
Ashwin Arendse, skrywer van Swatland, en Frederik de Jager, skrywer van Man op ’n fiets êrens heen, word deur Karen de Wet gelukgewens tydens die UJ-prysfunksie (Foto: UJ Kantoor vir Meertalige Taaldienste)
Die 2022-UJ-debuutprys word vanjaar gedeel deur Ashwin Arendse vir Swatland (Kwela) en Frederik de Jager vir Man op ’n fiets êrens heen (Protea). Die prys is op 22 September by die Universiteit van Johannesburg aan die wenners oorhandig. Ryan Pedro het die commendatio gelewer. ’n Video-opname van die geleentheid is op UJ se Facebook-blad beskikbaar.

Ryan Pedro (Foto: verskaf)
Dis nie vir my ’n groot verrassing dat die UJ-debuutprys vanjaar gedeel word deur twee skrywers nie. Ashwin Arendse en Frederik de Jager het al twee uitstaande literêre werke gelewer in ’n tyd waarin daar beslis nie ’n tekort is aan materiaal wat kan inspireer nie. Wat egter die koring van die kaf skei, is hóé daar geskryf word oor ’n wêreld wat al hoe meer absurd en ondefinieerbaar voorkom. En met Swatland en Man op ’n fiets êrens heen sien ons hoe doelgerigte en onwrikbare prosa en poësie help om weer vorm te gee aan ruimtes wat deur middel van sosiale, politiese, ekonomiese en kulturele kwessies gefragmenteer word. Hiermee probeer ek geensins sê dat dit die skrywer en die literatuur se werk is om die wêreld te probeer red nie. Inteendeel, boeke met dié intensie maak dit weinig, en met goeie rede ook, tot op súlke pryse se lang- of kortlyste. Wat ek probeer sê is dat Swatland en Man op ’n fiets êrens heen doen wat enige goeie literêre werk behoort te doen: met 55 stories en 27 gedigte kry die leser 82 unieke perspektiewe op die wêreld, 82 geleenthede vir ’n saadjie om iewers geplant te word, 82 katalisators vir broodnodige diskoerse.
Wat in dié twee boeke opgesluit lê, is eindelose moontlike en onmeetbare potensiaal. En dis plofbaar!
Man op ’n fiets êrens heen – Frederik de Jager:
In De Jager se debuut is dit duidelik dat daar ’n vakman aan die stuur van sake is. En terwyl sy spesialiteit sonder twyfel die rubriek is, blyk dit tóg asof dié form uit sy nate wil bars onder sy maker se gereedskap. Wat alles netjies afgewerk en in ’n werkende toestand hou, is die uiterste beheer wat De Jager oor sy skryfwerk uitoefen. Die storieruimtes is helder, die vertellers is sterk en geloofwaardig, die humor is berekend, die insigte is inspirerend, en die taalgebruik, die goue draadjie wat alles aanmekaar hou, is styf gespan – soms vlymskerp, soms delikaat, amper altyd poëties, en nie vir ’n sekonde vervelig nie. In Man op ’n fiets êrens heen sien ons nie nét rubrieke nie – ons sien ook van die beste korter fiksie wat in ’n lang tyd in Afrikaans gepubliseer is.
Vanuit die buitestander se perspektief word die leser in hierdie verhale geforseer om hom- of haarself te distansieer van watter kwessie ook al aan bod kom en só die impak daarvan op die samelewing, maar belangriker nog, op die individu, te sien. Die vinnige tempo waarteen die immermoderniserende wêreld beweeg, die hoë eise wat dit stel, en die onvermydelike bestaansangs wat daarmee gepaardgaan, is van die belangrike hoekstene van hierdie versameling verhale. Daarmee saam kry ons ook dít wat dit uitbalanseer – die deernis en empatie waarmee De Jager gewone mense en hul alledaagse situasies benader.
