Tydens Julie 2020 het vyf skrywers hul skrywersresidensie by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos voltooi.
Volgens die Jakes Gerwel Stigting is die fokus van dié residensieprogram (aangebied in samewerking met PEN Afrikaans) veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Van links: Jeremeo Le Cordeur, André Trantraal, Veronique Jephtas, Khadija Tracey Heeger en Olivia Coetzee
Menán van Heerden gesels met Veronique Jephtas oor haar ervaring en haar werk.

Veronique Jephtas
Veronique, jou Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020 het onlangs tot ’n einde geloop. Wat neem jy van hierdie ervaring weg?
Ek neem weg dat ek enigiets kan doen as ek myself druk en krap waar dit jeuk. En ook, om te skryf vat sy tol op ’n mens. Ek het soort van post-writing blues ervaar en herstel nog, maar in die geheel is dit so dat ek baie lucky is dat ek met woorde kan toor en geseënd is om dit as my eerste residensie kan noem op 23. Ek is baie dankbaar vir die hele Jakes Gerwel-span.
Weens die COVID-19-regulasies word kunstefeeste en toneelstukke op aanlyn platforms of op radio aangebied. Wat is die moontlikhede mbt aanlyn luisterdramas, radiodramas en aanlyn platforms vir die kunste in hierdie tyd?
Vir dié tyd is alles moontlik. Aanlyn, natuurlik. Dis baie lekker om te sien hoe kreatief mense werk met die uitdagings wat hulle in die gesig staar. Dis ook ongelooflik om te sien hoe kunstenaars alternatiewe vorme van skep aanpak.
Jy is betrokke by verskeie organisasies en behartig werkswinkels oor aktivisme teen geweld teen vroue. Jy skep bewussyn deur versetpoësie, byvoorbeeld “Dear Mr President” (September 2019, oor geweld teen vroue, onder andere die vermoorde student Uyinene Mrwetyana) en “The apology we never got” (Februarie 2020, oor die agtjarige Tazne van Wyk se moord).
Met die lys name van vroue en kinders wat slagoffers is van geweld wat net meer en meer word, wat dink jy is die werk wat gedoen moet word mbt geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika? Word slagoffers slegs statistieke? Help hashtags soos #AmINext?
Hashtags skep bewustheid vir ’n paar dae; gedigte laat die pyn te mooi klink. Wat regtig gedoen moet word, is ’n ander plan van aksie mbt ons regstelsel en wetgewing.
Wat behels die toekoms vir jou?
My debuutteks, “Hoe change hulle”, word binnekort in ’n bundel, Staande ovasie, vir Tienertoneel deur Protea Boekhuis gepubliseer saam met drie ander tekste, oa deur Herschelle Benjamin, Igna Botha en Marcel Spaumer. Daar is ’n bietjie toneel wat afkom, my digbundel in 2021 en baie, baie nuwe skryfwerk.
Luister na Veronique se voorlesing van ’n verkorte weergawe van die kortverhaal “Sheltered love” (werkstitel):
Lees ook onderhoude met ander skrywers van die skrywersresidensie:
André Trantraal gesels oor die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020
Jeremeo Le Cordeur gesels oor die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020
Olivia Coetzee gesels oor die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020
Luister ook:
Lees ook op Voertaal:
Jakes Gerwel Stigting-skrywersresidensie: ’n onderhoud met Vlaamse skrywer Miriam Van hee
Identiteit en versweë geskiedenisse: ’n onderhoud met Vlaamse skrywer Rachida Lamrabet