
Foto-erkenning: sue_v67, https://pixabay.com/photos/raisin-black-currant-food-2772204/
............
Van alles wat ek liefhet hier, het ek Afrikaans die liefste. Dis ’n poespas, ’n pavement special, ’n kombuistaal gespesery met sêgoed van slawe en matrose van ver. Later jare het komitees wat grys skoene dra dit in ’n borstrok probeer dwing met die HAT en die WAT en wat nog, maar die kappie en baleine word altoos afgeskud.
.............
Van alles wat ek liefhet hier, het ek Afrikaans die liefste. Dis ’n poespas, ’n pavement special, ’n kombuistaal gespesery met sêgoed van slawe en matrose van ver. Later jare het komitees wat grys skoene dra dit in ’n borstrok probeer dwing met die HAT en die WAT en wat nog, maar die kappie en baleine word altoos afgeskud.
Gisteraand hoor ek op RSG Audrey Jantjies in haar ryk bry praat oor grootword en skryf. Sy het eers in Engels geskryf, totdat mentors vir haar Chase Rhys, Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer en Olivia Coetzee se boeke gegee het. Toe besluit sy om in haar moedertaal te skryf en om haar op te hou skaam wanneer sy met haar plattelandse aksent in Kaapstad lostrek. Haar Afrikaans is nie suiwer nie (wat ’n fascistiese woord, anyway), maar beeldryk en deurdag.
In my are, in die murg van my gebeente, leef die idiomatiese taal wat van my voorsate se lippe af gerol het. In die regte geselskap stof ek metafore af. My kinders het dit met moedersmelk ingekry, maar hul maats weet dikwels so min daarvan as ’n kat van saffraan.
My oupa het eensklaps met ’n gepaste vergelyking vorendag gekom en aan almal byname gegee, soos “Die rooie met die naaldneus”. Hy wat vir ’n stinkasem-winkelier gesê het: “Jou neus sit te na aan jou towerkol.”
Op haar tagtigste verjaardag het my ouma Maud gesê: “Ek is so oud soos my hande, maar nie soos my tande nie.” Ek het as kind gedink sy verwys na haar kunstande, maar dis inderwaarheid ’n spreekwoord, gesê wanneer jy ’n vraag na jou ouderdom wou ontwyk.
My ma se ouer susters het haar op skool gespot wanneer sy spulse romanzas lees: “Die liefde brand soos ’n warm kerrieaartappel.” Tannie Helena het graag gesê iets is nie pluistig nie. Hierdie verwringing verleen optimale klem. Sy het ook gesê, van ’n libidinale man of bokkapater: “Hy het ’n natúúr aan hom.”
..........
My ma se ouer susters het haar op skool gespot wanneer sy spulse romanzas lees: “Die liefde brand soos ’n warm kerrieaartappel.” Tannie Helena het graag gesê iets is nie pluistig nie. Hierdie verwringing verleen optimale klem. Sy het ook gesê, van ’n libidinale man of bokkapater: “Hy het ’n natúúr aan hom.”
..........
My ma het die volgende gesê van iemand wat nie juis geseën was met ’n nek nie: “Hy het ’n kop op sy skouers.” Of: “ronde skouers soos ’n kasteroliebottel”. Van iemand wat gelukkig getroud is: “Sy het ’n goeie dag by haar man.” Ons is vermaan om nie beskimmeld te wees nie, maar ook nie tande te tel nie. My oom het gesê hy is ’n bastard met hare op sy tande.
Ons voorsate se Afrikaans was ryk aan idiome, meestal uit die Bybel en landbou. My ma het op ’n plaas grootgeword en hul omgangstaal het gewemel van metafore oor vee, gesaaides, seisoene en hemelliggame. Die kalf is in die put. Ons sal probeer om die wa deur die drif te trek. Jy is voor op die wa. Agteros kom ook in die kraal. Van die os op die esel. Jy ploeg met ’n ander man se kallers. Ek sal jou wys waar Dawid die wortels gegrawe het.
Hane, voëls, kalkoene, eendkuikens en ander gevleueldes het die taal vol gefladder. Ook bobbejane, ape, jakkalse, wolwe, honde, katte, muise het kleur verleen.
My voorsate was natuurlik baie vroom en het daagliks boekegevat en hul knieë blink gebid. My ouma het gesê sy het vir my stapels gebede opgestuur, genoeg om my ’n leeftyd te hou. Ek klou daaraan vas. Sy het gesê God het haar verseker sy moet haar nie bekommer oor haar man en korrelkopseun, al twee genaamd Hendrik, nie, want hy sal dié twee smeulende brandstompe van die vuur red.