Sy vertellers is reisigers wat altyd op soek is na stories en na antwoorde. Wat jou altyd sal kan bystaan met ’n padkaart as jy die roete byster word. En wat slotte en oplossings byderhand het soos ’n ekstra botteltjie water wat hy sonder om twee keer te dink vir jou sal aanbied omdat jy dit nodig het. Al is sy eie reis nog vêr.
Swatland – Ashwin Arendse
Ashwin Arendse se debuut voel in retrospek soos een van die laaste bundels in ’n reeks publikasies wat nét beskou kan word as ’n mini-bloeitydperk in die Afrikaanse digkuns. Die bundel is verder ook ’n hoogtepunt in ’n langer, steeds aangaande tydperk waarin die normatiewe opvattings rondom Afrikaanse poësie om die beurt deur skrywers uitgedaag, en selfs ondermyn, word. Arendse se stem is egter nie een wat verdoof word deur die geraas van ’n eggokamer nie. In Swatland sien ons ’n jong, vreeslose digter wat weet hoe en wanneer om sy stem dik te maak. Met sy eiesoortige benadering breek hy die Kaapse milieu wyer oop en los ’n blywende, toonaangewende indruk vir dié wat na hom gaan kom.
Swatland beïndruk eerstens op grond van taalkundige aanbod. Die insluiting van die Swartlandse bry-klank, voorgestel met die geromantiseerde ghaynsimbool, is een van die sterkste en vindingrykste wapens in Arendse se arsenaal, en op gronde hiervan maak hy reeds ’n enorme bydrae tot die Afrikaanse letterkunde én taalkunde. Tweedens, en belangriker nóg, die poësie sélf. Die verse in Swatland is dringend en onsentimenteel, maar tog is dit ook sensitief en vol emosie. Arendse se opvattings oor identiteit, manlikheid, rassisme, seksisme, armoede, gemeenskap, vriendskap, liefde en kuns word alles saamgevat in stylvolle en elegante verse.
En so oor vakmanskap gepraat – in Swatland is daar ’n digter aan die werk wat weet wat hy doen en hoekom hy dit doen. Die obskure verwysings, onverwagse intertekste, die ontbreking van tradisionele verstegniese kwaliteite – alles keuses wat die verse in staat stel om op grondvlak te werk te gaan, tussen die mense oor wie en vir wie die boek geskryf is. En die geografiese, kulturele en simboliese ruimte vra nie vir ’n troebadoer van ouds om daarvan te probeer sin maak nie, maar eerder vir ’n spreker wat sy plek, sy mense en hul omstandighede ken.
Swatland is ’n dun bundel poësie, maar dis beslis nie ’n vinnige óf maklike lees nie. Arendse is ’n meesterstorieverteller met ’n fyn aanvoeling vir ruimte. Hy weet presies hoe om sy sprekers te posisioneer vir maksimum impak; hoe om hulle altyd duidelik en hoorbaar te maak vir die leser. En jy gaan nie altyd hou van wat jy hoor nie, maar jy gaan weet dis belangrik. Jy gaan weet dié dun boekie is belangrik.
*
Baie geluk aan Ashwin Arendse en Frederik de Jager, die welverdiende wenners van 2022 se Universiteit van Johannesburg-debuutprys.

Lees Frederik de Jager se toespraak by die ontvangs van die UJ-debuutprys hier:
UJ-debuutprys 2022: Frederik de Jager se toespraak by die bekroning van Man op ’n fiets êrens heen
Lees Ashwin Arendse se toespraak by die ontvangs van die UJ-debuutprys hier:
UJ-debuutprys 2022: Ashwin Arendse se toespraak by die bekroning van Swatland
Lees ook:
Persverklaring: Wenners van die 2022-UJ-debuutprys en die 2022-UJ-prys bekend
Mense agter boeke: Jaco Botha gesels met Frederik de Jager – voormalige boekuitgewer


Kommentaar
Uitstekende commendatio!