
Karel Schoeman. Stiltes en stemme: ’n huldiging saamgestel deur Willie Burger (Beskikbaar: Naledi)
Karel Schoeman. Stiltes en stemme: ’ n huldiging
Willie Burger (redakteur)
Naledi
SKU: 978-1-991256-46-1
“[G]reat artists can be such dreadful and disappointing people,” merk die hoofkarakter in Rachel Cusk se Second place (2021) op.
Inderdaad. Moenie jou helde ontmoet nie. Word bekoor deur die skrywer/skilder/musikant/akteur se werk, en vergeet van die persoon agter die kunswerk, want kunstenaars is ook maar net (dikwels egosentriese, aanmatigende, liggeraakte) mense.
Dít is wat die lees van hierdie huldigingsbundel oor Karel Schoeman so interessant maak. Dit bestaan nie net uit deeglik nagevorste akademiese artikels oor dié ikoniese skrywer se werk nie, maar ook uit boeiende biografiese gedeeltes wat hom as mens, met al sy nukke en grille, helder voor die gees roep. Gevolglik tree die leser in gesprek met Schoeman, is dit asof jy hom hóór praat oor sy soeke na betekenis, stilte, spiritualiteit en liefde – sy stem ietwat geaffekteerd, sy sinne deurspek met Nederlandismes.
Schoeman se romans, veral sy sogenaamde Stemme-drieluik – Verliesfontein, Hierdie lewe, Die uur van die engel – is monumentale werke. Onvergeetlik. Dit is egter nie al waarvoor hy onthou word nie. Hy word ook onthou as iemand wat goeie vriende, onder andere Philip de Vos, Wilma Stockenström en Dot Serfontein, uit die bloute die rug gekeer het. Weens ’n gemis aan ’n vaderfiguur wou hy niemand te naby aan hom toelaat nie. Derhalwe kon hy nie betekenisvolle verhoudings volhou nie, al het hy ’n geweldige behoefte daaraan gehad. In Stiltes en stemme beskryf De Vos vir Schoeman as ’n “vreemde alleenmens” wat dit op sy reguit Nederlandse manier duidelik gestel het dat hy hom as vriend het slegs omdat hy ’n motor besit en ’n “inskiklike en gebiedbare bestuurder” is.
Was Schoeman dus ’n “kunsmonster”? Iemand wat, in die woorde van Claire Dederer, ongelooflike skoonheid kon skep, maar wat ’n iesegrimmige, vitterige korrelkop was, wat net vir sy kuns geleef het, terwyl ander mense, namens hom, na die alledaagse beslommernisse moes omsien? Lees Stiltes en stemme en besluit self.
........
Schoeman se romans was nog altyd, soos Willie Burger tereg opmerk, vir “geduldige lesers” (12) bedoel, lesers wat die lankmoedigheid van gees het om te wag vir die teks om langsaam te ontvou, en dan heeltemal daardeur oorrompel te word.
........
Schoeman se romans was nog altyd, soos Willie Burger tereg opmerk, vir “geduldige lesers” (12) bedoel, lesers wat die lankmoedigheid van gees het om te wag vir die teks om langsaam te ontvou, en dan heeltemal daardeur oorrompel te word. ’n Student het destyds in Tuks se Geesteswetenskappe-gebou op ’n aansteekbord geskryf: “Is daar ’n lewe ná Karel Schoeman?” ’n Vraag wat die meerderheid van ons se frustrasie met ons voorgeskrewe werk, ’n Ander land, verwoord het, want vir ons was dié roman, op daardie stadium altans, droër as ’n kafeekoeksister, of katkisasieklas.
Eers ’n dekade later, toe ek by ’n uitgewer begin werk het, sou ek die waarde en bekoring van Schoeman se romans besef. Ons het een van Schoeman se boeke uitgegee en die uitlegkunstenaar het spottenderwys na Schoeman as “oom Kallie” verwys, iets wat die uitgewer as die pleeg van heiligskennis gesien het.
Daar is al baie oor Schoeman se lewe en werk geskryf, maar dit is nuttig om ’n geheelbeeld van sy biografiese besonderhede en publikasies in ’n enkele bundel te kry. In Stiltes en stemme kom die leser ook ander, minder bekende feite oor die skrywer en sy werk te wete, deur middel van briewe, gesprekke en foto’s.
Schoeman was ’n buitestander, iemand wat hom nêrens tuis gevoel het nie – nie in Europa óf in Suid-Afrika nie. Nie in die ou Suid-Arika, óf in die nuwe een nie. Derhalwe was hy immer soekend na ’n plek in die wêreld, na ’n eie identiteit. Gevolglik, toe hy in 1959 tot Katoliek gedoop word, verander hy sy voornaam van Tromp na Karel – die naam van ’n 17de-eeuse Franciskaanse lekebroeder, Karel van Sezze (bl 30). Hy word ’n priester en lewer ’n reuse bydrae tot Katolieke Afrikaans deur later verskeie Rooms-Katolieke geskrifte, onder andere ’n kerkwoordeboek, in Afrikaans te vertaal (33).
Alhoewel sy romans reeds in sy leeftyd wyd voorgeskryf en nagevors word, het hy ’n groeiende renons in akademici en akademiese publikasies ontwikkel (63). Ten spyte van sy veeltaligheid en Nederlandse afkoms, verkies hy om in Afrikaans te skryf, deurdat hy hom toenemend kultureel met sy pa se mense identifiseer.
In Afrikaans kon hy die onverwoordbare verwoord. Sy romans kan, volgens Burger, gesien word as “talige weergawes” (12–3) van kortstondige, vervlietende, onuitspreeklike belewenisse, dikwels die ervarings van gemarginaliseerde buitestanderkarakters en minder bekende historiese figure wat “uit die groter geskiedskrywing verdwyn het of as onbenullig mag voorkom” (11).