............
Bybelfigure was vir vorige geslagte so bekend soos vriende, soos sepiekarakters vir moderne mense.
..........
Bybelfigure was vir vorige geslagte so bekend soos vriende, soos sepiekarakters vir moderne mense. Hul name was genoeg om karakterskete en uitnemende eienskappe op te roep: Adam, Noag, Moses, Jakob, Job, Salomo, Gamaliël, Gehasi, Gideon, Delila, Marta, die barmhartige Samaritaan, ’n Israeliet sonder bedrog, ’n vreemdeling in Jerusalem, ’n profeet in sy eie land, Judas, Thomas, Pontius Pilatus, Demas, Saul onder die profete. Ook kuddes Bybelse diere soos osse, esels, kamele, kwartels, swyne en dies meer het deur die taal gemarsjeer.
Soms kry jonger mense idiome vermaaklik verkeerd, soos die student wat traag was om te studeer. “Gaan na die mier, luiaard …” maan haar vriendin. En sy antwoord: “Ag kom nou, ou Totius.”
Naas die Skrif en landbou was ons voorsate ook lief vir eet. Meel, kastaiings, soetkoek, mooi broodjies, koue pampoen, kool, mosterd, suur druiwe, boontjies, lensiesop, dadels, gebakte pere, genadebrood, semels, rissiepitte en die vleispotte van Egipte het smaak aan die taal verleen en die tafel gedek vir ’n rykdom van uitdrukking. Messe, vurke, lepels het dit skerpgemaak en laat blink.
Ons vroom voorsate het ook by geleentheid die elmboog gelig en keel natgemaak. Daar is allerlei metafore vir besopenheid, soos om twee rye spore te loop of wingerdkoors te hê. Tiermelk te drink of deur die wingerd te loop. Van die waterkar af te val.
Ons, die nasate, moes gebore word en die natuur moes sy loop neem. Die liefde en vryery had ook vele metafore, soos beenaf, rammetjie-uitnek met rooi hakskene en muisneste, die skoot hoog deur. Hulle het vlerkgesleep en flikkers gegooi, heuning om die mond gesmeer en oor die onderdeur geloer. Die kat is in die donker geknyp, maar hulle het geweet trou is nie perde koop nie
Jy kan iemand in goeie Afrikaans slegsê dat die see hom nie kan afwas nie. Dis by uitstek ’n taal vir appeltjies skil en byltjies slyp. Jy kan iemand inklim, met sy gal werk en hom opdreun tot by oom Daantjie in die kallerhok. Jy kan hom kapittel, roskam en die leviete voorlees. Jy kan hom kaalkop die waarheid sê, sy kierang laat braai. Hom sy rieme laat styfloop. Sy twak natmaak en sy turf laat sit. Woorde wat jy hom kan toesnou sluit in: Jansalie, agteros, eenoog, lelike eendjie, laatperskegesig, wolf in skaapsklere, van jou wysie af, met ’n skroef los en nie al jou varkies op hok nie, ’n man van twaalf ambagte en dertien ongelukke, met twee linkerhande, groot lawaai, weinig wol, Sak Sarel.
Daar is ’n alfabetiese lys van Afrikaanse idiome op mieliestronk.com. Sommige het ek nog nooit vantevore gehoor nie, soos: “Hy het van Koerland se vleis geëet – hy is baie lui.” Of: “Kolmuis vreet wasgoed – gesê van iemand wie se broek styf tussen die boude intrek.”
Daar is selfs mense wat vandag nog, of net gister, beeldspraak skep. Soos Jeanne Goosen wat graag gesê het: “Ek is so moeg soos ’n hen wat ’n ploeg moes trek.”
Lawe my met rosyne, want ek is flou van liefde. Ek kan rinkink in my taal.


Kommentaar
Baie dankie, Deborah! Ek het dit met ’n gevoel van nostalgie gelees en my verlekker oor ons taal se praat.
Lieflik, Deborah!
Dankie, dit was prettig om te lees!
Ek lief my taal!
Jy kan toor met woorde ... Afrikaans het vlerke uit jou mond.
Ek het nou stil-stil en alleen-alleen gelag dat die trane rol. Jou rubriek het my onmiddellik teruggevat na my kinderjare.
Dit was nou tone-omkrul-lekker om te lees. Ons jongmense se Afrikaans is so sonder geur!