Sowat van ’n wolk!

  • 0

Prent: https://pixabay.com/photos/camera-old-antique-voigtlander-711040/

In hierdie teks kom pejoratiewe terme voor wat deur lesers as aanstootlik en beledigend ervaar mag word. Hierdie terme word in hul oorspronklike historiese konteks aangehaal.


...........
Herinnering is verdag, dit weet almal. Nadat jy iets vir die eerste keer onthou het, onthou jy daarna nooit weer die gebeurtenis self nie – jy onthou vir altyd jou eerste herinnering van die gebeurtenis. Herinneringe is herinneringe van herinneringe.
...............

Herinnering is verdag, dit weet almal. Nadat jy iets vir die eerste keer onthou het, onthou jy daarna nooit weer die gebeurtenis self nie – jy onthou vir altyd jou eerste herinnering van die gebeurtenis. Herinneringe is herinneringe van herinneringe. Dis soos ’n droom: Jy onthou vir altyd daardie weergawe van die droom wat jy vir die eerste keer, kort nadat jy wakker geword het, aan jouself of iemand anders vertel het. Jy onthou die vertelling, dit wat jy agterna uitgepluis en aanmekaargelas het. Nie die ervaring van droom self nie.

Ander se vertellings kan ook maklik jou eie herinnering word, asof jy dit self beleef het. Dikwels het jy dit self beleef, maar jy was nog te klein om woorde te hê vir die beelde. Maar ’n ander se woorde laat die beelde weer verrys en deel van jou herinnering word. As jy ’n herinnering nie neerskryf of gereeld van die rak haal, afstof en bekyk nie, vervaag dit in die niet. Dis vlugtig.

..............
Ons is aanmekaargesit van drome en wind. Ons identiteit is so broos. Dis soos wolke wat gedurig van vorm verander. Stadig gebeur dit, die metamorfose, en later onthou jy nie die oorspronklike vorm nie. Soms onthou ’n mens die onbenullige, die fokus ernaas.
..............

Ons is aanmekaargesit van drome en wind. Ons identiteit is so broos. Dis soos wolke wat gedurig van vorm verander. Stadig gebeur dit, die metamorfose, en later onthou jy nie die oorspronklike vorm nie. Soms onthou ’n mens die onbenullige, die fokus ernaas. Daar was ’n liedjie oor iemand wat ’n vrou gesoen het en in die lug was ’n reusewolk, en so ’n wolk het hy nog nie weer gesien nie. Jare later kyk hy terug op daardie dag en besef daardie vrou se vierde kind is moontlik al gebore en hy onthou min van haar of die soen, maar daardie wolk!

Hoe sien ’n mens jouself in herinneringe? Meestal sien jy jouself nie, want jy sien vanúit jouself, soos in drome. Soms, skuinsweg, sien jy jou neusbrug of jou besige hande, ’n voet wat trap. Daar was al drome waarin ek myself gesien en herken het, van buite af, soos in ’n video: A, daar is ek. Of is dit ek? Maar in herinneringe sien ek net ander mense.

Deur twee oë, patryspoorte, kyk my brein, my ingesteldheid. Soos soekligte val hulle op my ma in haar fleur, my pa jonk en sterk, my goddelooslik stoute boeties met oë soos lukwartpitte. My sussie wat op ses ’n brilletjie gekry het en verwonderd was oor die helderheid van die wêreld. Sy het saans daarmee gaan slaap om in haar drome ook helder te sien. Toe sy dit die eerste keer opsit, het sy gegil van vreugde: Kyk, die blomme het ronde sirkeltjies binne-in, alles het buitelyne!

Ek onthou ’n oomblik waarin ek ’n besef van die ewigheid gekry het, en van die vervlietendheid van alles hier. Dit was ’n middag op die groen gras toe my ma sê sy is nou vyf-en-dertig en my tannie sê sy is ses-en-dertig. En my ouma antwoord: “Julle is bloedjonk.” Vir ’n oomblik het ek relatiwiteit gesnap: Vir my is my ma en tannie oud, vir my ouma is hulle jonk. Ek het besef dat ek hierdie oomblik vir altyd sal onthou, en ’n weemoed het van my besit geneem, so ’n gevoel van: Wir kommen nie wieder so jung zusammen.

