Mense agter boeke: Jaco Botha gesels met Frederik de Jager – voormalige boekuitgewer

  • 1

 

In ons nuwe reeks onderhoude gesels ons met Mense agter boeke – van uitgewers tot bemarkers, redakteurs, vertalers, argivarisse en meer – wat boeke moontlik maak en bewaar.

Hierdie week gesels ons met die voormalige boekuitgewer Frederik de Jager.

Beskryf asseblief jouself in een sin?

Ek is ‘n voormalige boekuitgewer en tans medegasheer by The Talking Table-gastehuis in Griekeland.

Verskaf asseblief 'n kort biografie van jouself.

Ek is ‘n Transvaals-gebore kind wat in die Strand grootgeword en op Stellenbosch gestudeer het. In Afrikaans. Ek het as redakteur en uitgewer gewerk by onder meer JL van Schaik, Tafelberg en Queillerie, en later by Random House, voor ek as direkteur by Penguin Books geëindig het. Waar my Afrikaanse opvoeding my so danig teruggehou het in die globale wêreld, en by die twee grootste Engelse uitgewershuise, moet die mense wat Stellenbosch nou verengels my nog wys. Dit was my voorreg om die boeke van talle van ons grootste kontemporêre skrywers in Afrikaans en Engels te onderneem. Ek was ook iewers tussenin vir ‘n paar jaar vervaardiger van TV-programme, en uiteindelik ‘n maker van tafels. Wanneer ons nie gaste hier op Lesbos het nie, doen ek vryskut redaksionele werk vir Suid-Afrikaanse uitgewerye, en ek lees tans vir die vale romans wat vir die kykNET-Rapport Boekprys ingeskryf is.

Waar kom jou liefde vir boeke vandaan? Vertel ons so ‘n bietjie van jou kinderjare?

Ek het begin skoolgaan en leer lees in die stowwerige, destyds Wes-Transvaalse dorp Lichtenburg. My ma was versiende genoeg om my biblioteek toe te neem so gou ek selfstandig kon lees. Ek kan nou nog die vervoering onthou as mens vryval in ‘n nuwe boek in. Dit was voor TV jou verbeelding voorgesê het. Ek onthou nog ‘n grootformaat-prenteboek oor ‘n seuntjie genaamd Danie met ‘n groot rooi kuif. Sy avonture en verbeeldingsvlugte was myne, omdat hy ‘n herkenbare naam gehad het en ‘n taal gepraat het wat ek ken. Een van ons kinderboeke, Die verwaande lammetjie, het ek nog steeds. Hy is voos gelees, met die merke op byna elke bladsy waar ek en my suster probeer verbeter het aan die teks en die pragtige illustrasies, wat ek nog onthou asof ek die boek gister gelees het. ‘n Ander gawe van my ouers was ensiklopedieë, waaronder Die Skatkis met sy mites en legendes van oor die hele wêreld. Dáár het die wêreld vir my groter as die Wes-Transvaal begin word. Sodra ek emosioneel gereed was daarvoor het ek myself verloor in die seunsboeke: Trompie, Keurboslaan, Die Uile, Die Vistermanne, Fritz Deelman. Boeke was vervoering, avontuur, verbeeldingsvlug, humor, hartverskeuring. Toe ek begin Engels lees, was dit Agatha Christie. Ek het byna al haar boeke op hoërskool gelees, en toe was dit die raaisel aan die kern van elke boek wat my daardeur getrek het, die afwagting van ‘n openbaring. Nog later eers sou ek leer die eerste prys van lees is nie die bekendmaking van die vreemde nie, maar die vervreemding van die bekende.

Wie was jou gunstelingskrywers en watter boeke het 'n invloed op jou gehad?

Ek het nou reeds na Agatha Christie verwys. Ek het ook verlore geraak in die patos van Heinz G Konsalik, wie se boeke in Afrikaanse vertaling baie gewild en wyd verspreid was in Suid-Afrika. Konsalik het die groter maak van my wêreld by Die Skatkis oorgeneem deur dit tot in ons eeu te bring: Rusland, Duitsland, Amerika. Ek het seker ‘n bietjie te veel Konsalik en Christie en te min Afrikaans gelees, maar ek is ook nie spyt nie. In die klaskamer het seker my durendste Afrikaanse leesversotting begin: Chris Barnard, wie se Chriskras-boeke vir ons voorgeskryf was. Daar was dit alles: in ‘n vakman se taal so helder soos die musiek van Mozart, ‘n mens met ‘n groot hart intens betrokke by die sintuiglike wêreld waarin ons leef. Dit was ‘n leeservaring waaraan ek in groot mate alles gemeet het waarmee ek sedertdien te doen gekry het, en wat ook daartoe gelei het dat ek later sy redakteur en vriend tot by sy einde geword het.

