Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: "Reaching readers", oor outeurs en skrywers – en die pad vorentoe

  • 0

Foto van Bibi Slippers: https://woordfees.co.za/en/program/reaching-readers/

François Verster het ’n kaartjie gekoop vir ’n paneelbespreking wat op 15 Oktober om tienuur by die Woordfees plaasgevind het, en gedink om sy gedagtes daaromtrent met LitNet-lesers te deel.

Maar eers, net uit nuuskierigheid/moedswilligheid, vra ek vir Google wat by die item gebeur het – wat is ’n KI-opsomming daarvan dus – en hier die resultaat:

To reach readers, writers can use strategies discussed in Bibi Slippers’ “Reaching Readers” session at Woordfees, which includes leveraging social media, understanding the competition for attention, and learning from book marketers, bookstagrammers, and other authors. The session explored how to connect with readers in the current media landscape, where social media competes with the printed word, and discussed approaches to online book marketing.

    • Utilize social media: The session highlights social media as a tool for connecting with readers, but also as a competitor for attention.
    • Understand the “attention economy”: Discuss the challenges and opportunities of competing for readers’ time in a media landscape filled with other content and celebrities.
    • Learn from experts: Gain insights from a book marketer, a bookstagrammer, and other authors about effective online book marketing strategies.
    • See how others are succeeding: Observe the approaches of successful writers and influencers who are currently engaging with readers.

Reg, glad nie sleg nie, en nou my indruk:

Die bespreking was by die EasyEquities Skrywerskamer in die Khaya, gelei deur Bibi, en bestaande uit Helené Coetzee, Marion Erskine, Hayley Malan en Sven Axelrad.

Ek het opgemerk dat daar ’n paar bekende mense in die bedryf is, byvoorbeeld krimi-skrywer Martin Steyn en Elise Bishop van Twee lewens-faam. Ek kon heeltemal verstaan dat veral skrywers in hierdie gesprek sou belangstel – dis immers die rede waarom ek daar was: Hoe op aarde kry jy meer mense om jou boeke te lees in hierdie skynbaar inkrimpende bedryf?

Maar laat ons eers besin: Wie was die paneellede? Hoekom sou iemand soos Steyn (of ek) na hulle kom luister? Op die feesprogram het ek gesien dat Helené beskryf word as ’n boekebemarker, Marion is ’n skrywer en stigter van Lekkerleesboekrak, Sven is ’n skrywer, musikant en visuele kunstenaar, terwyl Hayley ’n “bookstagrammer” is – dis iemand wat op onder andere Instagram inligting oor boeke deel.

Goed, genoeg agtergrondmusiek. Laat ons na die uitvoering luister (ek het dit uit die Engels vertaal):

Bibi het verklaar dat almal van hulle vriende van boeke was, deelnemers in die aandag-ekonomie (“attention economy”), teenstanders van tegnologie – wel tot op ’n punt, en dis wat die hele ding so interessant maak, dink ek, want ons wat met televisie, rekenaars, selfone en dies meer meeding, is genoop om van tegnologie gebruik te maak in ons strewe om die boek, hetsy in papier of elektroniese formaat, onder die publiek se aandag te hou.

Dis juis, voel ek, waaroor die gesprek gaan, hoewel dit nie in soveel woorde gesê is nie. Ons wat skryf, en almal wat boeke liefhet, moet maniere vind om boeke gewild te hou. Dit is egter geen geheim dat elektronika gaandeweg veld wen in hierdie oorlog nie. Bibi stel dit so: “Technology is gradually eating away at people’s ability to sit and stare at the printed word.”

Inderdaad. Daar is natuurlik al baie navorsing oor die voordele van lees gedoen, soos die inspanning van sekere gedeeltes van die brein wat nie andersins “oefening” kry nie en ook die voorkoming van demensie, die verbetering van taalgebruik en kommunikasie, en so aan, maar om dit aan mense voor te hou as redes om eerder te lees as om rekenaarspeletjies te speel of Netflix te kyk ... vergeet dit. In ons kits-georiënteerde samelewing is onmiddellike gratifikasie toenemend aan die orde van die dag. En só word jongmense groot. En, vorentoe, hulle kinders. En hulle s’n ...

