
Op die foto is die oulike klein Joey derde van links, die derde kind (foto verskaf deur Deborah Steinmair)
Gertrude Stein het Alice B Toklas se biografie geskryf asof dit ’n outobiografie is. Ek het omtrent ’n hele bundel gedigte oor my eksman se verspeelde jeug geskryf. Party mense hou daarvan om in ander se koppe te klim en die wêreld deur hul oë te sien.
Party mense dra hul jeug met hulle saam. My pa was een van hulle. In sy liggroen oë kon jy die oulike seuntjie sien wat hy eens was: propvol entoesiasme, nuuskierigheid, optimisme en aansteeklike humor. Ek en my pa het min gesels; dis maar hoe dit was in die dinamika van ons spesifieke kerngesin. Maar ek onthou alles wat hy ooit van sy kinderjare vertel het asof ek self daar was.
............
My pa is in 1926 in Pretoria gebore, die derde van ses kinders. Sy pa is dood toe hy ses, amper sewe was. Hy het ’n hart met ’n swaeltjie daarin uit klip gekerf en saamgestuur hospitaal toe, waar sy pa met breinvliesontsteking gelê het. Sy pa is dood voor hy die swaeltjie kon kry. Dis nou in my besit.
...............
My pa is in 1926 in Pretoria gebore, die derde van ses kinders. Sy pa is dood toe hy ses, amper sewe was. Hy het ’n hart met ’n swaeltjie daarin uit klip gekerf en saamgestuur hospitaal toe, waar sy pa met breinvliesontsteking gelê het. Sy pa is dood voor hy die swaeltjie kon kry. Dis nou in my besit. Dis gekerf uit ’n soort sagte klip wat opgediep is toe die slote vir Pretoria se rioolstelsel gegrawe is.
Hy was ’n wonderkind wat in sy graadeenjaar vir ’n kunskompetisie ’n skilpadjie uit klei gemaak het, lewensgetrou. Die beoordelaars het gesê daar is geen manier dat dit ’n kind se handewerk kon wees nie. Hulle het die skool besoek en wou sien hoe hy dit doen. Toe vra hy vir ’n teelepel en ’n bol klei en in die teenwoordigheid van die paneel en die prinsipaal maak hy weer ’n skilpadjie en wen die prys. Die skilpadjie is ook in my besit, sy kop weggevreet deur muise of iets. Steeds skokkend lewensgetrou.
Hy was op laerskool in die koerant, omring deur sy beelde en skilderye. Hy was besonder lief vir sy Best-knipmes omdat hy beeldjies daarmee kon kerf. Dit was maar stomp. Op ’n skoolkermis was daar ’n veerpyltjiekompetisie en die prys was ’n Joseph Rodgers-knipmes – my pa se droom. Hy het ’n tiekie betaal om deel te neem. Sy hand-oog-koördinasie was altyd uitstekend en hy het gewen. Toe gaan haal die onderwyser sy prys: ’n Best-knipmes. “Nee,” het my pa gesê, “ek het vir die Joseph Rodgers gegooi.” Die volgende dag het hy en sy maats die hoof gaan sien, wat met die onderwyser gepraat het, en die Joseph Rodgers-mes was syne. “Dít was nou vir jou ’n mes,” het my pa gesê, wat die mes gedra het tot ná die oorlog. Daarna was dit nie meer goed nie; teen daardie tyd was daar messe met vlekvryestaalhewwe, het hy gesê.
Hy het aan Eisteddfods deelgeneem en altyd eerste prys gewen. Eenkeer het hy sy arm gebreek en met sy linkerhand geteken. En steeds gewen. Eendag is hy na die hoof se kantoor ontbied. Hy het gedink: “O hel, nou kry ek ’n pak slae.” “Hel” en “heng” was die enigste vloekwoorde wat hy ooit gebruik het. Met die herdenking van die Groot Trek in 1938 wou die personeel hê hy moet ’n ossewaentjie in reliëf maak wat in sement gegiet is. Dit is steeds teen die muur by sy laerskool in Pretoria-Wes.
Sy ouma het ’n huis in Kerkstraat gehad. Daar het hy as klein kind in die tuin rondgedwaal en in die visdam gestaar. Hy onthou die ge-klakka-klakka van perdekarre wat verbyry. Daar was ook trems wat verbygeratel het na die Uniegebou. Hy onthou ook die gedreun van motorkarre, wat ’n nuutjie was.
