Tobie deur Chris Vorster: ’n resensie

  • 0

Titel: Tobie
Outeur: Chris Vorster
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485315995

’n Liewe, ’n sensitiewe siel. ’n Groter-as-lewensgroot ikoon. ’n Akteur met hope natuurlike talent, nie net bekend vir komiese rolle nie, maar iemand wat ook diepsinnig kan wees.

Dit is die mening van talle medeakteurs en ander in die teaterwêreld as hulle oor die geliefde akteur, Tobie Cronjé, gesels.

Dis in hierdie biografie duidelik dat Tobie reeds vroeg in sy loopbaan daarmee vrede gemaak het dat hy weens sy lang, maer, rankerige voorkoms (hy is ’n outydse 6 voet 3 en weeg 71 kilogram) nooit die spierpaleis of romantiese hoofkarakter in ’n opvoering of fliek sou wees nie. Maar hy het dit juis tot sy voordeel gebruik en byna altyd werk gehad.

Hy vertel self dat hy baie gelukkig in sy loopbaan was omdat sy voorkoms uniek is.

“Jy word in ’n rol gekies vir ’n doel: die spierbol, die boelie ... en ekke …. die komiese besemstok. Ek bekyk alles vanuit ’n skewe hoogte. Daar was nog nooit baie ernstige rolle vir mense wat soos ek lyk nie,” sê hy self.

Hierdie biografie, wat geskryf is deur die bekende akteur Chris Vorster (Ryno van Sewende Laan-faam), lektor en regisseur vir die verhoog en televisie, gee jou ’n deeglike beeld van die besonderse mens agter die humor. Vorster het ook biografieë oor Marius Weyers en Franz Marx geskryf. Omdat hy self ’n akteur is, weet hy presies watter vrae om te vra en watter inligting van belang is.

Vorster voeg konteks by deur met medeakteurs en vriende en familie te gesels. Die res, lui die persverklaring, is “ten volle Tobias Jurgens Cronjé!”

Soms is Vorster aan die woord, soms Tobie, en dan weer ander in rolprent- en teaterkringe. En almal het ’n sagte woord vir Tobie.

Dit raak net by tye ietwat verwarrend om te probeer uitwerk wie presies aangehaal word – die skrywer, Tobie of ander. In so ’n geval moet ’n mens dan teruglees en seker maak wie dit is.

Gelukkig is die uittreksels uit dekades se onderhoude in publikasies waarvan baie nie meer bestaan nie, teen ’n grys agtergrond uitgelig – ’n slim besluit. Ek het nie een swak resensie gelees nie. Ritse byvoeglike naamwoorde word liries ingespan om Tobie se talent te beskryf.

Vorster het besluit om Tobie direk in sy eie woorde aan te haal – net soos wat hy praat. Dit het sy voordele, want dan kry jy ’n goeie begrip van sy menswees, sy woordeskat, sy empatie, sy nederigheid en sy loopbaan. Dit word dan pure “human interest”. Hy vloek byna nooit nie en gebruik dikwels die woord ”foeitog”.

Tobie met die prominente kakebeen wat kykers en teatergangers laat lag nog voor hy ’n woord geuiter het, se diepsinnige kant kom deeglike na vore. Hy is spiritueel, ’n aanhanger van Zen Boeddhisme, en wou ook graag sy staal in ernstiger rolle toon.

Tobie het in Germiston grootgeword in ’n huis met ’n rooi gepoleerde stoepie, as deel van die “laer middelklas”. Hulle het toevallig destyds in ’n straat onder ons s’n in Primrose Hill gewoon. Oos-Randers was supertrots daarop dat hy van hierdie geweste gekom het.

Mens is nie verbaas dat Tobie in ’n musikale familie grootgeword het en self ook ’n knap musikant is nie. Talle kreatiewe siele blink mos op verskeie vlakke in die kunste uit.

Sy ouers was nie soos dié van sy tydgenote nie. Hy vertel dat sy pa “fyngevoeliger, baie sensitiewer en ’n wyer belangstellingsveld as die gemiddelde ou gehad het”. Sy ma het al op 16 in die Johannesburgse simfonieorkes viool gespeel.

Hy beskryf homself as handig – hy maak gordyne – en kan ook mooi teken.

Tobie het al as kind graag “rolle” vertolk soos dié van cowboys en Indiane, en het van kleins af vir sy ma gesê hy gaan ’n hanswors, ’n sirkusarties of ’n dokter word. Dink net hoe sou sy pasiënte sy bedside manner waardeer het!

Tobie vertel dat hy in ’n stadium gespanne en angstig was omdat kinders hom geboelie het. Dis toe dat komedie sy “veiligheidsklep” geword het. Hy het nooit gedink dat hy ’n akteur sou word nie.

Maar toe word hy die volk se “onwillige volksnar” terwyl hy ’n lewenslange stryd tussen uiterlike snaaks wees en innerlike erns gevoer het. Hy is, soos talle in die kreatiewe beroepe, eintlik ’n introvert.