Die paneellede het saamgestem dat kreatiwiteit nou tweërlei aangewend moet word, naamlik om teksinhoud te skep (boek te skryf) en om vars idees te genereer waar dit om die promosie van boeke (in welke formaat ook al) gaan. Bibi het daarop gewys dat ’n outeur meer is as ’n skrywer – laasgenoemde skryf boeke, maar “outeur” is eintlik die persona wat die skrywer aanneem om ’n sekere beeld aan die publiek voor te hou – selfs hulle kleredrag (Bibi het gepraat van ’n “uniform”) kan ’n bemarkingsmeganisme wees. En hulle reken minstens 50% van ’n outeur se tyd behoort aan bemarking gewy te word! (Later het sy aan my gesê dis nader aan 70%. Ei-na!)

En daarmee saam gaan die hele bemarkingsveldtog, uiteraard. Lesers hou daarvan om interessante figure (die “larger than life”-tipe, soos Hemingway, Hambidge of Hofmeyr) se wel en weë te aanskou. Visuele kunstenaars soos Picasso, Khalo en Warhol is nie net om hulle meesterstukke bekend nie, en so ook sangers, akteurs, die hele ou spul wat as vermaaklikheidsterre (of deesdae “celebs”) bekend mag staan. Hoe meer kleurvol, hoe beter – “the show must go on, the clowns must jump through hoops and the crowd bays for more” … hoor ek ’n stem praat, maar van iewers ver af. Die paneel is meer ernstig oor hierdie gewigtige saak, en dit ís een, want dit gaan oor die voortbestaan van ’n uitgebreide – en by talle nog ’n geliefde – bedryf.

Bibi het die paneellede gevra hoe en hoe baie hulle lees en Marion het geantwoord dat hy dikwels boeke koop wat hy nie lees nie, hoofsaaklik weens ’n gebrek aan tyd (soos meeste boekwurms), maar dat hy Libby baie nuttig vind. Hy het bygevoeg dat Lekkerleesboekrak ’n plek is waar mense veilig voel om hulle menings uit te spreek, met of sonder spelfoute, en dat die belegging in tyd, geld en moeite vir hom steeds die moeite werd is, omdat hy die terugvoer van mense waardeer. Hy het ook genoem dat “diversity” en “inclusion” vir sommige instansies belangrik is, maar dat hy “inclusion” eerder met “belonging” vervang. Laasgenoemde is inderdaad ook waaroor Lekkerleesboekrak vir hom gaan.

Hayley het genoem dat lees vir haar ’n manier is om af te skakel en weg te kom van alles. Sy maak tyd daarvoor en het ’n leesplek (“reading space”) waar sy kan lees, en met ’n Kindle kan sy tot laat snags nog lees. Hiermee stem Helen saam, “want ’n mens kan in die bed lees, terwyl jou man snork”. Iemand in die gehoor het ook gesê sonder die Kindle se vermoë om die letters te vergroot, sou hy nie meer kon lees nie. Etlike koppe, meestal grys, het geknik. Duidelik is e-lesers nie noodwendig méér onder die jonger lesers gewild nie, maar dit maak ook nie saak nie, want meeste mense in die boekebedryf, ook joernalistiek, voel dat die formaat nie veel saak maak nie.

Dis die geskrewe woord of woordteks wat saak maak, en onder beleg is van sy ou stalmaat, die beeldteks – dink hoe letters uit hiërogliewe ontwikkel het, en nou, ironies, wil mense na beelde, foto’s, sketse, video, en KI-gegenereerde materiaal “sit en staar”, om Bibi se woorde te gebruik.