Sy pa was ’n drukker en baie kunstig. My pa onthou dat hy nog te klein was, maar mooi geluister het wanneer sy pa vir sy ouer broer Hennie verduidelik het hoe om te teken en verf; ’n vark en ’n boomstam wat rond lyk. Sy pa het ook graag houtwerk gedoen. Eendag het hy vir iemand ’n kas gemaak met ’n deur met glaspanele. Op die kasdeur het hy met seep ’n skets van oom Paul gemaak om te wys dat dit glas is. Almal wat dit gesien het, het die president onmiddellik herken.
Hulle het in Pretoria-Wes gewoon, naby ’n gholfbaan waar hulle altyd balletjies opgetel, boomgeklim en in die spruit geswem het. Hulle het met bloudraad ’n foefieslaaid gemaak. Op die hoek van Kerkstraat-wes, naby waar die skougronde later was, was ’n openbare swembad waar hy en sy sibbe ure verwyl het.
Dit het maar broekskeur gegaan, want sy ma was ’n jong weduwee met ses kinders. Sy het klere gemaak en wasgoed ingeneem. Skoolvakansies is op sy oom en tannie se plaas naby Brits deurgebring. Hulle het in die dam geswem en voëls geskiet. Hy onthou altyd die gebakte aartappel wat sy tannie vir elkeen gegee het, met ’n klont botter. AarTAPPEL het hy dit uitgespreek, met genoegdoening.
Op Sondae het hy tekenklasse by ’n Miss McCullagh geneem. Dit is geborg deur sy neef Harrytjie Zeiler, wat hom aangemoedig het. Miss McCullagh het sy sketse altyd “excellent” verklaar. Eendag was hy en sy maats in ’n klein bioskoop in Westeinde toe Miss McCullagh na hom kom en hom voor sy maats uittrap omdat sy klasgelde agterstallig is. Hy het hom doodgeskaam en nooit weer kunsklas toe gegaan nie.
Hy het eenkeer vir my gesê hy het nooit geleer op skool nie, en gesien hy doen maar net so goed soos die kinders wat baie leer. Hy moes, soos sy broers, in standerd sewe uit die skool gaan om te werk en help voorsien vir die kleintjies. Hy het bekleër by die spoorweë geword en gedroom van reis en skep.
...........
Hy het eenkeer vir my gesê hy het nooit geleer op skool nie, en gesien hy doen maar net so goed soos die kinders wat baie leer. Hy moes, soos sy broers, in standerd sewe uit die skool gaan om te werk en help voorsien vir die kleintjies. Hy het bekleër by die spoorweë geword en gedroom van reis en skep.
...............
Al sy drome het waar geword. Hy het ná ure verder gestudeer en ’n onderwyser en later dosent geword voordat hy vroeg uitgetree het om voltyds kunstenaar te wees. My ma se ma, wat uit landbouers stam, het gesê sy het nog nooit ’n mens gesien wat so hard kon werk soos my pa nie. Hy het nooit sy kinderlike lewensvreugde, entoesiasme en nuuskierigheid oor alles onder die son verloor nie.
Ek onthou in die oggende, wanneer hy blinkgeskrop en skoongeskeer uit die badkamer kom, vol plesierigheid oor ’n nuwe dag waarin hy sy droom kan uitleef, het hy sy hande in opwinding teen mekaar gevryf en klein fluitgeluidjies van louter vreugde gemaak.
Sy jeug, in my herinnering, was na aan volkome gelukkig, ten spyte van armoede. Almal was arm. En daardie salige jeug het lewenslank in sy selle bly sit.
Op ’n manier was ek daar, saam met die oulike seuntjie Joey.


Kommentaar
'n Aangrypende herinneringsreis.
So leersaam oor die bekende kunstenaar.
Die kind wat terugkyk en die vader se lewe opteken.
Gedistansieerd - hierom tref die emosionaliteit harder.
Mooi! En ek het die voorreg gehad om by jou pa-hulle te gaan kuier en stories te skryf. Interessant dat sy talent so vroeg na vore gekom het.
Dis so ingehoue en so mooi, Deborah ...