Filosofieklas, 1981

Vertel ons meer oor jou studies en watter skrywers en boeke toe 'n invloed op jou lewe gehad het? Enige spesifieke aanhalings uit boeke wat jou bybly?

Ek het aanvanklik vir dominee gaan leer, maar het ook vakke soos sielkunde en filosofie geloop. Laasgenoemde was ‘n strik wat my skoon uit my predikantsambisies verlei het. Dit was tydens die doodsnikke van die eksistensialisme en ek het so verlief geraak op die melankoliese na-oorlogse wêreldbeskouing van mense soos Jean-Paul Sartre dat ek ‘n tesis oor hom aangepak het. Twee jaar gelede het ek in die Père Lachaise-begraafplaas in Parys na Sartre se graf gaan soek om hom te vertel presies hoe onnodig moeilik en dik sy boeke is. Being and Nothingness en Critique of Dialectial Reason, is twee Engelse vertalings. Almal wou mos die Immanuel Kant van hul tyd wees. Maar dit blyk toe hy rus nie daar nie. Ás hy iewers tot ruste gekom het. In elk geval, ek moes toe skarrel om iets te studeer wat my brood op die tafel kon besorg. Toe kry ek tot my verstomming toestemming om Afrikaans en Nederlands I, II en III in een jaar te loop, gevolg deur ‘n onderwysdiploma. Dit was ‘n salige jaar van lees en nogmaals lees: Opperman, Van Wyk Louw, Blum, Cussons, Breytenbach, Jonker, en die prosaïste Leroux, Rabie, Brink, Dolf van Niekerk, Aucamp, Prinsloo, Schoeman, Joubert en hoeveel meer. En weer Chris Barnard. Moenie my vra vir aanhalings nie. Ek is ‘n notorious nononthouer van quotes (om Elize Botha heeltemal skeefgedraai aan te haal). Maar daar is een reël van Opperman wat ek nooit sal kan vergeet nie: “Aan jou dade grens ‘n ewigheid” (“Negester en stedelig”).

Vertel ons van jou loopbaan? Waar het dit begin? Wat was hoogtepunte in jou loopbaan?

Ek het ‘n “seven-year itch”, en jy kan dit sien in waar ek orals gewerk het. Ek het begin as Afrikaansonderwyser by Kearsney College, ‘n privaatskool in destydse Natal waar ons togas gedra en soggens met chapel begin het. Die beste ding wat ek daarvan kan sê is dat die when-we’s (soos in “When we were in Rhodesia ...”) my leer whisky drink het. Toe terug Stellenbosch toe vir die filosofie van Sartre, en toe val ek in die bepalende strik van my werkslewe: ‘n jop by JL van Schaik-uitgewers in Pretoria. Dit was die tyd van MK-bomme in die middestad waar ons kantore was, en van die Wit Wolf se bloedspoor. Van Vrye Weekblad en PW Botha se vinger.

Toe loop ek daar weg na twee jaar en kom word fiksieredakteur by Tafelberg. ‘n Sagte, gentlemanly lewe in literatuur. Maar toe Hettie Scholtz my ‘n vennootskap in haar pasgestigte klein uitgewery Queillerie aanbied, spring ek. My ambisie was om ‘n tamaai en beroemde uitgewery te bou, maar nou weet ek wat die groot, onvervangbare wins vir my was: om saam met Hettie te werk. As enige jongeling maar so gelukkig kon wees. Dat so ‘n groot hart en so ‘n skerp verstand in een mens kan woon is ‘n natuurwonder.