........
Dis die geskrewe woord of woordteks wat saak maak, en onder beleg is van sy ou stalmaat, die beeldteks – dink hoe letters uit hiërogliewe ontwikkel het, en nou, ironies, wil mense na beelde, foto’s, sketse, video, en KI-gegenereerde materiaal “sit en staar”, om Bibi se woorde te gebruik.
........

Sven het gesê hy lees baie, hou selfs ’n lys by van wat hy gelees het, maar wat vir my interessant was, is dat hy erken het dat hy nie meer lank aaneen kan lees nie. Ekself het ook al lankal daardie gewoonte laat vaar om vir ure aaneen te lees. Miskien raak ’n ouer persoon se oë gouer moeg (hoewel dit dalk nogal skermtyd is wat jou oë meer uitput as boeke), maar ek vermoed dis weens ons moderne lewensstyl dat ons geneig is om meer as een ding gelyktydig te doen (TV is aan, selfoon in een hand, tik op die rekenaar met die ander) en vir korter periodes van een aktiwiteit na ’n ander sal spring.

Ons kollektiewe aandagspan het beslis verkort, ook omdat wat ons doen deesdae, meer intens en teen ’n hoër tempo as dekades gelede is – die informasiebranders is hoër en vinniger en ons vind dit moeilik om dié gety te navigeer. Tog, is lees nie juis daarom ’n nuttige manier om uit die stroomversnelling te kom nie? Diegene wat ou lesers is, doen dit, al mag dit onbewustelik wees, vir hulle geestelike welstand, maar diegene wat nie vroeg al hieraan bekend gestel is nie ... Hoe kan hulle dit weet?

........
Ons kollektiewe aandagspan het beslis verkort, ook omdat wat ons doen deesdae, meer intens en teen ’n hoër tempo as dekades gelede is – die informasiebranders is hoër en vinniger en ons vind dit moeilik om dié gety te navigeer. Tog, is lees nie juis daarom ’n nuttige manier om uit die stroomversnelling te kom nie? Diegene wat ou lesers is, doen dit, al mag dit onbewustelik wees, vir hulle geestelike welstand, maar diegene wat nie vroeg al hieraan bekend gestel is nie ... Hoe kan hulle dit weet?
........

Helené het bygevoeg dat ons leestyd in ons dagboeke moet inskryf, want dis essensieel om soveel moontlik te kan lees – dit behoort dus deel van jou lewensritme te wees. Hulle gesin skryf dit in op hulle dagtaaklys wat op hulle yskas geplak is. Sjoe, het ek gedink, hoeveel gesinne doen so iets? Heeltemal te min!

Interessant ook, het Sven gesê, is dat minder mans as vroue lees. In elk geval is dit so in Suid-Afrika, maar in lande soos Frankryk, het Marion gesê, sien hy meer mans met boeke as vroue. Die leeskulture van land verskil dus opmerklik. Miskien, het ek gedink, moet ons by hulle gaan kers opsteek – hoekom is dit so? Die klimaat speel sekerlik ’n rol, soos in Ysland (Google beweer 55% van die bevolking lees minstens ’n halfuur per dag en gemiddeld 2,6 boeke per maand), maar dit het waarskynlik meer te doen met die ekonomie as enigiets anders, soos Bibi ook genoem het, en Helené het beaam dat sy voorheen tot sewe boeke per maand kon bekostig, maar deesdae dalk net drie.

Die vraag wat by my opgekom het, was of die mobiele toep Libby, en nog meer, die talle werwe waar e-boeke gratis afgelaai kan word, goed is vir die bedryf? Miskien lees meer mense so, maar die bedryf is steeds ’n besigheid en inkomste is ononderhandelbaar. Dat boeke duur is, is geen geheim nie – ek het twee romans by die Boeketent gekoop, wat my byna R800 uit die sak gejaag het ...