........
Schoeman was ’n buitestander, iemand wat hom nêrens tuis gevoel het nie – nie in Europa óf in Suid-Afrika nie. Nie in die ou Suid-Arika, óf in die nuwe een nie.
........
In sy voorwoord tot Stiltes en stemme skryf Burger op ’n leesbare, poëtiese wyse oor Schoeman en sy werk. Hy merk op dat Schoeman oor die vermoë beskik om “’n betreebare land” (12) van die verlede te maak, en dat hy immer wil “walgooi teen vergeet” (11), hetsy deur middel van sy romans, of deur sy uitgebreide navorsingswerk. By Schoeman gaan dit oor “die inwaartse reis” (14), beskryf by wyse van “lang inkanterende sinne” (17).
Ria Winters (die enigste vrouestem tussen al dié manstemme) beskryf in haar oorsigtelike biografie hoe Schoeman se “enkelkindskap” (22) bygedra het tot sy ontwikkeling as “waarnemer en buitestander”, en dat daar reeds in sy skoolopstelle verwysings na “die verganklikheid van dinge” (23) was. Tydens sy verblyf in Ierland besef Schoeman die belangrikheid van die behoud van ’n (Afrikaanse) kultuur, omdat Afrikaans, nes Iers, die gevaar loop om te verdwyn (35).
Schoeman voel hom net so tuis (én ontuis) in die afsondering van die argiefkamer in Bloemfontein se provinsiale biblioteek as in Amsterdam se gayklubs en -saunas (47). Oor die jare verlang hy al hoe meer na “hermetisme” (51), na ’n kluisenaarsbestaan van stilte, wat hy uiteindelik in die Vrystaat – die plek van sy herkoms – vind.
“[O]ns leef in ’n wêreld waarin stilte baie skaars geword het,” noem hy op ’n keer aan Johann Rossouw (266). Ook Rossouw lewer ’n biografiese bydrae tot dié huldiging. Hy verwys na Schoeman as ’n “geteisterde man” (267) in wie daar twee “haas onversoenbare personas” teenwoordig was. Rossouw skryf verder dat Schoeman se romans deurdrenk was van “verlange na ’n sielsverwant” (268), want al het hy (in Schoeman se eie woorde) “met seker meer as ’n duisend mans geslaap” (274), onthou hy net een: ’n man wat hom bloot vasgehou het.
In Stiltes en stemme ondersoek Chris van der Merwe en Cas Wepener Schoeman se Die uur van die Engel (1995) deur die lens van René Girard en Victor Turner se filosofiese beskouings. Gerrit Olivier beskou Na die geliefde land (1972) as ’n teks waarin die plaasroman herleef, en as voorloper van latere Afrikaanse plaasromans. Andries Visagie stel weer ondersoek in na die representasie van ruimte in Hierdie lewe (1993), terwyl Francois Smith die vertelwyse in een van Schoeman se minder bekende romans, Spiraal (1968), onder die loep neem. Burger ondersoek Schoeman se werk in die lig van Marcel Proust se uitsprake oor letterkunde in Days of reading (2008). Hy bekyk ook Schoeman se Stemme-drieluik as die “stemme” van gemarginaliseerde, vergete persone wat uit die argief opgediep word.
........
Schoeman was ’n grootse skrywer wat nie net gemarginaliseerde historiese figure aan die vergetelheid ontruk het nie, maar ook homself, danksy sy onveergeetlike boeke.
........
Een van die interessantse bydraes in hierdie bundel is Daniel Hugo se hoofstuk oor Die noorderlig (1975), waarin hy skryf oor André P Brink se venynige resensie van dié boek van Schoeman. Brink se wrewel spruit klaarblyklik uit sy woede oor Schoeman se gefiksionaliseerdre weergawe van Brink se verhouding met Ingrid Jonker. In Die noorderlig verwys Schoeman, uiteraard op gekamoefleerde wyse, na Brink se grootheidswaan. Hy verbeeld hom as ’n koelbloedige mens, iemand wat “oor lyke sal trap” om bevordering en publisiteit te kry.
Nicol Stassen lewer die laaste bydrae, ’n ellelange bibliografie wat ’n bewys is van Schoeman se produktiwiteit en veelsydigheid. Hierdie indrukwekkende bibliografie bevat ook ’n magdom proefskrifte, artikels, resensies, edm wat oor die dekades heen oor Schoeman se werk geskryf is.
Stiltes en stemme is die vyftiende huldigingsbundel wat onder die affiliasie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ter ere van Hertzogpryswenners saamgestel is. Dié bundel is egter nie net vir akademici en navorsers bedoel nie, maar ook vir gewone lesers wat in Schoeman se werk en lewe belangstel, want die skrywer word veelkantig, as méns, belig.
Schoeman was ’n grootse skrywer wat nie net gemarginaliseerde historiese figure aan die vergetelheid ontruk het nie, maar ook homself, danksy sy onveergeetlike boeke.
Geraadpleegde bron
Dederer, Claire. Monsters: a fan’s dilemma. 2023. New York: Penguin Random House.
Lees ook:
Karel Schoeman, Virginia Woolf en die kleure in die Ierse dagboeke: ’n vergelykende ondersoek
’n Vreemdeling in die land: ’n kortverhaal uit 1965 van Karel Schoeman in die Ierse taal


Kommentaar
Ek hoop daar is ook binnekort boeke oor DJ Opperman, Ingrid Winterbach en Wilma Stockenstrom in hierdie reeks.