Maud: Moeder Moed

  • 6

Foto: verskaf

.........
My ouma Maud Roos (née Zeiler) het 93 geword. Haar oumagrootjie was Debora Retief, dogter van Piet. Debora Retief is met Willem Landman getroud. Hul dogter Debora is met William Skinner getroud. Hul dogter Debora is met Harry Zeiler getroud – my ouma se ouers.
..........

My ouma Maud Roos (née Zeiler) het 93 geword. Haar oumagrootjie was Debora Retief, dogter van Piet. Debora Retief is met Willem Landman getroud. Hul dogter Debora is met William Skinner getroud. Hul dogter Debora is met Harry Zeiler getroud – my ouma se ouers.

Maud, dit onthou ek uit die eerste Engelse kinderboek wat ek self gelees het, beteken “strong in battle”. Sy wás sterk. Haar sibbe het haar Baba genoem. Haar kinders het haar Mam genoem. En vir ons was sy ouma Mam. Haar pa was landdros; sy het lewenslank in Pretoria gewoon.

Sy is met Johannes Roos getroud. Van hom weet ons min, want hy is vroeg dood. Sy het eenkeer vertel sy het hom ontmoet net voordat hy moes weggaan – was dit Kaap of Vrystaat toe? Toe vra hy haar of sy sy vroutjie sal wees. Sy was verontwaardig, want dit was onbetaamlik; heeltemal te gou. Later sou sy uitvind hy het iets soos “nooientjie” bedoel. Dit het sy wel geword, en later sy vrou.

Hy was ’n drukker. Hulle het ses kinders gehad en hy is dood net voor die sesde se geboorte, aan breinvliesontsteking. Ouma Mam was ’n weduwee voordat sy dertig was, met ses kinders en geen beroep nie. Dit was die Depressiejare. Boonop het ’n verlangse familielid met ’n hartseerstorie opgedaag en bykans haar oorlede man se hele pensioenuitbetaling “geleen”. Sy het wasgoed ingeneem om liggaam en siel bymekaar te hou en haar broers met plase het gehelp.

My pa onthou hoe hulle op die plaas gekuier het en elk ’n gebakte aartappel met botter gekry het. “Aartáppel” het hy dit uitgespreek. Dit was hemels.

Sy het nooit weer getrou of eens uitgegaan nie. Daar was soms ’n man wat toenadering gesoek het, het sy gesê, maar hulle het net een ding in gedagte gehad. En hulle sou nie goed wees vir haar kinders nie. Sy het hulle streng grootgemaak. Onberispelik. Victoriaans.

Ouma Mam was nie ’n hartlike mens nie. ’n Introvert met ’n fyn, sardoniese humorsin. Altyd korrek, met ’n regop rug. Wanneer ’n mens haar omhels het, het sy jou ná ’n telling of wat op die skouer geklop asof om te sê: “Toe, toe, toe, dis nou genoeg.” Sy het my ma met haar reusepersoonlikheid en borrelende selfvertroue só gekyk en stilgebly. Soms het sy ’n fyn stekie gegee, soos: “Dié bloes se hals is darem baie laag”, met ’n vreugdelose laggie. My ma het nie van haar gehou nie, nodeloos om te sê. En as my ma nie van iemand hou nie, mog ons kinders ook nie. Só het ons nie regtig ’n verhouding met my ouma gehad nie.

Later het ek oor haar en haar lewe begin dink, veral nadat my ma vir my ’n portret gegee het wat my pa van haar geskilder het toe hy baie jonk was. Hoe oud was sy? Seker so veertig. Agter haar is een of ander boog wat dit na die skildery van ’n ikoon laat lyk. En iets soos die skadu van ’n vlerk. Formidabel kyk sy deur die dekades na my terug. Moedig, waardig, ’n imposante teenwoordigheid in ons sitkamer. My ma het dit nooit laat raam nie en dis plek-plek verniel, maar ek het haar in ’n goue raam gesit. Aan die voorsate moet ’n mens respek betoon.

..........
Later het ek oor haar en haar lewe begin dink, veral nadat my ma vir my ’n portret gegee het wat my pa van haar geskilder het toe hy baie jonk was. Hoe oud was sy? Seker so veertig. Agter haar is een of ander boog wat dit na die skildery van ’n ikoon laat lyk. En iets soos die skadu van ’n vlerk. Formidabel kyk sy deur die dekades na my terug. Moedig, waardig, ’n imposante teenwoordigheid in ons sitkamer. My ma het dit nooit laat raam nie en dis plek-plek verniel, maar ek het haar in ’n goue raam gesit. Aan die voorsate moet ’n mens respek betoon.
.........

Toe haar man dood is, was my pa ses en sy oudste broer tien. Hulle moes standerd sewe uit die skool om te gaan werk en help sorg vir die kleintjies. My pa het ’n bekleër by die Spoorweë geword. Die seuns het almal later gaan leer, nauurs. Die dogters het goed getrou. Almal was uiters ordentlik.