Op Tukkies het hy drama by die kwaai en formidabele Anna Neethling-Pohl geloop wat hom gewaarsku het dat akteurs nooit siek word nie. The show must go on.

Tobie het erg met migraines gesukkel, maar moes eenvoudig optree. Dis ’n genadelose beroep en glad nie so glansryk as wat dit voorkom nie.

So moes hy op die dag van sy pa se begrafnis ’n bitter snaakse toneel skiet. Sy filosofie in die lewe is dan ook om nie teen die lewe te baklei nie – dinge gebeur soos dit moet.

Die biografie vertel ook van sy depressie en selfdoodpoging gedurende sy eerste jaar op Tukkies.

Dan dink mens aan die spreekwoordelike hanswors met die traan in die oog.

Truk en die kunsterade het daardie jare vir brood op akteurs se tafels gesorg. Maar later het dit moeiliker geword. Dit was soos met alle vryskutters ’n geval van no work, no pay.

Tobie skinder min in die boek, vertel van diegene soos Katinka Heyns wat hom baie gehelp het, maar ook dat party regisseurs taamlike tiranne was.

Self is hy as ’n baie geduldige regisseur beskryf wat selfs groentjies onder sy vlerk geneem het.

Daar word ook vertel dat ’n klompie jong akteurs weens rusverstoring agter in ’n vangwa beland het, maar omdat Marius Weyers herken is, het hy ewe voor gesit! Nogal.

Wie sou kon dink dat Tobie nog by tye aan “plankevrees” ly, maar dit kom glo algemeen onder akteurs voor.

’n Akteur sê nie sommer “nee” vir werk nie, maar sepies maak hom gedaan. Hy was in ’n stadium die karakter At Koster van Binneland se mallerige straatmensbroer.

“Sepies is verskriklike harde werk. Ek wil dit nie doen nie”, sê hy.

Daar is egter ook talle ligte oomblikke wat in die boek beskryf word, soos die hoenders se teleurstellende toneelspel in een rolprenttoneel.

Tobie se celebrity status het nog nooit na sy kop toe gegaan nie. Ja, hy het eksentrieke aktrises ontmoet, maar merk op dat daar ’n fyn lyn tussen eksentriekheid en waansin is.

Tobie vertel ook hoe hy ontdek het dat hy homoseksueel is, van sy ma se skok en van sy rustige langtermynverhouding met William, wat ’n paar jaar gelede oorlede is. Mens sou net graag wou weet of hy weer liefde gevind het.

Hy het gereeld in klassieke klugte en pantomimes opgetree waarin hy soms die vroulike rol vertolk het. En natuurlik in rolprente.

Dit is duidelik dat akteurs, net soos skrywers en ander in kreatiewe beroepe is, maar ’n broekskeurloon betaal word. Maar anders as wat met skrywers die geval is, kan akteurs ekstra geld met advertensies en ander optredes verdien, omdat hulle so herkenbaar is.

Tobie dink diep as hy in die boek vertel: “Hoe ouer mens word, hoe meer waardevol raak tyd. Jy moet dan juis nie tyd mors op twak nie. Iemand wat my biografie lees se grootste uitgawe is nie die aankoopprys nie, maar die tyd wat daai arme mens aan die lees spandeer. Dit moet die moeite werd wees ... op verskeie vlakke. Dit moet seker inspirerend wees, en mense moet miskien iets daaruit leer (as hulle wil) ... So, die twee grootste lesse wat ek al in my lewe geleer het, is om jou naaste lief te hê soos jouself, en om nie te eet terwyl jy nies nie.”

Dan ... “Wanneer ek die dag oud is, wil ek oor my lewe terugkyk met die besef dat ek iets vir ander beteken het.”

Daaroor hoef hy nie twee keer te dink nie. Hy doen dit alreeds ’n leeftyd lank. Soos hy self opmerk: “Om iemand te laat lag is om vir hulle liefde te gee.”

Die boek lees maklik omdat Tobie se taalgebruik sonder pretensie of vertoon is en Vorster se verteltrant toeganklik. Dit behoort groot byval te vind by Tobie se medeakteurs sowel as sy aanhangers.

Luister ook:

Luisterverhale: "Genis, geeste en gesies" deur PG du Plessis, voorgelees deur Tobie Cronjé

Luisterverhale: Sewe & sewentig stories oor ’n clown deur Fransi Phillips, voorgelees deur Tobie Cronjé

Luisterverhale: "Het olifante elmboë?" deur PG du Plessis, voorgelees deur Tobie Cronjé

Luisterverhale: "’n Emmer tanne vir ’n hospitaal holbekke" deur Jan Spies, voorgelees deur Tobie Cronjé

Luisterverhale: "Drie kaalkoppe eet tesame" deur Jan Rabie, voorgelees deur Tobie Cronjé

Luisterverhale: "Die honger knaag nog" deur Barrie Hough, voorgelees deur Tobie Cronjé

Luisterverhale: "Die padda en die maan" deur Jan Rabie, voorgelees deur Tobie Cronjé

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top