Nataniël ’n hoogtepunt by Suidoosterfees

  • 0

Nataniël

Die verhoog is donker, slegs subtiele blou beligting wat op die verskeie instrumente val. Daar is die klavier, klawerbord, kitare en trommestel, om net ’n paar te noem. Voor op die verhoog flikker kerse in ’n halfmaan. Die afwagting is groot, want binne oomblikke gaan Nataniël op die verhoog verskyn – en die gehoor kan nie wag nie.

Die Kunstekaap se operahuis is volgepak; selfs op die galery is daar nie ’n enkele oop sitplek nie. "A full house" noem hulle dit mos. En die gehoor is duidelik opgewonde, te oordeel aan die gedruis van stemme. Basta met die idee dat jy tjoepstil moet sit in die teater – vanaand kan niks die atmosfeer demp van geesdriftige Suidoosterfeesgangers nie.

Soos een man word die gehoor egter stil toe Nataniël sy verskyning maak.

Hy het geen bekendstelling nodig nie.

Hy betree dramaties die verhoog. Onder luide applous gaan staan hy tussen die flikkerende kerse – geklee in ’n goue gewaad en hoë polvye.

Nataniël is natuurlik onder meer bekend vir sy skreeusnaakse staaltjies, maar sing kan hy óók. Dié optrede is juis ’n kombinasie van stories vertel en liedere sing. In Engels en Afrikaans. Dit is die tweede keer dat hy by die Suidoosterfees te sien is, dié keer met sy nuwe vertoning, Anthem. Want, sê hy, daar is nie ’n Afrikaanse woord vir "anthem" nie – Afrikaanse mense praat verkeerdelik van "volkslied", maar dit verwys na ’n "national anthem". Sy vertoning Anthem is geïnspireer deur ikoniese liedere, oftewel "anthems", uit die geskiedenis van film, teater, oorlog, geloof, sport, jazz, blues en pop.

Dit is gou duidelik waarom die woorde "inspirerend, nostalgies en waansinnig” gebruik word om die vertoning te beskryf. Die vertoning het geheel en al my stoutste verwagtinge oortref. Ek is oor die algemeen ’n groot aanhanger van Nataniël se staaltjies en stories, veral die manier waarop hy dit voordra, maar om hom te hoor sing is sowaar ’n voorreg. Tesame met die ervare musikante wat hom begelei, is die vertoning sowaar ’n belewenis. Nataniël glo immers nie daarin om met ’n "backtrack" te sing nie, vertel hy spottend toe hy sy "band" aan die gehoor voorstel. Juan Oosthuizen op kitaar, Matthys Maree op die klavier, Brendan Ross op die klawerbord, Danny Lalouette op baskitaar en Peter Auret op perkussie. Musikante van formaat, spog hy, en hy is in die kol. Die musikante kén hulle storie.

Gepraat van sy staaltjies en stories: daarmee stel hy ook nie teleur nie. Dit is veral sy raad oor troues wat die gehoor gaande het. Jongmense trou deesdae te vroeg, meen hy; hulle ly al te vroeg aan trouekoors. En dit omdat almal tog net ’n troue wil hou.

"Troues is soos ’n aartappelslaai – hoe meer jy joune verskillend probeer maak hoe meer is dit soos al die ander," laat hy hoor.

Om te trou lei immers tot vyf dinge, volgens sy ouma, en net één daarvan is geluk – meestal lei ’n troue net tot spyt.

Dié en ander lewenswyshede deel Nataniël met die gehoor.

’n Ander hoogtepunt is Nataniël se flambojante uitrustings, deur Floris Louw, wat die vertoning net daai ekstra tikkie Nataniël-flair gee. Dié vertoning is sowaar ’n skouspel en ek is geensins verbaas dat dit met ’n staande toejuiging van die gehoor afgesluit is nie. Dit was werklikwaar puik. Ek kyk dit enige dag sommer weer!

Lees ook

Suidoosterfees 2019: Die gangsters na jare stééds relevant

Suidoosterfees, Gangsters en kuns

Suidoosterfees 2019-video: Hoe soomloos is die kunste werklik?

Suidoosterfees 2019-video: Afrikaans – ’n taal vir almal?

Suidoosterfees 2019-video: Die volle storie van Afrikaans

Suidoosterfees 2019-video: Wie is ons en maak dit saak?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top