Hoewel nie alle skrywers ekstroverte is nie (Sven beweer hy is ’n introvert; Marion reken hy is weer nié, dog albei ly aan depressie, die swart hond wat so baie kunssinniges agtervolg), moet hulle maar aanvaar dat bemarking nou deel van hulle professie is. Bibi het gesê dat iemand so inkennig soos Karel Schoeman vandag nogal ’n uitgewer se nagmerrie sou wees en ek het geglimlag: inderdaad, in-der-daad!

Toe ek in 2016 ’n boek by Tafelberg uitgegee het, is aan my gesê ek moet ’n Facebook-blad oopmaak en begin bemark. Nou egter, weet ek dat dit te min is – ek sal moet uitbrei na TikTok en ander platforms, veral indien ek op KDP (Kindle Direct Publishing) van Amazon verkoop. Die nadeel is natuurlik dat dit geld kos en dat indien jou winsmarge laag is (wat gewoonlik die geval is), jy maklik meer kan uitgee as wat jy inkry. Om te praat van bemarkers en advertensieprojekte is om van stewige uitgawes te praat.

........
Sommige skrywers skop steeds vas teen die aanwending van sosiale media (een skrywer van my ouderdom sê my vandag dat hy voel bemarking is die uitgewer se werk en dat meeste jonger skrywers meer adverteer as wat hulle skryf) en baie mense dink skrywers – of dan outeurs – is bloot selfbemarkers met ’n behoefte aan aandag.
........

Sommige skrywers skop steeds vas teen die aanwending van sosiale media (een skrywer van my ouderdom sê my vandag dat hy voel bemarking is die uitgewer se werk en dat meeste jonger skrywers meer adverteer as wat hulle skryf) en baie mense dink skrywers – of dan outeurs – is bloot selfbemarkers met ’n behoefte aan aandag. Helené het egter genoem dat skrywers wat neersien op ander wat aktief bemark, moet besef dat dit ’n geval is van “my sukses is jou sukses” en andersom. Hoe meer mense oortuig word om sekere skrywers se werk te lees, hoe beter is die kanse dat hulle ander skrywers se boeke ook sal probeer. Die bedryf in die algemeen behoort by die “bemarking van lees” te baat.

’n Woord wat meer as een keer genoem is, was authenticity. Hoe uniek en oorspronklik is jy en jou werk? Én jou bemarking? Die publiek kom gou agter as jy nie opreg is in jou aanbieding nie en dit beteken jy moet weet wie jy is (jou persona) en wat jy doen (jou produk). Volgens die paneel is dit moeilik om met iets nuuts vorendag te kom (op TikTok, Instagram, Reddit, Bookdoc, Substack, ensovoorts), en net so moeilik om dit vol te hou, want sodra iemand met ’n nuwe ding begin, spring almal op die wa en spoedig verloor die nuwe aanbieding gewildheid – sodra mense eers iets ’n paar maal gesien het, trek iets anders hulle aandag af.

Vandag se opwindende idee is môre geskiedenis, en geskiedenis is bloot ou nuus. So, dit skyn ’n groot uitdaging te wees om enige produk (of persona) te laat uitstaan voordat daar nog sulkes is. Ek dink dadelik aan Nataniël wat ná dekades in die kollig steeds enig in sy soort is. Dít wil gedoen wees!

Benewens varsheid van idees, het Haley daarop gewys dat nie alle inhoud op dieselfde vlak is nie, so jou invalshoek en aanbieding word gemeet aan al die ander waarmee jy meeding. ’n Mens wonder dan dadelik of ’n outeur wat immers ’n amateur op hierdie gebied is, regtig kan doen wat die paneellede voorstel. Die pynlike werklikheid is egter dat veral selfpubliseerders nie die geld het om professionele bemarkers – en daar is oorgenoeg van hulle beskikbaar – aan te wend nie.

En hoofstroomuitgewers? Wat verwag hulle van skrywers? Dink hulle regtig alle skrywers kan nou outeurs met personas wees? Sekerlik nie, dog elke bietjie bemarking help. Of kan ’n mens dit oordoen? Te veel in almal se kykruimte kom? Ek dink wel so, hoewel die konsensus skyn te wees dat selfs negatiewe publisiteit steeds beter is as géén.