Toe verkoop Hettie haar aandeel en onsekere tye volg tot ons deur Nasboek uitgekoop word en ek met Queillerie en al ewe skielik ‘n meneertjie is wat vergaderings van stoetbulle hoog op in die Nasperssentrum moet bywoon. Het my wat verbeel ook, tot ‘n maatskappyherstrukturering die Hochmut vor dem Fall gebring het. Maar dis toe, met die paar rand wat hulle my uitbetaal het in my sak en ‘n rooster wat algeheel myne is, dat ek vir die eerste keer vort is Griekeland toe. Daar waar ‘n kiem in my bloed gekom het wat 20 jaar later daarop sou uitloop dat ek nou hier woon. Wys jou, mens weet nooit.

Terug in Suid-Afrika, destyds, het ek ‘n TV-produksiemaatskappy saam met ‘n universiteitsvriend begin, en toe gehelp met die vestiging van ‘n universiteitsuitgewery op Stellenbosch. Dit was nie maer jare nie.

En so en so en so, toe vra Annari van der Merwe of ek nie saam met hulle by Umuzi, deel van Random House, die magte van die wildernis wil kom help tem nie. Dis hoe ek onder die Engelse verval het en met my Engels I vir die vale moes uithaal om te maak of ek genoeg weet om hulle boeke uit te gee. Nou ja, as mens eenmaal skoolgehou het, leer jy die kuns van voorgee wat jy nie weet nie as ‘n oorlewingstrategie aan. Genoegsaam, ewenwel, dat toe ek van Random House spring na Penguin hulle dit met my op hulle raad gewaag het. In so ‘n mate kon ek vlerke sprei onder die aansporing van my baas by beide Random House en Penguin, Stephen Johnson, dat ek nie meer daar wou werk nadat hy weg is nie. En kyk wat maak ek nou: lok mense na Griekeland waar ek en my maat vir hulle huisvesting en voedsel gee en gesprek voer in ‘n plek genaamd The Talking Table.

Jy het met van die grootste skrywers in ons bedryf gewerk. Deel asseblief van jou gunsteling-ervarings met ons.

Die gevaar van lyste maak is weglating, maar iets van ‘n A-lys sou insluit Hennie Aucamp, Klaas Steytler, Rachelle Greeff, Marita van der Vyver, Etienne van Heerden, Chris Barnard, Joan Hambidge, Deon Meyer, Eben Venter, Tom Lanoye, Marlene van Niekerk, Marguerite Poland, Ivan Vladislavić, Karin Brynard, SJ Naudé, André Brink, Lauren Beukes, Imraan Coovadia, K Sello Duiker, Mike Nicol, Carel van der Merwe. Ek is seker hier is mense weggelaat wat hier moet wees. Net soos ek ervarings vergeet het wat ek moes onthou. Dalk is dit ‘n verligting vir party skrywers – die vermaarde Charles Fryer, my redaksieleermeester by Tafelberg, het dit geniet om skrywers grappenderwys te dreig om aan die einde wraak te neem in sy mémoires. Maar ek onthou die spook wat ek en Marita van der Vyver gesien het terwyl ons aan Griet skryf ‘n sprokie (of dan spokie?) werk. Hoe ek en Marlene van Niekerk gelag het vir wat een van haar karakters in Triomf aanvang. Hoe Chris Barnard my besadig vermaan om nie sy styl te verander nie. Hoe kwesbaar André Brink voorgekom het die dag toe ons die kontrak onderteken het waarvolgens hy sy volgende twee boeke na ons by Umuzi sou bring. Hoe Etienne van Heerden ‘n hele boek gaan oorwerk het om die perspektief te verander. Dit is hierdie selfkritiese professionaliteit van al die werklik presterende skrywers wat my sal bybly.

Karin Brynard en Frederik de Jager, 2013

Wat is die grootste uitdagings en geleenthede wat die Afrikaanse uitgewersbedryf vandag in die gesig staar? Is daar nuwe skrywers en strominge wat jou opgewonde maak?