Ouma Mam het eenkeer vir my ’n brief gegee wat my pa vir haar geskryf het toe hy deur Afrika getoer het met ’n motorfiets, om te skilder. Daarin het hy gesê hy was nog altyd die swartskaap wat alles verkeerd doen en hy is jammer hy het haar soos ’n sleg hond in die steek gelaat toe sy hom die nodigste het, maar sy voete jeuk en hy het ’n droom. Ek het dit in my dagboek geplak, saam met ’n inskrywing dat ek ook voel dat ek niks reg doen nie en dat ek voel ek mag nie grootword nie – daar’s nie ruimte vir my nie, want my ma wil ewig die jong meisie wees. Daardie dagboek het spoorloos verdwyn. Ek het ’n sterk vermoede wie dit weggegooi het. Ek het opgehou dagboek hou, maar ek wens ek het daardie brief nog gehad.

Ouma Mam het later by haar jongste dogter en dié se man gewoon. Haar persoonlikheid was te sterk, sy het algehele gehoorsaamheid van haar kinders vereis, en die jongste dogter was sagmoedig en effens verslae. Haar skoonseun, ’n nasaat van die Dorslandtrekkers, het ’n ultimatum gestel en haar kinders het saam vir haar ’n woonstel gehuur, in Sunnyside. Dit was destyds, in die blanke lugborrel waarin ons geleef het, ’n rustige studenteplek vol kafeetjies en jakarandas. Sy het nooit geleer bestuur nie, maar het elke dag College Tea Room toe gestap vir vars broodrolletjies. Die woonstel was op die tweede vloer en daar was nie ’n hysbak nie. Sy het die trap tot haar dood toe geklim.

Daardie woonstel was ’n mooi ruimte, met meubels wat haar man voor sy vroeë afsterwe gemaak het en wat sy van haar familie geërf het, baie gelukkige plante en allerlei kunstige lap- en hekelwerk waarmee sy haar besig gehou het. ’n Groot, sonnige toegeboude stoep. Naweke het sy om die beurt by die kinders gekuier en vir daardie paar dae oor elke huishouding regeer. Behalwe ons s’n. By ons het sy eenkant gesit en hekel, stil. Daar was net vir een heerser ruimte.

Ek is jammer ek het haar nie gevra om vir my stories te vertel van haar kinderjare nie. Ek is jammer ons was so ongemaklik met haar. Ons was my ma se soldaatjies, tot die dood getrou. My pa het ook nie veel vir haar te sê gehad nie, maar hy was ’n man van min woorde. Hy het haar altyd met die grootste respek behandel. Een van die enkele kere waar hy woedend was vir my ma, was toe sy vir hom gesê het: “Jou ma is die selfsugtigste mens wat ek ken.”

..........
Sy het baie opofferings gemaak en vir haar kinders geleef, want wat anders was daar? Kinders is ’n slegte belegging. Een kind het wel haar oudag sagter gemaak. Dit was haar oogappel – haar jongste seun, Stanley.
..........

Sy het baie opofferings gemaak en vir haar kinders geleef, want wat anders was daar? Kinders is ’n slegte belegging. Een kind het wel haar oudag sagter gemaak. Dit was haar oogappel – haar jongste seun, Stanley. Hy was professor by Tukkies en het elke liewe dag vir haar gaan kuier en kruideniersware geneem. Sy huwelik was redelik onherbergsaam en by sy ma het hy welkom gevoel. Sy was sy persoon.

Sy moes baie slim gewees het, en sy het nie dwase verduur nie. Maar watter kanse was daar vir haar? Sy het ’n aantreklike, deftige man se vroutjie geword – in albei foto’s wat ek onthou, die troufoto en ’n later een, het hy wit handskoene gedra. Sy het haar kinders alleen grootgemaak.

Sy lê nou in die erg verwaarloosde heldeakker in Pretoria, saam met haar voorsate. Die strate wat na hulle vernoem was, is herbenoem. Ek is bly sy hoef nie vandag se Sunnyside te aanskou nie.

Rus sag, dapper kryger Maud Zeiler Roos – jy het ’n plek in my huis. Jy hou my nou elke dag dop en as ek mooi luister, kan ek jou droë, ironiese laggie hoor.

 

  • 6

Kommentaar

  • Hy was n drukker. Hulle ses kinders gehad.
    Hierdie trap het sy tot haar dood gestap.
    Die twee sinne tref my.
    Hierdie formidable vrou laat my aan my ouma dink.

  • Dit is baie lekker om iets wat jy geskryf het, te lees, Deborah. Ek het 'n hele paar van jou boeke gelees, en dit baie geniet. Dit was sekerlik die naaste wat ek ooit aan wetenskapfiksie sal kom, maar tóg was dit fassinerend hoe die stories in mekaar ingeweef is.

  • ... kon my ouma gewees het.
    'n Mens wonder hoeveel families het so 'n herevaluering van moeilike voorsate. Interessant dat dit meestal van die derde of vierde geslag kom, nie die kinders (of veral skoonkinders) wat direk geraak was nie.
    Met die sagter blik van afstand, word agter die streng en afsydig die verbete stryd om waardigheid te behou in 'n moeras van teëspoed raakgesien, word die selfsug die klou om nie beheer te verloor nie en word die stywe rug die laaste bietjie trots.

  • Isabella van der Walt

    In een of ander boek gelees: "Liefde is soos 'n aflosstokkie, jy kan dit nie aangee as jy dit nie gekry het nie." Watter interessante familiegeskiedenis!

  • ES Hooghenhout

    Dankie hiervoor! Jou skrywe lig die gemoed en roer die hartsnare. Empatie is 'n rare gawe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top