Persverklaring: Wenners van die 2022-UJ-debuutprys en die 2022-UJ-prys bekend

  • 0

Die wenners van die 2022 UJ-debuutprys en die 2022 UJ-prys is pas bekend gemaak. Altesaam 86 boeke in alle genres in Afrikaans wat in 2021 verskyn het, het meegeding om dié twee pryse.

Die 2022 UJ-debuutprys word vanjaar gedeel deur Ashwin Arendse vir Swatland (Kwela) en Frederik de Jager vir Man op ’n fiets êrens heen (Protea).

Die 2022 UJ-prys is toegeken aan SJ Naudé vir sy bundel kortverhale Dol heuning (Umuzi).

Arendse is ’n digter, akteur en dramaturg. Hy het grootgeword op Malmesbury en ná skool drama studeer aan die Universiteit Stellenbosch. In 2020 het hy ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns met die fokus op Kaaps aan Rhodes Universiteit behaal.

Swatland is deur die beoordelaars beskryf as ’n bundel waarmee Arendse sy eie stem dik maak en met ’n eiesoortige benadering die Kaapse milieu wyer oopbreek om ’n beduidende en toonaangewende bydrae te maak. “Sy verse is dringend en onsentimenteel. Sosio-politiese kwessies soos identiteit, rassisme en seksisme asook sosio-ekonomiese vraagstukke rondom die klassestryd en die groot ekonomiese gaping wat dit perpetueer kom in Arendse se poësie aan die bod.”

Daarby sluit Arendse uit ’n persoonlike perspektief ook aan by die groter diskoers oor manlikheid in die Afrikaanse poësie, en manlikheid aan die hand van weerloosheid.

De Jager was taalonderwyser, redakteur en uitgewer van ’n groot aantal bekroonde skrywers. Tussendeur was hy artikelskrywer, resensent en vervaardiger van dokumentêre TV-programme. Hy is betrokke by skryfskole, in Suid-Afrika en op die eiland Lesbos waar hy woon.

In De Jager se bundel kort kortverhale, Man op ’n fiets êrens heen, kom die menslike kondisie deurgaans aan bod, met fyn waarnemings oor die politiek rondom identiteitskonstruksie in ’n vinnig veranderende wêreld, hoe dit plek vind in die kompleksiteite van menseverhoudings, en hoe dit uiteindelik vermoeilik word deur die mens se konstante gejaag en gesoek na meer as wat hy voor hom sien. Die beoordelaars het De Jager geloof vir die sy seggingskrag en taalvaardigheid, vir sy rypheid, beresenheid en belesenheid. “Behalwe alles anders is die skrywer ’n fyn, fyn humoris wat ’n mens laat skater.”

Naudé is die skrywer van Alfabet van die voëls en Die derde spoel. Die UJ-debuutprys is in 2012 aan hom toegeken vir Alfabet van die voëls en die UJ-prys in 2018 vir Die derde spoel. Laasgenoemde is in 2019 met die Hertzogprys bekroon. Naudé het aan die Universiteit van Cambridge en die Columbia-regskool studeer. Ná jare in New York en Londen woon hy tans in Kaapstad.

Naudé se bundel kortverhale Dol heuning is deur die beoordelaars beskryf as ’n aanduiding van Naudé se ongelooflike tegniese bekwaamheid en algehele vakmanskap. “Hoewel elke sin, elke paragraaf van die uiterste strukturele beheer getuig, beteken dit nie dat die taalgebruik koud en klinies is nie. Die prosa in Dol heuning is liries, soepel en by tye poëties; met elke kortverhaal wat voorsien is van sy eie delikate, tóg leefbare atmosfeer.

“Met verrassende verhaalwendings en veelvoudige betekenismoontlikhede ontroer Naudé die leser. Deur sy genuanseerde verkenning van ’n wye spektrum emosies bied hy uiteindelik troos vir die onherbergsaamheid van vandag se wêreld, wat deurgaans in die bundel na vore kom. Elkeen van die verhale is kompleks, subtiel en gesofistikeerd en getuig van Naudé se meesterlike vakmanskap en taalgebruik.”

Die paneel beoordelaars vir die 2022 UJ-pryse vir Afrikaans was Frederick J Botha (SPU), Karen de Wet (UJ) – voorsitter, Sonja Loots (UK), Ryan Pedro, Marné Pienaar (UJ) en Jo Prins.          

Die pryse word in die tweede helfte van die jaar aan die wenners oorhandig op ’n gesamentlike geleentheid wat die Universiteit van Johannesburg se Kantoor vir Meertalige Taaldienste aanbied vir die wenners van al die UJ-pryse.

Lees ook:

Swatland deur Ashwin Arendse: ’n resensie

Swatland deur Ashwin Arendse: ’n onderhoud

Frederik de Jager: ’n Herd wat knetter met stories

Poëtiese taal: Dol heuning deur SJ Naudé, ’n resensie

Dol Heuning deur SJ Naudé – ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top