Maar hoeveel is skrywers bereid om te doen? Hoeveel moeite doen hulle om by verenigings soos die VLV of leeskringe te gaan optree, om potensiële lesers in te lig wanneer nuwe voorraad beskikbaar is; hoeveel tyd is skrywers bereid om aan netwerking te bestee?

Is dit dan nie meer so dat indien ’n boek goed is, hy sal verkoop nie? Uit eie ervaring kan ek getuig dat selfs ’n goeie boek, wat byvoorbeeld vleiende indrukke (“reviews”) op blaaie soos Goodreads kry, nie noodwendig goed verkoop nie – my eie grensroman Ill at ease (wat ook onlangs op LitNet bespreek is), is deur bekendes in die boekebedryf aanbeveel, maar sonder gedurige bemarking daal verkope summier. Dis duidelik dat die kwaliteit van ’n boek nie goeie verkope waarborg nie. Minder goeie boeke verkoop dikwels beter weens beter en/of konstante bemarking.

Bibi het gesê selfs al is jy irriterend, is dit nodig om aandag te trek en Sven het gebieg dat hy al soos ’n narsis gevoel het, maar jy “moet jouself daarbuite bring” en “packaging, capturing the essence of what you are bringing to the world of the word” kan deesdae die verskil tussen wen en verloor wees.

Ja-nee, dit was nog nooit so dat jy kan wag om ontdek te word of daarop aanspraak maak dat die wêreld jou nie verstaan of na waarde skat nie. As jy jou lesers wil bereik, moet jy pro-aktief optree. “Engage, engage, engage!” is klaarblyklik die leuse. Maar ek wonder waar dit gaan eindig. Iewers moet ’n versadigingspunt of minstens ’n balanspunt wees.

Helené het gesê dat ons moet vergeet wat “die mense gaan sê” (oor ons optrede) en dat mense kan sien as jy jouself geniet, so laat waai en doen dit net. En onthou: “Insanity is doing the same thing, expecting different results”, maar so hou ons steeds boeke-events op dieselfde manier ... So, kan jy verwag om effektief met die veelkantige aanslae van tegnologie wat voortdurend verander, mee te ding?

Ek dink nie die boekebedryf staan ’n kans om die oorhand in hierdie aandagoorlog te kry nie, maar met innovasie en passie kan ons wel steeds relevant bly. Boeke sal nie verdwyn nie, maar die landskap waarin hulle leef en moet óórleef verander gedurig, juis weens die vyand daarbuite, naamlik tegnologie. Tot ’n mate egter is dit ’n geval van “if you can’t beat them, join them”, so die skrywer van gister wat die outeur van vandag wil wees, blykbaar móét wees, moet onder andere tegnologie gebruik om kop bo water te hou.

Ten slotte: Die akkuraatheid van KI se opsomming van hierdie bespreking wys jou weer eens, gebruik die tegnologiese hulpmiddele tot jou beskikking. Jy kan immers vir Google enigiets vra, van hoe om ’n spyker in te slaan tot hoe om ’n kernbom te bou. En nou is daar boonop die nuwe “kid on the block” wat met rasse skrede ontwikkel: kunsmatige intelligensie, wat byna ’n kunsmatige inseminasie van nuwe lewe, hetsy anorganies, is wat dinosourusse in die stof agterlaat.

Lees ook:

Persverklaring: Wenner van die 2025 Woordfees-kortverhaalkompetisie bekend

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 en binnekort op kykNET: Appels en tee

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Kruger en Tutu: Wit, swart en volkleur serenades – ’n foto-essay

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Oesie meense – ’n onderhoud

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Moordballades: en ander minder vrolike verse uit die Groot Vreseboek deur Chris du Plessis – ’n resensie

Die naweek het vele Woordfees-aanbiedinge

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top