Suidoosterfees, Gangsters en kuns

  • 0

Hierdie afgelope naweek het ek die laaste vertoning van Die Gangsters by die Suidoosterfees bygewoon.

Die vertoning was briljant en uitdagend en het my beslis aan die dink gesit. Met akteurs soos Stian Bam, June van Merch, Dean Smith en jong Keanen Engel in die rolverdeling is dit nie verbasend nie. Hulle het hul harte uitgespeel. Maar hierdie rubriek gaan nie primêr oor die vertoning nie. Ek sal besprekings daaroor oorlaat aan teaterkenners. Wat my interesseer was die reaksie van die gehoor.

Voor die tyd het ons drankies gedrink en die jolige atmosfeer absorbeer. Opvallend was die aantal jongmense wat daar rondgemaal het, beide binne die Kunstekaap-kompleks en buite. Dit het my laat terugdink aan my eerste ervaring van die Kunstekaap, op daai stadium nog bekend as die Nico Malan. Ek was seker so tien jaar oud, en ons het ʼn ballet gaan kyk. Ek kan nie meer onthou watter een dit was nie, maar ek onthou hoedat al die mans dasse gedra het, en die vroue taamlik formele rokke. Ek verbeel my ek het  ʼn nuwe rokkie gekry vir die geleentheid, en my ma het my die dood voor oë gesweer as ek haar in die skande steek deur te hardloop of iets.

Dit was die weelderigste plek wat ek in my jong lewe gesien het. En met die meeste wit mense op een plek bymekaar. Daar was geen ander bruin gesigte nie, en met die wete wat ek nou het van apartheidswetgewing, wonder ek hoedat ons ooit toegelaat was in die gebou.

Saterdagaand was aansienlik meer informeel, en die absolute genot wat mense geput het uit die aand was aansteeklik. Die Kunstekaap onder leiding van Marlene le Roux is ʼn plek waar kuns gevier kan word op ʼn manier wat nie nuwe kunsliefhebbers sal intimideer nie.

Gedurende die vertoning het ek my ʼn paar keer vererg vir lede van die gehoor wat op (vir my) onbehoorlike plekke gelag en geraas het. Meer as een keer moes ander lede van die gehoor mense stilmaak. Dit het my laat wonder hoe die spelers dit ervaar. Elke stuk kuns is tog ʼn interaksie met die gehoor, en met ʼn stuk soos Gangsters, waar die gehoor direk aangespreek word, selfs meer so. Is dit anders om voor so ʼn gehoor op te tree as wat hul vertoning by ʼn fees soos Woordfees ontvang was? Beïnvloed dit die energie wat hulle na die verhoog bring?

Dan is daar die gehoor. Hoekom sou enigiemand lag, of jil, tydens gedeeltes van die vertoning wat eintlik vra vir ʼn ander tipe reaksie? Is mense so afgestomp vir wat in ons samelewing aangaan dat lag die enigste reaksie is om te toon? Of het die lag ʼn dieper ongemak probeer wegsteek?

Hierdie stuk is uitdagend juis omdat dit so bekend is. Die karakters kan jou oom, of neef, of suster wees. Die polisieman wat sy gesag probeer afdwing terwyl hy self maar die kat in die donker knyp; die godsdienstige figure; die magtelose woede van die bendelede – dis als alte bekend.

Maar waarmee is die lede van die gehoor, veral die jonger lede, daar weg?

Kuns, of dit nou in die vorm van ʼn skildery, ʼn dans, ʼn boek, ʼn opvoering, ʼn lied, ʼn fliek of ʼn televisieprogram is, kuns in sy wydste moontlike betekenis, vra van die kyker/gehoor/leser om hul ongeloof op te hef en ʼn opgemaakte wêreld te betree. Kuns eis van ons om empatie met denkbeeldige karakters te toon.

Kuns, die heel beste dele daarvan, vra van ons om ʼn beter wêreld as die een waarin ons is, te verbeel, en dit tot stand te bring. Kuns eis, op ʼn heel subversiewe manier, ons transformasie.

My persoonlike wens is dat ons ons samelewing kan transformeer sodat jongmense nie lag wanneer ʼn karakter van skoolgaande ouderdom vertel hoedat hy iemand geskiet het, of wanneer ʼn sekswerker haar ervarings deel nie. Ek wens vir ʼn samelewing waar polisiebeamptes en predikante nie bespottings is omdat hulle oneerbaar optree of algeheel irrelevant is nie.

Die heel, heel meeste wens ek vir ʼn samelewing waar kinders nog kinders kan wees.

Lees ook

Suidoosterfees 2019: Die gangsters na jare stééds relevant

Nataniël ’n hoogtepunt by Suidoosterfees

Suidoosterfees 2019-video: Hoe soomloos is die kunste werklik?

Suidoosterfees 2019-video: Afrikaans – ’n taal vir almal?

Suidoosterfees 2019-video: Die volle storie van Afrikaans

Suidoosterfees 2019-video: Wie is ons en maak dit saak?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top