Elizabeth van der Westhuizen, ’n vrou uit een stuk

  • 0

Prent: https://pixabay.com/photos/photos-album-old-photo-album-256889/

Toe ek klein was, was daar maar min grootmense wat nie rassisties, seksisties en dogmaties was nie.

Daar was darem tannie Ticker. Sy was my pa se niggie en een van sy gunstelingmense. Ek kan haar nie aanlyn opspoor nie. Haar ma was my ouma Maud se suster Debora Jacoba van der Westhuizen. Debora se kinders word in die aanlyn familieboom meestal as “private” aangedui – haar eggenoot ook.

Haar naam was Elizabeth, maar omdat sy rooiblonde hare en ’n vinnige humeur gehad het, is sy Tigger genoem, wat in die familiemond Ticker geword het. Haar broers se kinders het haar tannie Fietsie genoem, hoekom weet ek nie.

............
Sy was haar tyd ver vooruit. Sy was rebels, het ongeregtigheid gehaat en was ’n natuurlike lapswaaier en betoër. Sy was ’n bleeding heart, altyd aan die kant van die verskoppelinge en afvlerkduiwe. Sy wou die wêreld verander.
..............

Sy was haar tyd ver vooruit. Sy was rebels, het ongeregtigheid gehaat en was ’n natuurlike lapswaaier en betoër. Sy was ’n bleeding heart, altyd aan die kant van die verskoppelinge en afvlerkduiwe. Sy wou die wêreld verander. Haar gesin was Jehovasgetuies as ek reg onthou, maar sy wou van godsdiens niks weet nie. Haar feministiese, liberale sienings was vir die familie volksvreemd. Hulle het agter die hand gefluister dat sy as jong meisie promisku was. Wild.

Sy het nooit kinders gehad nie en wyd gereis toe sy jonk was. Sy het in Kenia gewoon soos Karen Blixen. Sy was vir ’n ruk getroud met ’n akteur wie se foto in ’n margarienadvertensie in tydskrifte verskyn het. Sy naam was Magnus, maar ek het sy van vergeet. Sy moes weg uit Kenia in die tyd van die Mau Mau, maar was lewenslank verlief op Afrika. Haar huis was vol Afrikamaskers en -beelde. Dit was ’n koel, donker ruimte met klipvloere; groot vertrekke onder ’n hoë-hoë grasdak.

Sy was blond met lagduiweltjies in haar blou oë en het altyd geamuseerd gelyk, soos Sandra Prinsloo, asof sy in haar enigheid lag oor ’n interessante geheim. Daar was so ’n outydse Hollywood glamour wat haar omgeef het. Sy het gehou van wit, van wasige gewade en hoede. Sy het gerook en klein vertikale plooitjies om haar mond gehad. Sy het, soos my pa, mooi geronde Afrikaans gepraat wat haar mond laat tuit het. Sy was beleefd, maar uitgesproke. ’n Gekantelde blik en droë humorsin. Toe ek al groot was en by haar gaan kuier het, het sy met haar ronde mond gesê: “Kom ek skink vir ons ’n doppie.”

............
Soos dit gaan met geliefdes wat dood is, behou ek ’n paar helder herinneringe. Oomblikke.
.............

Soos dit gaan met geliefdes wat dood is, behou ek ’n paar helder herinneringe. Oomblikke. Ek kuier een keer as student by haar, alleen. Dit ís moontlik om vriende te wees met iemand wat amper vyftig jaar ouer as jy is. Sy het ’n manier gehad om na ’n mens te luister asof jy die belangrikste mens op aarde was. In alles het sy belanggestel en alles het haar geamuseer. Die oomblik wat ek onthou: Ons is in hul swembad wat soos ’n infinity pool uitkyk oor en lyk asof dit oorloop in die Hartbeespoortdam, waar die son dramaties ondergaan. Ons het elk ’n glas witwyn in die hand. Ons praat oor die familie. Sy sê oor ’n oujongnooiniggie van ons: “Is sy nie miskien skuins nie?” Heeltemal ontdaan van oordeel, net lekker nuuskierig.

Sy het weer getrou met Patrick Sale, ’n vrygesel wat heelwat jonger as sy was. ’n Baie pittige, sjarmante man wat soos Patrick Dempsey en bietjie soos ’n skraal Richard Burton gelyk het. Engelssprekend, maar vlot in Afrikaans. Hy het haar “Viermyltjie” genoem en sy het hom “Van Zyltjie” genoem. Hulle het brandarm begin, in ’n hut gewoon en glo buite in ’n sinkbadjie gebad, maar ’n florerende kwekery opgehou en ’n lieflike kliphuis teen Saartjiesnek gebou wat die kontoer van die berg volg en uitkyk op Hartbeespoortdam. Patrick het later voltyds gholf gespeel en te veel gedrink.

Hul partytjies was legendaries. Ek het as kind op die boonste balkon gesit en alles gadegeslaan. Daar was twee huishulpe wat saam met haar grootgeword het en soos haar susters was. Een het die familienaam Debora gehad, maar is Lellie genoem. Alles was elegant en uit die boonste rak. Daar was skares mense, kerslig, kandelare en golden oldies oor die luidsprekers.

Toe ek ’n tiener was, bied oom Patrick een keer aan om my sy nuwe Jaguar in die motorhuis te gaan wys. Ek het glad nie in motors belanggestel nie, maar het hom bewonder, want hy was so gesofistikeerd en snaaks en hy was hartstogtelik lief vir hul katte. In die motorhuis probeer hy my soen. Dié soort van ding het sporadies in my kinderjare gebeur. Ek het maar altyd weggehardloop en nooit iets daaroor gesê nie. Ek was darem nie meer vier jaar oud nie. Tog het dit my skuldig laat voel; het ek onbewus aanleiding gegee?

Patrick het ál meer gedrink en depressief, stug en onseker geraak. In ’n stadium het hy gedreig om van Ticker te skei, behalwe as sy alles wat hulle besit op sy naam oordra. Sy het dit gedoen; geld was nie vir haar belangrik nie. Hy is in elk geval lank voor haar oorlede, aan kanker. Sy was oneindig hartseer.

Sy sou haar laaste trui uittrek vir ander. Sy het verskeie bejaarde familielede tot en met hul dood by haar laat woon en liefdevol versorg, ook ’n voormalige tuinier wat soos familie geword het. Sy het ’n vriendin Kaap toe laat vlieg en vir haar hartoorplanting betaal.

Haar broer Kai se vrou is vroeg dood en sy kinders was soos haar eie kinders. Sy en Patrick het altyd van “die kinders” gepraat. Hulle het as tieners by haar gewoon en later het een dogter en dié se man haar tot haar dood versorg in haar lieflike huis. Sy is in haar tagtigs oorlede en sy het wonderlike tuine nagelaat en baie mense se lewens blinker gemaak.

..............
Ticker het toe nooit die wêreld verander of gesterf vir haar beginsels nie, maar sy het my anders na die bestel laat kyk. Miskien is dit maar al wat ’n mens kan doen: om vir ’n kind te wys dat dit moontlik en veel meer aantreklik is om liefdevol en positief te wees eerder as vervul met haat en vooroordeel.
...............

Ticker het toe nooit die wêreld verander of gesterf vir haar beginsels nie, maar sy het my anders na die bestel laat kyk. Miskien is dit maar al wat ’n mens kan doen: om vir ’n kind te wys dat dit moontlik en veel meer aantreklik is om liefdevol en positief te wees eerder as vervul met haat en vooroordeel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top