
Ashwin Arendse aan die woord by die ontvangs van die 2022 UJ-debuutprys vir Swatland (Foto: UJ Kantoor vir Meertalige Taaldienste)
Die UJ-debuutprys vir 2022 is toegeken aan Ashwin Arendse vir sy digbundel Swatland (Kwela). Die prys is op 22 September by die Universiteit van Johannesburg aan hom oorhandig. Arendse het die volgende aanvaardingstoespraak tydens die seremonie gelewer. ’n Video-opname van die geleentheid is op UJ se Facebook-blad beskikbaar.
Drie maane geliede ry ek starag veby die flatse, skyns agte die rugbyveld innie oubenk. Ek en my veloofde, op pad hys toe van haa ouma se join af wat twie strate op innie pad is. Ek wietie hoeveel van julle kan relate annie volgende nie, maa ekt baie mense in my kot leeftyd ontmoet wat ek regardless van tyd, plek, hairstyle, ouredom, of ienage anne ding wat mense kan change, immediately sal recognise.
Die bra skree kliphard agte die kar an “Ahoy Ash” en ek stop onmiddellik. Oppie tyd het ek about ag jaa laas daai stem gehoo. Ek het vi twie main reasons gewiet ek moet aftrek. Nomme een, en is simple, eks nooit te haastig vi mense wat my bynaam ken nie. En twie, ek is gewire om moments en encounters soes dié te identify en myself oo te gie annit. Ekt gewiet somewhere innie toekoms gan ek praat of skryf oo wie die een was wat geroep et en wattie moment vi my betieken et. Giste’aand toe ek voo my computer gan sit, het ek gewiet die speech gan begin en eindig met daai kort exchange na ekkie kar gestop et.
Maa voo daai, dankie. Ek is truly dankbaa om vanaand hie te kan staan. Wat it mean is dat ieman, offe paa mense, vi Swatland gelies et, en beslyt et ôs kan vanaand hie sit ennie boek saam met ammel ie anne celebrate. Ek onthou my laaste aand voorie deadline soes giste – ek het vi ure net gesit en my screen gekyk, entjies na entjies gelight, miskien ’n traan of twie gedruk, en gehoep dat at least een persoon gan vestaan waa ek vandaan kom met alles wat ek met Swatland try doen et. Ekt my kop vinnig geskud, een van daai wat-de-fok-doen-jy-skutte, en toe druk ek “send”.
Ek staan vanaand hie, in klere wat ek giste vinnig in my Karrimor gepak et, inne province wattie dieselle voelie, wan my uncle vi wie ek usually kô visit, lê innie hospitaal mette hart wattie is wattit moet wiesie. Ek het my ma en my verloofde saam my wie alles vi my betieken, wat tot giste toe nog gestres et of ôsit tot hie gan maak of nie. Maa ôs is hie, en soes ie characters in Swatland vind ôs ’n way om dankbaa te wies, en vind ôs ’n way om annekant yt te kô mette smile op ôs gesigte.
More dié tyd is ek trug innie Kaap. Trug in Malmesbury aan ôs kant vannie brug. About twie kilometer van onne die brug af is waa Marthley vi my gestop et drie maande geliede. Ek skryf ’n storie oo Marthley in Swatland, en vi baie mense betieken iemand soes hy niks. Issie selle bra wat jy veby kyk oppie winkelstoep. Dieselle bra wattie security byte ’n theatre soes dié sal vookee en wegjaag.
Toe Marthley my daai dag vookee, en smile en lag saam my, kan ek gesien et dat smile en laggie iets is wat hy elke dag doenie. Marthley het my gesê, en ek quote hom: “My broe, watte kak vang jy an! Die laaities sê hulle lies van my oppie skool.” Ôst kliphard saam gelag. Hyt angegan oo hoe hy soese celebrity voel as hy by sy brasse sit en ieman bring die poem wat ek oo hom geskryf et op. Ôst vi soe vyf miniete gesels en opgecatch, wan jare geliede, toe ôs op skool was, was ek en hy tight. Voo Marthley moes gan om sy skarrel te gan klaa maak, het ek hom ees inne winkel gevat en gesê hy moet vi hom kry wat hy need. Sy lys was kot, hyt ie vi my allow om iets significant vi hom te doen daai dag ie, instead het hy vi my met iets gelos wat mee saak maak as wat ienage award ooit vi my sal kan betieken. En ek hoep wee truly dat at least een pesoon hie binne vestaan waa ek vandaan kom met wat ek nou gesê et. Ôst ytgestap en hyt sy hand op my skoue gesit en mettie mees sincere tone wat ek in jare gehoo et vi my die following gesê: “Jarre ou Ash. Dankie my broe, nou gan ammel van Mr Makes wiet. Jysie fokken hond.” En toe loep hy.
Is vi daai moment, ennie countless annes soes daai, waavoo ek skryf. Nie omdat ek hie oppie stage wil staan soes ie dawg wat Marthley suggest ek issie, maa omdat ek wiet dat as gevolg van Swatland en anne boeke soes it, sit Marthley en allie annes iewers oppe plek waa min sal dare om dee te loep. Hulle sit somewhere en smile oorie idea dat ieman soes hulle ingebind is innie literature vi iewag.
Ek sê dus vanaand nie net dankie on behalf of myself ie, maa ek wiet waantoe ek op pad is as ek more op daai plane klim. Ek wiet iewers innie next paa dae innie strate vannie Swatland gan ieman met klomp excitement met my praat oorie boek. Wannee daai gebee, kan ek vi hulle sê daai selle boek waa’in hulle hulself sien, hettie UJ-debuutprys gewen, en dan gan hulle oek smile. Wan trust my, as ienageen van hulle vanaand hie gewies et, sal hulle dankbaa gewies et vi ’n besluit wat julle, almal wat betrokke was, gemaak et om hulle existence en alles wat saam mettit kom, ’n bietjie recognition te gie.

Ashwin Arendse en Frederik de Jager deel vanjaar die UJ-debuutprys vir hul boeke, Swatland en Man op ’n fiets êrens heen (Grafika: PEN Afrikaans)
Lees Ryan Pedro se commendatio by die oorhandiging van die UJ-debuutprys hier:
UJ-debuutprys 2022: Commendatio vir Swatland en Man op ’n fiets êrens heen
Lees Frederik de Jager se toespraak by die ontvangs van die UJ-debuutprys hier:
UJ-debuutprys 2022: Frederik de Jager se toespraak by die bekroning van Man op ’n fiets êrens heen
Lees ook:
Persverklaring: Wenners van die 2022-UJ-debuutprys en die 2022-UJ-prys bekend

