verklaring van G.F. Langejaan, 1 September 1781, bl. 539. WKARD; Swanesang, bl. 316.
  66. Swanesang, bl. 341; N.P. van den Berg (red.). Uit der dagen der Compagnie.
  67. Swanesang, bl. 341; N.P. van den Berg (red.). Uit der dagen der Compagnie.
  68. Handelsryk, bl. 272.
  69. Armosyn (2001:86–8); Kinders, bl. 167; Kolonie, bl. 76.
  70. Vir die doel van die heining, sien A.J. Böeseken, Memoriën en Instructiën, 11 Maart 1661, bl. 28; D.B. Bosman en H.B. Thom (reds.). Daghregister III, 23/24/25 Februarie 1660, bl. 187. Vir die aanplant daarvan, sien D.B. Bosman en H.B. Thom (reds.). Daghregister III, bl. 229.
  71. A.J. Böeseken, Memoriën en Instructiën, 7 September 1663, bl. 60.
  72. Statement of the President of the African National Congress, Thabo Mbeki on the Report of the TRC: Joint sitting of the Houses of Parliament, 25 Februarie 1999, ble. 1, 17.
  73. Kolonie, bl. 170; Burgers, bl. 257.
  74. Kolonie, ble. 142, 145–9, 152.
  75. Lichtenstein, Travels, ble. 81, 115–6, 176–7.
  76. Skepelinge, ble. 437–45; Here en Boere, bl. 236.
  77. D. Sleigh, Geskiedskrywing in Karel Schoeman se Skepelinge, ble. 110–3.
  78. Skepelinge, ble. 77, 480.
  79. E. Burke, Speech on Conciliation with America, 22 Maart 1775.
  • 2

Kommentaar

  • Ek is só dankbaar dat daar uiteindelik 'n intensief-ondersoekende artikel oor Schoeman se werk (boonop deur 'n kundige van die onderwerp) verskyn het. Wat Sleigh nalaat om te noem, is dat Schoeman homself soms weerspreek, selfs binne 'n enkele publikasie. As voorbeeld: op bl. 410 van 'Kinders van die Kompanjie' skryf hy (WA) Van der Stel het sonder sy vrou, maar met sy "ses oudste kinders en sy ongetroude skoonsuster" Kaap toe gekom; bl. 536 lig ons in dat Van der Stel uitgeseil het "met sy vrou en drie kinders tussen ses en twaalf". Sleigh se fyn lees en kommentaar is 'n baken van goeie oplettendheid.

  • Jukie Joubert

    Dan Sleigh se dood laat 'n hartseer leemte in Suid-Afrikaanse, veral Afrikaanse, literatuur. Ek het die eer gehad om per epos met hom te kommunikeer oor die boek wat ek onlangs voltooi het oor die vroeëre Portuguese skeepswrakke aan ons kus. Hy het my nog bemoedig: "Nee, man, dit moenie so lank vat nie." Maar vir iemand van sy formaat is dit maklik om yslike berge navorsing te doen en dan 'n boek saam te slaan in die mooiste taal. Sleigh, soos jy deurlopend kon bewys in jou artikel, is weer eens reg, alhoewel dit is moeilik om daai Gotiese skrif in Nederlands te ontsyfer. Moeilik, maar nie ontmoontlik nie. Jy het dit gedoen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top