Daar is baie weerstande wat teen boeke opgestapel word. Die Afrikaanse leserspubliek word kleiner en hulle besteebare inkomste krimp. Afrikaans self kry dit boonop reg van voor en met die uitfasering van Afrikaans as universiteitstaal kom Afrikaanse skole volgende in die visier. Kort voor lank sal daar min motivering wees om in Afrikaans te kwalifiseer, met ‘n skerp afname in kundigheid tot gevolg. Daarmee gaan skrywers minder word, asook mense wat hulle werk kan doseer, laat staan nog dié wat dit wil lees. Dit is taalpolitieke kwessies, wat boonop afspeel binne ‘n konteks van ‘n digitale revolusie wat elke dag meer verleidings tot vermaak in die hande van jong mense plaas, wat hulle in steeds meer realistiese virtuele skouspele dompel wat al hoe minder moeite van hulle verg. Hiermee moet lees wedywer om hulle aandag. Maar tog tree daar steeds nuwe geslagte skrywers na vore. Soos in Afrikaanse musiek is daar egter baie liggewig gedreun; daar is ‘n stroom opregte maar dikwels eenmalige pogings uit die skryfskole; almal probeer ‘n speurroman; en die liefdesverhale gaan maar oustryk voort. Paradigmaverskuiwende skrywers soos SJ Naudé kom, soos mens sou verwag, selde voor, maar ek reken hy is die beduidendste nuwe skrywer van ons tyd, ‘n definieerder van ‘n hele geslag.

SJ Naudé

Watse raad of wenke sou jy vir 'n debuutskrywer gee?

Om te debuteer is moeiliker as ooit. Al wat jy in die bank het, is jou eie talent en jou geloof in jouself. Jy het geen ander keuse nie as om aan en aan te hou tot jy gepubliseer word. As jy nie talent het nie, raak jou geloof hopelik ook later op.

Wat is jou top 10 boeke van alle tye? En wat het hierdie boeke oor die algemeen na jou lewe gebring?

Oi. Hierdie lys verander elke keer dat mens gevra word. En praat ons van prosa?

Hierdie lewe – Karel Schoeman

Blood Meridian – Cormac McCarthy

The Catcher in the Rye – JD Salinger

De Aanslag – Harry Mulisch

Agaat – Marlene van Niekerk

The Master of Petersburg – JM Coetzee

Duiwel-in-die-bos – Chris Barnard

The White Hotel – DM Thomas

At Swim, Two Boys – Jamie O’Neil

The Goldfinch – Donna Tart.

Ek kan maar net op onnosele wyse sê hulle, en al die honderd ander wat ook onder die top 10 tel, het my geestelik verryk. Betower, verwonder, my emosies verleng het, my laat voel het ek is nie alleen nie, en my sekerhede ondergrawe het.

Behalwe boeke, wat is die ander passies in jou lewe? Gee ons asseblief 'n bietjie meer persoonlike blik op jou lewe.

Ek het vroeër ‘n bietjie JS Bach gespeel op kerkorrels waarop ek my hande kon lê. Meer onlangs het ek begin figuratiewe tafels maak met hout en staal. Dit was dieselfde algehele inbeslagneming van my aandag, vir ure aanmekaar, en dieselfde bevrediging wat in werk met mens se hande sit. Sonder twyfel die heerlikste ding wat ek weet om te doen. Verder geniet ek die rubriek “Mense onderweg” wat ek in die tydskrif Vrouekeur skryf. En hier in die Griekse somer swem ek elke dag saam met my maat Douw en my hond Kristoffel wat ek saam uit Suid-Afrika gebring het. Dit doen mens goed.

Watse boodskap het jy vir skrywers en lesers oor die algemeen?

Onderskei. Moenie met onsin tevrede wees nie.

Enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Klaas Steytler het in ‘n brief aan iemand – ek dink dit was Hettie Scholtz – geskryf oor wat mens te doen staan wanneer dinge om jou in duie stort en wanorde dreig om oor te neem. Hy het ‘n Jungiaan aangehaal, te dien effekte dat dit die beskaafde mens se plig is om aan te hou spit in sy hoekie van die tuin.

Foto's verskaf

  • 1

Kommentaar

  • francois verster

    Ek het dieselfde bekommernis oor wat van Afrikaanse boeke gaan word as ons volkie teen 2050 tot 'n enkelsyferpersentasie gekrimp het weens negatiewe bevolkingsaanwas en emigrasie, terwyl die jong generasie in elk geval sterk verdeeld is oor die waarde van ons taal en van boeklees. Dog, soos Frederik en Steytler dit uitdruk, moet ons aanhou spit. Aan Frederik: geniet jou lewe onder die Griekse son, ek onthou jou steeds as die empatiese jongman van ons studentedae - toe jy my gewaarsku het om maar saam te speel toe ons “gedoop" is, en later as iemand wat 'n verskil gemaak het in ons boekewêreld.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top