Ek onthou verder terug. Ek onthou daardie beskaamde gevoel – verleë vir ander se onthalwe – wanneer grootmense met my gepraat het asof ek ’n idioot was. Ek het nog nie die woordeskat gehad om hulle reg te help nie, maar in my kop het ek (op ’n manier, miskien in beelde) gedink: Julle embarrasseer julleself en my. Ek het dikwels trane in my oë gekry van skaamte.

Later onthou ek dat ek probeer vasklou het aan die oulikheid wat babas in pag het, terwyl ek in my kop al oud gevoel het. Ek onthou dat ek op ’n tante se skoot gesit en inkleur het toe ek nog nie juis gepraat het nie. Sy het vir iemand anders gesê: “Hoe lief is hierdie een vir pers.” Ek het na die pers vetkryt in my hand gekyk en besef: Dis waar! Ek is baie lief vir pers! Ek is “hierdie een”!

Ek onthou as klein kind het my antennes soms regop gaan staan en het ek gedink: Spits jou ore, hierdie is belangrike inligting. Jy verstaan dit nog nie, maar as jy dit kan onthou, sal jy dit later kan interpreteer. Dikwels het ek, en kon ek.  

Ek onthou ’n Duitssprekende tannie (dit besef ek later – in daardie stadium het tale en nasionaliteite min vir my beteken) het krom en skeef vir my gevra hoe oud is ek. Ek het vier vingers opgehou. Haar antwoord het vir my geklink soos “O, veer!” Snaaks dat sy nog nie “vier” kan sê nie, het ek gedink.

Ek onthou die reuk van Lifebuoy-seep en ’n man by wie ek geborge gevoel het. Ek was baie klein. Eers later het ek hom saamgeflans uit vertellings van my ma: “Deborah was besonder lief vir die tuinboy, Jim. Hy het haar oral rondgedra en ons het later gesê sy mag hom nie soen nie.” Ek onthou ’n edel siel vol lig en liefde. En ek onthou sowaar flardes van sy stories, miskien omdat ek agterna soveel daaraan gedink het. Hy het net een storie vertel, met baie variasies: Ouma en oupa gaan op vakansie. Langs die pad vra ouma: Ou man, het jy die stoof afgeskakel? Dan draai hulle om. So gaan dit aan, eindeloos, tot my en my boeties se groot vermaak. Hy het in mooi Afrikaans vir ons ’n storie vertel uit ons milieu, nie syne nie – ’n storie waarmee ons kon identifiseer.

Ek sien my kinders, klein bondeltjies wat op hul maag lê soos braaihoenders, beterweterige tieners vol onsekerheid en opinies. Ek sien die vriende wat nog altyd my familie was en wat my gevorm het.

Ek kyk na foto’s van myself as kind en ek herken haar nie. Op elke foto is sy afwesig, elders aan diens. Meestal met die neus in ’n boek, maar selfs wanneer sy vir die kamera kyk, is daar niemand agter haar oë nie. Die verdwynkunstenaar. Ek het hard gewerk aan my onsigbaarheid. Op veertig het ek my hand opgesteek en gesê: Hier is ek. Kyk vir my!

............
Herinneringe is laslappe, lugspieëlings, hersenskimme. Dis ’n boek wat oor en oor gelees word en daarna stof vergaar op die rak. Maar dit word nie uitgegooi nie. Dis ’n foto wat vervaag, ’n skildery wat dof geword het onder te veel lae vernis.
.............

Herinneringe is laslappe, lugspieëlings, hersenskimme. Dis ’n boek wat oor en oor gelees word en daarna stof vergaar op die rak. Maar dit word nie uitgegooi nie. Dis ’n foto wat vervaag, ’n skildery wat dof geword het onder te veel lae vernis.

En tussen die reëls, in die gapings, in die negatiewe ruimtes, daar is die kyker, die onthouer.

Lees ook:

Taal van my hart

Die mooiste seuns op aarde

Maud: Moeder Moed

Elizabeth van der Westhuizen, ’n vrou uit een stuk

Om jou ’n ander se jeug te verbeel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top