
Frederik de Jager aan die woord by die ontvangs van die 2022 UJ-debuutprys vir Man op ’n fiets êrens heen (Foto: UJ Kantoor vir Meertalige Taaldienste)
Die UJ-debuutprys vir 2022 is toegeken aan Frederik de Jager vir sy Man op ’n fiets êrens heen (Protea). Die prys is op 22 September by die Universiteit van Johannesburg aan hom oorhandig. De Jager het die volgende aanvaardingstoespraak tydens die seremonie gelewer. ’n Video-opname van die geleentheid is op UJ se Facebook-blad beskikbaar.
Daar is vyf anomalieë in die bekroning van my boek met die UJ-prys vir prosa.
Die eerste daarvan spring jou in die oog by die blote aanskoue van die ontvanger: ’n 64-jarige wat vir ’n debuutwerk bekroon word. Ek mag moontlik nie die oudste debutant in die geskiedenis van hierdie prys wees nie, maar sekerlik is die ouderomsverskil tussen die uwe en my mede-ontvanger, Ashwin Arendse, ’n rekord. Tog gee hierdie toekenning, wat my baie bly gemaak het, hopelik moed aan ander wat op gevorderde leeftyd nog huiwer voor die jeugdige stap van eerste publikasie – daardie deurgangsrite wat jou op jou tengerste het.
Die tweede ding wat ongewoon is, is dat die prys gaan aan ’n versameling essays. Hierdie stiefkind onder literêre genres is nie vandag in die mode nie en ek, wat besonder lief is vir dié soort skryfwerk, wil die beoordelaars daarvoor loof dat hulle vir hierdie bekroning uit gevestigde patrone getree het. Die bekroning maak my bly, omdat van die opwindendste skryfwerk wat ek in my lewe gelees het, essays is waarin die skrywer lewens- en wêreldkennis met besondere elegansie by die persoonlike ingebind het. Dit voel my ’n goeie weg om te volg, wat ek nog maar met babatreë doen.
Van gevestigde patrone gepraat: Al is die stukke in Man op ’n fiets êrens heen vir my in die eerste plek essays, is hulle in die resepsie allerlei ander dinge genoem, waaronder verhale, sketse, vertellings en outobiografie. En is dit nou fiksie of niefiksie? My uitgewer het na laasgenoemde geneig, en daar steek waarheid in. Die oomblik dat jy ’n woord neerskryf in wat as ’n feitelike relaas bedoel word, tree die verbeelding toe om deur woordkeuse, seleksie van feite, styl, timbre en gevoelswaarde ’n verbeelde weergawe van die werklikheid te skep. In die uitgewersbedryf, waar ek gewerk het, weet ons dat die boekhandel ’n vaste kategorie van iedere boek eis omdat boekrakke in winkels ondubbelsinnig aan klante wil sê wat op hulle staan. Is dit merkantiele identiteitspolitiek en essensialisme? Ewenwel, in die letterkunde is die nate tussen genres altyd ’n bietjie uitgerafel, net soos dit is met elke poging tot afbakening in ons lewens buite die salon en die lesingsaal en die studeerkamer. Dat my boek met sy deurmekaar kop en vloeibare literêre identiteit bekroon is, maak my dus ook bly.
Nog ’n vergryp teen die letterkundige ortodoksie van die stukke in my boek is hulle beskeie oorsprong. Vir sommige sal dit lui bedenklike oorsprong. Op een na kom die 55 stories uit ’n tydskrif, en daarby ’n vrouetydskrif. Hierdie bekroning help hopelik om vooroordele en meerderwaardighede af te breek. Die nou gestorwe Vrouekeur het nie net van die beste boeke- en musiekblaaie gehad nie, maar eersterangse skrywers het daarin geskryf. Ek sluit myself nie by hulle geledere in nie, maar dat Eldaleen Hugo, destydse redakteur, my gevra het om die rubriek te skryf, sal altyd een my beste oomblikke wees. Dit is my groot eer dat sy vanaand hier is.
Laastens moet dit my van die hart dat ek in Afrikaans die mees plastiese medium het om in te skryf. As ek my dan nou wil oorgee aan die kragtige genietinge van Afrikaans en as gevolg daarvan ouderwets klink in vergelyking met hoe dit vandag in die werk van jonger mense of in die openbare sfeer gaan, klee ek my blymoedig in my onvanpastheid. Ek het immers in die groot Afrikaanse pryswenner van die aand, SJ Naudé, die uitnemendste voorbeeld om na te volg. Maar selfs wanneer mens jou register gevind het, moet jy weet dat vermoë in een ding terselfdertyd spreek van onvermoë in ’n ander. Ek sal nooit so aangrypend, indringend en taalgetrou aan ’n lewenswêreld soos dié van my medewenner vir poësie, Ashwin Arendse, kan uitdrukking gee nie.
Aan die einste Ashwin my gelukwense en bewondering. Hy gaan dit nog ver bring. Dankie aan die universiteit vir hierdie prys, vir die organiseerders en die beoordelaars. Laastens, my ewige dank aan Eldaleen Hugo, sonder wie se uitnodiging niks hiervan vir my sou gebeur het nie.

Ashwin Arendse en Frederik de Jager deel vanjaar die UJ-debuutprys vir hul boeke, Swatland en Man op ’n fiets êrens heen (Grafika: PEN Afrikaans)
Lees Ryan Pedro se commendatio by die oorhandiging van die UJ-debuutprys hier:
UJ-debuutprys 2022: Commendatio vir Swatland en Man op ’n fiets êrens heen
Lees Ashwin Arendse se toespraak by die ontvangs van die UJ-debuutprys hier:
UJ-debuutprys 2022: Ashwin Arendse se toespraak by die bekroning van Swatland
Lees ook:
Persverklaring: Wenners van die 2022-UJ-debuutprys en die 2022-UJ-prys bekend
Mense agter boeke: Jaco Botha gesels met Frederik de Jager – voormalige boekuitgewer

