Suidoosterfees 2019: Die gangsters na jare stééds relevant

  • 0

Die gangsters

Die gangsters is gewaagd, gevaarlik en nie op hulle mond geval nie. Hulle tonge is vlymskerp. Hulle glo nie in idealistiese idees rondom ’n reënboognasie nie; ook nie in Jesus nie – en hulle is ook glad nie bang om dit te sê nie. Hulle is moeg daarvoor om aan die kortste ent te trek, moeg vir die onregverdige sosiale strukture – en dis tyd dat hulle gehóór word.

Die bekroonde produksie Die gangsters (oorspronklik geskryf deur Benoni Dehaeck), wat die afgelope week op die Kunstekaap-verhoog as deel van die Suidoosterfees gespeel het, het weer eens bewys dat die rol van teater om sosiale kommentaar te lewer nie onderskat moet word nie. Dié produksie spreek immers maatskaplike en sosiale kwessies aan wat na jare steeds aan die orde van die dag is.

Die produksie handel oor ’n groep gangsters wat ’n gedenkdiens hou vir een van hul lede, die gangster heilige Joe Jesus wie vermoor is. Vier rolspelers uit die samelewing is genooi om die gedenkdiens by te woon. Hulle verteenwoordig verskillende groepe in die samelewing. Daar is die swart biskop, wat aan Desmond Tutu herinner, die wit polisiekommissaris, die Moslem-vrou en die bruin minister van welsyn – hulle verteenwoordig as't ware die reënboognasie. Die gangsters het die gesagsdraers saamgeroep met een doel voor oë: om hulle te konfronteer met die alledaagse realiteit van die gangsters. Dit is nou tyd dat daar vertel word van hulle verdrukking, pyn en seer, want elke gangster, of dit nou die gevaarlike leier, drag queen, prostituut of moederfiguur is, het ’n storie om te vertel.

Die toneelstuk is oorspronklik in 1993 voltooi en in dieselfde jaar, sowel as in 1997, by die Breughel-teater in Cloetesville opgevoer, waarna dit in België getoer het. Die produksie is in 2016 weer op die planke gebring by die Woordfees, waar Marthinus Basson die regie behartig het. Vanjaar was dit ook te sien by die Woordfees, waar dit onder meer die toekenning vir beste produksie gewen het, en nou uiteindelik ook by die Suidoosterfees. Steeds onder leiding van Marthinus Basson, met sommige van die oorspronklike geselskap sowel as nuwe gesigte.

Die produksie ondersoek onder meer magsbeheptheid in die samelewing, Suid-Afrika as demokrasie, ongelykheid en die verhouding tussen goed en kwaad. Hierdie kwessies hou nou verband met die politieke klimaat wat Suid-Afrika tans ervaar en maak die stuk steeds so relevant soos toe dit oorspronklik geskryf is. Die gehoor word geneem op ’n verbeeldingsvlug soos die gangsters vir Joe Jesus uit die dood laat verrys om sy storie te vertel, sowel as hul eie stories. Hulle is die agtergeblewenes, dié wat kwesbaar gelaat is deur die vorige regime, dié wat deur hulle ouers weggegooi is en verwerp is deur die samelewing. Hulle het snags gehoor hoe klap die geweerskote buite hulle deure in die straat.

Hulle stel nie meer belang in die leë beloftes en vals hoop wat die idee van ’n reënboognasie waar almal gelyk is, bring nie. Nog minder stel hulle belang in die trooswoorde van die biskop, want, voel hulle, die Here het hulle lankal verlaat. ’n Bybelversie het nog nooit hulle probleme opgelos nie …

Een ding is so seker soos daglig: daar is ’n rede waarom Marthinus Basson ’n bekroonde regisseur is. Sy unieke aanslag tot die verskeie produksies wat hy aanpak, is merkwaardig, en dit is geensins anders met Die gangsters nie. Die produksie word op so ’n kreatiewe manier op die planke gebring dat die gehoor deurentyd geïnteresseerd bly. Die narratief word byna abstrak eerder as realisties uitgebeeld, die produksie ’n kleurvolle spektakel. Die beelde, wat op ’n verfrissende wyse deur middel van rekwisiete geskep word, dra by tot die sukses van die produksie en sorg vir ’n visueel stimulerende ervaring. Tesame daarmee dra die stel by tot die onheilspellende atmosfeer, met die kis van Joe Jesus sentraal op die verhoog, die spilpunt waarom die aksie afspeel.

Uitspattige kostuums, glinsterende grimering, helder beligting en dies meer verseker dat die gehoor op die punt van hul stoele bly. Tong-in-die-kies grappies en humor gee die toneelstuk lewe en verlig die gespanne atmosfeer. Maar tog, midde die lagbui kan mens nie verstaan hoekom jy ongemaklik voel nie. Later besef jy dit: "All that glitters is not gold." Agter die kleurvolle spektakel, agter die bravade van die gangsters, en agter die grappies skuil daar waarheid – en dis daarmee dat die gangsters jou konfronteer. Die gangsters is immers ook maar net mense.

Dit is die eerlike betekenisvolle spel van die akteurs wat juis die karakters daardie menslikheid gee en maak dat jy by hulle aanklank vind, ten spyte van die negatiewe konnotasie wat daar aan die woord "gangsters" geheg word. Die karakters word met soveel deernis vertolk, en dit is opmerklik. Dit is lekker om die jonger akteurs dop te hou tussen die gesoute veterane, en hulle kwyt hul goed van hul taak.

Die somtotaal van die verskillende elemente in die produksie sorg in hierdie geval vir ’n uitsonderlike geheelbeeld. Die produksie laat jou opnuut nadink oor "ou" kwessies wat steeds jare lank samelewings in die land teister. Dalk is dit tyd dat ons na die "gangsters" luister. Die gangsters se verhale is immers die verhale van soveel mense in die samelewing.

Lees ook

Suidoosterfees, Gangsters en kuns

Nataniël ’n hoogtepunt by Suidoosterfees

Suidoosterfees 2019-video: Hoe soomloos is die kunste werklik?

Suidoosterfees 2019-video: Afrikaans – ’n taal vir almal?

Suidoosterfees 2019-video: Die volle storie van Afrikaans

Suidoosterfees 2019-video: Wie is ons en maak dit saak?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top